Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Oop Kaarte
Murray La Vita: Die stem van Cobus Bester
Die veteraan-SAUK-man en Monitor-aanbieder Cobus Bester, wat einde vandeesmaand aftree, praat oor sy lewe in die uitsaaiwese.
Cobus Bester, aanbieder van Monitor, gesels oor sy lewe en sy loopbaan. Hy tree einde vandeesmaand af by die SAUK.Foto: Liza van Deventer

Cobus Bester het verkoue. Byderhand is ’n pakkie Fisherman’s Friend en ’n sakdoek.

’n Verkoue kan egter nie daarin slaag om die stem (gesaghebbend, rustig, beskaafd) onder te kry wat ons oor jare op die televisie en radio leer ken het nie.

Die onderhoud vind plaas by ’n tafeltjie buite ’n restaurant in ’n winkelsentrum in ’n noordelike voorstad van Kaapstad.

Cobus en sy vrou, Elmaré, en hul 17-jarige tweelingseuns, Zak en Jaco, woon in Johannesburg. Hy was in Kaapstad vir die begrotingsrede – sy 15de in die 17 jaar as aanbieder van Monitor. Hy het in sy tyd by die SAUK in ’n verskeidenheid hoedanighede 24 begrotings gedek. Hier is ’n deurwinterde professioneel wat die uiteenlopende kontoere van die uitsaailandskap baie goed ken.

“Toe ek vir iemand, wat reeds by die SAUK gewerk het, sê ek wil ook graag daar gaan werk – aan die uitsaaikant en met nuus – het hy my die beste raad gegee wat iemand my waarskynlik nog gegee het: Móénie net in die medium infóéter sónder dat jy leer waaroor dit gáán nie. Daar is te veel mense wat dit doen; hulle kom uit die koerantwêreld of uit ander wêrelde en word regstreeks aangestel as verslaggewer en so aan, en hulle kén nie die medium nie; hulle verstaan dit nie.

“So toe het ek daar aan die bedryfskant begin werk. Ek was ’n juniorvideotape operator, soos hulle my genoem het. Daarna beeldkontroleur geword in die ateljees. Ek het gewerk op kinderprogramme soos Wielie Walie en al dié goed, en méttertyd het ek toe in die nuusspan begin werk as beeldkontroleur en toe uiteindelik nuusregisseur geword met Michael de Morgan en Riaan Cruywagen. Daai soort van ouens was my aanbieders. Daarna het ek eers nuusverslaggewing begin doen.”

Hy was ’n tegniese nuusregisseur in ’n tyd toe visuele materiaal vir ’n nuusbulletin bestaan het uit skyfies, filmrolle en grafika wat op papier of karton geskep is.

“Die een ding waarvoor ek redelik bang was, was ’n kêrel wat by ons gewerk het . . . Hy het bedank en het besluit voor hy weggaan, gaan hy iets aanvang wat die nuusbulletin ’n bietjie sal ontwrig. Hy het vir sy vriende gesê hy gaan ’n wekker wegsteek in die ateljee en dié wekker sou begin lui net nadat die nuusaanbieder begin praat. Dit het nooit gebeur nie, maar ek moet sê: tot die dag wat hy weg is, het jy maar op die lug gegaan met daardie bietjie vrees in jou kop dat hierdie ou dit wrágtig gáán doen.”

Die dag in 1990 toe Nelson Mandela vrygelaat is, sal hy nooit vergeet nie.

“Dit was ongelooflik daai dag. Álmal het gewéét hier kóm iets, maar wát dit sou wees . . . Ek moet sê daai dag; dit was een van die hoogtepunte vir my . . . Dáái elektrisitéit wat daar skielik geskep is. Terselfdertyd: die KP en daai ouens was gewéldig kwáád, maar die res van ons het op wolke geloop daai dag.”

Hy was in die ekonomiese redaksie.

“Ons het maar die markte dopgehou en gekyk hoe hulle reageer op al hierdie goed . . . Jy sal onthou ons was nie toegelaat om prentjies, foto’s van hom te sien terwyl hy in die tronk was nie. So jy het altyd hierdie skadufiguur in jou kop gehad. So die dag toe hy nou vrýgelaat word . . . Dit was ’n . . . iemand het toe al so ver gegaan om in een van die koerante sketse te maak, indrukke, ’n idee van hoe hy waarskynlik sal lyk, en hulle was nogal verbasend akkuraat. Ek het nog altyd gedink êrens het hulle ’n foto of twee gesien.

“Nadat hy vrygelaat is . . . Die nuwe ding was toe: Wanneer gaan ék hom in lewende lywe sien? Ek het daai voorreg gehad, wónderlike ervaring . . . Hy het toe daai tyd in Soweto kom woon in daardie kasarm wat hulle vir Winnie gebou het. En toe het Otto Pöhl – hy was die hoof van die Duitse Bundesbank – hom besoek. Toe word daar gesê daar is ’n fotogeleentheid by die huis, en ek sê vir ’n kameraman: ‘Kóm!’ En ek weet: vándag gaan ek hom sien.

“En toe het ek hierdie ongelooflike ervaring. Ons sit toe en wag. En toe Pöhl en meneer Mandela uitkom, toe kýk hy so half links en hy kýk en hy herkén my! Hy sê vir my: ‘I know you! Don’t go away!’ En hy gaan groet toe vir Pöhl. Ék het hoendervleis, nè . . . Hy kom toe terug in die huis in en hy sê: ‘I watched you while I was in prison.’ ”

■■■■

Ons praat oor onderhoude wat hy gevoer het.

“So nou en dan, partykeer per ongeluk, raak jy aan daardie snaar wat reg resoneer en daai persoon begin práát en met jou kommunikéér net op heeltemal ’n ander manier as wat jy aanvanklik self verwag het.”

Hy onthou ’n onderhoud wat hy met ’n sterwende dr. Simon Brand, toenmalige hoof van die Ontwikkelingsbank, gevoer het.

“Hy was in die hospitaal . . . Hy het gewéét hy gaan dood. En om met dáái ou te praat in daardie stadium . . . Aan die een kant verg dit ook van jou as joernalis om ’n bietjie, amper half oor jou eie etiket te klím. Enersyds weet jy hierdie man is sterwend en jy voel eintlik gedrewe om vir hom sy priváátheid te gun . . . En tog wil jy . . . jy móét met hom praat, want dis jou wérk, en hy wéét dit, so hy is eintlik heeltemal happy dat jy dit doen. Dit was ’n héérlike, wónderlike onderhoud.”

Ons het ’n “talk radio nation” geword, meen Cobus.

“En in die algemeen is talk radio vir my ’n frustrerende medium, want jy lok ’n helse lot ouens wat rêrig nie weet waarvan hulle praat nie.

“Daar is baie selde iets opbouends aan. Ja, daar is uitsonderings, elke nou en dan bel iemand met ’n splínternuwe blik op dinge, maar dis ráár, nè?

“Jy kán nie met talk radio, glo ek, dieselfde bereik as wanneer jy ’n góéie joernalis het wat op ’n góéie, verantwoordelike manier ’n storie gaan haal . . . En as daar nog goeie klank is om saam met dit te gaan, soveel te beter. Maar talk radio het net té oppervlakkig geraak.

“Mense lees nie eintlik meer nie. En omdat ons op sosiale media kommunikeer, is dit asof dít ook mense toegelaat het om die normale etikét van gesprek weg te stroop. En daarom kry jy die ding dat iemand ’n opinie lug oor iets en dan word hy absoluut vergúis deur mense. Van hulle mag ’n goeie punt hê, maar die maniér waarop dit oorgedra word . . . In daai opsig het ons half ’n wréde samelewing geword.

“Ons ervaar dit by Monitor. As jy van die SMS’e sien wat mense elke dag vir ons stuur . . . Dis goed wat jy lees en dink: Práát daai mens met dieselfde mond met sy kinders en sy vrou? Sóén hy sy kinders met daai mond? Dis rêrig op daardie vlak. ’n Ou begin al hoe meer agterkom uit die soort reaksie wat jy op goed kry wat uitgesaai word – en ek veralgemeen nou – dat daar ’n ónvermoë onder baie mense is om ábstrak te redeneer en te dink; om subtiéle nuanses raak te sien in wat iemand sê of nié sê nie.”

Hy verwys na ’n opname wat die BBC, dink hy, ’n paar jaar gelede gemaak het om vas te stel of mense televisie kyk of radio luister, en indien hulle radio luister, hoekom hulle dit doen.

“Toe praat hulle met ’n seun van twaalf wat toe vir hulle sê hy luister nét radio. En toe vra hulle vir hom hóékom. Toe sê hy: ‘Because radio has better pictures.’

“Dís een van die uitdagings wat ons het. Ek dink radio in ons land het dit tot ’n groot mate verloor. Ons probeer dit terugkry by Monitor. Ons was onder geweldige druk as gevolg van ’n tekort aan verslaggewers wat dan noodwendig beteken het ouens het op telefone gesit en stories gedoen.

“Rádio kom tot sy reg as jy ’n ou ook kan uitstuur dat hy kan gaan klánk opneem en met klank ook ’n prentjie skilder. Izak du Plessis by ons is byvoorbeeld besig om in daardie rigting te beweeg en daar is ’n paar van die ander mense ook.

“Nou, dit verg ’n sekere ingesteldheid en ’n sekere talent. Izak luister met ’n sekere deernis na wat mense vir hom sê. Party ouens voer onderhoude sonder om by die dieper ding agter die storie te kom want hulle lúister nie rêrig nie.

“Ek onthou ’n ander omroeper het jare terug van iemand gesê: ‘Hy het ’n houtoor.’ Daar ís mense met houtore.”

Hoe voel dit om die aanbieder van ’n program (Monitor) met by die 700 000 luisteraars te wees?

“Toe ek destyds begin uitsaai het, het van die ouer uitsaaiers vir my gesê die vinnigste manier om jouself te intimideer, veral aan die begin, is om te dink: ‘Ek saai nou vir soveel mense uit.’ So jy stel jouself op ’n persoon in en jy praat met dáárdie persoon . . . Jy praat met één persoon wat aan die ander kant van die mikrofoon luister.

“Vandag kan ek nie meer vir jou sê wie’s daai persoon nie . . .”

​Biografie

Bester sal ná sy aftrede nog onder meer op ’n vryskutgrondslag vir die SAUK werk.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.