Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
OOP KAARTE
Murray La Vita gesels met Hermann Giliomee: Om Afrikaners te verstaan
Hermann Giliomee besin oor Afrikaners en hul taal; politieke korrektheid; en hoe hy deesdae sy rol as historikus sien.
Die historikus Hermann Giliomee vandeesweek gedurende ’n onderhoud in sy huis in Stellenbosch. Foto: Edrea du Toit

Die bekroonde skrywer en historikus Hermann Buhr Giliomee sit in die leefvertrek van sy Stellenbosse huis en praat oor Afrikaners.

Giliomee se The Afrikaners – a Biography het in 2003 verskyn en is reg oor die wêreld aangeprys as ’n merkwaardige stuk geskiedskrywing, onder andere deur The Economist en mense soos J.M. Coetzee en Athol Fugard. In 2004 het Die Afrikaners – ’n Biografie verskyn. Heruitgawes het daarna gevolg.

Hoe het die mense en hul wêreld oor wie hy in 2003 geskryf het, sedertdien verander?

“Kyk, dit was voor die taalstryd op Stellenbosch begin het. Ek het nooit gedog dat Stellenbosch so . . . so amper Afrikaans sal versaak nie; dat ons nou op ’n stadium is wat jy eintlik hier kláár oorwegend sowel voorgraads as nagraads Engels-medium is.

“Ten tweede het ek ook nie verwag dat die basiese, wesenlike onderskeid tussen die republikéinse Afrikaners en die koloniále Afrikaners só sterk sal manifesteer nie. Die republikeinse Afrikaners in die noorde – veral ou Transvaal en Vrystaat – beséf hulle sal sélf moet opstaan, die regering sal hulle nie help nie; hofsake sal hulle nie help nie, alhoewel hulle het hofsake.

“Hulle sal sélf, op hulle éie manier, weer moet begin mobiliseer; sal moet probeer bymekaarkom. Hulle sal moet bondgenote soek. Hulle sal moet werklik wérk vir Afrikaans; ’n private universiteit stig.

“Die Kááp het teruggeval in wat hy was in die laat negentiende eeu, die koloniale Afrikaners . . . een van my hoofstukke [in Die Afrikaners] is ‘Koningin Victoria se Afrikaners’ . . . die globale wêreld ís so half nou die Afrikaners se queen eintlik. In daardie sin dat hy raak nou baie soos die Universiteit van Kaapstad dat hy geen unieke áfsonderlike identiteit het wat hy koester nie; en dáái afsonderlikheid moet natuurlik so gedefinieer en uitgeleef word dat dit die gehéél versterk. Dis nie ’n laertrek of ’n uit-opt nie. Jy is betrokke by ’n geméénskap en jy is betrokke by die lánd.

“Stellenbosch het heeltemal half weer die queen se Afrikaner geword . . . Ek het al dikwels vir Flip Buys gesê: Jy sal ’n studie moet maak van die verskille tussen die noordelike en die suidelike Afrikaner; dis twee totáál verskillende gemeenskappe. Solidariteit en AfriForum en dié speel nie hierso so ’n sterk rol soos wat hulle in die noorde speel nie. Dáár ken die mense hul cústomers, om dit só te stel.

“As jy nou dink, watter bewegings is hier in die suide aktief vir Afrikaans? In die Paarl het jy ietsie, Wellington het jy ietsie, Stellenbosch ietsie . . . die Woordfees, maar daar is niemand wat . . . Ek sien in vandag se Burger die reaksie op hierdie Open Stellenbosch-ding kom van AfriForum en van Adam Tas; dit kom nie van enige hoofstroom-Afrikaanse organisasies wat sê: Kyk, as ons nie hierso nou stérk staan teen die eise van die studente wat wil hê Stellenbosch moet álles in Engels aanbied nie, dan is die koeël deur die kerk vir Afrikaans.”

Wat hy ook nie verwag het nie, is die “totále verdwyning” van konvensionele Afrikanerleierskap.

“Ek dink Flip Buys is ’n sterk leier, maar ek praat van die politieke leier wat eintlik uitstyg bó sy bepaalde steungroepie, wat námens Afrikaners kan praat of námens Afrikaanssprekendes.

“Ek het verwag dat die nader beweeg van die bruin en die wit Afrikaanssprekendes aan mekaar baie gouer sal plaasvind en dat dit meer dinamies sal wees, maar dit gebeur veel stadiger as wat ek gedink het dit sou . . .

“ ’n Mens moet veral kyk na die geweldige agterstand van bruin mense op die gebied van tersiêre onderrig. Húlle is die groep wat die mínste deelname het aan universitêre opleiding. En Stellenbosch het hierso veral van die laat negentigs af sóveel wít Engelssprekendes ingelaat . . . Stellenbosch het nie verengels ter wille van swárt studente nie; dis ter wille van wít Engelssprekendes en ten koste van die opheffing van bruin Afrikaanssprekendes op die platteland.

“Die prognose is nie baie goed nie, want as Stellenbosch nie ’n tipe van ’n leiding vat nie . . . iémand moet die leiding vat; dit gaan nie vanself kom nie. In ’n sekere sin is dit ironies dat, terwyl Afrikaans so ’n stryd het om te veg is die toestand van die Afrikaanse perswese veel beter as die Engelse perswese. En kykNET bied vir ons ’n baie beter diens as wat wit Engelssprekendes kan kry.

“Maar sonder universiteite wat omsien na ’n taal is enige taal onder baie groot druk . . .  So jy sit met ’n wesenlike probleem, en dan het jy nou natuurlik ’n klomp, veral onder akademici, wat nou enige sulke praatjies afmaak as dié van táálstryders, die táálbúlle, asof dit nou so na aan pedofilie is as wat jy kan kry.”

Afrikaners veg vuil, sê hy.

“Dis maar die Afrikaanse styl. Ek skryf nou oor die sewentigerjare . . . Toe ons nou kom in 1971 met ’n petisie, ’n stuk of 109 mense het hier geteken vir volwaardige burgerskap vir bruin mense, en ek kyk nou weer na die reaksies van Stellenbosse dosente: ‘Totáál onsinnig! Hééltemal naïef! Dis mense wat geen begrip van die politieke werklikhede het nie.’ ”

Giliomee het in 1983 ’n professoraat in staatswetenskap aan die Universiteit van Kaapstad aanvaar nadat hy in die Universiteit Stellenbosch se geskiedenisdepartement herhaaldelik oor die hoof gesien is omdat hy as te verlig beskou is.

Hy verwys in Die Afrikaners na “verstikkende politieke korrektheid”. Waaraan skryf hy só ’n ingesteldheid toe?

“Afrikaners het baie lank nog ’n minderwaardigheidskompleks gehad. Dis vanweë die feit dat ons baie laat verstedelik het. Dit was eers in die vroeë dertigs dat daar meer Afrikaners as Engelse in die stede en dorpe was as op die platteland. Ons is eintlik ’n klomp plattelandse mense . . . 

“Ons het ’n geskiedenis van dat die dominante nasionalisme was ’n Éngelse nasionalisme wat voorgeskryf het oor kleredrag, kultuur, etiket, argitektuur; en ons moes heeltemal op ons eie begin en ons éie probeer ontwikkel. Dit was altyd Afrikaners wat baie gou gereed was om dit as belaglik te maak soos wat hulle nou taalstryders as belaglik afmaak. So ons sit eintlik met ’n basiese minderwaardigheidskompleks in ons en nou ná apartheid sit ons ook met ’n skúldbesef. Nou sê ons dit was so lank dat ons onsself so lekker uitgesprei het in die land en nóú moet ons maar ons plek ken.

“Ons moet ons gevoelens oor taal en kultuur en dié soort van goeters maar privatiseer, want die staat gaan tog nie vir ons wil help nie.

“As jy doodgewoon kyk na die Afrikaner se bates en sy sosiale kapitaal, dan lyk dit baie goed; maar as jy kyk na wat úitgerig word op die oomblik, dan lyk dit vir my asof ons eintlik ’n gemeenskap is wat homself in ’n mate beleër voel en nie sy kop bokant die loopgraaf wil uitsteek nie. Hy sê: Laat ek nou maar liewers kyk na my onmiddellike, persoonlike belange en my kinders se moontlikhede. Jy is amper, om die Engelse woord te gebruik: in transit.”

Toe hy Die Afrikaners geskryf het, het hy dit gedoen “as ’n historikus wat ’n Afrikaanse agtergrond het”.

“Deesdae begin ek wonder of ek nie maar eintlik as ’n Afrikaner-historikus skryf nie. Maar natuurlik verwerp ek die nasionalístiese geskiedskrywing. Ek skryf as iemand wat nie énige begeerte het om die Afrikaners te verdedig of Afrikaners te besíng nie, maar net as iemand wat sê: Kyk, ek het ’n Afrikanér-agtergrond en ek probeer die Afrikaners verstaan en dáárdeur Suid-Afrika verstaan.”

Dit is vir hom belangrik om op die rand van die gemeenskap te staan en vanuit daardie posisie dinge in oënskou te neem.

“En dan wil ek báie krities wees, maar ek sal nooit ontkén dat ek ’n Afrikaner is nie.”

Ons praat oor Frederik Van Zyl Slabbert, een van die figure oor wie hy in sy boek Die Laaste Afrikaanse Leiers – ’n Opperste Toets van Mag skryf. Giliomee het, toe hy nog in die US se raad was, Slabbert as kanselier voorgestel.

“Ons het nog daar gesit by daardie tafel. Toe vra hy: ‘Hoekom het jy my voorgestel?’ Toe sê ek: ‘Wel, Van Zyl, ek dink van óns generasie wat nou in die jare sestig en sewentig jóng dosente was . . . en jy het toe politiek toe gegaan en ek het nié politiek toe gegaan nie . . . was jy die ou wat die beste die intellektuele en ideologiese stryd teen apartheid geveg het. Jý het vir die Na­sionale Party-mense in die parlement gesê die beleid is nie net ímmoreel nie, maar hy kán ook nie wérk nie . . . Vir wat jý in die jare sestig en sewentig gedoen het op die vóórpunt van die stryd teen apartheid, bínne die Áfrikaner-gemeenskappe, maar ook binne die parlementêre gemeenskap, is ábsoluut uniek en dáárvoor wil ek graag hê jy moet kanselier van die universiteit wees.’ ”

Die Giliomees se aantreklike modernistiese huis in Dalsig is in die jare sestig ontwerp deur sy vrou, Annette, wat eens as argitek gepraktiseer het. Die huis is teen ’n hoogte geleë en kyk af op die dorp en vier skole. Dit is ’n koel, oortrokke dag en die boomryke dal met jong stemme wat in die verte van die skoolterreine af opklink, lê lieflik en mistig onder ons. Wanneer ons vertrek, staan Giliomee ’n oomblik by die venster en uitkyk. Dan sê hy:

“Ek wil partykeer hiérdie afneem, maar dis snaaks, jy kán eintlik nie ’n foto hiervan neem nie, dis net eenvoudig te vêr. Jy maak nie . . . daar is nie ’n definisie nie.”

Nuwe werk

Hermann Giliomee het pas ’n nuwe boek voltooi. Buhr van die Bokveld – ’n Sprankelende Intelligensie is ’n bloem-lesing uit die werk van sy oom Johann Jacob Buhr 75 jaar ná sy dood. Dit sluit in bydraes vir Die Burger en Huisgenoot, en kortverhale.

Volgens die literator Wium van Zyl het Afrikaans met sy vroeë dood ’n gevoelige verlies gely.

“Sy joernalistieke werk vir Die Burger is bewys van sy skerp sintuig vir die nuuswaardige en sy besondere vermoë om atmosfeer en groot oomblikke op te roep,” aldus Van Zyl.

“Hy was byvoorbeeld in 1926 saam op ’n ‘triomftoer’ deur die land van genl. Hertzog, en dan het hy nou heel humoristies vertel van dié toer. Hy werk die steke so subtiel in,” sê Giliomee.

Die digter I.D. du Plessis, Buhr se kollega by Die Burger, het hom beskryf as iemand “geseën met ’n spranke­-

lende intelligensie, fyn humorsin, en kwik-silwer-talent”.

Buhr van die Bokveld is deur Africana Uitgewers uitgegee. Nader besonderhede is beskikbaar by ​africanapublishers@mwebbiz.co.za.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.