Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Oop Kaarte
Murray La Vita gesels met Dana Snyman: Woorde in ’n blou kampie
Dana Snyman praat oor die beswering van angs, sy ma, en die rol wat Facebook in sy lewe speel.
Dana Snyman in sy huis in Jacobsbaai tydens ’n onderhoud oor sy jongste boek, In die Blou Kamp – Facebook-stories. Foto: Deon Raath
Dana Snyman. Foto: Deon Raath

Dana se drie honde is rasend van opwinding wanneer hy voor sy huis in Jacobsbaai aan die Weskus stilhou. Hy het pas van Namibië teruggevlieg.

Wanneer die honde tot bedaring kom, gaan sit ons oorkant mekaar by ’n tafel. Op die boekrak agter hom staan onder meer Call If You Need Me van Raymond Carver. Bo in sy skryfkamer is ook rakke vol boeke. Langs een groot rak hang sy pa se swart predikantstoga teen die dennehoutbeskot. ’n Groen speelgoedvragmotortjie met ’n rooi hyskraan op die bak staan ook daar.

Teen ’n gangmuur hang ’n troufoto van sy ouers; ’n foto van sy ma as jong vrou; en ’n foto van hom by sy bejaarde pa. Op verskeie plekke in die huis is kruise, onder meer ’n groterige een gemaak uit wat na stukkies dryfhout lyk. Op sy ma se niertjievormige imbuia-trousseaukis staan van die talle pryse, soos ATKV-woordveertjies, wat Dana al vir sy skryfwerk gewen het. Ook ’n bronsbeeld van ’n jong vrou se kop. Die vertrek ruik na laventelgeurige Mr. Min-meubelpolitoer.

Ek het op Facebook gesien Dana was in Grootfontein om ’n familievriend wat sterwend is aan kanker te gaan groet, en vra hom daaroor.

“Daar sit die man in ’n kamer in ’n groot stoel. Hy kán nie meer lê nie want die swélsels . . . Drup hierso waar die portret gehang het, drup in sy arm in . . .  Hy wag nou om dood te gaan. Nou begin hy skreeu van pyn – létterlik skreeu van pyn; skrééu . . . ek praat van skrééu . . . maar élf ure aanmekaar. Sit ek ’n Huisgenoot-storie en skryf oor Ryk Neethling en sy verloofde, en hier twee deure verder sit ’n man en skreeu: ‘Het een vir my ’n rewólwer?! Gee vir my net ’n rewólwer!’ Jissie, jong . . .”

Dana praat ’n ruk oor die ontstellende paar dae wat hy beleef het – en waaroor hy nog ’n storie wil skryf – en dan beweeg die gesprek na sy jongste boek: In die Blou Kamp – Facebook-stories, wat pas by Tafelberg verskyn het.

“Facebook is mos blou en jy jaag jou woorde daar in ’n kampie in. Ja, daai blou kampie wat ons ons woorde nou injaag, nè . . .”

Hy het tans 5 851 Facebook-vriende.

“Deesdae moet jy bemark as jy boeke wil verkoop en Facebook is ’n goeie bemarkingsmiddel – mense wéét van jou; al skréi dit op ’n manier teen wat jy is . . . Maar ’n ou is ook maar ydel, nè? Jy kyk maar na die likes. Maar mettertyd het ek tóg agtergekom daar begin ’n gesprek ontstaan tussen my en mense. Toe het ek nou begin om klein storietjies daar op te sit. Ek probeer heeltyd vir myself sê: Skryf wég van jouself af; dis nie oor jou nie; skryf oor íets wat jy gesien het . . . verkiéslik ménse; dit gaan oor húlle, nie soseer oor jou nie.

“Ek kom toe agter daar begin ’n gesprek; ’n mens kry veral baie inbox-boodskappe . . . hierdie ou vertel my dít en daai vrou vertel my dat. En toe begin ek sien hierdie ding is – behalwe nou vir daardie ydel kant van bemarking en die lekker voel oor die likes . . . ek het ’n verskríklike ding oor stories, net om stories te deel . . . Ek voel op ’n manier soos ’n sendeling, as dit nou nie te pretensieus klink nie . . . van om net mense se stories te vertél, en dit word al hoe sterker in my.

“Ek is al amper op ’n punt dat ek dink as ek dit nié maak en ek kan nie my huis langer betaal nie, sal ek letterlik op die pad gaan met my honde en op élke dorp na hospices of ouetehuise of wat ook al toe gaan . . . townships, énige plek, en net mense se stories begin neerskryf.

“Ek het hierdie verskriklike ding en dit word ál hoe sterker . . . om net goed op te teken, sonder enige literêre soort van onderbou, of wat ook al, net doodeenvoudige goed so eenvoudig as moontlik neer te skryf. Man, van die símpelste goed . . . 

“Ek het nou, jis, ek het ’n goeie ervaring gehad . . . Nou gaan ry ek ook maar bietjie rond terwyl ou Danie daar lê . . . Ek is hier uit op die Maroelaboompad noord van Grootfontein; hier kom ek by so ’n klein winkeltjie en daar is ’n donkiekar en daar staan ’n klomp mense om die donkiekar. En ek vra vir hulle wát doen hulle. En hulle sê nee, hulle het inkopies gedoen en hulle gaan nou terug plaas toe. Hier begin hulle op die donkiekar klim – výftien, ingesluit babas darem, výftien mense op ’n donkiekar.

“Nou gee ek vir hulle ’n bietjie geldjies; nou sê ek: ‘Klim asseblief weer af . . .’ Nou begin ek hulle afneem . . . Ek wil byvoorbeeld nou môre, of wanneer ek rustig raak, doodeenvoudig probeer neerskryf hoe lyk dit wanneer vyftien mense op ’n donkiekar klim – nét dit, nét dit, net daai klein stukkie.

“Ek het toenemend ’n passie om súlke goed net te dokumenteer dat dit net daar is. En Facebook is vir my ’n baie goeie plek om dit te dokumenteer – sit dit op Facebook; mense léés dit.”

Hy soek ’n rukkie lank die foto’s van die mense en die donkiekar op sy MacBook Air, maar kry dit nie.

“Dan kom ons terug weer by die hele idee van gebed en genesing teen depressie, of ten minste teen ángs . . . genesing is nie die regte woord nie . . . om dit te beswéér. As jy so daar staan en jy hou daai veertien mense so dop wat opklim dan’s jy in daai oomblik, dan’s jy by hulle. Nou kom jy by die huis, nou gaan dit jou twee dae of wat ook al vat om daai storie geskryf te kry, en dít is ook genesend, want jy’s dáár, jy’s buite jouself, ja, jy’s buite jouself . . . Die sin lê dáár. Ek dink as ’n mens ’n skrywer is, is jy in wése baie selfsugtig en jy begin naderhand jou private ou klein innerlike beserinkies en pyntjies so uit verband uit blaas, en hierdie is net vir my . . . dis rêrig ’n wonderlike ding wat ek ontdek het.”

Voel hy nie soms selfbewus om dinge op Facebook te deel nie?

“Ek begin myself bietjie vrymaak van daai ding, want ’n ou wil ook so . . . Dis ook vir my ’n groeiproses in ’n sin . . . Dis alles bietjie ýdel en siekerig, hierdie Facebook-ding en ek verstaan dit ook, maar dis half ’n pad waarop ek nou is.

“Báie mense het my aanvanklik leer ken as hierdie ou wat nou hierdie nostalgiese soort van stories skryf . . . ’n skonerige outjie . . . baie min mense het geweet ek het al verskriklik gesúip in my lewe; was twee keer getroud. Jy’t daai beeld half van net hierdie outjie wat mooi skryf oor die verlede en so half terugverlang, en dis vir my belangrik om dit ook ’n bietjie, net menslik te maak, want dit ís nie net só nie.

“Dit maak my baie bang as mense byvoorbeeld dink . . . maar ek dink darem nie daar is baie wat nog dink dat ék dink die verlede was beter nie. Ek dink nie iemand kan nou nog so dink nie.”

Dana kry die foto’s van die mense en die donkiekar.

“Dit help my in my skryf om gou ’n snêppie te vat. Dan kroek jy eintlik ’n bietjie, nè, want as ek ’n stukkie moet beskryf, gaan ek mos nou móói kyk hierso.” Hy wys na die donkiekar op die foto en sê opgewonde: “Kýk, daar hang nog ’n bicycle spanner; ’n outydse fiets-spanner! Onthou jy daai fiets-spanners? Kyk hier; ek sien hom nóú eers! Onthou jy?”

In die storie “Avokado: Dag 1” skryf Dana oor sy ma:

“Dis ’n mooi groot pit, hoor ek Ma sê. My ma, wat ek nou in my middeljare, meer as tien jaar ná haar dood, eers deur myself leer verstaan. My ma wat knaend Valiums gedrink het en ook party dae net in die slaapkamer wou lê agter toegetrekte gordyne. Op elke dorp waar ons gewoon het, het sy ’n avokadoboom in die tuin agtergelaat.”

“Ja,” sê hy, “ek leer haar nou eers ken. Ek besef sy was ’n depressielyer. Sy het aan haar senuwees gely, het sy gesê. Die Valiums-ding het ek nou maar so gesien toe ek ’n kind was, maar ek weet nie of dit in die openbaar bekend was dat Mevrou Dominee Valiums gedrink het nie.

“Rúgpyn . . . dis hierdie jaar rugpyn en dan is dit weer dit en dat . . . Dit kon ’n vorm van aandagsoek gewees het, want onthou, dit was nog Mevróú Dominee gewees, nè? Pá het al die aandag gekry. My ma was verskriklik talentvol, maar sy het haar héle lewe opgegee vir my pa . . .”

Iewers in In die Blou Kamp tree Dana met die fotograaf wyle Paul Alberts in gesprek:

“Maar is dit ál wat vir ons oorgebly het, Paul? Om die dinge, die ou dinge, wat rondom ons verander en aan die verweer en verdwyn is te dokumenteer?”

Ek pols hom hieroor.

“Ek dink ek sal dit altyd doen. Dis een van die goed wat ek móét half doen . . . Die hele soeke na sélfidentiteit. Jy kry verskillende tipes skrywers: party ouens soek op ’n sielkundige vlak na hulleself; ék benader die ding meer uit ’n . . . ek dink ek skryf as ’n Afrikaner; ek is nogal so half bewus van myself as ’n Afrikaner as ek skryf, of van my ágtergrond van waar ek vandaan kom; baie bewus daarvan . . . Jissie, ek wil ook nie te ambisieus daaroor raak nie; ek wil nie klink of ek námens die Afrikanervolk soek na ’n nuwe identiteit nie . . . jy weet, súlke goeters nie.

“Ek probeer net vir mysélf definieer en vir myself aanhoudend . . . Dis ’n voortdurende proses van . . . hierdie ding van om in Suid-Afrika te bly en waar pas jy in? Ek gaan ook maar baie instinktief . . . As jy wil weet wie jy is, moet jy weet wie jy was, nè? Máár, en ek dink dis waar ek probeer uitkom in daai stukkie wat ek vir Paul skryf, jy kan nie daarby vássteek nie; nou moet jy verder gaan; nou moet jy die wêreld van Johannes-hulle begin probeer verken. [Johannes en Lettie Bogosi en hul seun Koos woon in ’n motorhuis/woonstel by Dana. Johannes het lank vir sy oorlede pa in Ventersdorp gewerk.] Of, nou moet jy die wêreld van internet begin bybring.

“Jy kán nie net vassteek by ’n bruin Valiant êrens in die sewentigerjare nie. En dan dink jy was so baie veilig daarin toe jy saam met jou mammie en pappie gery het en Vorster was aan bewind en die polisie was in charge en alles was nétjies en die vuilgoed is opgetel in die strate en daar was nie slaggate nie . . . 

“Dan dink jy dít is nou waar jou reis moet eindig, om nét daai goed heeltyd te herroep; terug te roep.” Hy bly ’n oomblik stil, kyk by die venster uit na die bewolkte lug en die see, en voeg dan by: “Maar jy móét ook bietjie van daai goed terugroep, want dit gee jou energie vir die toekoms.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.