SPESIALE AANBOD: Betaal slegs R25 vir die eerste maand. Spring gou!
Profiele
5 vrae aan Dana Snyman

Die geliefde skrywer Dana Snyman is deesdae ook op die kassie te sien. Hy het met Anika Marais gepraat oor die tweede seisoen van sy televisiereeks Op pad met Dana, hoe Facebook sy lewe as skrywer verander het en hoe rugby Suid-Afrikaners bymekaarbring. 

1. Waaroor gaan die nuwe reeks van Op pad met Dana?

Dit gaan oor onse land se mense. Stories. Ek is nie juis ’n ou wat daarvan hou om saam met bekendes en celebrities rond te hang nie. Dis vir my lekker om gewone mense die geleentheid te gee om iets van hulself voor die kamera te openbaar. Of, wel . . . Ek hou ook nie van daardie benaming nie: gewone mense. Wat vir ’n ding is ’n gewone mens?

In die nuwe reeks gaan soek ons stories oor rugby dwarsoor die land.

Eintlik sou ek my op ’n Saterdagmiddag wou verdiep in ’n Saul Bellow-boek, of ek sou in ’n straatkafee op Stellenbosch wou sit en oor Derrida en Lacan gesels. Maar as ek my weer kom kry, sit ek op my rusbank voor die televisie en kyk rugby. Rugby is deel van soveel van ons se lewe in hierdie land: wit, bruin, swart – almal. Ek het gedink ’n reeks oor rugby sou kon wys hoe dieselfde ons tog ook is.

2. Kan jy die programme kyk wanneer dit uitgesaai word? Of is jy te skaam om na jouself op die televisie te kyk?

Ek kyk in die geheim, maar deesdae raak ek toenemend betrokke by die aanmekaarsit van elke episode. Ek word byna gedwing om na myself te kyk.

3. Is daar in hierdie reeks ’n onderhoud wat vir jou uitstaan?

Ek is mos half naïef: Alles menslik is vir my mooi.

Oom Frik du Preez wat stil na die televisie sit en staar nadat die Bokke teen die Aussies verloor het . . . Ek wou sommer tjank.

Ons was ook Oos-Kaap toe om te gaan kyk of rugby regtig daar tradisioneel deel van swart mense se lewe is. En dit is!

4. Jy skryf gereeld kort insetsels op Facebook oor jou reise en die interessante mense wat jy ontmoet. Hoe het Facebook jou lewe as skrywer verander?

My Facebookblad bring vir my baie dinge: vreugde, soms selfs ’n bietjie verdriet. Stories. Dis vir my soos my huis se stoep: ’n kuierplek waar ’n soort ouwêreldse boere-ordentlikheid geld, ’n baie onderskatte deug in die sogenaamde sosiale media.

Ek werk ook nou aan ’n boek wat – DV – in Maart verskyn. Dit gaan ’n vreemde boek wees, maar hopelik steeds leesbaar wees.

Dan werk ek aan ’n nuwe toneelstuk vir Frank Opperman. Ek het vir hom gesê begin Desember het hy die teks. Ek hoop nie hy lees hierdie en gebruik dit begin Desember teen my nie!

5. Jy woon al jare op Jacobsbaai. Wanneer en hoekom het die plek jou hart gesteel?

Ek het agt of nege jaar gelede hier ingery en geweet dis waar ek die tuisste op aarde voel. Hier is genoeg ruimte vir my honde om te hardloop, en Sandra van die Kontrei Keffie laat my “op die boek” koop. Smiddae gaan drink ek ’n dop saam met oom Pieter en uncle Mike, Anton, Joske, Wynand en Theo-hulle by die Weskusplek. En dis stil wanneer ek moet werk.

Meer oor:  Via
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.