Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Tolkien: ’n Triomf uit Bloem se bodem
Die laaste fliek in die ‘Hobbit’-trilogie wys in Suid-Afrika. En jy sou dink Bloemfontein sal sy goue seun J.R.R. Tolkien eer . . .Inteendeel, skryf Boris Gorelik.
Die huis waar Tolkien gebore is, op die hoek van Maitland- (nou Charlotte Maxeke) en Wes-Burger-straat.
Bradlows het die huis gekoop en dit moes in 1930 plek maak vir die huidige art deco-gebou.

‘Hou by Bloemfontein verby,” beveel The South African Fact Book aan, “tensy jy daarvan hou om uit jou siel uit verveeld te wees.”

Die meeste toeriste aanvaar dié raad. Hoewel baie van hulle dié stad aandoen, slaap hulle gewoonlik net oor voordat hulle die volgende oggend verder reis.

Naby die amptelike besoekersentrum in Bloemfontein het ek die slagspreuk gesien wat lui: “Free State fever. It’s a passion!” Maar die plek het vir my maar bra lusteloos gelyk.

Bloemfontein het ’n goeie handvol attraksies vir besoekers – van die altare vir die Anglo-Boereoorlog tot die plekke waar sowel die ANC as die NP destyds gestig is. En tog gebruik die owerheid nie naastenby sy grootste kanon om besoekers na hul stad te lok nie.

The Rough Guide to South Africa wys daarop dat die stad “merkwaardig teensinnig” is om sy status as geboorteplek van John Ronald Reuel Tolkien aan die wêreld uit te basuin.

Tolkien, wat uiteindelik die epiese The Lord of the Rings sou skryf, was die seun van immigrante uit Birmingham en het net meer as drie jaar in die Vrystaat deurgebring. Sy pa, Arthur, was aan die stuur van die Bank of Africa.

Arthur het van die plek gehou: ’n goeie salaris en loopbaanvooruitsigte. Sy vrou, Mabel, het Bloemfontein met sy sowat 3 500 inwoners gehaat. “Owlin’ Wilderness! Horrid Waste!” het sy die plek genoem. Sy was geïrriteerd met die hele gemeenskap, die klimaat en die atmosfeer daar.

Sy was besorg daaroor dat haar man voortdurend sy “tuisverlof” uitgestel het. In so ’n mate dat Arthur besluit het om sy vrou en twee seuns Birmingham toe te stuur met die belofte dat hy later by hulle sou aansluit. Hulle is in 1895 uit Bloemfontein weg.

Klein J.R.R. Tolkien.
Arthur Tolkien se laaste rusplek in die President Brand-begraafplaas.
Die geboortekennisgewing van Tolkien op 3 Januarie 1892.

Arthur kon egter nie sy belofte nakom nie. Hy het ingewandskoors opgedoen en is ’n paar maande later dood. Sy gesin het nooit na Suid-Afrika teruggekeer nie.

Vandag is die algemene gevoel in Bloemfontein dat J.R.R. Tolkien nooit eintlik teruggekyk het nadat hy weg is nie. En omdat hy baie jonk uit die land weg is, het Suid-Afrika nie juis veel van ’n invloed op hom gehad nie.

Albei dié aannames is verkeerd.

Hoewel Tolkien van die Engelse platteland leer hou het, het sy herinneringe aan “a hot, parched country”, van ’n Afrika-Kersfees met “blazing sun, drawn curtains and a drooping eucalyptus” hom die res van sy lewe bygebly.

“My cradle-tongue was English (with a dash of Afrikaans),” onthou hy. Dit blyk dat sy Afrikaanse oppasser hom ’n paar woorde en sinne van haar moedertaal geleer het.

Toe die seun op ’n keer deur ’n bobbejaanspinnekop gebyt is, het sy glo die gif uit die wond gesuig. Daar word gesê dié ervaring het gelei tot die reusagtige, bose spinnekoppe in Tolkien se stories.

Die Professor, soos hy bekend was, het nooit dié teorie bevestig nie.

In 1920 het hy ’n kans misgeloop om Engelse letterkunde aan die Universiteit van Kaapstad te doseer. Hy moes sy aansoek om familieredes terugtrek.

Kort daarna het hy ’n professorskap aanvaar by Oxford, waar hy sy bekende boeke toe geskryf het.

Sy verbintenis met Suid-Afrika het egter nie opgehou nie. In 1944 het sy seun Christopher, ’n vlieënier in die RAF, opleiding gekry in Kroonstad en Standerton. Tolkien het toe net weer begin werk aan The Lord of the Rings en het hoofstukke daarvan aan sy seun gestuur. In Suid-Afrika was Christopher, in Tolkien se eie woorde, sy “primêre gehoor”.

Daar was 'n hobbit - huis in die kelder, maar die deur is nou gesluit.

Wanneer Christopher in sy briewe vir hom die droë, stowwerige “satan-licked” land beskryf het, het Tolkien geantwoord dit “laat die behoefte wat ek nog altyd gehad het om dit weer te sien” net groter word.

En nou dat jy weet van die geheim van Bloemfontein, is jy dalk lus om daar in Tolkien (of dalk sy ouers) se voetspore te gaan loop. Wat is daar om te sien?

By die Nasionale Museum sal jy sommer gou afkom op Zola Budd se hardloopskoene en ’n afgietsel van haar voete (sy is ook van Bloem). Maar jy sal dit moeilik vind om in die afdeling oor plaaslike persoonlikhede ’n foto van Tolkien raak te sien saam met ’n opsomming van sy lewe en prestasies in twee sinne.

“Ons het ’n tydelike Tolkien-uitstalling gehad, maar dis ongelukkig nie meer hier nie,” sê Marianna Botes van die museum se geskiedenisdepartement. “Soms vra besoekers ons oor Tolkien, veral buitelanders. As hy langer hier gewoon het, sou dit makliker wees om sy verbintenis met die stad te wys.”

Die huis waar Tolkien gebore is, op die hoek van Maitland- (nou Charlotte Ma­xeke) en Wes-Burgerstraat, het nie oor­­leef nie. Bradlows het dit gekoop en dit moes in 1930 plek maak vir die huidige art deco-gebou waarin die meubelwinkel gehuisves word.

Die Nasionale Raad vir Gedenkwaardighede het 30 jaar gelede ’n plaat daar aan die muur aangebring ter ere van Tolkien. Dié bronsplaat is gesteel en vir skrootmetaal verkoop. Dit is gered, maar uiteindelik tog verwyder. Tans is daar niks wat daarop dui dat die beroemde skrywer daar gebore is nie.

Ware Tolkien-fanatici sou gaan na die President Brand-begraafplaas, waar ­Arthur Tolkien begrawe is saam met die voormalige staatspresident John Vorster en slagoffers van die Anglo-Boereoorlog. Dit was lank onbekend waar hy begrawe is totdat die stadsbibliotekaris, Dux van der Walt, sy graf in 1992 opgespoor het.

“Ek het gehoor registers van die begraafplaas word by die munisipaliteit gehou,” vertel hy. “In hul kantore het een van die amptenare ’n ou verslete boek iewers onder die toonbank uitgehaal. Saam het ons toe die grafnommer opgespoor.”

In die middel-1990’s het die Tolkien Trust, wat deur Die Professor se kinders gestig is, ’n grafsteen vir hom opgerig. Maar dit is steeds nie maklik om te vind nie: Daar is geen aanwysers of gidse om jou te lei deur die onversorgde, platgeslaande en gevandaliseerde monumente nie.

“My cradle-tongue was English (with a dash of Afrikaans),” onthou hy.

Die enigste tasbare bewys van Die Professor se verbintenis met Bloemfontein kry ’n mens in die Anglikaanse katedraal van St. Andrew en St. Michael. In die middel van die neogotiese kerk is ’n groot, ornate sandsteenfont onder ’n swaar koepel van hout. Dit is waar Tolkien gedoop is.

Eerw. Lazarus Mohapi, deken van die katedraal, het my begelei.

“Vanweë Tolkien se verbintenis stop toerbusse af en toe hier voor die gebou, maar hulle laat nie die toeriste toe om in die katedraal te kom nie.

“Dis eintlik ’n skande,” voeg sy sekretaris, Sandy Botha, by. “Ek wens ek kan daardie mense in die hande kry. Ons kerk is oop vir almal.”

Peter Jackson se rolprente het baie gedoen om Tolkien se beeld uit te lig, maar reeds in die 1980’s was daar ’n poging om Die Professor in sy geboortestad te eer. Brig.genl. Cyrus Smit, ’n voormalige hoofwoordvoerder van die weermag, het die bal aan die rol gesit.

Nog ’n entoesias is Jake Uys, stigter van die eerste Tolkien-vereniging (wat nie meer bestaan nie). Hy was ’n tandtegnikus en het in die vroeë 1990’s na Bloemfontein gekom en The Hobbit ­Hotel begin.

Dié gastehuis in President Steynlaan bied aan jou die grootste versameling “Tolkieniana”. Elkeen van die 12 kamers is genoem na ’n Tolkien-karakter, maar die binnekant is Victoriaans eerder as van Middle-earth.

Die enigste historiese item daar is die bronsplaat wat eens op die Bradlows-gebou was.

“Baie van ons gaste dink Tolkien is hier gebore,” sê die huidige eienaar, ­Celesté van der Westhuizen. “Ek sê dis nie so nie, maar hulle hou vol hulle het dit in ’n gidsboek gesien. En as hulle die plaat sien, neem hulle foto’s daar.”

Eens was daar ’n “hobbit-huis” hier in die kelder, met miniatuurmeubels en al. Maar die deur is nou gesluit. “Toeriste het enige tyd van die dag hier ingestap om te kom kyk,” sê Patrick Mabo­tja, bestuurder. “Ons moes kies of ons ’n hotel of ’n Tolkien-museum wil wees.”

Bekendes soos Tolkien se kleindogter, The Parlotones en kabinetsministers het al hier gebly en die meeste van hulle kies The Hobbit Hotel juis vir sy Tolkien-verbintenis

Daar was eens ook ’n Tolkien-staptog wat deur die munisipaliteit gereël is. Maar die toeristesentrum in die stad het nie baie daaroor te sê nie.

“Die roete was nie baie gewild nie,” sê Angus Peterson, toerismebestuurder van die Mangaung-metroraad. “Ons kyk nou na die moontlikheid van verskeie erfenisroetes in die stad. Dalk moet ons die ou Tolkien-roete ook terugbring. Dit kan dalk net werk.”

Maar verder hou die stad maar sy grootste internasionale attraksie taamlik geheim.

As die huidige plekke nie so interessant is nie, wonder ’n mens waarom Bloemfontein dan nie maar besienswaardighede en fotogeleenthede skep nie – iets wat sê “Tolkien was hier”.

Die nuwe standbeeld van Mandela is een van die stad se landmerke. Waarom nie een van Tolkien nie? Dit kan ’n eerste in die wêreld wees. Straatname word verander. Waarom nie ’n Tolkien-laan of ’n Frodo-straat nie?

Waarom is daar nie ’n permanente uitstalling oor Bloemfontein se beroemdste seun nie?

Waarom noem hulle nie ’n nuwe roos na Die Professor en plant dit al langs ’n Tolkien-wandellaan nie?

Peterson sê hy is bereid om inisiatiewe te steun wat Tolkien gedenk: “Ons wil die nalatenskap van ikoniese figure wat met die stad verbind word, laat leef. En ons kan probeer om Tolkien sy plek in die plaaslike erfenis te gee.”

Dalk sal dit nie genoeg wees om toeriste te oortuig om hul vakansie in Bloemfontein deur te bring nie.

Maar hulle kan dalk net ’n paar uur langer daar deurbring en ’n bietjie meer geld daar bestee voordat hulle voortsnel na hul eintlik bestemming.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.