Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
'Ek sal verkies om skrywend dood te gaan, jy weet'

Willemien Brümmer het in 2015 met PG du Plessis gepraat nadat sy tydlose treffer Siener in die Suburbs met sy hoeveelste staande ovasie toegejuig is. Intussen het sy skepper leer vrede maak met die ‘skoonheid van die korstondigheid’.

Liza van Deventer was by met haar kamera.

Nie op sy bek geval nie: PG du Plessis sê hy het nog ’n paar jaar waarin hy die volk gaan “besondig” en sy kankerdiagnose het “boggerôl” met lesers te doen. “Tagtig is nie so erg nie,” sê hy
As hulle in jou bos kap: “Jy sien die dood self is niks, dis net ’n afwesigheid,” sê PG. In ’n veelbewoë skryfloopbaan waarin hy al byna elke toekenning in die letterkundige arsenaal gewen het, het hy egter geen beh
Beste besluit van sy lewe: PG en Marie, sy vrou van die afgelope 55 jaar. As jong getroudes het sy hom verseker sy gee nie om om saam met hom arm te wees nie, en hy sal haar altyd liefhê daarvoor.
Siener in die Kaap: PG saam met sy “ander dogter”, Alexa Strachan, die vervaardiger van Siener in die Suburbs wat eersdaags weer by die Klein Karoo Nasionale Kunstefees en die Suidoosterfees speel. “Ek moet geld maak uit hom terwyl

Die Burger het hier gekom om my sterfte aan te kondig, toe moes ek die kind teleurstel,” sê PG du Plessis in daardie rokerige Stuyvesant- rooi-stem.

Die Stellenbosse oggend is wolk­loos en op pad na skroeiwarm, en PG doen dít waarmee hy die beste is: Spekskiet op die deinserige grens tussen humor en erns.

Hy skerts met sy skrywersvriend Hans du Plessis oor die foon terwyl hy onderlangs loer of sy woorde die gepaste uitwerking het. “Hulle het ’n junior gestuur vir die onderhoud. Sy vra die stupidste vrae, maar sy’s baie sag op die oog.”

Reeds met die intrapslag, toe ek vra hoe hy aangespreek wil word, het hy die spelreëls neergelê: “Dóktor du Plessis of Oom, maar ek is nie jou PG nie.”

Waar ons aan die buitetafel sit in die agtertuin van die Howards, by wie hy tydens die Woordfees tuisgaan, lyk die turkoois swembad soos ’n opgeefsel uit ’n tropiese eiland.

In ’n hoekie buite hoorafstand sit sy vrou, Marie, en drink haar tee terwyl ’n tuinier en ’n huishulp geruisloos afstof en wegsnoei. Die doktor (hy’t sy doktorsgraad in die letterkunde onder NP van Wyk Louw gekry) steek die een Stuyvesant-rooi ná die ander op. Af en toe noem hy sy gespreksgenote “my lief”.

“Elk geval, my lief, ek’s bly jy tref my nie sterwend aan nie. Het jy verwag hier gaan ’n oom sit met ’n doekie en ’n rug oor sy knieë, huh? Man ja, 80 is nie so erg nie. Jy moet hom net op sy bek slaan as hy verbykom.”

Hy steek dié preek af omdat ek voor die onderhoud navraag gedoen het na sy gesondheid by die châtelaine, Ingrid Howard. Die prostaatkanker wat sowat vyf jaar gelede by hom gediag­noseer is, het egter “boggerôl met die lesers te doen,” knor hy.

“God, praat jy oor jou sex life in die media? Wat de moer het hulle te make met wat aangaan tussen my bene?”

Hy lag runnikend, en toe, meteens ernstig: “Ek gee nie om om allerlei storietjies te praat oor my skryfwerk en so nie, dít is openbare goed, maar as jy nou siék is . . . Ek is nou besig om van vóór af my bene se krag te herwin, want ek het twee jaar lank net pyn gehad, maar nou is ek orraait, en mense het steeds sweet blow boggerôl daarmee te doen.”

Sy helderblou oë vonkel gevaarlik agter die brilglase. “Lyk my ek het nog ’n paar jaar wat ek julle gaan besondig.”

BOERE-HOLLYWOOD

Met sy swart kruisbande en kolletjieshemp lyk hy soos die ouer held in ’n swart-en-wit Boere-Hollywoodfliek. En al vóél dit asof hy aan die dwarstrek is op hierdie Maandagoggend, is hy eintlik in ’n hupse luim.

Die Vrydagaand het sy immergroen treffer, Siener in die Suburbs, in die Spier-amfiteater geopen – die eerste keer met ’n eg Kaapse baadjie en ’n sterbelaaide bruin rolverdeling.

Byna 44 jaar sedert Siener se première in die Breytenbach-­teater in Pretoria met Sandra Prinsloo en Marius Weyers in die hoofrolle, het die gehoor soos een man opgestaan.

Ná diep in die 30 drukke en byna net soveel verskillende produksies het mooi Tiemie wat van gewéét wil wees en Jakes, die tang wat ’n ma soek vir sy laaitie, nog presies dieselfde impak.

“Ek het ’n geloof as ’n storie orraait is, kan jy hom in enige gemeenskap speel, en ek glo nie my dramas het ’n kleur nie,” sê hy heel in sy noppies oor dié produksie van sy Hertzogprys-bekroonde drama.

En ja, natúúrlik is sy drama tydloos. “ ’n Mens is ’n mens is ’n mens. Ons emosies bly dieselfde, daarom hóú my storie en ek is baie, baie trots daarop. As ek nóú weer ’n ding gaan skryf wat 40 jaar gaan hou, sal ek my ou skoene agternagooi.”

‘JOU STUK LOOP MIS’

Hulle sit hoeka aan hom oor ’n Siener in die Suburbs-rolprent – dié keer met ’n vollengte draaiboek wat dalk al tydens die Tweede Wêreldoorlog begin.

“Nog alles is oop, maar dis wat ons noem toekomsmusiek,” sê hy en wink die fotograaf nader om “Mamma te speel” en vir hom sy “sewende koppie koffie van die dag” te skink.

Destyds toe hy Siener geskryf het, is hy pas aangestel as direkteur van die nuutgestigte Instituut vir Taal, Lettere en Kuns by die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing. Op toer vir die RGN het hy dié drama op lughawens geskryf met Beethoven se negende simfonie in sy oorfone.

Aanvanklik was die terugvoer in die “Ou Transvaal” beroerd. Toe hy net ná die première uitstap in die foyer, snou die voorsitter van Truk se toneelkomitee die “langhaarskrywertjie” toe: “Jammer, jou stuk loop mis.”

Hy lag. “Daai dae het niemand nog erken dat meisies menstrueer nie. Nou hier kry ek die berig: Die voorsitter van die toneelkomitee sê hierdie stuk gaan nie môre speel nie. Die volgende dag toe bel Eghard van der Hoven my – hy was destyds direkteur daar by Truk – en hy sê hulle kan nie die stuk afhaal nie, want hy’t vanoggend sy eerste loketrekord geslaan.”

PG IN DIE SUBURBS

Siener het sy ontstaan gehad in die jare toe hy by die Hoërskool Die Fakkel in die suidelike voorstede van Johannesburg skoolgegee het. Daar was ’n “Tiemie” in sy klas – “een van die mooiste meisies wat ek nóg in my lewe gesien het”. ’n Paar jaar later is sy net in haar nagrok by ’n mynhoop gesien, voos geslaan waar sy vir haar man gevlug het.

“Ek het self in die suburbs gewoon, in Forest Hill. Toe kom die skoolhoof se dogter uit Engeland uit en toe gaan haal ek haar vir pluimbal die aand en ek sien haar loop in ’n kortbroekie en toe is ek nooit weer dieselfde nie,” sê hy en loer oor sy bril na Marie waar sy steeds in die oggendson sit en bak.

“Ons is nou 55 jaar getroud en dis die beste ding wat nóg met my gebeur het. Sy vat my nie kop toe nie. Sy’t twee groot besluite geneem: Een is sy en my kinders bly uit my bekendheid uit, want ons het te veel van my kollegas se kinders gesien wat verkeerd gaan sodra hulle ’n bietjie bekend word. Die ander ene is toe ek vir haar vra: ‘Kan jy saam met my arm wees? Ek wil gaan skryf.’ ”

Hy glimlag teer. “Sy sê toe: ‘Ek wil nie hê jy moet op 70 by my kom en my verwyt oor goed wat jy nie geskryf het nie. Ek sal sáám met jou arm wees, maar ons sal altyd ’n dak oor ons koppe hê.’ ”

Hy knik. “Ons wás arm – ons is nóú nog arm – maar sy het die besluit geneem en ek sal haar altyd liefhê daarvoor.”

Sedertdien het hy reeds bykans al die groot pryse in die letterkundige arsenaal gewen – met tydlose treffers soos Fees van die Ongenooides, Nag van Legio en die legendariese TV-reeks Koöperasiestories agter sy naam.

Hy beklemtoon elke woord wanneer hy oor sy Boere-oorlog-magnum opus, wat al beskryf is as dié Groot Afrikaanse Roman, praat. “Oor één ding is ek dankbaar en dís dat ek die genade gekry het om Fees van die Ongenooides (2008) klaar te skryf. Ja, ek dink dis die een ding wat ek wóú maak; die een ding wat ek móés maak.”

Toe ek hom vra oor sy mislukkings, raak die rasperstem egter krapperig. “Ek wil niks met jou deel wat mislukkings betref nie, want hoekom moet ek my hartseer voor jou oopruk? Ek het géén behoefte om na my mislukkings terug te keer nie.

“Ek weet ek het ’n skrywersloopbaan gehad waar ek áltyd geloop het op die randjie van mislukking omdat ek daar wóú loop, omdat dit avontuurlik was. Toe ek Siener geskryf het, was dit die grootste waagstuk nóg. Besef jy dit? Hierdie ouens wat so al die goed praat, was ongehóórd in die Afrikaanse letterkunde. Maar ek het op die randjie van mislukking geloop en ek het gewén!”

KETTER IN DIE BUURT

Vandag skryf hy steeds soveel as wat hy kan, al het “die prostaatbesigheid” hom “so ’n bietjie teruggesit”. Hy’s halfpad met ’n musiekblyspel oor die duiwel en hy’t al 80 bladsye aan ’n roman geskryf.

Ná die Woordfees keer hy en Marie terug na hul plaas, Sémoér, aan die Mooirivier by Rysmierbult en hul huis wat al ’n eeu lank staan.

“Ons word oud, jy weet,” sê hy, die bravade skielik weg. “Sý’t geboer. Ek het so ’n klompie daglelies en goed daar gehad, maar ek is ’n slegte verkoopsman. Ek wil die ou sommer die goed verniet gee. Ons het maar van my skryf geleef, dankie vader vir die televisie, want dan kon ’n ou darem ’n leefbare soort van ’n inkomste genereer.”

Intussen het hy en Marie die beeste laat loop en vir die buurman gesê: “Vat die plek, boer met hom soos jy lekkerkry” terwyl hulle “aanpeuter” op hul eie tien hektaar.

Die buurman sorg dat die grensdrade reg is en dat hulle slaggoed het vir die tafel. Verder is PG maar “die ou ketter in die buurt” wat hom eenkant hou sodat hy kan skryf.

KORTSTONDIGHEID

Hy hoes rasperend. “Ek sal verkies om skrywend dood te gaan, jy weet.

“Ek sit met ’n klomp goed wat half is, so ek gaan hulle nooit klaarmaak nie. ’n Mens moet ook maar vrede maak met die kortheid van jou dae en jy moet die skoonheid van jou kortstondigheid aanvaar.”

Hy kyk stip na my.

“Die skóónheid, luister mooi, van jou kort-ston-digheid. As jy hóm eers uitgewerk het, is dit orraait, want lewe móét kortstondig wees.”

Hy druk die hoeveelste sigaret dood in die asbakkie.

“Ek dink eintlik so in jou sestigerjare, dan begin jy agterkom jy kan nie meer so vinnig hol nie, ensovoorts, en dan weet jy nie . . . jy kom net agter dit gaan verby.

“God, en jy sien die ou’s om jou val, man, en as jy 80 is, dan lê hulle omtrent almal.

“Ja, hulle kap in jou bos en jy weet nie waar kap hulle volgende nie, maar die ding is, jy gee nie meer om nie.”

Hy knik. Ja, aanvanklik wás die kankerdiagnose vir hom ’n skok, maar ook dít, sê Pieter Georg du Plessis, is nie so erg nie.

“Jy sien die dood self is niks, dis net ’n afwesigheid. Jy soek nie ’n gekarring nie. Ek sê altyd my eerste keuse is ’n hartaanval, want dan is dit vinnig en dis góédkoop man! Jy roei nie jou arme weduwee uit met ’n ellelange gepyn nie.”

Soos ’n sonstraal kom sy “ander dogter”, Alexa Strachan, vervaardiger van Siener in die Suburbs, die tuin in. Die gesprek is op ’n einde.

“Ek moet geld uit hom maak terwyl hy nog lewe,” spot sy goedig.

Hy groet soos ’n galante heer by die voordeur en vir ’n oomblik is hy nie meer die spekskieter of die formidabele skrywer nie. Hy’s net Pieter Georg du Plessis wat weet “sommer hier anderkant moet iets gebeur. Jy weet net nie hoe lê die donner jou voor nie.”

Vir die eerste keer is daar iets pleitends, byna weerloos in sy stem. “Ek smeek jou, my lief, laat my net toe om my waardigheid te behou.”

Ek smeek jou, my lief, laat my net toe om my waardigheid te behou.
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.