Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Ruan Bruwer praat met Ans Botha: Nou weet almal wie’s sy
Ans Botha, afrigter van Wayde van Niekerk, sê dit was oorweldigend om haar atleet eerste oor die eindstreep van die 400  m op die Wêreldkampioenskapsbyeenkoms in Beijing te sien hardloop. Hier is sy (links) in pienk op pad o

Buite atletiekkringe het nie baie mense tot onlangs geweet dat die nuwe wêreldkampioen in die 400 m, Wayde van Niekerk, deur ’n 73-jarige vrou, Bloemfontein se eie Ans Botha, afgerig word nie.

Hoewel Wayde nou die kollig op sy afrigter laat val het, is sy nie ’n breier wat skielik sukses met ’n atleet behaal het nie.

As dit ’n oornagsukses was, dan het daardie nag 47 jaar geduur, want dis hoe lank sy al afrig.

Zola Budd het onlangs gesê sy is dankbaar dat Ans uiteindelik erkenning kry vir dit wat sy vir atletiek doen.

Ook Wayde se bestuurder, Peet van Zyl, het gesê Ans “weet presies wat sy wanneer met hom moet doen”.

Voor Wayde was daar atlete soos die 400-hekkiesloper PC Beneke en Thuso Mpuang wat in die 200 m op wêreldverhoë presteer het en na die Olimpiese Spele in 2008 was. En hope ander wat op nasionale vlak die beste was.

“Ons het vooraf daaroor gepraat, maar nie een van ons het verwag dit sou so ontsaglik groot wees en dat ons so oorval sou word met onderhoude nie,” het Ans oor die reaksie ná Wayde se goue medalje op die wêreldkampioenskap in Beijing gesê.

Bevoorreg

“Ek het daar gesit en besef hoe bevoorreg ek is om my atleet teen die wêreld se heel bestes te sien hardloop.

“Ek het baie met my oë gesteel en was bevoorreg om aan iemand soos Glen Mills, afrigter van Usain Bolt, bekend gestel te word.

Haar atlete deel ook graag drukkies aan hul “ma” uit.
Met die Liewe Vader se beskerming...

“Daar het ’n spesiale band tussen my en Wayde ontwikkel. Ons twee is die laaste drie jaar deur baie dik en dun.

“Toe hy destyds na my toe gekom het (toe hy van afrigter verwissel het), het ek met hom en sy ouers, Steven en Odessa Swarts, vergader oor wat ons graag wil doen en het daarvolgens beplan. Een van ons doelwitte was dat hy ten minste in Beijing moes medal.

“Ons het geweet hy gaan onder 44 s moet kan hardloop as hy dit sou vermag.”

Ans-hulle was in die kol, want die eerste keer nog het drie atlete in dieselfde wedloop almal onder 44 s gehardloop.

“Met die Liewe Vader se beskerming, goeie beplanning en as Wayde na sy liggaam luister, kan hy nog groot hoogtes bereik. Hy is ’n ongelooflik harde en toegewyde werker. Dis net ’n vreugde en ’n plesier om met hom te werk.”

Meer as net ’n afrigter

“My atlete is soos my eie kinders. Elkeen van hulle het ’n spesiale hoekie in my hart.”

Dit is beslis so, ’n spul van haar “kinders” het ná hierdie onderhoud by Pelliespark op die Kovsie-kampus die een ná die ander hulle Tannie Ans met ’n drukkie gaan groet.

Sy sou graag altyd haar atlete met internasionale deelname wou vergesel, soos nou toe sy drie maande saam met Wayde in die buiteland was.

“Dit is baie belangrik dat ’n atleet en sy afrigter mekaar daagliks sien. Ongelukkig kan ’n mens dit nie bekostig om op jou eie koste saam te gaan nie.”

Nie net het Ans as Wayde se afrigter ’n sleutelrol in sy ver­owering van die wêreldkroon gespeel nie, maar dit was ook danksy haar insig dat hy hom op dié nommer begin toespits het.

Ans Botha hou ’n fyn ogie terwyl haar atlete by Pelliespark opwarm. Foto: Conrad Bornman
Kom kom, bietjie vinniger. Ans Botha het ’n groot groep naellopers en hekkiesatlete wat sy met deernis by Pelliespark in Bloemfontein afrig. Foto: Conrad Bornman
Sy beskou haar atlete soos haar eie kinders. Haar atlete is weer net so lief vir hul “ma”, soos Gideon Trotter hier by haar. Foto: Conrad Bornman

Wayde het aanvanklik in die 200 mense laat regop sit, maar dit was tydens ’n besering wat Ans hom aangeraai het om die 400 te oorweeg.

“Ek het aan hom en sy ouers gesê as hy bereid sou wees, sou ek voorstel hy los die 100 en 200 wat baie plofkrag vereis en neem aan die 400 deel tot tyd en wyl hy weer op dreef is.”

Dit het sy geliefkoosde nommer geword.

Toevallig begin afrig

Dit was weens ’n tekort aan afrigters in Oranjemund in haar geboorteland, Namibië, dat Ans begin afrig het. Dit was in 1968 toe haar oudste kind, Herma, skool toe is.

“Namibië het uitstekende atlete gehad. Daar was ongelukkig nie afrigters nie. Baie van die ouers het uit nood begin afrig en dan opgehou wanneer hulle kinders klaar met skool was. Ek het maar aangehou.

“Daar was niemand by wie ek kon leer nie en ek het die Suid-Afrikaanse Atletiekunie om raad gevra. Hulle het ’n klein boekie aan my gestuur wat ek kon bestudeer. Ek het steeds daardie boekie.”

Gee ander ook erkenning

Teen die einde van die onderhoud doen Ans as’t ware ’n aankondiging, sy wil graag die volgende sê: “Wayde se prestasies is nie net danksy my nie. Om nommer een te wees vereis 100%-samewerking van ’n atleet se ouers. Ons het ook ongelooflike hulp van sportwetenskaplikes, fisioterapeute, Kovsiesport en elke vorige afrigter wat die blokkies in die legkaart help plaas het, gekry.

“Ek het die voorreg gehad om oor te neem met iets waarin baie ander mense ’n aandeel gehad het.”

Ans Botha is van mening haar steratleet, Wayde van Niekerk, kan nóg groot hoogtes in atletiek behaal. Foto: Conrad Bornman
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.