Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
10 vrae met prof. Sean Davidson
Prof. Sean Davison Foto: Nasief Manie
Prof. Sean Davison is in 2010 in Nieu-Seeland in hegtenis geneem nadat hy sy ma help sterf het. Hierna het hy Dignity SA, ’n organisasie wat genadedood gewettig wil kry, gestig. Elmarine Anthony het met hom oor dié onderwerp gepraat.

Wat was die hoofboodskap wat uit die onlangse Wêreld-genadedoodkonferensie gekom het?

Ons het ons parlemente geïdentifiseer as die hoofhindernis om wette te verander. Meningspeilings in Suid-Afrika wys dat mense ’n verandering in wetgewing ondersteun, maar politici die wil van die mense ignoreer.

Dignity SA glo dat ons naby aan ’n verandering in wetgewing is ná die hof­uitspraak in die guns van ’n man wat wettige genadedood versoek het. Hoe het die hofuitspraak julle gehelp?

Suid-Afrika kan reeds volgende jaar ’n verandering in wetgewing kry. Die hooggeregshof het Robin Stransham-Ford verlede Augustus die reg gegee om ’n dokter te vra om sy lewe te ­beëindig. Die regering daag later vanjaar die hofuitspraak in die appèlhof uit. Omdat die hooggeregshof sy uitspraak op die Grondwet gebaseer het, kan ons aanneem dat die appèlhof dieselfde besluit gaan neem.

Hoekom dink jy is mense huiwerig om genadedood te ondersteun?

Mense wat bang vir ’n verandering in wetgewing is, is gewoonlik mense wat nie goed ingelig oor die kwessie is nie. Data toon wanneer genadedood wettig is, is daar ’n dramatiese afname in selfdood onder bejaar-des. Dit beteken dat mense naby die einde van hul lewe net gemoedsrus nodig het, met die wete dat hulle die opsie van genadedood het as hulle dit desperaat nodig het.

Dink jy mense is bang dat genadedood misbruik sal word indien dit gewettig word?

Geen misbruik van die wet is aangemeld in lande waar dit wettig is nie. Daar sal baie streng voorsorgmaatreëls wees om te verseker dat die persoon wat genadedood versoek, ondraaglik ly en verstandelik bevoeg is om die versoek te rig.

Dink jy dat daar al gevalle was waar mense genadedood in Suid-Afrika toegepas het?

Ná my inhegtenisneming en hofsaak is ek oorval met stories van ander mense wat ook ’n familielid help sterf het. Hulle oortree die wet, maar hulle behoort nie in vrees te lewe dat hulle vervolg gaan word nie. In my geval is ek nie veroordeel vir wat ek gedoen het nie; ek is veroordeel omdat ek gesê het dat ek dit gedoen het. Ek wil hê die wet moet verander word sodat ander mense hulself nie in dieselfde situasie bevind nie.

Moet genadedood net wettig wees in gevalle waar mense ouer as 18 jaar is?

Ek glo dat daar situasies is waar mense onder die ouderdom van 18 ongeneeslike siektes het wat veroorsaak dat hulle ondraaglik ly. Ek dink egter dit moet ’n vereiste wees dat ouers in sulke gevalle toestemming moet gee.

Wat as iemand nie in staat is om toestemming te gee nie?

Mense kan in ’n lewende testament sê as hulle ooit van ’n lewensondersteuningsmasjien afhanklik is, kan dit afgeskakel word. ’n Meer komplekse situasie is waar mense nie verstandelik bevoeg is om genadedood te versoek nie. In sommige lande word dit toegelaat as hulle hul versoek duidelik in hul lewende testament gemaak het terwyl hulle nog verstandelik bevoeg was. Suid-Afrikaners sal moet besluit of hulle dié opsie in die nuwe wet wil insluit.

Watter rol speel geloof in mense se mening oor genadedood?

Ek het al met ’n hele paar gelowige groepe in Suid-Afrika gepraat, onder meer by ’n groot moskee in Kaapstad, en is aangenaam verras oor hoe openlik hulle die moeilike morele kwessie omhels. Ek beskou genadedood nie as ’n kwessie van geloof nie. Dit gaan oor deernis, goedheid en menseregte.

Wat presies wil jy hê moet in die wet oor genadedood staan?

Ek dink dat die wet verder moet gaan as die terminaal siek toestand waaroor die hooggeregshof beslis het. Ek glo dit moet ander vorme van lyding insluit, soos dít wat deur ’n parapleeg ervaar word. Dit is moeilik om in te sien hoekom iemand met ’n gestremdheid moet klaarkom sonder iets wat wettig beskikbaar is aan iemand wat in staat is om sy eie lewe te beëindig.

Hoe voel jy oor die feit dat jy jou ma help sterf het?

My ma het nie gelewe nie. Om asem te haal bepaal nie lewe nie. Ek het geen spyt nie. As ek haar nie gehelp het nie en haar gelos het om te ly en om hulp te smeek, sou ek die res van my lewe spyt gewees het. Dit gaan nie oor my, my ma of my hofsaak nie. Dit gaan oor die feit dat ander mense in dieselfde omstandighede as ek beland en sommige mense in dieselfde omstandighede as my ma sal beland.

Meer oor:  Sean Davison
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.