Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
REKORD MET MARIDA
Marida Fitzpatrick gesels met Derick Hougaard
‘Nee, dit gaan nie altyd goed nie . . .’
Dalk sal hy weer vlieg, sê Derick Hougaard ná ’n paar kwaai terugslae die afgelope tyd. “Daar kom altyd ’n tyd om weer te vlieg. ’n Ou moet net nie die fight verloor nie. Daai fight moet ’n ou net nooit verloor nie.”
Derick Hougaard, voormalige losskakel vir die Blou Bulle en die Springbokke, by sy huis in Pretoria. Foto's: Deaan Vivier

Hy onthou dit soos gister, sien dit nog voor hom: Hy, Derick Hougaard, 18 jaar oud, in sy wit Polo Playa op pad van Langebaan na Pretoria. Nie ’n worry in die wêreld nie, die lewe wyd oop voor hom, op pad om vir die Blou Bulle rugby te speel, op die punt om ’n roemryke loopbaan te begin.

Toe die liedjie “Time for Me to Fly” van REO Speedwagon op die Playa se radio begin speel, sing hy kliphard saam: “I know it hurts to say goodbye, but it’s ­time for me to fly, it’s time for me to fly, it’s time for me to fly . . .”

Toe vlieg hy. Hy en sy Playa, Pretoria toe, Blou Bulle toe, boontoe.

“En ek het lekker gevlieg vir tien jaar,” sê ’n 32-jarige Hougaard waar hy op die stoep van sy voorstedelike Pretoria-huis sit. Hy glimlag weemoedig. “Toe skop die realiteite in.”

Die realiteite was ’n achilles-besering, te veel harsingskudding en die voortydige beëindiging van sy rugbyloopbaan. Toe ook nog terugslae in sy persoonlike lewe: depressie, die uitstel van sy huwelik met die sangeres Karlien van Jaarsveld en, ná twee jaar se getroude lewe, die verlies van Evah, hul baba­dogtertjie.

Nou, ’n paar weke gelede, sy gesondheid. Nadat hy vergeetagtig geraak het, hoofpyn gekry het en gesukkel het om te slaap, het hy omvattende breintoetse laat doen. Die uitslag was positief: Net geringe skade wat mettertyd sal regkom.

“Dit gaan met my goed,” sê hy en vat ’n sluk van sy koffie, sit sy swart Oakley-bril op die tafelblad neer. “Dit gaan met my rêrig baie goed. Daar is so baie goed om voor dankbaar te wees. Baie keer moet ’n ou teruggaan na jouself toe en sê: Wee’ jy wat, ek vat verantwoordelikheid vir alles, ek probeer myself uitsorteer, ek probeer op ’n gelukkige plek kom.”

Baie keer sal ek verby die begraafplaas ry. Ons het vir haar ’n boompie geplant. Sy sou nou gebore gewees het. Dan wonder ’n ou en verlang ’n ou en dink jis, hoekom kon dit nie maar net anders gewees het nie?

Daardie draaipunt was twee maande gelede op sy knieë langs sy bed. “Vir die eerste keer in my lewe het dit vir my gevoel my hande is afgekap. Dit voel soos dryfsand. Hoe harder jy try, hoe dieper sink jy weg. Toe sê ek vir die Here: ‘Ek is klaar, dit kan nie meer uit my kom nie. Gee my die manier om met hierdie goed te deal.’ ”

Toe gaan hy deur ’n proses, sê hy. “Ek het my loopbaan verloor, dis fine; ek het al die goed verloor, dis fine. Ek is nou waar ek sê: Alles wat vir my so belangrik was, en alles wat my so gepla het, ek voel amper dit bestaan nie meer nie. Die Here herstel alles 100%.

“ ’n Ou moet dit net glo, ’n ou moet dit net fisiek glo.”

■■■

“Wil julle koffie hê?” vra hy opgewek in die ruim, deurmekaar huis. Oral lê tekens van die tweeling: speelgoed, loopringe, leesboekies. Hulle en Karlien is nie hier nie.

“Watse dag is dit vandag?” vra hy en ruik aan ’n oop bottel melk. “Ek wil nie vir julle suur melk gee nie.” Dan vat hy ’n sluk uit die bottel. “Nee, daai melk is reg,” en gooi vir ons elkeen ’n skeut in ons Nespresso-koffie.

Ons gaan sit buite op die stoep by ’n lang houttafel. Op die tafel staan ’n asbak wat oorloop van stompies en verwyt. Bakarm skraap hy die asbak en ’n vuil koffiebeker bymekaar, verwyder dit soos bewysstukke, sê verleë: “Hierdie sou jy nie ’n paar maande terug gesien het nie.”

Die rokery het kort ná die miskraam in Januarie vanjaar begin. Karlien was 19 weke
swanger toe hulle die babatjie verloor het. “Weet jy wat het gebeur?” vra hy en kap met sy hande teen die armleunings van sy stoel. “Eintlik die simpelste ding. Toe ons hoor dis ’n miskraam, en dis ’n gehuil en goed, toe stap ek uit, deur die hospitaal onder toe, en ek sê vir die girls by die winkeltjie: ‘Luister, gee net vir my ’n pakkie sigarette. Baie sterk, asseblief, en ’n lighter, asseblief.’ Toe ek uitstap, dit was die surrealste oomblik. Donker wolke, jy’t nog nooit sulke donderslae gehoor nie. En ek dink: As ek nou geslaan word, moet ek maar geslaan word. Ek huil, so ek kry nie die sigaret getrek nie. Ek strip my moer, gooi alles weg.

“ ’n Aand later kom sit ek en ’n vriend hier op die stoep en hy rook en ek sê: ‘Gee vir my ’n sigaret.’ ” Hy trek sy skouers op. “En hier sit ek nou nog. Dis eintlik flippen simpel.”

Houtletters spel die naam Evah teen die stoep se glasvenster uit. Teen die een muur hang ’n bord: “Being a family means you are part of something very wonderful. It means you will love and be loved for the rest of your life no matter what.”

Dis nou vyf maande sedert die miskraam. “Dit vang ’n ou soms nog.” Hy sit sy voorarms op die tafel neer, vleg sy vingers in mekaar, kyk af, lyk skielik verslae. “Baie keer sal ek verby die begraafplaas ry. Ons het vir haar ’n boompie geplant. Sy sou nou gebore gewees het. Dan wonder ’n ou en verlang ’n ou en dink jis, hoekom kon dit nie maar net anders gewees het nie?” Hy vat aan sy neus, trek sy asem diep in. “Maar ’n ou kan nie in die verlede lewe nie.”

Karlien wil nog kinders hê, sy wil baie kinders hê, maar Derick weet nie. “Jis, ek . . . Twee kinders maak dit al taai en moeilik. Ons het nie tyd vir mekaar met twee kinders nie.”

By een van sy Blou Bul-truie wat hy in ’n boks laat raam het. Dit hang saam met nóg ’n Blou Bul-trui en ’n Springboktrui in die sitkamer. Foto: Deaan Vivier
“Dis ’n goeie plek om te wees as ’n ou besef hoe gelukkig en bevoorreg jy is. Amazing vrou, twee oulikste kindertjies. As jou brein daar stop, besef jy jis, jy is bevoorreg.”
Karlien van Jaarsveld, Derick se vrou, het dié foto van hulle en hul tweelingseuns verlede naweek op Vadersdag op sosiale media gedeel.
Dis ’n goeie plek om te wees as ’n ou besef hoe gelukkig en bevoorreg jy is. Amazing vrou, twee oulikste kindertjies. As jou brein daar stop, besef jy jis, jy is bevoorreg.

Tans berei Karlien voor vir die TV-program Strictly Come Dancing. “As jy vir Karlien vra ‘wie’s Derick?’, weet ek nie of sy sal weet dis haar man nie.”

Hy verlang na die Swartland, na die dorpie Piketberg waar hy vandaan kom. “Daai mense is goeie mense, hulle het nie probleme nie. Daai ou trek sy kortbroek aan en kaalvoet en hy gaan. Ek mis daai egtheid. Baie keer in die bedryf is daar baie fakeness en voorgee en rugstekery. Partymaal is jou kaak moeg gesmile, want jy moet vir almal smile.”

Hy praat vinnig en aanhoudend, gee ’n vasberade monoloog, meestal oor hoe hy nou gaan ophou “moan”, ophou
victim” wees, hoe hy hom “mentally” gaan regruk. In sy blou hemp en swart baadjie is hy nog aantreklik, sy losskakel-arms nog fris.

Skamerig gee hy toe hy kleur sy hare so blinkswart. Dit laat hom so ’n bietjie soos ’n Ken-pop lyk, ’n Ken in ’n Barbie-huis. “Dis nie dat ek grys is nie.” Hy lag. “Ek het hierdie net gedoen vir daai lift.” Hy vryf oor sy kop. “Hulle sê mos nuwe hare is life changing. Ek try dit nou, ek try dit.”

Sy loopbaan was ’n wilde tuimeltreinrit. Van Loftus se Liefling, die losskakel-wonderkind wat die Curriebeker in 2002 feitlik eiehandig vir die Blou Bulle gewen het, tot daardie oomblik byna tien jaar later, toe hy in Engeland, waar hy vir die Britse klub Saracens gespeel het, van die veld afgedra is. “Dit was my donkerste oomblik, daar’s nie twyfel nie. My achilles het omtrent in my knie gesit.”

Drie operasies, agt maande op “morfien-based pynpille”, en die hoop om sy loopbaan te hervat ná elke mislukte operasie skraler.

“Daai was seker die donkerste tyd in my lewe.”

Hy vryf met sy hand oor sy gesig, lyk moeg. “Dis eintlik waar die donkerte vir my begin het. Al die ander goed . . . Dis donker, maar dit het ’n aanloop gehad. Elke dag fight jy maar jou eie demons. As ’n ou rêrig gaan dink, dalk van jaar een af (van hul verhouding) het ons nie gedeal met daai goed nie.”

Mense moenie dink hulle het ’n volmaakte huwelik nie.

“Mense kyk altyd van buite af en sê daai ou lyk soos ’n sprokies-dit en ’n sprokies-dat. Mense dink ek en Karlien baklei nooit nie. ’n Huwelik is ’n huwelik, en almal het maar dieselfde issues en probleme. Jy kan nou vandag sê: ‘Jis, hierdie twee is so verlief en so great, en drie weke later sê ’n ou Derick en Karlien se paaie skei. ’n Ou moet flippen eerlik kan wees.”

En die eerlike waarheid is: Dit gaan nie altyd goed nie. Hy vou sy arms. “Dis taai, dis hard, dit maak ons nie abnormaal nie.”

Daar lê nog ’n pad voor hom, maar hy is nou op ’n goeie plek, sê Derick Hougaard (32). Foto: Deaan Vivier

Hy is nou op antidepressante, maar hy weet nie of dit werk nie.

“Ek begin al dink jy kan ’n ou ’n Smartie ook gee. Geluk kom uit jouself uit. Die besluit lê by jouself. Om te sê: Luister hierso, al hierdie goed skrap ek.”

Soms wil hy net weer ’n laaitie wees. Sy vingers trommel op die houtblad. “Daai outjie wat die lewe geniet, wat in die kar ry en na Bryan Adams se “Summer of ’69” kan luister en saamsing en net goed voel.”

Vir ’n ruk lank bly hy stil. “Ek het lanklaas só gevoel.” Hy val terug in sy stoel. “Nee, ek het lanklaas so gevoel. Daai wat jy net in die kar ry en dink jy voel great. Ek weet nie of ek ooit weer daar sal wees nie.”

■■■

Maar hy oordink alles te veel, sê hy. Gelukkig het hy allerhande dinge wat hom besig hou. Daar is die rugbykommentaar op
SuperSport en dan allerhande sakebelange en -projekte. Hy lag en sy tande is wit en volmaak. “Ek is nou so gediversifiseer, dis belaglik, hoor.”

Maar rugby bly sy passie. “My droom is nog steeds om my eie span te kan hê. Baie keer moet ’n ou by ’n plek kom wat jy besluit hierdie is genoeg, anders gaan jy jouself in die rondte en in die graf injaag.”

Gepraat van graf, hy moet nou ophou rook, sê hy. Hy gee homself twee maande. “As die Here ons spaar, gaan ons Desember Mauritius toe.”

Teen die einde van die onderhoud swig hy en gaan haal ’n pakkie Marlboro, skeur die boonste deel, die kanker-waarskuwing, hardhandig af. “Ek hou nie te veel van waarskuwings nie.”

Met ’n ligblou Bic-lighter steek hy die sigaret aan en trek die rook diep in, gooi sy kop agteroor en blaas dit in ’n dik straal die lug in. “Dis die eerste keer dat ek in ’n onderhoud rook.” Hy steek sy hand in sy jeans se sak, kry lag vir homself. “Ek voel nou soos Al Pacino in ’n mafia movie.”

En Karlien? Pla die rokery haar? Hy dink vir ’n rukkie na. “Ek dink dit pla haar eintlik glad nie.”

Dan suig hy weer diep aan die Marlboro, laat smeul die oranje kooltjie. “Maar partykeer sal sy seker na my kyk en dink . . .” Hy blaas die grys wolk stadig uit, kyk oor die koue swembad uit. “Jis, waaaar’s daai outjie?”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.