Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Hanlie Retief gesels met Piet Croucamp
Die leftie wat Eugene uit die tronk kon kry
As Eugene de Kock regs was, het hy hom nie gehelp nie, maar dié verloopte hippie het deernis met die ‘laaste oorblywende NP-lid’.
Piet Croucamp by die geraamde foto’s van Jacques Pauw, Eugene de Kock en Max du Preez. Bo hang De Kock se offisier-swaard. Foto: Nelius Rademan

Oor die man met die kopdoek is niemand lou nie. Óf jy hou van hom óf absoluut nié.

Óf jy reken hy’t die onmoontlike reggekry om Eugene de Kock uit die tronk te kry óf jy glo sy bemoeienis met dié Vlakplaas-bevelvoerder se vrylating was opportunisties, sy kans om self glans te trek.

Dís hoe mense rol met Piet Croucamp.

“Aaag, shíne vang? Ek? Wel, al daai ­shine kon hom darem uit die tronk kry!”

Hy lag, diepstem, hierdie verloopte hippie in ’n voorspelerlyf. Altyd reg vir ’n losskrum.

Soos laas week weer.

By ’n Facebook-foto, pêllie-pêllie saam met De Kock iewers teen ’n houtreling, skryf hy: “FW de Klerk, só neem ’n mens verantwoordelikheid.”

Ja, waaragtig, knik hy. “As FW by die WVK onvoorwaardelik jammer gesê het vir apartheid, het hulle dalk nou kans gesien om ’n straat na hom te vernoem.”

Losskrum #2: Skaars ’n dag later, in die koerante, gaan hy gal af oor die Hoër­skool Linden se “amateuragtige” godsdiens-vraelys vol “taal- en spelfoute”.

“Waar hoor jy daarvan? Maar dit wás!”

Só rol Piet Kopdoek.

Losskrum #3: Onthou nog sy omstrede “there’s no f*cking evidence for a God”-debat by die UJ in 2013? Solidariteit het glo, met komplimente, sy wildste uitlatings aanmekaargeryg en op YouTube gesit.

“Maar, ja, ek het alles bedoel. Daar’s 3 000 gode, egter, moeilik om vir álmal kwaad te wees. Wie kies jy? Hoekom word mense so aan hul neuse rondgelei deur godsdiens? Partykeer móét jy hard klop aan die deur voordat mense jou hoor. Veral as hulle gode-dienaars is.”

Toe word die gevangene vertroueling, later vriend. En nou is hy vry.

Willehings, nog altyd. Ook op daai BMW 1200 GS Adventure as hy Juniemaande padvat na sy skaapplaas in Namibië.

Nee, keer hy breëglimlag, hy put nié ’n bose behae daaruit om met mense skoor te soek nie. Hy’s maar net ’n “tipiese ortodokse liberale persoonlikheid”. En: Dié wat vir hom warm om die kraag raak, is “altyd mense wat regs is”. En: “Ek ontleed nie vreeslik of mense van my hou of nie.” En: “Ek het nog altyd vir myself gedink. Kontroversie is deel van die openbare debat.”

Vir sy dogter, Lazelle (16), sê hy altyd: wees gemaklik in jou kop en in jou skoene. “Ek is.”

Ons gesels in sy studeerkamer in sy huis in Melville, by ’n muur vol boeke, vergeelde foto’s, kunswerke, hout.

In die stoel waar jý nou sit, sê hy, dáár’t Eugene die eerste keer gesit. In voetkettings het hulle hom hier aangebring, met wagte en gewere.

Toe was hy nog gevangene 94616105, álles aan hom. Die kyk in sy oë, die boog van sy skouers.

Toe word die gevangene vertroueling, later vriend. En nou is hy vry.

Drie foto’s hang teen die muur. Ewe groot, dieselfde geraam, langs mekaar: Jacques Pauw, Eugene de Kock en Max du Preez.

Dié drie verteenwoordig vir Piet Croucamp die hele proses van geregtigheid.

“Dis die twee ouens wat vir Eugene weggepak het. So lief soos ek vir Eugene geraak het, soveel bewondering het ek vir daai twee. Jacques en Max verteenwoordig die driftige soeke na die waarheid, om te ontbloot wat verkeerd was.

“En niémand het meer gedoen om die detail van apartheid se brutaliteit te verstaan as Eu­gene de Kock nie. Miskien het hy dit uit noodsaak gedoen, dalk ter regverdiging van homself, maar die feit bly staan: hy hét.”

Bo die foto’s hang Eugene se offisier-swaard. “Want bo al drie se koppe hang ’n bietjie van ’n swaard, ’n verlede wat hulle ook nie kan ontsnap nie.”

Eugene de Kock se vrylating is ook die einde van ’n lang pad vir dié politieke wetenskaplike van die Universiteit van Johannesburg.

Toe sê ek vir hom: Solank jy Prime Evil is, sál jy hier doodgaan. As daar meer in jou is, moet ons daai boodskap by mense uitbring.

“Nagte van wakkerlê en dink: Maak ek hoegenaamd vordering? Watter kans het Eugene rêrig om uit te kom? Dit lê soos ’n berg op jou.

“So, eerder as kollig, was daar baie duister oomblikke. Dit het my baie meer gekos as wat dit my gebied het. My werk het my ingeroep. My swart vriende kap my: Ekskuus, waarmee hou jy jou besig? Jacques Pauw het gesê: Ek verstaan nie jou verhouding met hierdie ou nie.

“Ek moes myself die heeltyd regverdig. Dis moeilik vir mense om te verstaan.”

Maar hoe op aarde raak so ’n aartsleftie superboy vir die regses se posterboy?

Dís immers die ou wat as student in 1994, toe Mandela by Maties kom praat het, in sandale en ’n kaftan onder die KP’s ingevaar het. Toe studentebeheer g’n hond haaraf kon maak met die rumoerige KP’s nie, het Piet die belhamel met een allemintige vuishou planke toe gestuur.

Hy grinnik: “Ek het hul vierkleur ook afgevat!”

Grinnik, weer: “Ek het nog altyd ’n wrewel gehad in regses. Wat ek vir Eu­gene gedoen het, sal ek nooit vir Clive Derby-Lewis kan doen nie. As Clive hom gedistansieer het van sy regse vriende, het hy laas week ’n ander uitkoms gehad.”

En Eugene?

“Hy’s op geen manier regs nie. As hy was, het ek nooit met hom gemeng nie. Nee, hy’s die laaste oorblywende lid van die Nasionale Party.”

Die afgelope 18 maande kon Eugene gereeld vryheid proe. Hy’t gaan eis­bein eet, en in gastehuise gebly terwyl hy die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) en Vermiste Persone-eenheid gehelp het om die bloederige legkaart van die verlede te bou.

“Hy’s 66. ’n Ou man. Dis ’n aanpassing vir hom, buite.”

Jy sien dit in klein dingetjies, vertel Piet. Onsekerheid as hy ’n straat moet oorsteek, ongemak as hy op gras of klippies moet stap ná 21 jaar se gladde tronk-sementblaaie. Sy oogprobleme maak dit ook nie makliker nie.

Kos? De Kock eet heerlik. Vleis, vleis, lekker gewig opgetel die laaste tyd.

Hóú hy van hom?

En maak tog net vrede met my kopdoek, julle spul regses!

“Ek het ’n ontsaglike deernis vir hom. Hy’t ’n innemende persoonlikheid, kyk jou in die oë. In ’n ander lewe kon hy op ’n regbank gesit het. Hy vra intelligente vrae, dink voor hy antwoord.”

Heel aan die begin het Piet hom gevra wanneer kwalifiseer hy vir parool. “Toe sê Eugene, jy verstaan verkeerd, ek’s ’n lifer. Ek gaan hier dood.

“Toe sê ek vir hom: Solank jy Prime Evil is, sál jy hier doodgaan. As daar meer in jou is, moet ons daai boodskap by mense uitbring.

“Hy’s tronk toe omdat hy buite sy mandaat opgetree het. Hy aanvaar dit. Hy sê altyd: ‘My oordeel het my in die steek gelaat. Ek moes die gevolge dra.’ Hy het.”

Piet was “totaal naïef en desperaat” om te dink een gesprekkie met Zuma, en De Kock kom los.

“Die ANC se magstrukture is partykeer so kompleks, hulle verstaan dit self nie. ’n Minister sal sê: ‘Ja, ons het ’n ooreenkoms’, maar eintlik het hy dit nog nie aan sy mense verkoop nie. So? Niemand neem besluite nie.”

En toe, uit die bloute, vind die regte pad vir Piet: ’n Groep MK’s en die Verlore Persone-eenheid wou weet of Eugene hulle sou help. “Toe sê Eugene: ‘Vir júlle is my deur oop, ek doen alles wat ek kan . . .’ Wel, dis dié oomblik wat sy vrylating moontlik gemaak het.”

Só positief was die MK’s, hulle’t aangebied om geld te skenk sodat sy kinders uit Europa vir hom kon kom kuier.

“ ’n Man moet sy kinders sien, was hul woorde.”

Hy’t “al lank” ’n beheptheid oor hoe die samelewing na Eugene de Kock kyk. “Beyers Naudé het gesê die manier hoe ons met De Kock omgaan, sal die finale definisie wees van ons as samelewing. Hy’s reg. Daar’s min mense wat só daai konflik tussen groepe verteenwoordig as Eugene de Kock.”

Die rede vir sy empatie met Eugene kan jy gaan soek in Piet se kinderhuisjare in Windhoek, vertel ’n vriend.

Piet het nog altyd baklei vir die underdog.

Kleintyd het hulle in die platteland gebly, brandarm, en die kinders het altyd in die koppies agter die huis gaan wegkruip as die welsyn – “Tannie Van der Merwe, dierbare mens, in haar sjampanjekleur Ford 20M” – daar aankom, bang hulle word weggevat.

“Mens weet nie hoe jou DNS aanmekaargepak is nie, maar ironies was my kinderlewe gelukkig, daar in die kinderhuis. Ek het niks gemis nie, ek ken nie eensaamheid nie, ek ken nie verlies nie.

“Ek het my pa vier keer in my lewe gesien. Min kontak met my ma. Maar niks wat ek as kind ervaar het, definieer my noodwendig vandag nie.

“Ek het goeie mense geken, wonderlike vriende gehad, en daar was die ongelooflike manier waarop die mensdom hulle oor ’n kind ontferm.”

Bo die kaggel hang ’n potloodskets met die gesigte van Piet se seun, Schalk (12), sy pa, oupa en oupagrootjie.

“My oupagrootjie was ’n skaapboer in Namibië.

“Ek het hom nooit geken nie, maar nie ’n week van my lewe gaan verby sonder dat ek aan hom dink nie.

“My ouma het altyd vertel hoe hy aand vir aand met huisgodsdiens uit Psalm 91 gelees het. In die kinderhuis, as dit my beurt was, het ek ook net Psalm 91 gelees.

“Ek dra sy name. Petrus Abraham. En so lief hy sy kinders gehad het, so lief het ek myne.”

Elke oggend vat hy Lazelle en Schalk skool toe. Sy eks-vrou bly af in die straat. Vir húlle het die “konformiteit” van huwelik nie gewerk nie, sê hy. “Maar ons is vriende, ons hou tot saam vakansie.”

Soos rugby hom rigting gegee het, so het daar altyd mense oor sy pad gekom wat sy lewe in ’n sekere rigting gestuur het.

In st. 9 wou hy die skoolbanke los om kondukteur by Usakos te word.

“Die aand nooi ’n egpaar my na hul huis om musiek te luister en wéér te dink. Die volgende oggend is ek terug skool toe.” Hy’t sy seun na dié weldoener vernoem.

Toe hy later op universiteit wou opskop, het ’n vriend hom oortuig om aan te gaan, en sy studiegeld help betaal.

“Daar’s altyd iemand.” Herhaal: “Die mensdom neem verantwoordelikheid vir jou – as jy hulle toelaat.”

Soos hulle oor sý pad gekom het, só’t hy oor Eugene se pad gekom.

“Ironies sal ons nou eers, ná sy vrylating, werklik leer wie Eugene de Kock is. Hy sal altyd Prime Evil wees, maar hoe Eugene hom nou gedra, sal hom finaal definieer. Ook of ek reg was oor hom. Ek glo ek is.”

Hoe moet mense Piet Croucamp onthou?

“Krities. Sonder agendas.”

Hy begin lag, klap sy hand teen sy kop.

“En maak tog net vrede met my kopdoek, julle spul regses!”

Én die spul linkses. Ag, sommer almal.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.