Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Hans Pietersen oor Ogod-hofsaak: ‘Elke kind moet welkom voel’
Hans Pietersen, die man wat oorlog verklaar het teen godsdiensbeoefening op skool, praat met Sonja Carstens.
Hans Pietersen

Het jy grootgeword in ’n Christen-huis? Ja, in Kroonstad in die Vrystaat. Die AGS was ’n sekte waaraan mense behoort het en van die Rooms-Katolieke Kerk het ek eers later uitgevind. Ons was in ’n stoere NG Kerk, die gemeente Kroonstad-Noord.

Wat het gebeur wat jou laat besluit het om ’n ateïs te word? Ek het grootgeword in ’n tyd waarin daar geglo is as jy plate agteruit speel, kry jy ’n boodskap van Satan. Toenemend het ek begin agterkom daar is goed wat nie strook met dit wat ek geleer word nie.

Ek was belese en mal daaroor om fiksie te lees, maar ek het niks geweet van evolusie af nie of van vakgebiede soos sosiologie of argeologie nie. My kennis was beperk tot dit wat beskikbaar was. As daar ’n foto van ’n vrou se borste was, was dit met sterretjies bedek. Dit het my laat wonder.

Ek moes bang wees vir die Rooi Gevaar, maar ek kon nie uitvind hoekom nie.

Waarom het jy so ’n gly in Christene? Mense glo as jy ’n ateïs is, is jy ’n satanis wat babas offer. Destyds was die doodsteek dat kennis van mense weerhou is tot voordeel van georganiseerde godsdiens. Ek onthou goed hoe die dominee vir jou ’n verwysingsbrief moes skryf as jy aansoek wou doen vir werk.

Ek het nooit ’n gly gevang in Christenskap nie – ek het eerder Christenskap ontsnap. Ek het dit ontgroei. Op universiteit het ek godsdienswetenskap bestudeer. Ek het my honneurs gedoen in die sielkunde van godsdiens. 

Waarom het jy Ogod begin? Toe ek besef hoeveel perdevye ek gevoer is, het dit my missie geword om te sorg dat my kinders eendag self kan besluit.

Gou het ek besef kerke is steeds daarop uit om in skooltyd siele vir Jesus te werf. Kinders moet bid in die klas voordat hulle hul broodjies kan eet. Hulle word geleer dat Jesus se verjaardag herdenk word. Hulle word geleer dat die mite van die groot vis wat ’n man insluk net in die Bybel staan, terwyl dit in verskeie gelowe voorkom.

Ek het met die skool probeer praat. Ek het met die Wes-Kaapse departement van onderwys probeer onderhandel, maar het besef dit werk nie.

Het jy die toetssaak goed deurdink voordat jy dit aanhangig gemaak het? Ek het baie vinnig besluit iemand moet iets doen en dit gaan ek moet wees. Ek kan nie eendag vir my kinders sê ek was erg omgekrap, maar het niks daaraan gedoen nie.

Wat was die laaste strooi? Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) se onverskrokke houding in 2009 dat die beheerliggaam van ’n skool oor godsdiens besluit en as jy nie daarby wil inval nie, moet jy ’n ander skool soek. Dié houding is strydig met die Grondwet én met die nasionale godsdiensbeleid.

Wat wil jy met die hofaansoek bereik? Ek wil hê die hof moet die nasionale godsdiensbeleid van 2003 afdwing en skole gelas om daarby te hou. Ek wil hê dat alle gelowe in skole gelyke behandeling moet kry. Een geloof mag nie bevorder word bo ’n ander nie.

Elke kind moet welkom voel.

Watter invloed dink jy sal die hofsaak op onderwysers en skoolhoofde hê? Onderwysers bevind hulle reeds in ’n moeilike situasie. Die meeste onderwysers sal verlig wees dat hulle daarop kan fokus om deur leerplanne te kom, eerder as om met godsdiensbeoefening belas te word.

Die hele saak staan of val by skoolhoofde. Hulle moet die departement van onderwys se beleid uitvoer, maar dien terselfdertyd in die beheerliggame. ’n Skoolhoof sal moet sê: “Ek gaan afgedank word as die beheerliggaam nie gehoor gee nie.”

Dink jy leerlinge is angstig en getraumatiseerd deur die hofaansoek, soos wat Fedsas aanvoer? Ek kan dit dink, maar dit is nie deur Ogod se toedoen nie.

Ouers en onderwysers wek die indruk by leerlinge dat ons God uit skole gaan dryf en dat hulle nie meer aan Jesus mag dink op die skoolterrein nie. Daar word fietstoere gehou ter behoud van godsdiens in skole. Met die propagandaveldtog is dit geen verrassing dat kinders angsbevange is nie.

Hoe het die hofsaak jou persoonlik geraak? Daar is goed en sleg. Dit was ’n ongelooflike geleentheid om te groei. Ek het baie vyande gemaak. Ek het sakevennote verloor. Terselfdertyd het ek nuwe vriende gemaak. Ek is lief vir my land en vir sy Grondwet. Ek wil sien dat dit in skole geïmplementeer word.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.