Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Murray La Vita gesels met Elias Nel: ‘Die riel is in ons siel’
Die skrywer en rielmeester Elias Nel vandeesweek tydens ’n onderhoud in Stellenbosch. Foto: Edrea du Toit

Dít waaroor hy as kind op Verneukpan in Boesmanland gestraf en gespot is, het in die lewe van Elias Nel (61) gegroei tot iets waarvoor hy deesdae vereer word.

“Ek spot altyd en dan sê ek ek was een van my ma se gehoorsaamste kinders, maar daar was een ding waarvoor ek baie pak gekry het en dít was dat ek nie uit die grootmense se geselskap kon wegbly as daar kuiergaste gekom het nie. En vandag weet ek dit was oor my nuuskierigheid om die stories te hoor wat my maar daai pak laat verduur het.

“En dieselfde was met die rieldans. As kind kon ek my verkýk aan die vernuftige voetwerk wat die ooms en die tannies gedoen het. Soveel so dat ek gespot is deur my portuurgroep. Hulle het gesê ek is besig met vetlampies en goed, outydse dinge van ’n verbygegane era.” Hy lag. “Hulle was Beatles- en Hollies-manne, en wie was nog daai tyd . . . Cliff en die Shadows.

“Vandag weet ek ek was besig om my voor te berei vir ’n werk wat ek in ’n ­later stadium van my lewe moes doen.”

In Maart is Nel ’n tweede keer deur die Wes-Kaapse departement van kultuursake en sport vereer vir sy nasionale en internasionale bydrae tot Afrikaans, kuns en kultuur. En vanaand vereer die Afrikaanse Taalraad (ATR) hom met ’n Kokertoekenning vir bemagtiging.

Die ATR sê: “Hy is skrywer, digter, rubriekskrywer en bo alles ’n kultuurmens. Hy is veral bekend daarvoor dat hy die eerste rieldanskompetisie in Suid-Afrika georganiseer en die kompetisie uiteindelik tot groot hoogtes gelei het, nasionaal en internasionaal. Hy het hiermee en met talle ander aksies gemeenskappe bemagtig en ontwikkel.”

Die gesprek met Nel vind plaas in ’n konferensiekamer van die ATKV se kantoor in Technopark by Stellenbosch. Nel is sedert 2005 ’n projekorganiseerder van die ATKV.

Waarom was hy as kind so aangetrek tot hierdie “outydse dinge”?

“Ek dink dis die vermoë van die ooms en tannies, wat nie kon lees nie, maar wat uitstekende storievertellers was. As hulle ’n bangmaakstorie vertel het, kon jy die koue rillings teen jou rug voel. En as dit ’n liegstorie was wat die lagspiere geprikkel het, dan het jy gelag dat jou maag seer is. Later het ek gedink ek moet op ’n manier hierdie mense se talént weergee en daarom is baie van my stories onder die mense se werklike ­name geskryf om vir hulle werklik daai erkenning te gee.

“Dieselle met die rieldans. Later het ek besef iémand moet daai stories doen en ook die rieldans. Op ’n stadium het ek óral waar ek in die platteland gekom het, uitgevind: is hier nog mense wat die rieldans doen? En dan het ek vir hulle gevra om vir my ’n paar passies te maak.

“Ek onthou ek was in óf standerd drie óf vier en daar het destyds by ons skole ’n tydskrif omgekom met die naam van Alpha, en daarin het ek vir Adam Small gesien en my natuurlik verkýk aan sy taalgebruik [Kaaps], want dit was vir ons heel vreemd . . . Ons kontak op daai stadium met mense van die Kaapse Vlakte het basies nie bestaan nie. Héélwat later, ek was seker so standerd nege of matriek en ek was bevoorreg om in prof. Tony Links se Afrikaans-klas te sit, en hy het hierdie liefde vir veral Namakwalandse Afrikaans gehad . . . en toe het ek besluit as ek ééndag skryf, wil ek dit doen soos Adam Small dit gedoen het, maar in die taal van Boesmanland, wat geleerdes deesdae Oranjerivier-Afrikaans noem.”

Nel se pa was ’n arbeider op skaapplase en sy ma ’n huisvrou.

“Ons was agt kinders, sewe broers en een suster. Ek is die tweede oudste. Ek het my laerskoolopleiding op Verneukpan deurloop tot standerd vyf; ’n jaar by AME Primêr in Kraaifontein en toe standerd nege en matriek by die Hoërskool Bellville-Suid. Nooit universiteit toe nie. Ek het maar deeltyds studeer by Wes-Kaapland – BA, en baie onlangs my honneurs [in Afrikaans].”

Mense soos die ooms en tannies van sy kinderdae was arm en het harde ­lewens gelei.

“Dit is hoekom mense op sulke verbeeldingsvlugte kon gaan. In die meeste van hulle se werksituasies is dit ’n geval van onderdrukking en nog erger uitbuiting. Maar hier in sy storie kan hy of sy hulle uitleef en self in beheer wees. Dis dieselle met die riel; wanneer daai skugter oom en tannie die dansbaan vat, dan is dit asof hulle ’n gedaanteverwisseling ondergaan en hulle wys: hiér is ék in beheer en hier voer ek my passies uit soos ék dit wil doen.

“Ek het eers later uitgevind wat die dóél van stories is. Dit was reeds ingebed in die ooms en tannies se stories, daai opvoeding, inlig en vermaak. Ons het hóéveel stories; ons het legendes van ’n Jan Thómas gehad wat, soos ’n Dirk Ligter, ál wat ’n verkeerde ding gedoen het. Jy was gewaarsku daardeur om nie by sulke soort goed betrokke te raak nie. Stories van die waterslang . . . Hulle hou mos in kuile en fonteine en oral waar water is. Ek het in 2008 die ondervinding gehad toe ek vir ’n tannie in Namakwaland sê ek dink nie die waterslangstories is eg nie; was dit nie maar net ’n manier om ons bang te maak nie? Toe wou sy my amper bevlieg en sê: ‘Jy kan nie die waterslang se bestaan ontken nie . . .’”

Hy praat oor die oorsprong van die riel.

“Daar is baie min bekend behalwe vir vroeë reisigers wat in hul dagboeke opgeteken het van danse wat hulle gesien het. Oor die riel sélf is daar baie min geskryf. Ek moes hoofsaaklik staatmaak op ou mense se geheue. Die óérwortels lê by die Khoi en dan veral die San-mense. As jy byvoorbeeld kyk na beelde wat jy vandag nog van tyd tot tyd op televisie sien waar hulle rondom ’n vuur staan, hande klap, voete stamp en temend neurie, dan is daar byvoorbeeld iemand wat met die voet so skuifel-skuifel, dan sê hulle dié vrou vertel ’n storie dat sy vandag ’n slang gesien het en dís hoe hy gekronkel het. En die man wat die bok uitbeeld wat hy geskiet het, en so meer. En daai uitbeeldings en nabootsings het regdeur die riel bestaan.

“Die riel was, toe ek daarmee kennis maak, die dans van die werkersklas – plaasmense, jou karretjiemense wat mos daai tipe sigeunerbestaan voer. En dan het hulle begin vertel hoe het hulle se werkdag gelyk as hulle nou vanaand gedans het. Dan kry jy die bokwagter; jy kry die volstruise. Die idioom ‘vlerksleep’, wat by ons in Afrikaans baie bekend is, kom in die riel voor, want die man gebruik sy baadjiepant of sy arm of net die hoed in die hand om by ’n dame vlerk te sleep om haar nou byvoorbeeld uit te nooi om saam te dans. En later met die skaapskeer ook: as die ouens teenoor mekaar beginne brag dan sê die ou: maar ek het daai skaap vandag só geskeer, en hy demonstreer dit al dansende. En so het dit later heeltemal deel van die uitbeeldings en nabootsings binne-in die riel geword.”

Die rieldanskompetisie het sedert sy ontstaan al hoe gewilder geword.

“Ons kon in 2006 met die eerste kompetisie net sewe groepe bymekaarmaak van wie twee aktief was, die ander moes ons bymekaarskraap. Toe het hy vir so twee, drie jaar elke jaar met honderd persent gegroei en daarna het hy nou sy eie loop begin neem.

“Daar is hierdie behoefte om te behoort. Vir ’n tyd lank was die rieldans, nie net van buite nie maar ook in eie gemeenskap, mísken. Oor ’n klomp redes . . . dis outyds, hy het die lelike naam gehad van die hotnotsriel en dít het mense begin distansieer daarvan. Binne die ATKV-kompetisie probeer ons daai negatiewe bagasie wégwerk.

“En dan is daar natuurlik hierdie hele soeke na identiteit ook by bruin mense, wat maak dat . . . hiér is nou iets wat ons as ons eie kan terugéis en op tróts voel en nie meer oor hoef bang en skaam te wees nie. Ons groei onder die jong mense is gewéldig. Verlede jaar het ons 96 spanne gehad waarvan 82 onder die ouderdom van 18 was.

“Daar is ook ’n klomp redes waarom die kinders daarvan hou. Die eerste is hierdie hele nuwigheid waarin ek besef maar ek het iets om vir mense aan te bied en hulle stel belang daarin en waardeer dit. Tweede is die mín geleenthede op die platteland, want ons almal kan nie rugby speel of ons almal kan nie dit doen nie, maar hier is iets waarin ek goed is, so ek gaan dít nastreef.

“En laastens: dis ’n lekker ervaring om ten minste een maal ’n jaar uit jou dorp te kom teen ’n minimale koste en ander plekke te sien.

“Daar is natuurlik mense wat sê: ‘Die riel is in ons bloed.’ Elke groep het ’n vlag en dan basuin hulle dit uit: ‘Die riel is in ons siel.’ ”

As jy goeie rieldansmusiek hoor, “dan sê jou brein iets vir jou voete: jy moet aan die beweeg kom”.

“Miskien het julle ’n paar jaar gelede in die platteland gery en dan sien jy op ’n Saterdagmiddag ’n man op ’n fiets; kitaar agter die blad, en die vrou ook iewers op die fiets. Of jy sal ’n donkiekar met ’n gesin sien van een plaas na die ander plaas gaan, want die riel was hier in die sestig-, sewentigerjare, voordat dit begin taan het, ’n kúierdans; mense het van plaas tot plaas gegaan en dan is hy sommer spontaan gedans. Waar hy verál sterk gedans is, is oor die feestyd, veral Oujaarsaand wanneer die grootmense gedans het tot môreoggend toe.

“En as jy die oggend by daai dansbaan kom, kan jy sien hoedat hulle soos wat hulle die sirkel gevorm het, ’n slóót in die grond in gedans het.”

Agtergrond
  • Elias Nel is die skrywer van Iets Goeds uit Verneukpan?; Mafoiing; Bek sonder Brieke en Bakkies Bakoor. Hy is die samesteller en medesamesteller van verskeie bundels vir die Afrikaanse Skrywersvereniging. Sy werk is ook in Nederland, België en Suriname gepubliseer.
  • Drie van Nel se stories – Aalwyntyd, ’n Hondelewe en Die Heks van Gelukspoort – is tot televisiedramas verwerk en in die Ons Storie-reeks van kykNET uitgesaai.
  • Grepe uit sy Oom Goltros-stories word van 16 tot 20 November op RSG se Kunstefees uitgesaai.
  •  Vanjaar se rieldanskompetisie is op 5 Desember in die Paarl.

Meer oor:  Skrywer
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.