Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Oop Kaarte
Murray La Vita gesels met Anne-Marie Beukes: ’n Vriendelike gesig van taal
Prof. Anne-Marie Beukes, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad (ATR), deel haar gedagtes oor onder meer Afrikaans.
Prof. Anne-Marie Beukes, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, meen ’n taal is eintlik níks sonder die sprekers daarvan nie. Foto: Alet Pretorius

Sy onthou ’n Oukersaand in Paradysstrand.

“My ma en haar jong verpleegster het saam met ons kom vakansie hou. Die verpleegster praat prágtige Afrikaans. Sy het in Hammanskraal, by Pretoria, grootgeword. Ons sit om die tafel en dié kind sê: ‘Julle weet natuurlik my familie sê hulle is swart Afrikaners.’ Ek val omtrent van die stoel af. Ek sê: ‘Hóé bedoel jy?’ Sy sê: ‘My familie kom daar van Onverwacht.’ Ek vra: ‘Nou waar is Onverwacht?’ Sy sê: ‘Nee, daar anderkant Cullinan, oos van Pretoria.’

“Die breë storie is dit is mense wat saam met die nátrekkers gekom het – die Malans, die Hammans, die Pienaars, wat hier by 1857 rond begin optrek het. En toe het daar van die mense wat slawe was, saamgetrek en mense het nou maar op die wa gespring soos wat hulle nou opgetrek het. En hulle het tereggekom by wat nou bekend staan as Pienaarsrivier, oos van Pretoria. En daar het hulle nou begin nes skrop en hulle het gewerk as werkers op hierdie natrekkers se plase. En die mense het hééltemal verafrikaans.”

Hulle het hulle uiteindelik in Onverwacht gevestig en woon steeds daar. Beukes doen tans navorsing oor dié gemeenskap.

“Dat ’n tannie daar staan en sê: ‘Ék is ’n swárt Afrikaner!’ ”

Die onderhoud met Beukes vind in ’n hotel in die Bo-Kaap plaas.

“Ons het gisteraand in George Taaldag gevier. Dis nou ’n kapstok waaraan ons ’n ding hang. Ons vier die vele gesigte en stemme van Afrikaans. 14 Augustus 1875 is die dag wat ’n klompie mense in die Paarl bymekaargekom het en dís eintlik wat die proses aan die gang gesit het om Afrikaans as ’n geskrewe taal te begin. Maar Afrikaans is mos nou baie ouer.

“En toe nou vandag in die Bo-Kaap is dit Stap vir Afrikaans. ’n Mens soek ’n geleentheid om Afrikaans te líg . . .”

Sy beskryf die ATR as ’n jong organisasie wat die voetspoor van Afrikaans moet vergroot en Afrikaans as ’n dinamiese Afrikataal wil bemark. In ’n vorige onderhoud het sy gesê sy probeer ’n vriendelike gesig van Afrikaans verteenwoordig omdat sy so lief vir die taal is.

“Ek wil half meer sê Afrikaans as ’n dinamiese, lewendige taal en ’n dinamiese, lewendige geméénskap. Die klem moenie vir my te veel val op die táál nie; dis belangrik, maar taal is ’n instrumént en dit speel ’n rol in ménse se ­lewens en ek wil daardie koppeling sterker maak. ’n Taal is eintlik níks as daar nie sprekers is nie. Die vriendelike gesig van Afrikaans is eintlik die sprekers van Afrikaans; en hoe ons ons ­lewens ín en déúr Afrikaans leef.

“Taal is eintlik ’n abstraksie sonder haar gemeenskap. Ons het nou baie mooi hier in die Bo-Kaap gesien hoe lekker ontspanne mense is. Dis waarskynlik waar Afrikaans ontstaan het; dis die wiég van die taal. Afrikaans is régtig ’n gedeelde erfenis.

“Daar ís nog die koloniale en die apartheidswonde, én die nieu­-apart- heidswonde, en ’n mens moet dáái brug slaan. Ons moet kans gee dat die rofies gesond word . . . 

“Daai territorial imperative wat die groepe in ’n sekere sin het; dít is ’n belemmering. Die gebrek aan kennis ook oor die ontstaan van Afrikaans en daai ontkenning van die gedeelde erfenis, dink ek is in ’n groot mate ’n probleem. ’n Deel van die gebrekkige kennis is dat daar nog daardie persepsie is dat Afrikaans ’n witmenstaal is. Dáái goeters, dáái bewusmakingsproses moet gebeur.

“Daar is so min of meer 6 miljoen wit Afrikaanssprekers, maar dan is daar mínstens 13 miljoen mense in hierdie land wat ook Afrikaans praat, as ’n tweede of ’n derde taal; dít vat ons na 20 miljoen toe, wat bedúidend is. Dís die ander ding – daai voetspoor moet ons groter maak. Ons het nog altyd net gedink aan die groepie wat uit huis uit Afrikaans praat. Afrikaans is werklik ’n dinamiese, belangrike taal, en óns, as die sprekers, moet dié ruimte begin opeis.

“Máár, die ander ding wat vir my báie belangrik is, is ek wil die boodskap van die naasmekaarbestaan-beginsel sterker laat uitkom; dat ons nie net vir onsself ruimte opeis nie . . .”

Engels is nie ons vyand nie, sê sy.

“Die anglofobie; dis mos nou nonsens. In die naasmekaarbestaan-beginsel verstaan ons mos hoe belangrik Engels is. Engels is ’n wónderlike instrument en ons moet dit as ’n instrument sién.”

En die beskouing dat Engels die vermoë het om kleiner tale soos Afrikaans te verdring, byvoorbeeld aan universiteite?

“Dit is so. So dit is waarskynlik ’n funksieverskuiwing. Ons sien dit as ’n domeinverlies vir Afrikaans. Afrikaans is ’n wónderlike wetenskapstaal. Afrikaans is een van vyf moderne tale wat in die twintigste eeu ontwikkel het tot ’n vollédige wetenskapstaal: Katalaans, Hindi, Hebreeus, Maleis. So dalk moet ons met ander oë na die goed kyk.

“Ek dink ’n groot gedeelte van die Afrikaanse gemeenskap sit met ’n enórme gevoel van verlies. Dit ís ’n verlies; as ’n mens dink hoe vínnig Afrikaans ontwikkel het as ’n wetenskapstaal. Ons begryp gedeeltelik hoekom dit gebeur het, maar ons kan ons nie opsaal met hierdie verliesgevoel nie.

“Domeinverlies ís ’n probleem. Ek het nie antwoorde oor hoe ’n mens dit ­teëwerk nie. Die waarde van konsepte begryp in die taal wat jy die beste ken; dít is onomstootlik. Dalk verander dit in die toekoms dat ’n mens net jou, waarskynlik hopelik, primêre onderwys kan doen in die taal wat jy die beste ken. Maar ja, Engels is soos ’n lorrie sonder brieke op ’n afdraand.

“Dalk gaan die konfigurasies van die hoër funksies van die tale anders as Engels en uiteindelik – oor ’n paar dekades – ook tale anders as Mandaryns, dan anders lyk. Ek weet nie. Ek weet dis kwellinge.

“Mense loop met pýngedagtes daaroor. Ek het dit natuurlik gesien gebeur by die Universiteit van Johannesburg, nè. Die demograaf prof. Flip Smit het gesê die vinnigste domeinverlies waarvan hy weet, is die verengelsing van hoër onderwys met betrekking tot Afrikaans.

“Maar dit is nie nét Engels nie; dit is ook ’n taalpolitieke konteks in Suid-Afrika. Die feit dat Jakes Gerwel se aanbevelings nooit aanvaar is nie: hy het aanbeveel daar moet ruimte wees vir een Afrikaanse universiteit in die Noorde en een in die Suide. Dít het hy 20 jaar gelede gesê. Dit bly vir my nog ’n groot jammerte.”

In 1993 het sy – in die aanloop tot die afhandeling van die taalklousule in die nuwe Grondwet – die hoof van die taalbeplanningsafdeling van die departement van kuns en kultuur geword.

“Ná 94 was Ben Ngubane minister van kuns en kultuur. Ek en hy en ­Ne­ville Alexander het die opdrag gekry om ’n taalbeleid en implementeringsplan vir Suid-Afrika te skryf gegrond op artikel 6 van die Grondwet.

“Dit was ’n besonderse geleentheid wat Ben Ngubane ons gegee het. Maar toe stuur hulle hom mos terug KwaZulu-Natal toe as premier. Hy het ingekoop in die taalbeleidsontwikkeling, maar dit was weer ’n party­politieke situasie wat so ’n ding gekelder het.”

Hul voorstel was ’n beleid van vier ­tale uit die elf landstale wat gebruik moes word op ’n roterende grondslag vir amptelike publikasies.

“En dan natuurlik regionale soepelheid. Maar dít het natuurlik goeie taalbestúúr geverg, wat nie gebeur het nie totdat Cerneels Lourens van Brits die regering hof toe gevat het. En toe is die Wet op die Amptelike Gebruik van Tale drie jaar gelede aanvaar. Maar daar gebeur nog steeds bitter min implementering. Staatsdepartemente moes beleidsplanne voorlê; baie min het voorgelê en baie het gevra om kwytskelding daarvan.

“Ek dink regtig ons het ’n goue geleentheid gehad om op ’n verstandige en soepel manier alle tale tot hul reg te laat kom, en dít is verlore. Engels geniet voorkeur en die argument is dat Engels die taal is wat bínd. Engels is net ’n lingua franca en ’n lingua franca bind op ’n bepaalde funksionele manier.”

Beukes is ’n professor in linguistiek en die hoof van die departement linguistiek aan die UJ. In dié departement word onder andere tolke en vertalers opgelei.

“Vertaling en tolking is onder die tien vinnigs groeiende beroepe in die ­wêreld. Dít is ’n funksie van ons ge­globaliseerde konteks. Amerika is nie net Engels nie. Engels is enorm, maar dit staan sy aan sy met ánder tale wat deur lewende mense gepraat word. Ook in Europa. Ek dink ons gaan ’n nuwe verstaan van taaldiversiteit moet ontwikkel oor 20, 30, 40 jaar; ’n nuwe kyk daarop moet ontwikkel.”

’n Ander belewenis van taal is aan die ontwikkel.

“My studente, wat 18, 19, 20 is, is só soepel; hulle beweeg so oor die grense. Die ander ding, wat natuurlik vir puriste ’n kwelling is, is die hibridiese tale wat besig is om te ontwikkel. Ons konsep van taal is netjies ingeboks: Afrikaans is Standaardafrikaans en dan het hy sy variëteite, en húlle is ook ingeboks, en dít is mos ’n onrealistiese kyk na taal. Taal is vloeibaar, en veral in die stedelike kontekste waar die jong mense so dinámies méng en verkéér. Hulle praat nie nét Suid-Sotho nie; hulle praat nie nét Engels nie; hulle praat nie nét Afrikaans nie. Dit is kodewisseling, dit is kodeménging, dit is . . . Baiekeer kan hulle nie vir my sê of hulle Noord-Sotho praat en of hulle dít praat en of hulle dát praat nie.

“Dit is ’n hibridiese taal. Dit is ’n weerspieëling van die moderne realiteit. Ons hét nie meer oral daardie duidelike koppeling aan ’n nasionalisme nie.”

Dít, sê sy, word ’n uitgediende kyk na taal.

Biografie

Benewens hoogleraar in linguistiek en voorsitter van die Afrikaanse Taalraad is Anne-Marie Beukes die voormalige voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vertalersinstituut (Savi); ’n voormalige visepresident van die Internasionale Federasie van Vertalers (FIT); en ’n voormalige raadslid van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (PanSAT).

Sy het haar loopbaan as ’n Engels-Afrikaans-vertaler begin en haar ’n jaar later aangesluit by die Univer-siteit van Pretoria se departement van spraakheelkunde, waar sy hoof van die taallaboratorium was asook dosent in spraakwetenskap.

Daarna het sy in die destydse Randse Afrikaanse Universiteit se departement van linguistiek gewerk, en in 1993 hoof van die departement van kuns en kultuur se taalbeplan-ningsafdeling geword.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.