Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
OP REKORD MET MARGA
Oudgenl.maj. Gert Opperman: ‘Solidariteit is kulturele imperialiste’
Die Voortrekkermonument, eens ’n half verlate, lekkende en melaatse apartheidsimbool, is vandag springlewendig en staan op sy eie bene. Die “dokter” wat die grys reus genees het, is oudgenl.maj. Gert Opperman.
Oudgenl.maj. Gert Opperman in sy kroegie met een van sy spesiale wyne. “Ek het ’n wyn van elke jaar dat my kinders gebore is.” Foto's: Lisa Hnatowicz

“Dit moet aanvaarbaar wees vir almal. Dit sal bitter jammer wees as enige enkele organisasie die monument sou oorneem.”

Oudgenl.maj. Gert Opperman is ’n oomblik stil.

“Hulle het ’n baanrekord dat hulle met aggressiewe metodes Afrikaanse instansies wil oorneem.

Ek het vierkant in die pad gestaan om te voorkom dat Solidariteit die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting oorneem.

“Solidariteit gee geld op voorwaardes: Hulle wil direkteure aangestel hê, beheer neem en verander.

“Die FAK is reeds oorgeneem en hul kulturele been, Maroela Media is hul kommunikasiebeen, Helpende Hand hul sosiale been en Akademia hul akademiese been.

“Hulle wil die Afrikanerbond ook oorneem en die Voortrekkers het hulle eintlik al de facto.

“Die gevaar van dié oorname van die Afrikaner is dat een man se siening verhef word tot die Afrikanersiening as daar net ja-broers en meepraters om hom is.”

Opperman is nie bitter nie, hy draai wel geen doekies om nie. Hy is tevrede. “Daar was ’n tyd vir my om te kom en ’n tyd om te gaan.”

Hy is trots op wat hy in die 15 jaar aan die hoof van die bestuur van die Voortrekkermonument en later ook die Erfenisstigting bereik het.

En met reg.

Die monument was 15 jaar terug ’n grys reus wat ’n apartheidsverleentheid geword het; ’n plek waar nie alle Suid-Afrikaners welkom was nie; ’n onbekende Boereplek waar swart mense gedink het apartheidsmisdadigers opgehang is.

“Ons moes deur onkunde en haatdraendheid breek na Engelse, swart mense en bruin mense.”

Dit het Opperman so te sê op sy eie houtjie reggekry. Hy het byna alleen deur die jare R60 miljoen ingesamel om die lekkende ou reus reg te ruk en om dit met heug en meug tot in die nuwe Suid-Afrika te sleep.

Deesdae besoek meer mense van alle kulture en van oor die hele wêreld die museum en naweke stroom mense na die terrein om aan wedlope, staptogte, fietsrenne en ander bedrywighede deel te neem. Daar word perdgery, konferensies gehou en af en toe selfs rockkonserte aangebied.

Ons sit in sy huis in Midstream, van waar hy op pad is om te verhuis na ’n aftreeoord in dieselfde gebied. “Die personeel daar noem my oupa,” sê hy en jy kan sien dat hy dit nie juis snaaks vind nie, maar ook nie aanstoot neem nie.

In sy kop is dit net ’n adresverandering.

Opperman begin nou met sy derde loopbaan.

En daar is nog net soveel oor as van die pligsgetroue skoolkind, die prestasiegedrewe soldaat en die hardwerkende monumentbaas.

Ons kyk uit oor sy “militêre tuin”, waar die heininkies in mooi reguit rye langs die grasperk staan en netjies opgeleide ronde boompies soos korporaals met net die regte spasie tussen hulle.

Agter die huis is Ria, sy vrou, se “deurmekaar” tuin.

Oudgenl.maj. Gert Opperman en sy vrou, Ria, in haar deurmekaar tuin. Voor die huis het hy ’n “militêre tuin”.
Daar is wonderlike mense wat klein bedraggies gee, maar daar is ook leë blikke wat dreig, maar nie die hand in eie sak wil steek nie.

Dit sukkel om hom van al sy idees vir die toekoms van die Suid-Afrikaanse Militêre Veterane-vereniging weg te kry terug na die Voortrekkermonumentdae. Hy is onlangs gekies as dié vereniging se eerste adjunkpresident en sameroeper van die komitee verantwoordelik vir geskiedenis, erfenis en herdenkings.

Dis wanneer hy praat van Desember verlede jaar se viering van die Slag van Bloedrivier dat die soldaat wat altyd so seker en in beheer lyk, se oë bietjie rooi en waterig word.

“As jy in die wa-laer by Bloedrivier staan, weet jy jy beleef geskiedenis. Net so as die son op 16 Desember op die sarkofaag in die Voortrekkermonument skyn. Dis emosionele belewenisse.”

Waarskynlik is dit ook die onverdunde erkenning en eer wat hy daar van pres. Jacob Zuma, die Zoeloekoning en ander gekry het wat die emosie so amper laat oorborrel het.

Versoening is waarvoor hy hom beywer het, maar hy het ook nie op hom en die Afrikaner-geskiedenis laat trap nie. Toe die name van oud-SAW-soldate nie by die nuwe Vryheidsmonument op die koppie langs die Voortrekkermonument opgeneem is nie, het hy gesorg dat hulle op ’n gedenkmuur op die monumentterrein verewig word.

Maar ná alles kon hy nie daarin slaag om sy laaste wens vir die Erfenisstigting, waaronder die Voortrekkermonument onder meer val, waar te maak nie. Hy het gewerk daarvoor dat die Erfenisstigting ingevolge die Wet op Kulturele Instellings tot ’n amptelike kulturele instelling verklaar moes word. Daarmee saam sou die stigting jaarliks R2 miljoen van die staat kry, geld wat hy glo die monument toekom.

Uiteindelik het die minister van kuns en kultuur se reaksie op die Erfenisstigting se weldeurdagte planne, daardie poging laat sink. Daar was ook sterk teenkanting uit Afrikaanse geledere.

“Dit was moeilik om die ou entoesiasme terug te kry ná die venyn, verdagmakery en rugstekery wat ek in dié tyd beleef het.

“Dit was nie moeilik om te gaan nie. Ek het myself oor maande lank uitgefaseer.” Hy het bedank sowat ’n jaar voor die einde van sy kontrak.

Volgens hom is daar nie meer groot skenkers oor nie.

“Ons eie mense praat baie, daag uit, maar maak nie bydraes nie. Daar is wonderlike mense wat klein bedraggies gee, maar daar is ook leë blikke wat dreig, maar nie die hand in eie sak wil steek nie. Daar is baie apatie en mense wat jou vir hul eie doeleindes wil manipuleer.

“In die tyd van die veldtog is ek baie gedreig omdat ek met die regering wou praat. Daar is gesê ek verkoop die Afrikaner uit.”

Sy stem bly gelykmatig, maar hierdie gebeure het baie diep seergemaak.

Opperman het volle vertroue in Sonja Lombard, die nuwe besturende direkteur van die Voortrekkermonument en hoof van die Erfenisstigting.

Hy is seker die monument, wat hy uit die loopgraaf van isolasie gesleep het, se toekoms is veilig in Lombard se hande.

“Sy is ’n sterk mens met besliste idees en ’n goeie bestuurder.”

’n Ander belangrike taak wat Opperman nou op sy skouers het, is oupa-pligte. Hy sorg elke dag dat sy kleinkinders Jeanré (7) en Wihan (9) veilig by die skool en weer tuis kom.

Hy praat soms met hulle oor die Afrikanerkultuur, “hoe ons leef en dinge doen”.

“Ek aanvaar die jeug se siening van die geskiedenis is onvoltooid, verdraai en bevooroordeeld. Maar ek is pragmaties daaroor. Ons het nie die totale waarheid gehad nie.

Hoogtepunt

Die hoogtepunt in oudgenl.maj. Gert Opperman se tyd by die Voortrekkermonument en die Erfenisstigting is dat hy betrokke was om te reël dat vier oud-SAW-soldate se oorskot in 2008 uit Angola na Suid-Afrika teruggebring is.

Dié vier – 2de lt. Keith Arthur Williamson, kavallaris Niel Lombard, 2de lt. Eric Bryan Thompson en kapt. Daniël Taljaard – het tydens Operasie Savannah in 1975 gesneuwel en kon weens die oorlogsomstandighede ná hul dood nie huis toe gebring word nie.

Hulle is deur plaaslike Angolese in grafte naby die dorpie Ebo begrawe.

Die Ebo-vier is die laaste vier Suid-Afrikaanse soldate wat in Angola begrawe was. 

“Daar is ander geskiedenis in Afrika ook, van Engelse, Zoeloes, Xhosas. Maar ons aandeel moenie verdraai of verswyg word nie.

“Die kinders ná 1994 moet met onbegrip kyk na goed wat in ons tyd gebeur het. Hoe verduidelik jy dit dat swart mense by een deur moes ingaan en blankes by ’n ander deur? Ek dink ons kan dit self nie meer verstaan nie.

“Ek vertel die kinders waar ons vandaan kom, gee hulle die feite en dan moet hulle self besluit.”

Opperman sê sy werk was nog altyd om probleme op te los, dinge wat nie werk nie, te maak werk.

By die huis was sy stokperdjie ook prakties: houtwerk.

“Ons eerste sitkamerstel het ek self gemaak. Dit staan nog by my dogter. Ek het al gesê raak ontslae van die ding, maar sy wil nie.”

Sy gesondheid is goed, hoewel daar ’n tyd was toe sy lewe aan ’n draadjie gehang het nadat hy akute trombose gekry het weens ’n Achilles-besering.

Dié tendon het losgeskeur terwyl hy in 2004 op besoek aan Rusland deelgeneem het aan hul “boeredanse”. Al Engelse woorde wat sy Russiese verpleegster geken het, was “pain, pain, ag ­shame”.

Hy is ook een van menige oud-weermaglede wat kan sê hy het ’n landmynontploffing oorleef.

“Ons was in ’n Unimog met sandsakke om ons teen landmyne te beskerm. Ek het net ’n klapgeluid gehoor toe ons die myn trap.”

Hy het geen permanente skade weens dié voorval oorgehou nie, maar wel ’n lastigheid in die rug nadat hy in baie veiliger omstandighede van ’n leer afgeval het.

Ons gesprek eindig met nog ’n reguit vraag: “Flits die rooi bakenliggie op die top van die Voortrekkermonument steeds in morsekode ‘Ons vir jou Suid-Afrika’?”

“Ja.”

Eerlik. Reguit

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.