Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Hanlie Retief gesels met Pieter-Dirk Uys
Hy draai nie koekies om nie
Die sukses van die hofnar is natuurlik dat hy g’n swaap is nie. Hy vertel kaalkop die waarheid.
So byna word Pieter-Dirk Uys deur koek verlei in die Mount ­Nelson. Foto: Nasief Manie.

‘Hallo, dahling! Die blêddie koekies wat hulle hier aandra, ek wil skree!” piksoen die land se hofnar verby my wange terwyl hy die Mount Nelson-hotel se ­pikkewynkelner met ’n PW­vinger afweer.

“Ek het nege jaar laas ’n ­chocolate gehad.” En blitssnel vát hy die gaping: “Gelukkig laat die teater my toe om my koek te hê en dit te eet!”

Daar’s altyd nuwe George Clooneys. En Brad Pitts. En ­Trevor Noahs. Maar net een ­Pieter-Dirk Uys. Niemand kan by hom oorneem op die nasie se verhoog nie.

Die Britte praat van ’n na-tion­al treasure. Dié kaalkop-virtuoos is ons s’n, ons nasie se gewete, snydend, klinies, patoloog van die lewendes.

En dis asof hy nie end kry nie. Op amper 70, met sy 7 000ste vertoning by die Nasionale Kunstefees in Grahamstad, het dit weer vir hom gebeur.

Die Oomblik.

“Daar was 1 000 mense in daai teater, en ek sit alleen op ’n stoeltjie vir 90 minute, en ek kon voel hoe word die plek my sitkamer . . .

“Hulle het opgespring soos by ’n rugby match se eindfluitjie. Ek het nog nooit so ’n ondervinding in my lewe gehad nie.

“Dit het my 7 000 optredes geneem om hiér te kom. En ek wag nou vir die volgende 7 000.”

Hy gloei, sy gesig rosig onder die swart mus, lippe op die fyn rand van die Nellie se teekoppie. Dis sy “kantoor” as hy in die Kaap is. Hy’s al net so ’n instelling soos die Pienk Lady se fênsie middagtees wat nou besig is om hier af te speel op koekbordjies onder Clayderman-klanke.

“Tjag, 70,” skud hy die nommer met ’n rilling weg. “Ek het niks te doen met 70 nie, ek voel 12.

“Maar my oudisie is verby – dís die lekker ding van 70, jy hoef nie meer vir mense te verduidelik nie. Ek’s genees van my disease to please.

“Ons Afrikaners is mos maar altyd: Bly stil, wie dink jy is jy, probeer jy snaaks wees . . . Die vrees-ding, heeltyd. Ek hoef nie meer te bewys nie, net te wýs.”

Uncle André se knie druk-druk onder die tafel teen my. Ek skuif my knie weg, syne volg. Stoute kabouter. Hy knipoog vir my, en ek is so beleef, ek knipoog wragtig terug . . .”

Nou kan hy kanse vat, sê hy, soos met sy nuwe show, The Echo of a Noise, wat hy vertaal as: Weerklank van ’n wanklank.

“Ek het nog nooit so iets in my lewe gedoen nie. Daar’s nie karakters of hoë hakke of lipstiek of Evita nie, dit gaan oor my lewe en oor my pa. Ons was lief vir mekaar, maar ons het nie van mekaar gehou nie.”

Sy pa het natúúrlik geweet hy’s gay, maar daaroor het hulle nooit gepraat nie. Sy lewensverhaal – “die alfabet van my ­lewe” – het nou, op die verhoog, Pieter-Dirk Uys se weerklanke en wanklanke geword.

“Nou wonder ek: Is ek nou ’n has been wat ’n ou act in ’n new age probeer herhaal? Is ek die eggo van wanklank van destyds of die eggo van ’n wanklank wat homself herskep?

“Ek sê altyd apartheid sal nooit weer terugkeer onder dieselfde naam nie, maar moenie die vindingrykheid van geslepe politici onderskat nie. Natuurlik sal dit terugkom, dit het geld gemaak destyds, dit sal weer geld maak onder ’n ander naam, in ons onderwys, taal, tradisies, kultuur.”

Daar’s gerugte dat Pieter-Dirk ál meer oorsee gaan, dat hy ontnugter is met die land, dat hy emigrasie oorweeg.

“Die mense wat so sê, praat absolute kak! Nee o hel, ek kan nie waai nie. Nes ek my rug draai, maak die donners droog. Dans in die parlement met die polisie wat daar instorm vermom as wynkelners van die Bloutrein.

“Ek is so teleurgesteld in waar ons nou is. Dis my regering, ek het vir hulle gestruggle vir al daai donnerse jare. Nelson Mandela het ons lig gegee en Eskom het opgegee.

“Ek is negatief oor die moontlikhede dat die ANC homself weer kan vind. Hy behoort, want daar’s dêm goeie mense daar, maar hul stemme is weg. Cyril the silent. Ek is báie teleurgesteld in Cyril.

“Malema? Hy’s die interessantste ding in die politiek sedert Mandela. Hul skoothondjie is nou ’n leeu, en wie gaan hy byt?”

Maar waai? Nooit. Dis sy plek dié, sý huis, sy 49 voëlsoorte in sý tuin.

Amper 20 jaar lank is Darling sy huis. Daar staan hy soggens 05:00 op, gaan sit op die stoep nadat hy die mis afgevee het wat die duiwe oornag op die groot tafel vir hom gelos het. Koffie, een stukkie beskuit, en al die koerante voor hom.

Sny in: “Die lees gaan ál vinniger, die koerante sê almal dieselfde blêddie goed.”

In sy lewe was daar klein padborde wat sy bestaan verander het. “Daar’s die groot goed soos jou pa of ma wat doodgaan, of groot siekte. Maar die kleintjies . . . iemand maak dalk ’n toevallige opmerking, en skielik besef jy: há!

“Ek was 12. Daar was altyd heerlike etes by ons huis met my pa se Afrikaanse vriende en my ma se Joodse en Duitse vriende. Een aand is uncle André daar. ’n Balletdanser, blou hare, parfuum, ’n bietjie make-up. Mof kwadraat. Maar dit was g’n probleem nie, my pa hét gay vriende gehad, al was daar daai tyd nog nie eens ’n naam daarvoor nie.

“Uncle André se knie druk-druk onder die tafel teen my. Ek skuif my knie weg, syne volg. Stoute kabouter. Hy knipoog vir my, en ek is so beleef, ek knipoog wragtig terug. En Tessie, my sussie, verlustig haar in my ongemak.”

Stukke teater, vyf van Pieter-Dirk Uys se Afrikaanse dramas, is pas uitgegee deur Human & Rousseau.
Hanlie Retief

Later, in die kombuis, gaan vertel hy sy ma. “André het wát gedoen?” vra sy. Ewe dramaties, arms in die sye, herhaal Pieter-Dirk sy storie. En sy sê: “Darling, if you don’t like it, sit some­where else.”

“Padteken. Boef! So, as jy nie ’n spotprent van Mohammed wil sien nie, moenie kyk nie, magtig!”

Die draad van sy lewe gaan terug, tot voor sy geboorte in 1945, tot by sy ma se ervarings as Jood wat uit Duitsland hierheen gekom het. Eers ná haar dood het haar ­familie uitgevind sy was Joods.

“Toe sy selfmoord gepleeg het, het die hele wêreld vergaan en almal was verstom. Sy’t van Chapmanspiek af gespring. Vandag sou sy pille vir bipolêre versteuring gekry het, maar in 1969 was daar nie ’n naam daarvoor nie. Ek was 23.”

Helga Uys was ’n pianis, veronderstel om die volgende dag ’n opname by die SAUK te doen. Toe sy by die klavier sit, wou haar vingers nie werk nie. Die instaandokter het vir haar pille voorgeskryf, sonder om te waarsku dat dit aanvanklik depressie sou veroorsaak.

“En toe’s sy so af, sy ry en spring van die donnerse berg af.

“Toe die lede van die bergklub afklim om haar lyk te gaan haal, breek die tou en ’n jong man val hom langs haar te pletter. Kan jy dit gló!”

Haar verassing was in die Maitland-krematorium, naby die spooroorgang waar hy as seuntjie Sondae ná kerk saam met sy pa gaan treine kyk het. ’n Treindrywer – dit was toe die droom van sy lewe.

“Nou’t ek darem ’n stasie . . .”

En toe, ná al die jare, was Pieter-Dirk weer in Maitland. “En daar gaan die kis so tik-tik-tik in daai donker gat af en hulle speel Handel se musiek en die kasset is warped en dit ­weeuw-weeuw-weeuw, en ek hardloop weg uit daai plek en daar was net een ding wat ek kon doen.

“Ek skryf ’n brief en pos dit vir ’n vriendin in Italië.”

Drie dae later kry hy ’n telegram: “Help nou jou pa en jou suster, neem leiding in die familie, jy kan later huil. – Sophia.”­

Loren. Nog ’n padbord.

“Nou is ek amper 70 en sy’s amper 81, maar op ’n tyd was ek 16 en sy 27 toe ons met mekaar begin korrespondeer het.”

Genève. Môre. Hy sien haar nadat hy geland het. “Ons gaan gesels, en die volgende dag is sy in my dokumentêr, hulle maak een oor my lewe, en sy wil daarin wees. Kan jy glo? Jaaa, ek ís ’n 70-jarige groupie.”

Gewoonlik 16:00 op ’n Sondag, klaar met sy show, is sy antwoordmasjien aan in sy huis in Darling. Trieng, kliek-kliek, buitelandse oproep. Sy. En: “Hello, Pieter, darling, I know you’re there. It’s Sophia, I’m in Geneva, phone me.”

In sy stem drup Sophia se ­Italiaans.

Ná Genève wag ’n optrede in Berlyn, ’n draai in Parys, Londen. Ook opnames, tussendeur, vir k ykNET vir Tannie, die show vir tannie Evita se 81ste verjaardag.

Hy krap ’n voos plastieklêer uit sy sak, al gelap met kleefband, diep sy program uit, bladsye vol lysies, puntenerig met ’n pen gestreeptrek soos wat hy daardeur vorder.

Als op die agterkant van ou folio’s, hy mors nie. Besprekings tot in 2017. Mmm, wys hy. “Gehighlight in kleure, sien. Daar’s jou naam op vandag s’n, sien.”

En nee, darling, moenie eens vra nie, hy praat nooit oor sy private lewe nie. Vir wát?

Dis sý lewe.

’n Slukkie tee.

Soos Evita is dit in die kar se kattebak weggebêre, totdat hy besluit om dit uit te haal.

“Kom ek vertel jou liewer van Marilyn Monroe . . .” duik hy ’n verhaaltjie uit een van die honderde biografieë wat sy boekrakke volstaan.

Alles leuens, biografieë, maar die waarheid is daar, tussen die lyne, op die padborde. Soos die lewe.

Wat maak die lewe die moeite werd?

“Die son. As dit opkom ná ’n donker nag, dan’s die minste wat ons kan doen, opstaan en glimlag. Wie dink ons ís ons nou eintlik?”

Hy druk die voos lêer terug in sy sak. Ja, my naam is klaar deurgetrek, afspraak verby, en hy pruttel weg onder die klaviernote. Kabouter op die marmerteëls in ’n losserige swart sweetpakbroek.

Dan draai hy om, waai vlugtig, so nice to see you, gee ’n lugsoen, en weg is hy. Een-twee-drie-blok-myself, buig jou knieë, bring die applous, baai dahling, daar gaat 70­ ­kwadraat.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.