Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Gandhi: Leuenaar. Rassis. Seksbelus?
Is Mohandas Gandhi werklik van ’n Suid-Afrikaanse trein gegooi omdat hy wederregtelik in ’n ‘wit’ kompartement was? JC van der Walt sê dis alles ’n reuse-mite.

Op 7 Junie 1893 is die jong Indiër-prokureur Mohandas Gandhi in die nag by die Pietermaritzburg-stasie van die trein gegooi omdat hy geweier het om ’n kompartement slegs vir wittes te verlaat.

“Ek het vir my lewe gevrees. Ek het die donker wagkamer binnegegaan. Daar was ’n wit man in die vertrek. Ek was bang vir hom. Wat word van my verwag, het ek myself afgevra. Moet ek na Indië teruggaan of moet ek aangaan met God as my helper en wat ook al vir my voorlê, trotseer? Ek het besluit om te bly en te ly. My passiewe weerstand (satyagraha) het daardie dag begin,” is 16 jaar later in Gandhi se eerste biografie deur J.J. Doke beweer.

Dit is die storie wat die wêreld oor en oor gehoor het en wat wêreldwyd vir kinders in skole geleer word.

Die waarheid is dat skoon Indiërs gereeld saam met blankes in dieselfde eersteklaskompartement tussen Durban en Charlestown gereis het. Dit was egter verpligtend om ’n bedkaartjie vir die oornagreis te koop. Gandhi het egter botweg geweier. Hy vertel in sy eie woorde in sy outobiografie The Collective Works of Mahatma Gandhi wat daardie nag gebeur het:

“Abdulla Sheth (Gandhi se werkgewer in Durban) het aangedring dat ek ’n bedkaartjie moet koop, maar uit hardkoppigheid en hoogmoed, en om vyf sjielings te spaar, het ek geweier. Abdulla het my daaroor gewaarsku.”

Die aand in Pietermaritzburg het Gandhi vir ’n spoorwegbeampte oor sy bedkaartjie gelieg. “Ek het reeds een by my,” het hy gesê.

’n Beampte het Gandhi later versoek om na die goederekompartement oor te beweeg (omdat hy nie ’n verpligte bedkaartjie gehad het nie), maar Gandhi het geweier: “ ’n Konstabel het gekom. Hy het my hand geneem en my van die trein afgesit en die trein het weggestoom.”

Gandhi het die nag in die wagkamer deurgebring en die volgende oggend ’n telegram van protes aan die Spoorweë gestuur.

Die waarheid is dat skoon Indiërs gereeld saam met blankes in dieselfde eersteklaskompartement tussen Durban en Charlestown gereis het.

“Die hoofbestuurder het die optrede van die spoorwegbeamptes goedgekeur. Ek het toe in Pietermaritzburg die bedkaartjie gekoop, wat ek in Durban geweier het om te koop. Die aandtrein het opgedaag en daar was ’n gereserveerde bed vir my,” skryf hy verder in sy outobiografie. Gandhi het in ’n eersteklaskompartement met sy betaalde beddegoed na Charles­town gereis.

“Die ontbering wat ek moes ondergaan, was oppervlakkig,” het Gandhi geskryf.

Kort ná sy aankoms het Gandhi begin om ’n groot aantal briewe oor rassediskriminasie teen Indiërs in koerante in Suid-Afrika, Indië en Engeland te publiseer. Hy het egter nooit na die “stasie-voorval” verwys nie, nie eens in sy dagboek nie.

Sestien jaar later het eerw. J.J. ­Doke Gandhi as ’n politieke martelaar in sy biografie, Gandhi: An Indian Patriot in South Africa, geprojekteer. Gandhi het later vier verskillende weergawes van die beroemde “stasie-voorval” gegee.

In die misleidende 1980-rolprent ­Gandhi, is Gandhi, mét sy beddegoed, nie toegelaat om in ’n eersteklaskompartement te reis nie. Hy word ’n “coolie”, ’n “smart bloody kaffer” en ’n “smart black ass”, genoem. In die rolprent gooi ’n wit konstabel Gandhi met brute geweld uit die trein sodat hy hard op die platform val. Sy bagasie word agterna gegooi.

Maar dié rolprenttonele is vals.

Met die onthulling van die Gandhi-standbeeld op 6 Junie 1993 in Kerkstraat, Pietermaritzburg, het aartsbiskop Desmond Tutu Gandhi se leuens voortgesit: “Gandhi is van die trein gegooi omdat hy in ’n kompartement slegs vir blankes gesit het, hoewel hy ’n eersteklaskaartjie gehad het. Ek is bly hy moes die groot vernedering verduur, want dit het geregverdigde woede in hom opgewek om die metodes van passiewe weerstand te ontwikkel,” het Tutu gesê.

 Gandhi, die rassis

Nadat die ANC-regering in 2005 ’n standbeeld ter ere van Gandhi in Johannesburg opgerig het, het Edolphus Towns, ’n verteenwoordiger van New York, in reaksie op die koerantberigte oor die standbeeld aan die 109de kongres van die Verenigde State van Amerika daarop gewys dat Gandhi rassisties teenoor die swart mense van Suid-Afrika was.

Gandhi het deurgaans na swart mense as “kaffers” verwys. Hy het beslis geweet dat die woord aanstoot gee. Hy verwys na swart mense as “algemeen barbaars, onsedelik, lui, onbetroubaar en moeilikheidmakers”.

“Die swartes wie se beroep dit is om te jag, wie se ambisie slegs is om ’n sekere aantal beeste bymekaar te maak om ’n vrou mee te koop, bestee dan sy lewe in luiheid en in naaktheid.

Meer liefde, nog meer liefde; dis ’n liefde wat die wêreld nog nooit gesien het nie.

“Kaffers is as ’n reël barbaars. Hulle is moeilikheidmakers, baie vuil en leef een graad bokant die dier.”

Gandhi beskryf Indiërs as “oneindig superieur bokant die swartes”. Hy het die wit ras as die dominerende ras beskou, gevolg deur die Indiërs met swart mense op die bodem.

“Die regering van die Boere beledig die Indiërs deur hulle saam met die kaffers te klassifiseer.

“In die Durban-poskantoor was aparte ingange vir die naturelle en Indiërs saam, en een apart vir die blankes. Ons het groot vernedering ondervind, en gerespekteerde Indiërs is beledig. Ons het daarom petisies begin sodat die owerhede met hierdie diskriminasie moet wegdoen. Hulle het toe drie aparte ingange geskep: vir naturelle, vir Asiate apart en vir Europeërs.

“Ek moet erken ek voel sterk teen die vermenging van kaffers met Indiers.

“Ons beskou dit as ’n wyse beleid van die Indiërs om, regdeur Suid-Afrika, hulself apart van ander gekleurde rasse te hou.

“Ons glo net soveel as die blankes in die suiwerheid van ras. Ons glo die blanke ras in Suid-Afrika is die dominerende ras. Sommige Indiërs het seksuele kontak met kaffervroue. Indiërs moet hulle heeltemal vermy,” het Gandhi geskryf.

Pres. Nelson Mandela het op 25 April 1997, toe die Vryheid van Pietermaritzburg aan Gandhi gegee is, gesê: “Vandag maak ons ’n eeu oue fout reg. Hierdie stasie is een van die wêreld se berugste simbole van diskriminasie”.

En ook allermins ’n askeet . . . !

Op die Tolstoy Farm by Johannesburg verplig Gandhi sy vrou en al die ander vroue om sonder mans in aparte slaapkamers te slaap. Hyself en Hermann Kallenbach, ’n Duitse liggaamsbouer, deel egter ’n slaapkamer. Gandhi skryf seks tussen man en vrou is “die walglikste ding op aarde”.

Gandhi skryf ’n groot aantal liefdesbriewe aan Kallenbach. Hy skryf dat Kallenbach se foto by sy bed staan en dat Vaseline en katoenwol hom na Kallenbach laat verlang. Hy dring aan dat Kallenbach met sy verblyf in Londen kuis sal bly en dat hy nie ’n verleidelike oog vir vroue moet hê nie. Hy teken sy briewe aan Kallenbach as Hoërhuis, en Kallenbach is Laerhuis. Kallenbach het nooit getrou nie.

Gandhi skryf aan Kallenbach: “Meer liefde, nog meer liefde; dis ’n liefde wat die wêreld nog nooit gesien het nie. Jy het my hele liggaam totaal oorgeneem. Dit is slawerny met wraak.”

By Phoenix in Natal in 1909 knoop Gandhi ’n seksuele verhouding aan met Millie Polak, die vrou van Henry S.L. Polak, die redakteur van die Gandhi-koerant, Indian Opinion. Hulle vertrek saam op ’n reis na Londen. Polak bly alleen agter om later te verneem dat Gandhi ’n “subsituut-eggenoot” vir Millie is.

Met sy terugkeer na Indië in 1915 het Gandhi die rol van ’n brandmaer heilige askeet gespeel in ’n poging om die miljoene mense in Indië te oorreed om alle Britse nywerheidsprodukte soos geweefde materiaal en selfs Westerse medisyne te boikot.

Die Indiese regering het primitiewe hutte of ashrams vir Gandhi en sy volgelinge gebou waar hulle volgens oeroue Indiese tradisies geleef het. Gandhi se primitiewe spinwiel het sy politieke handelsmerk geword. Gandhi het deurgaans in slegs sy lendekleed tussen twee jong meisies, sy “menslike kieries”, geloop.

In 1917 het Gandhi ’n passievolle verhouding met die Deen Esther Fahring begin. Gandhi het ook ’n erotiese verhouding met Saraladevi Chaudhurani gehad. Hy skryf aan haar: “Ek het nog nie my drang na seks onder beheer nie.”

Gandhi het selfs sy persoonlike vroulike dokter, dr. Sushila Nayar, oorreed om kaal by hom te slaap.

Madeleine Slade, die dogter van ’n Britse vlootadmiraal, het in 1925 Gandhi se “menslike kierie” geword. Gandhi het sy spontane ereksies en ejakulasies bedags en sy nat-drome snags, asook die oorsaak en raat vir hul hardlywigheid, met haar bespreek. In 1931 was sy Gandhi se metgesel na Engeland, Frankryk en Switserland.

Twee jong vroue, Manu (18) en Abha (16), sy ander “menslike kieries”, moes snags kaal by Gandhi slaap ter wille van sy eksperimente – brahmacharya – om selibaat te bly. Jawaharlal Nehru, Indië se eerste eerste minister, het Gandhi se gedrag as “abnormaal en onnatuurlik” bestempel.

Gandhi het Manu kwalik geneem elke keer wanneer hy ’n ejakulasie gehad het. Sy het Gandhi as haar persoonlike god beskou. Abha se eggenoot, Kanu, het aangebied om Gandhi se “bedverwarmer” te word.

Gandhi het selfs sy persoonlike vroulike dokter, dr. Sushila Nayar, oorreed om kaal by hom te slaap. Die dokter het Gandhi ’n Hindoe-god genoem.

In 1942, drie-uur die nag, het die Delhi Herald se joernaliste die naakte Gandhi saam met vyf naakte vroue afgeneem. Hulle was die hele nag in dieselfde bed saam. “Het u toe ’n ereksie gehad?” het ’n joernalis aan die 73-jarige Gandhi gevra.

“Ek het niks verkeerd gedoen nie. Die ware brahmachari (selibaat) is iemand wat nooit enige seks-doelstellings het nie, wat ononderbroke na God soek en daarom in staat is om bewustelik of onbewustelik ejakulasies te beheer sodat hy bevoeg is om nakend langs nakende vroue te lê, ongeag hoe mooi hulle is, sonder om seksueel geprikkel te word.”

Dr. Nayar het later minister van gesondheid van Indië geword. Sy skryf in 1970: “Eers later, toe meer mense aan Gandhi begin vrae vra het oor sy fisieke kontak met vroue – soos Manu, Abhu en myself – het Gandhi die idee van brahmacharya uitgedink.

“Aanvanklik was daar geen sprake van brahmacharya-eksperimente nie.”

■ JC van der Walt is ’n skrywer en historikus

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.