Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Oop Kaarte
Murray La Vita gesels met Zelda la Grange: ’n Vrou wat ‘eintlik nice is’
Zelda la Grange praat oor haar lewe saam met Nelson Mandela en vertel van die uitdagings waarmee sy deesdae worstel.
Zelda la Grange tydens ’n onderhoud in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Dit is ’n moderne sprokie: die verhaal van ’n jong, konserwatiewe wit tikster se verhouding met die grootste staatsman van ons tyd. Die verhaal van Zelda la Grange en Nelson Mandela en hoe hul verbintenis haar (en sy) lewe verander het.

Ek ontmoet Zelda in ’n Kaapse restaurant. Sy lyk vorstelik waar sy in ’n groot stoel sit – ’n mooi vrou in ’n ligte bloes bedruk met ’n pouveermotief; ligbruin oë; sterk aantreklike hande.

Sy is ’n introvert, sê die mens wat 19 jaar lank die assistent en vertroueling van Mandela was en saam met hom tussen konings en koninginne, despote en presidente, modelle en silwerdoek-idole, rykes en rocksterre, beweeg het.

“Kyk, ek wou ’n aktrise geword het. As jy op die verhoog is, hoef jy nie oor jou eie emosies te praat nie. En dít is wat my aangetrek het: ek kan voordra, ek kan iets voorgéé amper. En op ’n manier was my werk met Madiba presiés dít gewees, want dit was nie ék wat daar staan nie . . . 

“Nou, ná die boek [Goeiemôre, mnr. Mandela], kom mense na my toe en dan sê hulle: ‘Maar jy’s eintlik níce!’ Dan sê ek: ‘Ja, ek was nog nooit lélik en ongeskik en ’n heks gewees nie . . .’ Maar jy word betaal om die persoon te wees wat néé sê en wat órde hou en wat dissipline afdwing. Jy word betaal om ’n persona aan te neem. Dís hoekom dit vir my eintlik baie maklik was, want dit het nooit oor mý gegaan nie. Nóú is dit vir my baie moeilik, want nou gaan dit oor mý en ek kan nie dinge om my hanteer nie. Ek kan nie rêrig sê hoe ek voel nie en ek hou van by myself wees en ek hou van alleen wees.

“Ek is mal daaroor om met my honde by my huis te wees in ábsolute stilte; om in die tuin te werk.”

Sy het nie veel van ’n private lewe gehad terwyl sy vir Mandela gewerk het nie.

“Ek dink dit het baie te doen met wat die lewe jou toedeel. Kyk, op 23 wou ek kinders gehad het en nou deur hierdie tyd met Madiba het ek agtergekom as ek in diens staan, as ek ómgee, is ek op my gelukkigste. Of dit Nelson Mandela was en of dit 2.5 kinders was en of dit 1.5 hond is, want Indira [een van haar Bostonse terriërs] het mos net een oog, so ek sê nou vir mense ek het nie 2.5 kinders nie ek het 1.5 hond . . . Of dit honde is en of dit familie is en of dit my vriende is, as ék omgee, floreer ek. Dit is nou maar hoe die lewe uitgewerk het: ek het daai geleentheid gehad om vir Madiba om te gee en te sien dat dinge om hom reg was en ek was op my beste gewees.

“Maar as ek nou terugkyk, weet ek ek sal dít nooit verruil vir twee kinders nie; nie eers vir výf kinders nie; vir níks in die lewe nie, want dit was net één persoon wat daai geleentheid kon hê en ek besef dit nou. Ek het baie vriende met kinders, so as ek voel ek het ’n kind nodig dan kuier ek by daai mense en daarna kan ek huis toe gaan en saam met my honde wees en dan is daar weer geen verpligtinge nie.

“Vriende van my sê ek het ’n vrees vir commitment, wat miskien so is, maar dan aan die ander kant: hoe het ek myself vir 19 jaar aan Madiba commit en die intensiteit van daai omgewing? So ek sukkel nog self om dit uit te pluis en of dit regtig die waarheid is: hét ek ’n vrees vir commitment?

“Die afgelope paar weke het ek gedink Madiba is die een mens wat my nóóit in 19 jaar veroordeel het nie. Nie vir hoe ek gelyk het nie; nie vir hoe ek opgetree het nie; nie vir wie ek is of my tekort­kominge of my prestasies . . . níks nie. Hy was vir 19 jaar lank elke dag presiés dieselfde.”

Die skryf van Goeiemôre, mnr. Mandela was vir haar terapeuties.

“Ja, dit het dinge losgemaak . . . My ma was só verbaas gewees toe ek sê: ‘Mamma, dáái was die beste ding wat in my lewe met my gebeur het. Ek sou nie hierdie lojale, totaal toegewyde persoon geword het as dit nie was vir daai vrees wat daai dag lósgemaak is nie.”

Sy het toe sy 12 was op haar ma afgekom waar sy probeer het om haarself in ’n motor te vergas.

“Daar is sulke óómblikke waar sekere goed met jou gebeur wat op die uiteinde maak wie jy is en wat jy doen.”

Zelda skryf in haar boek Mandela het een oggend vir haar gesê: “Ek het gedroom jy het my verlaat, in die steek gelaat . . .”

Ek vra haar daaroor.

“Ek het diép vir Madiba omgegee as ’n mens . . . Hy was nie mýne nie; hy was nie familie van my nie, maar ek het diep vir hom omgegee juis omdat hy my nooit veroordeel het nie; omdat hy my so nader getrek het; omdat hy so liéf was vir my – onvoorwaardelik. En toe hy daai oggend vir my sê hy het gedroom ek los hom, toe het my hart gebreek. Ek wou hom . . . Hóé oorreed jy iemand . . . want dis nie ’n romántiese verhouding nie; glád nie, maar hóé oorreed jy iemand dat jy hom nooit gaan teleurstel nie? Ek wou hom net daai gemoedsrus gee dat ek dit nóóit, óóit sal doen nie.

“Mettertyd [sedert 2011] het ek nie meer oor sy kantoor beheer gehad of oor wat mense met hom doen nie en daarmee moes ek vrede maak. Maar die feit dat ek hom nie kon help nie, dat ek nie iets béter kon maak vir hom nie, dat ek nie net kon aanmoediging gee nie – dít was vir my baie moeilik.

Zelda vandag

Zelda la Grange lewer deesdae praatjies om mense te inspireer. “Ek dink dit kom op ’n tyd wanneer mense dit nodig het. Mense smag na iets; hulle wil hoor wat is die stories; hulle wil herinner word aan die grootsheid van Madiba.”

Sy is ook betrokke by die Beeld-kinderfonds, die stigting First for Women, Bikers for Mandela Day, die Stigting vir Professionele Ontwikkeling en die Nelson Mandela-stigting.

Daarbenewens is daar wêreldwyd belangstelling in haar boek en reis sy gereeld na bekendstellings en bemarkingsgeleenthede in die buiteland. ’n Nuwe uitgawe van Penguin het ook pas in Suid-Afrika verskyn.

“Ek wag nog vir die Italiaanse vertaling, hulle is besig met hom, en die Japannees – ek is báie trots op die Japannees. Ek wil baie graag my boek van agter af lees,” sê sy laggend.

“Maar nóú is ek baie bly, want die herinneringe wat ek aan Madiba het, is nog daai sterk persoon wat in beheer is, wat wakker word en my herken . . . ek sal dít nie anders wil hê nie.

“Daai dag by die Uniegebou [toe sy na die liggaam van Mandela gaan kyk het waar dit in staatsie gelê het] het dit gevoel of my hart uit my bors uit rúk. Ek wou hom nooit so sien nie. En ek dink baie aan mev. Machel wat die oomblik daar was toe hy gegaan het, en dan voel ek dankie tog ek was nie daar nie; ek sou nie daarmee kon saamleef nie.”

Die dae ná Mandela se sterfte was “hel”.

“Ek probeer dink wat het gebeur in daai tien dae en ek kan nie vir jou sê nie. Dis asof alles nog te deurmekaar is. Dit is steeds te oorweldigend. Ek kan nie onthou dat ek enigiets anders gedoen het as gehuil het nie . . . en ba­klei het nie. Dit was net hél gewees . . . die bakleiery onder mense en dan moet jy nog vir jouself ook baklei.”

Sy en mense soos Graça Machel en ­George Bizos is deur van Mandela se familielede verstoot en met minagting behandel. Ook ander ou vriende en kamerade en die inwoners van Qunu.

“En die hoeksteen van Nelson Man­dela se karakter, vir my, was respek. En as jy praat van die begrafnis – nee, daar was nie respek vir die mense wat in Qunu bly wat sy búre was nie en mense wat rêrig rede het om te voel hy is een van ons; húlle was nie daar nie.”

Een van die ontroerendste beelde in Zelda se boek is die leë Montblanc-pen wat Mandela in sy laaste jare saam met hom gedra het. Hy het eintlik van geel Bic-penne gehou en het van tyd tot tyd wanneer hy net wou uitkom, daarop aangedring dat hulle penne moet gaan koop. Eendag toe Zelda nie by was nie het sy veiligheidswagte hom na ’n Montblanc-winkel geneem waar een van dié penne aan hom geskenk is.

Zelda skryf: “Dit was ’n vulpen wat gereeld volgemaak moes word en gewoonlik nie ink in gehad het nie. Ek het probeer om die gebruik van die pen te vermy omdat dit ’n proses aan die gang sou sit van ink soek, die pen volmaak, en dan sou die pen nie dadelik skryf nie en wat Madiba ook al moes teken, het gewoonlik op ’n morsige gedoente uitgeloop.”

Dit gebeur met enigiemand wat oud word, sê sy.

“Dit was moeilik om dit ook te aanskou. Maar ek dink hy het geweet ek sal hom probeer help om daardie persoon te wees wat hy altyd was tot wanneer ek kon en ek hét.”

Ons praat oor die geweldige werksdruk waaronder sy verkeer het terwyl sy vir Mandela gewerk het.

“Ja, dit was moeilik en soos ek gesê het in die boek: dit sluk jou lewe in. En ek dink nie ek is al uitgespoeg nie . . . Dit voel nog nie of ek daar uit is nie, want dit kom nou op ander maniere na my toe terug . . .  Maar weer eens: Madiba het dit die moeite werd gemaak . . . Dis amper asof jy sê: Bring nóg; ek kan dit vat, want dit is vir hom.”

Sy is nie ’n “mens-mens” nie.

“Ek wou nooit ménse om my gehad het nie; ek wou net my werk doen en dit baie goed doen. Of ek nou ’n koerant­verkoper of ’n restaurateur was; ek sou dit vóluit gedoen het.

“Maar toe gebeur dit nou so dat dit saam met Nelson Mandela was. Ek wou nooit in die kalklig wees of die mense aantrek nie, so dis báie, báie moeilik om daarmee te deal, want daar is nie nou iemand anders agter wie ek kan skuil nie, ek moet self antwoord . . . En so maklik as wat ek vir die mense nee gesê het namens Madiba, só moeilik is dit nou vir my om nee te sê – ek kan net nie nee sê nie.”

Motorfietsry is vir Zelda bevrydend.

“Want jy kan probeer, maar jy gaan my nie in die hande kry nie. En ek hoef nie vir jou te jok nie. En ek hoef nie skúldig te voel as ek nie die foon antwoord nie, want ek kan nie. Dis die beste ding wat ek nog gedoen het.

“My ma raak diep bekommerd oor my en ek verstaan dit, maar dis die enigste plek rêrig waar ek is waar niemand die voordeurklokkie kan lui nie.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.