Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
JANI BEL HUIS TOE
Jani Allan spoel haar mond uit
As glansryke profielskrywer van ‘Sunday Times’ was Jani Allan ’n huishoudelike naam – Suid-Afrika se enigste joernalistieke superster. Sy het die wêreld vol kerjakker agter beroemdes aan. Maar ’n opdrag van haar redakteur, Tertius Myburgh, om ’n onderhoud te gaan voer met die AWB-leier Eugène Terre’Blanche was die begin van haar skouspelagtige ondergang. Sy werk vandag as kelnerin in ’n restaurant in Amerika. Herman Jansen berig.
’n Vreemde verhouding: Jani Allan neem in die laat 1980’s foto’s by ’n geleentheid waar Eugène Terre’Blanche die hoofspreker was.
Bekende vriende: Pieter-Dirk Uys skeer saam met Jani Allan die gek as ’n Allan-“ewebeeld”.
’n Mediahisterie het uitgebreek nadat Eugène Terre’Blanche en Jani Allan die aand van 27 Desember 1988 alleen by die Paardekraal-feesterrein naby Krugersdorp deur ’n groot groep polisiemanne aangetref is. Terre’Blanche

‘Hoekom stuur ons nie vir Jani om tee te gaan drink met Eugène Terre’Blanche nie?” het Tertius Myburgh gesê toe daar op 25 Januarie 1988 op Sunday Times se redaksievergadering kopgekrap is oor storie-idees.

“Die naam het vaagweg ’n klokkie gelui, maar ek het nie tyd gehad om navorsing oor hom te doen nie,” skryf Allan in haar boek Jani Confidential.

“Ek was amper op pad vir ’n reis Italië toe en moes spring met die onderhoud.

“Dit was die dag toe ek op ’n manier die Rubicon oorgesteek het. Ronald ­Reagan was president van Amerika. ­Robert Ludlum se The Icarus Agenda was die boek wat almal gelees het. Miskien het die heelal ook ’n Ikarus-agenda vir my in gedagte gehad.”

Sy beskryf haar eerste indrukke van die AWB-leier in sy hoofkantoor in Pretoria: “Eugène Terre’Blanche stap nie in ’n vertrek in nie. Hy beset dit. Dinge krimp. Die skildery van die vertrek herskik homself op ’n slinkse manier sodat hy die fokuspunt is.

“Hy is aantrekliker as sy TV-beeld van ’n vark-in-’n-safaripak. Hy toerniket my hand vlugtig en vra of ek sal omgee as hy Afrikaans praat.

“Sy maniere is oordrewe hoflik. Hy gebruik die formele ‘u’ gereeld. Ek is ’n bietjie uit die veld geslaan. Waar is die waansinnige politieke dorsmasjien?”

Allan sê frases in die profiel wat sy oor Terre’­Blanche geskryf het, het deel geword van die destydse omgangstaal.

Soos: “I am impaled on his blowtorch blue eyes.”

En: “Dit is ’n ryk, aardebruin stem. Partykeer is dit ’n gruis-uitslag (gravel rash). Soms val die sillabes soos kluite op ’n kis . . .

Hy haal ’n kannetjie haarsproei uit sy broeksak. Pfft. Hy spuit en vee . . .

“Party mense, selfs advokate, het dit nuttig gevind om die onderhoud te gebruik as bewys dat ek dadelik versot was op Terre’Blanche.”

Dít was sy allermins, sê Allan. Sy skryf sy het die “gawe om ’n frase” te konstrueer. “Ek weet ek het dit.” En dit is oor dié “gawe” dat jaloerse joernaliste en sommige lede van die publiek haar gekruisig het, sê sy.

Allan skryf sy het ná die onderhoud selfs ’n bietjie triomfantelik gevoel: Talle joernaliste kon nie daarin slaag om ’n onderhoud met die AWB-leier te kry nie.

“Hoe salig onbewus was ek daarvan dat die onderhoud ’n waterskeiding sou word.”

Sy sê Myburgh het gesê die profiel was uitstekend. Sy het ook talle briewe gekry oor haar “ysingwekkende insig” oor die man. Maar haar woonstelmaat, Linda Shaw, het gesê haar Joodse vriende was kwaad omdat sy aan die “neonazi” publisiteit gegee het.

Terre’Blanche het haar later gebel en dankie gesê vir die eerste “billike onderhoud”.

Hy nooi haar toe uit om ’n oefensessie van die AWB se geheimsinnige, elite- Aquila-brigade by te woon. En later, op 2 Maart 1988, gaan sy Ventersdorp toe, die “heiligdom” van die AWB.

Toe sy vroegoggend in die dorp aankom, vat hy haar om op sy plaas buite Ventersdorp te gaan perdry.

“Ek het gehoor Terre’Blanche beskou homself as ’n topruiter. Maar ek kom toe gou agter sy styl is meer spaghetti-western as die klassieke perdryskole waar ék geleer is.

“Hy vertel my hy het in sy skoolvakansies perde ingebreek. Hy het tien sjielings gevra vir elke perd (wat hy ingebreek het). ’n Jaar oue perd het hom ’n slag moeilikheid gegee.

“ ‘Ek het hom beheer deur hom hard met ’n klip hier te slaan.’ En hy wys na die middel van sy voorkop met sy middelvinger.

“Ek het hom in afgryse aangekyk.”

Toe hulle laatmiddag terugry, wou Terre’Blanche spog met die sonneblomme op sy landerye, maar die bakkie sit vas in die modder. Die sweet tap sy lyfwagte later af, maar hulle kan dit nie uitstoot nie. Hulle wil ’n trekker gaan haal.

“ ‘Is ek nie ’n man nie?’ grom Terre’Blanche. ‘Laat ek dit doen.’

“Hy wig ’n skouer so groot soos ’n skuur se deur teen die rooster. Die tyd staan stil terwyl hy stoot en kreun. Die are in sy nek lyk soos rabarber-stingels, maar hy ignoreer sy Aquilas se pleidooie om bes te gee.

“Eers byna ongemerk word die kreune nou begelei deur ’n geluid soos ’n seil wat skeur. Die skeurende seil bereik ’n crescendo met ’n triomfantelike basso profundo-poep. Terre’Blanche slaan plat op sy gesig neer, maar selfs die modder kan nie sy triomf bedek nie.

“ ‘Is ek nie ’n man nie? Kom ons eet.’ ”

Terwyl hulle wag vir die vleis om gaar te word op die braai vertel Terre’Blanche ’n storie wat sy stem “laat kraak soos ou ivoor”.

Hy skud ’n slag sy kop en sy “come-over-and-meet-me”-haarstyl raak deurmekaar.

“Hy haal ’n kannetjie Fiesta-haarsproei uit sy broeksak uit. Pfft. Pfft. Hy spuit, vee, spuit en vee dan weer. Skielik spring hy regop en slaan die laaste bietjie van sy halfbottel White Horse-whisky weg. Met ’n bulderende ‘Vamos mu­chachos!’ kommandeer hy sy manne op. Hulle tree aan.

“ ‘Links! Links! Links!’ bulder hy. ‘Marsjeer! Marsjeer! Marsjeer!!’ ”

Allan skryf: “Ek kyk toe hoe hulle goose-step deur die mielielande totdat dit lyk of hulle die horison bereik het en asof die punte van hul stewels skrams gaan raak aan die Suiderkruis.”

Toe hulle laatnag terugry Ventersdorp toe, is Terre’Blanche nog nie klaar gekuier nie. Hy wil hê Allan moet kom koffie drink in sy huis en vat nie nee vir ’n antwoord nie, skryf sy.

(Hy’s) verwoed besig om op ’n klein oefenfiets te trap 

Hulle gaan die huis deur die kombuis binne en hy waarsku dat hulle nie “mev. Wit Aarde” en hul dogter, “juffrou Wit Aarde”, moet wakker maak nie.

Sy vrou het hom verbied om in hul dorpshuis te drink.

Allan ontsnap na die toilet.

Toe sy terugkom in die rumpus room (soos sy dit noem) is Terre’-Blanche verwoed besig om op ’n klein oefenfiets te trap.

“Sy gesig is baksteenrooi. Hy klim af en eis nog vloeistofverversings. Dave (een van sy lyfwagte) herinner hom aan mev. Wit Aarde se reëls en prohibisie.

“ ‘Word ek nie eens toegelaat om kooksjerrie te drink nie?’ Sy tuitmond maak dit vir my duidelik sy ergernis is besig om in ’n volwaardige vloermoer te ontaard.”

Allan besluit nóú is dit tyd om te gaan. “Ek klim in my kar en stoot Verdi se Nabucco-kasset in my bandspeler.

“ ’n Reis van drie uur lê vir my voor terug na mý wêreld.”

Terre’Blanche was teen daardie tyd heeltemal behep met Allan. Sy ontken strykdeur dat dit wederkerig was. Hy het “lang, dronk” boodskappe op haar telefoon se antwoordmasjien gelos, skryf sy.

In van die boodskappe “vloei Afrikaanse digkuns van sy lippe af”.

Die boodskappe was sonder ophou.

En in Sunday Times van 23 Julie 1989 onthul Allan hoe ’n beskonke Terre’-­Blanche een aand aan haar woonsteldeur gehamer en toe op die deurmat buite geslaap het toe sy hom nie wou inlaat nie.

Maar toe ’n kleefmyn een nag buite haar woonstel ontplof wat talle ruite in die gebou laat bars het, het Myburgh haar Londen toe gestuur sodat die stof kan gaan lê.

Allan het in 1992 die Britse TV-kanaal Channel 4 vir laster gedagvaar toe in die dokumentêr The Leader, His Driver and the Driver’s Wife gesê is sy het ’n seksuele verhouding met Terre’Blanche gehad.

Dié sappige saak in die Old Bailey het in Suid-Afrika én Brittanje opslae gemaak. Private Eye het dit die lastersaak van die eeu genoem.

Allan skryf: “Elke keer wanneer ek by die hof aangekom of uitgegaan het, het 30 of 40 fotograwe om my gekrioel.”

Terre’Blanche het in ’n beëdigde verklaring ’n seksuele verhouding met Allan ontken, maar sy weergawe is nie deur die hof aanvaar nie, skryf Allan.

Die doodskoot vir haar lastereis was toe haar oudwoonstelmaat Linda Shaw getuig het sy het ’n slag deur die sleutelgat geloer en Allan en Terre’Blanche seks sien hê.

Allan het die saak verloor. Haar regskoste was £300 000.

Die laaste jare werk Allan as ’n kelnerin in die dorpie Lambertville in New Jersey, Amerika.

Sy sluit die boek af: “Niemand in die plaaslike kroeg sal weet ek was op ’n tyd die beroemdste rubriekskrywer in Suid-Afrika nie. Om eerlik te wees, hulle sal nie omgee nie. En ek ook nie.”

 Die uitgewer van Jani Confidential is Jacana Media. Die boek is reeds in winkels.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.