Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Oop Kaarte
Murray La Vita gesels met Willem Anker: ’n Skrywer het een storie
Die roman Buys en die toneelstuk Samsa-masjien word beskou as van die boeiendste kunswerke wat onlangs in Afrikaans geskep is. Willem Anker is die skepper.
Die skrywer en dramaturg Willem Anker in sy kantoor by die Universiteit Stellenbosch. Foto: Leánne Stander

Die ontmoeting met Willem Anker vind plaas op ’n bewolkte wintermiddag in Stellenbosch.

Ons sit buite die Dorpstraat Deli by ’n tafel aan die agterkant . Die merkwaardigste fisieke eienskap van Anker is sy groot grysblou oë. Dit is die oë van iemand van wie jy nie persoonlike onthullings moet verwag nie.

Die onderhoud fokus dus op Buys – ’n Grensroman, wat bekroon is met die UJ-prys vir skeppende skryfwerk in Afrikaans, en pas ook met die W.A. Hofmeyr-prys. Die Jan Rabie Marjorie Wallace-skryfbeurs wat hy hiervoor ontvang het, het dit vir hom moontlik gemaak om twee jaar navorsing te doen, te reis en te skryf.

Wat is die aard van die verhouding wat tussen Anker en sy karakter Coenraad de Buys, “die gevaarlikste man in die Kolonie”, ontstaan het?

“Ek is versigtig om te sê ek het hom leer ken, want dit is maar ’n truuk en ’n konstruksie wat ’n mens maak, maar ek het voltyds twee jaar nét dit gedoen. So hy is nou die heeltyd in ’n mens se kop en dit is ál waaroor jy oplees; al lees ’n mens nou sielkunde of geskiedenis – dis maar alles rondom hóm. Ek dink tog op ’n manier het ek geweet wat hy volgende gaan doen. Ek verstaan dit nie. Ek het al vir mense gesê dit voel amper soos ’n familielid wat jy goed ken, maar jy verstaan hom glad nie.”

Hy lag.

“En ek het dit daar probeer hou – dat hy vol teenstrydighede is soos almal maar is; niemand is eenduidig nie. En daar is dele van hom wat báie aantreklik is . . . Die idee van die wêreld wat nog nie oral vlae gehad het nie; as jy nie hou van hierdie spul nie dan kán jy net oor die rivier trek; jy kán nog wegkom, daar is óóp oopte en ruimte om te beweeg . . . En daardie totále verset op elke vlak teen alles. En ek het gehou van die pikareske aspek; dat hy mense teen mekaar afspeel; vir álmal die vinger gee . . . Dit is interessant om met so ’n tipe karakter te werk; dit blý ten minste interessant die hele tyd . . . Wat gaan hy nou volgende aanvang? En ek dink ek het toenemend náder beweeg aan die karakter, maar ek het altyd probeer om ’n afstand te behou en dan het dit vir my begin sin maak hoe hy sal dink oor sekere dinge.

Biografie

Willem Anker (36) is in Citrusdal gebore en het aan die Hugenote Hoërskool in Wellington gematrikuleer. Hy het aan die Universiteit Stellenbosch gestudeer waar hy ’n DLitt behaal het en dosent is in kreatiewe skryfkunde, letterkunde en literêre teorie.

Anker is die skrywer van bekroonde teaterstukke soos Skroothonde, Sielsiek (saam met Tertius Kapp), Slaghuis, Skrapnel en Samsa-masjien. Daarbenewens is hy die vertaler van verskeie toneelstukke. Sy bekroonde debuutroman, Siegfried, het in 2007 by Kwela verskyn.

Anker is met Christine Truter getroud.

“Wat ek ook wou doen met die boek is om ’n tipe figuur te skep wat ons nog altyd kry en wat deel is van seker nie net Suid-Afrika nie, maar die wêreld, daai tipe manlikheid; daai tipe mens, wat nog altyd daar was.

“Dit lyk of hy die heeltyd oor grense wil gaan . . . Hy hou nie van hierdie regering nie en dan gaan hy nou wegtrek. Maar die eerste ding wat hy dan doen, is hy begin dan sy eie klein kolonie; hy raak hierdie patriarg, hierdie Moses­figuur, en almal moet doen wat hý wil hê hulle moet doen; laat sy wil geskied – óral. Hy het daardie klein fascisme in hom wat áltyd oorneem . . . En die onvermoë om dinge soos emosies en sulke goed . . . om dit te verstaan en daaraan uiting te gee; dit lei na goed wat onderdruk word en dan in geweld oorgaan.

“En dan natuurlik die gewelddadige lewensomstandighede van so iemand, en seker maar almal in Suid-Afrika, wat lei tot ’n vorm van posttraumatiese stres wat dan ópbou en ópbou en in sy geval dan weer tot geweld lei . . . Daai siklus. En ook daai gryp-wat-jy-kan-terwyl-jy-kan-mentaliteit wat ’n mens seker maar órals sien.”

Dit lyk of Buys iemand is wat hom nie te veel deur ’n gewete of ’n gevoel van berou aan bande laat lê nie?

“Wat ek probeer doen het in die boek . . . daar is ’n klomp goed wat hy nie van homsélf weet nie. Ek wil nie eintlik interpreteer nie. Ek dink hy het tog ’n mate van berou gehad, maar dis miskien een van daai aspekte van die tipe man wat hy is dat hy dit nie aan homself kan erken nie.

“Hy moet ook sy éie ­reëls volg. En dis maar daai leader of the pack-ding, hoe dit werk met honde en met leeus . . . jy móét die sterkste mannetjie wees en as jy nie meer is nie dan word jy uitgeskop of doodgemaak deur die jongeres en jy moet alles vat en gryp terwýl jy die sterkste is en almal anders onderdruk, want jy gáán nie vir altyd die sterkste wees nie. Dis iets wat die karakter van kleintyd af gewéét het en gesien het.”

Watter eise stel die beskrywing van geweld aan die skrywer?

“Ek dink meestal was dit moeilik om dit net reg te skrýf; om dit redelik deadpan te probeer hou. In die eerste drafts van daardie stukke het ek dit maar in blokke gedoen: vandág is nou ’n geweld-dag; vandag moet ek hierdie twee tonele skryf waar hiérdie en hiérdie een se kop gaan oopbars . . . Ek het êrens ’n onderhoud met Bret Easton Ellis gelees waarin hy gesê het hy het in American Psycho gaan sit en ál die moordtonele aaneen geskryf en dan skryf hy twee weke lank weer net aan daai goed oor Whitney Houston of Phil Collins.

“Ek het nogal baie só te werk gegaan. Ek sou nie op dieselfde dag ’n moord­toneel skryf en ’n liefdestoneel, of wat ook al nie. Maar vanaf die tweede draft gaan dit maar oor die skoonmaak daarvan; dan kyk ’n mens as ’n téks daarna. Met die eerste draft moet ’n mens nou maar daar gaan, ja . . . Maar probeer visualiseer, ja.”

Hy het soms dan na musiek geluister.

“Die musiek is maar meer net om my te help fokus dat ek nie ander goed hoor nie, soos lorries in die straat . . . Ek het nie noodwendig hárder musiek geluister by die geweldstonele en Zamfir [panfluit] by die liefdestonele nie. Ek het meesal probeer luister na goed wat nie lirieke in het nie. Ek hou van rock­musiek . . . partykeer was dit maar iets wat Duits is en kettingsae in het of jack­hammers of iets. Net daai doef, doef, doef . . . Dit het my nogal gehelp. Iets wat half later inkanterend raak.”

Wanneer ’n mens ’n werk voltooi het, soos Siegfried of Samsa-masjien, bly daar van daardie kunswerk iets in jou oor wat jy na ’n volgende werk oordra?

“Ek dink tot ’n mate tog so. Ek het byvoorbeeld aan Samsa geskryf . . . die draft was klaar voor ek met Buys begin het, maar toe moes ek nou weer verlede jaar edit daaraan. Dan kom ’n mens tog agter daar is sulke klein tematiese goed wat . . . o, oukei, dis maar weer dieselfde motiewe en goed. Maar ’n mens het ­seker maar almal dieselfde goed wat jy óór en óór van ander ingange af probeer verken. So in daai sin seker, ja . . . Dis seker maar ’n mens se eie goed waarmee jy besig is. En daar is seker ooreenkomste tussen Siegfried en Buys ook. Party mense sê elke skrywer het maar net een storie wat hy oor en oor skryf.”

Soms, as hy van sy vroeër werk sien, is dit soos om na ’n dagboek te kyk.

“Ek het eendag in die laerskool probeer [dagboek hou] en toe besef: nee wat, dis nie vir my nie . . . Ek vind dit baie self-involved; ’n obsessie met jouself. Wat ek hou van skryf, is juis om ánder dinge te verken. Ék is nie veel van ’n Coenraad Buys nie, maar dis baie lekker om dit te gaan verken; om ánder maniere van wees te ontdek sonder om dit sélf te doen. Dis ’n veilige manier van reis.”

In die loop van die middag, en later wanneer dit skemer word, gesels ons oor De Sade; Pasolini se Salò; J.C. Kannemeyer; Etienne Leroux; J.M. Coetzee en sy “outobiografieë”; die vreemde stem van Werner Herzog; reekse soos House of Cards en Breaking Bad; en Wopko Jensma. En oor die bekoring van westerns. Anker het as kind ’n verhaal van Louis L’Amour gelees wat in Afrikaans vertaal was.

“Dit was by my oupa se huis gewees wat ek hierdie boekie een vakansie gekry het. Ek kan nie meer die titel onthou nie . . . Ek dink ook nie ek het dit klaar gelees nie. Dit was vir my onverstaanbaar: die koeiseun en die seun, wat dan guy seker maar was of so iets; en girl was dogter en ’n hings was ’n reun . . . So jy het sulke sinne soos: ‘Die koeiseun klim op sy reun en gaan kuier vir die dogter.’ His girl is dan sy dogter.”

Wanneer ek Anker later pols oor werke wat hy, aldus biografiese inligting oor hom op ’n webwerf, sou gehad het, reageer hy só:

“In my studentejare was ek vir een Desembervakansie barman by Mexican Kitchen, maar toe die klasse weer begin, het die shifts geheimsinnig opgedroog – hulle het my nooit amptelik ge-fire nie, maar net opgehou om my naam op die rooster in te vul. Miskien was my small talk nie na wense vir die clientele nie of miskien het ek te veel glase gebreek.

“Die jaar ná skool het ek vir ’n vriendin se pa gewerk as wewer. Hy het ’n paar besighede uit sy huis bedryf, en een daarvan was twee weefmasjiene in ’n skuur in sy tuin waar ek vir hom angora-hare geweef het wat glo uitgevoer is na Swede – of een van daardie plekke wat hulself leen tot goeie murder mysteries – vir die pelse van teddiebere.

“Ek het saam met oom Krisjan, die tagtigjarige man wat ook bietjie tuinwerk gedoen het, hierdie masjiene bedryf. Middagete het oom Krisjan vir ons bokkoms gaargemaak op die droë blare wat hy gehark en dan aan die brand gesteek het. Dit was een van die lekkerste werke wat ek nog gedoen het. Ek moes ongelukkig ophou toe ek agterkom ek is erg allergies vir angorabokke.

“Al slegte ding was dat oom Krisjan verslaaf was aan die vervolgverhale op radio en ook nie meer so goed kon hoor nie.

“Ná my M in skryfkunde het ek nie werk gekry nie en het ek vir ’n paar maande die working holiday-ding gaan probeer in Edinburg. Daar was ek ’n security guard in Gap-winkels. Die uniforms het net soos Voortrekker-uniforms gelyk. Mens moes rondstaan en verdagte jean-kopers agtervolg. Dit was f—n aaklig. Ek kon ten minste ­later ’n play [Skrapnel] daaroor skryf.

“Tussendeur die sekuriteitswerk het twee Ierse swaers, wat saam ’n verhuisingsmaatskappy met hul lorrietjie bedryf het, my by die hostel kom oplaai as hulle groot huise moes trek en hulle twee nie genoeg was nie. Ek het twee keer saamgegaan, want hulle het beter betaal as die sekuriteitsplek, maar die derde keer wat hulle kom aanklop het, was op ’n dag wat ek lekkerder planne gehad het. Ek het gemaak of ek slaap. Toe het hulle my nie weer gevra nie.

“Dit was miskien ook oor die rusbank wat ek die vorige keer by ’n spiraaltrap laat afval het.”

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.