Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
En toe steel hy hul Kersfees...
Hanlie Retief gesels met die Worcester-bomplanter, Stefaans Coetzee
Ná 19 jaar in die tronk weet hy dis genade wat vry maak
Stefaans Coetzee: “Weet jy hoe voel die son op jou vel?”  Foto:  Herman Verwey
’n Winburgse weeshuis, ’n alkoholispa . . . Stefaans Coetzee, die Worcester-bomplanter, het swaar grootgeword.

‘As ek in ’n spieël kyk, sien ek die oë van ’n moordenaar.

“Ek skeer net twee  keer ’n week, ek sien nie kans om elke dag in die spieël te kyk nie. Ek hét nie ’n spieël nie. Want daardie oë, mý oë . . . onthou wat ek gedoen het. Dat ek mense doodgemaak het.

“Mý oë onthou ’n gesin wat blomme na ’n graf toe neem. My oë onthou mense vir wie Kersfees, elke jaar, ’n bitter tyd is, kinders wat somersdae met langmouhemde rondloop om hul littekens weg te steek.”

In sy oë, vol trane, sien jy: Daar’s dinge wat selfs vergifnis nie kan verander nie.

Hy was 19 jaar in die tronk. Die helfte van sy lewe.

En nou’s Stefaans Coetzee, die Worcester-bomplanter, vry. Dis sy eerste mediaonderhoud. Hy sit hande gevou, amper vroom, soos die predikant wat hy gedroom het om eendag te word.

“Weet jy hoe voel die son op jou vel? Jy’s 23 uur toegesluit in ’n sel, 19 jaar lank. Die son hierbuite verblind my nou, laat my sweet, ek kan nie gewoond raak daaraan nie. Hoe voel gras onder my kaal voete? Snaaks. Sag. Hoe voel dit om die pad af te hardloop in die reën? Iemand het anderdag langs my gestop, wou my ’n lift gee, maar ek het net sopnat aanhou hardloop in die reën. Ek was skielik weer kind.”

En, begin hy lag, uitbundig, weet ek hoe mooi klink kinders se gelag? Die winter hierbuite, die vaalheid, die wind, die lewe?

Hy sukkel met sy selfoon. Ken nie selfone nie. “Ek was nie van daai met selfone in die tronk nie.”

En kón hy maar sy horlosie net terugdraai . . . Nee, skud hy kop. Eintlik was die tronk vir hom goed. Hy’t méns geword daar. God gevind.

Sy gesig verstrak. As dit net nie vir moord was nie . . .

Oukersdag, 1996. Stefaans Coetzee het ’n pypbom in Kerspapier toegedraai – sinterklase en dennebome, sodat “die mense moes dink ek loop met ’n geskenk” – doodluiters ’n inkopiesentrum in Worcester ingestap, daar waar die armes koop, besig met laaste, vrolike, frenetiese Kersinkopies.

“Toe Pa Jan (Voetbol van der Westhuizen) se bom buite Shoprite ontplof, het ek myne brandgesteek met ’n sigaret, dit in die vullisdrom buite ’n apteek gesit en weggestap.

Die verwoesting in die Shoprite-winkel in Russelstraat, Worcester, op 24 Desember 1996.

“Jy’t drie minute. Ek het oor die pad gestap en die sigaret vir ’n swart man gegee. Ek rook nie . . .”

Hy lag wrang. Nee, hy maak net bomme . . .

En toe ruk hul bomme die wêreld aan flarde. Vier mense is dood en 67 mense is beseer.

Stefaans Coetzee was 17, ’n geswore Wit Wolf, lid van die groep Israel Visie se bisarre kultus van witmens-verheerliking. Rassis in murg en been. Spyt dat so min “moddermense” in die bomontploffings dood is.

Hy’s vies terug plaas toe om nóg ’n bom te loop maak.

“Ek het absoluut geglo wat ek gedoen het, was reg.”

Die plan is bekook op Jan Voetbol se plaas buite Beaufort-Wes.

Die eintlike opdraggewer, sê Stefaans, was genl. Brannas-en-Coke.

“Dis altyd met drinksessies waar goed uitgedink is. Hulle’t daai aand hard gedrink, Jan en Cliffie (Barnard) en Koper (Myburgh), en net daar besluit: Môre plant ons ’n bom. Oukersdag, perfek, dan gaan Kersfees nooit weer vir daai mense lekker wees nie.

“Daai selfde aand, toe bou ons die bom. Hoeveel van ons was nugter toe die bom geplant is? Net ek.”

En toe verloor Jan Voetbol sy beursie met sy ID-kaart op die bomtoneel.

“Toe ons uit die kar klim, sê ek nog vir hom lós jou beursie. So ’n groot swarte  . . . ”

Ná die tyd was daai “groot swarte” die gereg se neonpyl reguit na hulle.

Hulle’s deur ’n padblokkade met die derde pypbom nog in die kar, en die kar was halfpad omskep in ’n karbom.

Dis “oor die kindertjies” dat hy hom later gaan oorgee het. Toe hy hoor drie van die slagoffers is minderjarig, het dit hom geruk.

“Ek kan eerlik sê as daar nie kinders dood is nie, sou ek aangegaan het met my dinge.”

Stefaans is vir 40 jaar tronk toe gestuur.

“Ek was 19, skraal en wit en almal wou my verkrag. Ek’s met twee besluite tronk toe: Ek sal nie ’n tattoo kry nie, en niémand sal sê ek is sy vrou nie.”

In een stadium was hulle 120 in een sel. Náby mekaar. Dís wanneer jy bid dat niemand die toilet gebruik terwyl jy eet nie. Die radio’s. Vuil lywe. Die rook. Die dwelms. Kleure, kulture, gelowe – jy word gedwing om met almal saam te leef.

Dis waar Stefaans geleidelik besef het: Almal van ons is eintlik maar net dieselfde.

Hy het 3 000 boeke in die tronk gelees. Deon Meyer, Chris Karsten, Piet Steyn, Karin Brynard, Forsyth, Ludlum. “Lees het my laat ontsnap.”

Vir hom was eensaamheid die heel ergste. Jy’s tussen mense, maar so heeltemal, so herderloos alleen.

Nou staan hierdie skraal man voor my: kraaknuwe klere, kakiebroek met turn-ups. Vry, al twee dae lank, in ’n siersteenmeenthuis in die wintervaal Klerksdorp. Hy’t sy vryheid gevier met ’n pizza.

Hy bly tydelik hier by sy ma – die ma wat hy nooit gesien het nie tot ’n jaar terug.

Sy oë het ’n bekeerde kyk. Sy sinne klink ouwêrelds.

In die tronk het hy die naelstring na sy regse wit broers afgesny, rassisme afgesweer, matriek geslaag, kursusse in berading, rekenaarstudies en rugbyafrigting gedoen, weer begin teken, gedigte en ’n boek geskryf en op ’n missie gegaan om met die bomslagoffers te versoen.

En nou, op 37, het dié man met die seunsgesig die plakkaatknaap geword vir versoening. En, as jy hom moet glo, het sy reis van haat en moord tot inkeer, aanvaarding en omhelsing maar pas begin.

Ten spyte van als weet elkeen van ons wat is reg en verkeerd. Moord is moord.

Sy groot u-draai was toe hy in 2006 weggebreek het van die Israel Visie. Die meeste wit mense in die tronk behoort daaraan, vertel hy. Dit was vir hom erg, want daar was hulle sy familie. En toe’s hy vingeralleen.

“Die wittes haat my nou, die swartes haat my in elk geval. Maar ek het besluit dis die pad wat ek wil stap en ek is toe bekeer.”

’n Bepalende oomblik was toe sy tronkpad met dié van Eugene de Kock – die oud-Vlakplaasbevelvoerder – gekruis het.

As Stefaans van “oom ­Gene” praat, raak sy gesig sag. “Ons het ’n spesiale vriendskap gehad. Soms het ons vir ’n uur saam in die binneplaas geloop sonder om ’n woord te sê. Dan gaan ons selle toe, maar ons was gewéés.

“Ek was in ’n stadium baie geïrriteerd met hom. Soos Pinocchio se Jiminy-kriek het hy gedurig aan my gekarring. Ek was happy met die rassisme-besigheid, dit het vir my gewerk, ek het daarin geglo. Maar naderhand het ek begin luister . . .”

Sy familie het net die eerste vier jaar met hom kontak gehou. “Die 14 jaar daarna het so lank geword dat ek die eerste vier jaar vergeet het. ’n Briefie op my verjaardag, ’n nota: Ons dink aan jou . . . Sulke klein goedjies sou so ’n verskil gemaak het.”

Sy pa het wel geskryf. Toe hou die briewe ook op.

“Ek het nogal gedink: Hier verlaat hy my ook, tot ’n verpleegsuster my laat weet het hy’s dood.”

Swaarkry het hy nog altyd geken. In ’n gedig skryf hy hoe sy ma hom as vyfjarige winkel toe gestuur het vir R5 se lekkers. Toe hy terugkom, was sy sak en pak weg.

Want ek eet vandag nog nie lekkers nie

en ek het nog nooit ’n vrou gesoen nie,

want ek wag nog dat jy terugkom

om te kom groet voor jy uit my lewe loop.

Hy’s later na ’n weeshuis in Winburg, weggeneem van “ ’n pa wat die pyn moes wegsuip”.

Hy sê nog strakker: “Die weeshuis het . . . letsels gelaat.”

In die jaar toe hy st. 4 moes herhaal, het Jan Voetbol – ’n maatjie se pa – in sy lewe gekom, en vir Stefaans het hy “Pa Jan” geword. Sy rasse-ideologieë was, helaas, deel van die pakket.

“As dit iemand anders was, was ek heel moontlik nie tronk toe nie. My ouers het my nie as ’n rassis grootgemaak nie, ek het een geword.”

Hy peins ’n oomblik.

“Ek kan kies wat ek van hom onthou, en ek, Daniel Stefanus Coetzee, verkies om die beste van Pa Jan te onthou – dat hy my identiteit gegee het as ’n man, dat hy die pa was wat ’n seun nodig gehad het.”

Maar hy’t óók 19 jaar van Stefaans se lewe gesteel?

“Nee, glad nie, ek het dit self gesteel. ’n Mens maak foute, en jy blameer graag. Maar dis Stefaans wat daai bom geplant het. Net ekke. Ten spyte van alles weet elkeen van ons wat is reg en verkeerd. Moord is moord, en ek het gekies om te moor. Dis dit.”

Ses maande lank voor sy vrylating het hy dagpas gehad. Hy’t op boupersele gewerk, en elke dag die tien kilometer tussen die tronk en Centurion gedraf. Hy is ook betrokke by Kerk Sonder Mure en Feed the Child in Pretoria.

“Ek het my misdaad in die swart gemeenskap gepleeg – dis waar ek nou gaan regmaak.”

Dit was veral die kursus oor herstellende reg wat hom in die tronk laat besluit het om na die bomslagoffers uit te reik. En só het dit gekom dat ’n groep slagoffers in 2013 met die “vredestrein” Pretoria toe is om met hom te gaan praat.

“Toe ek voor hulle staan, het ek soos ’n riet gebewe. Ek het verwag hulle gaan sê: Ons haat jou, jy’t ons lewe verwoes. Maar toe’s daar soveel van hulle wat sê ons vergewe jou . . .”

Hy bly stil. Dan sê hy: “Dit het lank gevat om te aanvaar dat hulle mý aanvaar.”

Stefaans kry nou ’n tweede kans. Oudminister Adriaan Vlok is sy mentor, en die Comrades-wenner Nick Bester rig hom af as marathonatleet. “My lewensdroom is die Com­rades.”

Hy’t nog nooit ’n meisie gehad nie. En ás hy deesdae meisies ontmoet, grap hy, en hulle hoor sy naam, gaan google hulle hom, “en die volgende dag staan hulle tien meter weg”.

Hy sal graag eendag wil trou, knik hy.

“Maar, soos ek, sal sy met my verlede moet saamleef. Ek hoop nie ek het kinders nie, want dan moet hulle ook.”

Die ding wat hom hartseer maak, ná die tronkjare?

“Miskien . . . dat ’n mens nie kan vergeet nie. In die tronk was ek so bang vir my nagmerries, ek het naderhand bedags geslaap, elke keer onder die bed gekyk.

“Die onthou bly by jou. Dis soos ’n letsel op jou lyf, van die weeshuis, die tronk, die bom wat jy geplant het. Dis ’n vlek wat jy nie kan afwas nie.

“Ek is nou vry, maar daar’s mense wat na ’n begraafplaas moet gaan as hulle hul kind of pa wil sien.

“ ’n Tweede kans is ’n genade van God.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.