Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Oop Kaarte
Murray La Vita praat met Amanda Strydom: ‘Dalk gaan niks verlore nie’
Amanda Strydom praat oor ’n merkwaardige lewe waarin mense soos Hennie Aucamp, Nelson Mandela en Johannes Kerkorrel ’n groot rol gespeel het.
Amanda Strydom vandeesweek in die tuin van die Coopmanhuijs Hotel in Stellenbosch. Foto: Edrea du Toit

Die klok van die Stellenbosse Moederkerk begin die uur slaan. ’n Toeter word gedruk. En dan is daar ’n ander klank; van die stoep van die Coopmanhuijs Hotel ’n stem wat sê: “Ek is hier.”

Wyle Hennie Aucamp praat van “die tragiese stem van Amanda Strydom”. In hierdie oomblik is die stem helder, lig, gelate. Maar weemoed ís deel van die groot Amanda Strydom se uitstraling. Jy sien dit ook in die pragtige groen oë. Waar sy hier sit, is daar iets van ’n Edith Piaf aan haar; iets van die woorde Non, je ne regrette rien . . .

Aucamp was Amanda se mentor, haar meester. Sy vertel hoe hul verhouding ontstaan het.

“In 1979 is daar by die Oude Libertas (Stellenbosch) ’n simposium oor die Afrikaanse lied gehou. Dit was die tyd van die Musiek-en-liriek-beweging; ’n tyd van gewéldige veranderings op Afrikaanse musiekgebied.

“Dié naweek is ék en Koos du Plessis afgevlieg soontoe. Dáár was ook Jannie Hofmeyr en dan Hennie Aucamp en ’n paar ander mense wat betrokke was by die musiekdepartement van Stellenbosch, en ook ’n paar letterkundiges. Maar ál wat ek kan onthou van daardie naweek was Hennie Aucamp. Ons het om een of ander rede net gekliek van die oomblik wat ons vir mekaar hallo gesê het.

“Hy het my gekomplimenteer met die liedjies wat ek gesing het . . . Ons het op ’n stadium met ’n teebreek net gaan sit en praat. Wat my so opgeval het van hom was sy Afrikaans; sy súiwer, óúwêreldse Afrikaans.”

Kreatiewe samewerking

En so het ’n lang en ryk verhouding van kreatiewe samewerking begin. Haar eerste optrede in een van sy stukke was in 1980 met die kabaret Met Permissie Gesê.

“En mens, dít was nou ’n happening! Só ’n happening . . . dit was by die Markteater . . . dat mense óm die teater getóú het elke aand.

“En in dáárdie rolverdeling was Laurika Rauch, Rina Nienaber, Clarabelle van Niekerk, Gerben Kamper, Kobus Lodewyckx, Sam Marais, Bill Curry . . . 

“Die musiek is gekomponeer deur Roger Bashew . . . Die musiek was ongelooflik! Dit was núútskeppinge met Aucamp se lirieke. Roger was baie jazz-ingestel, maar dit moes werklik die klank van kabaret hê, so daar was ook banále liedjies . . . Onthou: op dáárdie stadium was daar sensorskap, daar was ’n óórlog op ons grens . . . so dit was só relevánt.

“Nou ja, toe ons open met die stuk toe sê hy vir my: ‘Jy is die stér daarvan. Dis asof jy my woorde nou net sélf uitgedink het.’”

Aucamp was by haar toe “geweldige groot” dinge in haar lewe gebeur het.

Amandla!

“Die aand [in 1986] wat ek in Oude Libertas gestaan het en amandla geskreeu het oor die paswette, was Hennie in die gehoor . . . En ná die tyd het hy net vir my gesê: ‘Ek hoop jy besef dat jy jou toekoms vanaand hééltemal verander het. Jy gaan báie vyande maak.’ ”

’n Kelner bring vir haar ’n vrugtedrankie, ’n smoothie.

“En hy was só reg! Tot vandag is daar wréde verregse mense wat my ’n káfferboetie noem. Vandag nog is daar mense wat ónthou hoe dit hulle lewens verander het. Toe ek meneer Nelson Mandela ontmoet het, het hy vir my gesê: ‘I know who you are.’ Hulle het op die Eiland gehoor van ’n wit meisie . . . hy het my ’n meisie genoem . . . wat opgestaan het, want hulle had ’n riemtelegram en hulle het gewéét van my.

“En toe wou iemand my begin betrek by die struggle en hy het gesê: ‘Nee, julle sal haar vernietig.’

“Ek onthou dat Hennie óók báie besorg was daaroor. En dit was nie lank daarna nie dat ek ineenstort en vir báie lank in ’n inrigting toegesluit is en as bipolêr gediagnoseer is.

Bipolêr

“Dít het my lewe verander en my lewe gebou. Ek sou nooit weer net ánder mense se liedjies sing nie; ek het my eie begin skryf. En gerééld, soos klokslag, is élke liriek vir Meester gefaks en het hy met ’n pen geskryf waarvan hy hou, wat ek dálk kan verander . . . En só het hy my gementor deur ál sewe my albums . . .”

Ons praat oor haar geliefde vriend Ralph Rabie (Johannes Kerkorrel).

“Terwyl ek in die inrigting was, het hulle die Voëlvrybeweging begin. Ek het níks geweet daarvan nie. Toe word ek ’n rol aangebied. Met bewende knieë aanvaar ek dit, want ek was vir lank siek . . . het skókbehandeling gekry . . . en onder soveel pille en goed dat jy dink jou brein werk nie meer nie.”

Dit was Dario Fo se Orgasmo Adulto Escapes from the Zoo, en sy en Michelle Maxwell is na die Grahamstadse fees daarmee.

“Ons het net die show klaargemaak een middag en ek staan so eenkant. En ek voel sulke stérk arms om my . . . Toe is dit Ralph . . . Ná al hierdie verskriklike tyd, hier is Ralph. Hy sê: ‘Ek het jou só gemis. Jy gaan nie nou huis toe nie. Jy gaan nou sit. Kýk bietjie wat ons doen.’

“En hier loop die Voëlvry-orkes op die verhoog en bláás my kóp ván my lýf áf! Ek kón nie gló wat ek in Afrikaans hoor nie. Dís róck. Dís kwáád. Dís protés. En hulle doen dit met soveel óórgawe . . . suiwer Afrikaans, en álmal in die gehoor ken die woorde; ek sit daar soos iemand wat ’n agtergeblewene is.

“En dit was net vir my fantasties. En toe het ons vriendskap weer nét so aangegaan asof daar nie maande tussenin verloop het nie.”

Lae Lande

Amanda tree sedert 2007 gereeld in die Lae Lande op.

“Ek was nogal senuweeagtig, want dis letterlik om weer ’n debuut te maak iewers, want hulle kén my nie eintlik nie. Hulle is passievolle teatermense en wanneer ek in Nederland optree, sing ek my éie liedjies; ek sing in Afrikááns . . . En dít is waarvoor hulle lief geword het, my Afrikaanse liedjies.

“Die eerste keer wat ek daar opgetree het, was in die Koningstheater in Den Bosch. Ek was báie senuweeagtig, maar ek het my musikante by my gehad . . . Toe ons klaar is en ons buig, toe sê Ja­nine (Neethling, pianis) vir my: ‘Kyk op.’ Toe staan die hele saal op. En toe weet ek die ys is gebreek. En só het dit nog elke keer gegaan. Jy word op die hande gedra.”

Dit het haar met nuwe oë laat kyk na wat sy doen.

“Jy kry respek vir jou talent en vir wat jy doen. Ek is hiér soos familie vir mense . . .  dis soos ’n volksbesit – hulle ken my; hulle weet wat om van my te verwag.

“Maar as jy vir die eerste keer in ’n vreemde land jou liedjies gaan sing wat hierso al bekend is, en die reaksie is só positief, dan wéét jy dat jy iets reg doen, want ek síng nie kommersiële musiek nie . . . dis oor diéper dinge en ek sê dinge op ’n ander manier. Dit het my net soort van weer ’n stúkrag gegee. En om dán huis toe te kom en weer op te tree is fantásties.”

Frans Marx

Die gesprek loop na die vroeë dae van haar loopbaan. Een van die wendings was toe haar paaie in 1979 met dié van Frans Marx gekruis het. Eers kies hy haar vir die hoofrol in die rolprent Pasgetroud en daarna volg die musiekbly­spel Christian.

“Ek het nét klaargemaak met universiteit en ek was destyds by Kruik. Maar Frans Marx het gesorg dat ek daar uitkom. Ek weet nie wat hy vir Pieter Fourie, wat destyds die hoof was by Kruik, gesê het nie, maar ek doen toe net die eerste helfte van die jaar.

“En Frans het vir my in die Transvaal so ’n uitset gekoop by ’n boetiek en hy het my gevat vir ’n oudisie vir die musiekblyspel Christian en toe kry ek die hoofrol teenoor Nick Taylor, en toe is ek vryskut . . . Jónk en nie heeltemal au fait met hoe hierdie wêreld werk nie!

“Die stuk het in Durban geopen en Joan­ Brickhill en Louis Burke het dit gesien en die stuk oorgekoop. En toe kom ons Transvaal toe daarmee en toe is ek op die Johannesburgse verhoog bekend gestel. En in daardie stadium toe kom kyk Rosa Keet en Merwede van der Merwe na die stuk en hulle raap my toe nou op by hulle Afrikaanse musiekprogramme en vir Met Permissie Gesê.

“Dit was ongelooflike tye . . . Jy’t nooit geweet wat gebeur nie en als wat met jou gebeur is so opwíndend . . .”

Hierdie verwondering; beleef sy dit nog?

“Mág ek dit nóóit verloor nie! Nóóit nie! Want dan is álles grys; is álles váál; is jy óngemotiveerd; daar is geen opwinding, geen respék vir wat jy doen of die talént wat jy ontvang het nie.”

Jy gaan aan

Sy bly ’n rukkie stil.

“By tye, soos wat jy ouer word, taan dit so ’n bietjie, want jy weet nie vir hoe lánk jy nog kan aangaan nie. En dan gebeur daar weer iets en dan besef jy: Ag, man, dís wat ek dóén! Dis fantasties! En jy gaan aan. So, mag ’n mens dit nóóit, nóóit verloor nie. Ek het dit in ’n lied beskryf wat op Kerse teen die Donker is, en dit gáán oor ouer word: 

“En as my béne stram word en ek stádiger moet loop. As die are op my hande soos verliefde wurms knoop. As álles wat eens helder was, verbléék na grýs en gróú; laat my tog soos kindertyd my verwóndering behou.”

​Op die Woordfees

Amanda Strydom – sanger, kabaretkunstenaar, liriekskrywer, dramaturg en bekroonde aktrise – is by verskeie geleenthede op die Woordfees betrokke:

Die Vredemakers in die Oude Libertas-amfiteater op 6 en 7 Maart.

’n Vuur Gevang in Glas, wat Hennie Aucamp in 1985 vir haar geskryf het en wat sy met die jare verander het namate nuwe werk van hom verskyn het. Die pianis Janine Neethling begelei haar. Dit is op 8 en 9 Maart in die Drostdy-teater.

 Die 16 Onse Opelugkonsert op Spier op 10 en 11 Maart waar sy saam met onder andere Stef Bos optree.

 Op 13 Maart is sy saam met Amanda Botha en Dave Pepler in die Boektent in ’n gesprekspaneel met die onderwerp Hennie Aucamp: Dalk Gaan Niks Verlore Nie.

 Om nader besonderhede oor die US Woordfees in Stellenbosch, besoek www.woordfees.co.za.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.