Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Afrikaans en die kroesgedagte

Die meeste Afrikaanse musiek is nie Afrikaanse musiek nie; dis maar net musiek wat in Afrikaans gesing word, maar dis Europees, sê die kletsrymer Churchil Naude aan Murray La Vita.

Churchil Naude in Mitchells Plain, waar hy woon. Foto: Jaco Marais

Die onderhoud met die kletsrymer en digter Churchil Naude (45) vind plaas teen die agtergrond van sy nuwe album Kroesifaaid.

Theunis Engelbrecht, skrywer en voorbok van die groep Die Naaimasjiene, sê oor Kroesifaaid: “Ek het pas die toekoms van Afrikaans gehoor. Ek het hard na Churchil Naude se nuwe album, Kroesifaaid, geluister. Dis briljant. Grensverskuiwend. Die musiek is iets wat nog nie in Afrikaans gehoor is nie.”

Churchil se eerste album was Kroeskop vol geraas.

“Toe dink ek ek sal seker maar hou by daai tema; die kroes-gedagte, basies. Kroesiefaaid is polities en dit is religious. En dit is basies wat die album is – dis so half polities en half sosiale kommentaar en ek praat oor geloof,” sê hy.

“Ek skryf nie oor iets wat ek nou vandag gesien het of gister gesien het nie. Ek wag maar tot dit kom; die goed kom haal my maar.

Die hele album gaan basies daaroor om mites af te breek.

“As jy na die lirieke van Kroesifaaid luister – dit gaan baie oor lyding en oor om mites af te breek; goed wat mense dink oor bruin mense. Die song gaan daaroor dat bruin mense gesien word as mense wat nie juis belang stel in wat in die land aangaan nie of hulle het nie juis ’n stem nie of hulle wíl net nie belang stel nie.

“Die hele album gaan basies daaroor om mites af te breek. Een liedjie wat dit nie gemaak het tot op die album nie, se titel is “My stem”. daarin speel ek so ’n bietjie rond met die ou Stem van Suid-Afrika en die nuwe stem van Suid-Afrika, en dit speel ook rond met die gedagte dat mense nie rêrig eintlik ’n stem gehad het in Suid-Afrika in die apartheidsjare nie; nie nét bruin- of swartmense nie, maar ook wittes – ouens wat army toe gestuur is en nie daar wou wees nie.

“Ek en Riku Lätti [vervaardiger van die album en skepper van die Wasgoedlyn-projek, die vaandel waaronder dit tot stand gekom het] het toe gevoel dis bietjie van ’n sensitiewe issue in dié stadium, maar ek gaan die song miskien later vrystel.”

Sy lirieke het ’n sterk digterlike inslag, hy is immers ook ’n digter wie se werk al in Nuwe Stemme 6 gepubliseer is.

“Ja, my songs word definitief meer vanuit ’n digtersoogpunt geskryf as wat dit urban-rap vibes is. Ek voel ek wil nie net ’n ding sê nie; ek wil bietjie speel met die woorde en mense ’n bietjie laat dink.”

Die kroesgedagte

Ons praat oor die woord “kroes”.

“Kroes is vir my iets tussenin wat nie rêrig by rap nie, dit pas nie rêrig by gedigte nie. Die kroesgedagte is ook dat ék nie rêrig inpas nie; mense sien ek is nou ’n bruinman, maar ek pas nie rêrig in daar nie; soos wat ek ook nie rêrig inpas by witmense of by swartmense nie, maar tog is dit als deel van wie ek is.

“Die woord ‘kroes’ is ook maar ’n woord . . . dis nie ’n mooi ding nie; dis stúkkend; dis geskeur. Dis wat kroes eintlik vir my beteken.”

Kroes verwys natuurlik ook na hare.

Dis maar net musiek wat in Afrikaans gesing word, maar dis Europees; dis definitiéf nié Afrikaans nie.

“Veral baie vroumense in die bruin gemeenskap sal miskien hulle hare strýk of whatever hair straighteners gebruik; en ék wil dit wys so kroes soos wat dit is – soos wat jy my sien of my hoor is hoe ek is. Ek gaan nie vir my of my woorde opdollie of hoe ek voel, aanpas by wat die norm is nie.

“Dis ook ’n ding van . . . In Afrikaanse musiek is alles so prim en proper en die albums is so mooi verpak en die ou het ’n mooi hempie aan en alles is so mooi. Kroes sny deur dít. Mense verwag ook nie ’n Afrikaanse album met ’n titel soos Kroeskop vol geraas nie; die meeste Afrikaanse albums het mooi titels . . . ‘Ek is lief vir jou’ of so. Dit hunker dikwels terug na ’n tyd toe mense alles kon verstaan en alles in gemaak het.

“My grief wat ek het met Afrikaanse musiek is dat dit nie Afrikaanse musiek is nie. Dis maar net musiek wat in Afrikaans gesing word, maar dis Europees; dis definitiéf nié Afrikaans nie. Vir my is Afrikaanse musiek Anton Goosen en David Kramer en Koos Kombuis – dís Afrikaanse musiek, nié Refentse-hulle en . . . Ek ken nie eers die ouens se name nie. Selfs Steve [Hofmeyr] ook; hý wat so sê hy is ’n Afrikaner, of whatever hy is, hý sing nie Afrikaanse musiek nie. Hy síng in Afrikaans, ja.”

Amper soos Voëlvry

Churhil en Riku Lätti maak musiek. Foto: Verskaf

Ons praat oor Die Wasgoedlyn-musiekprojek waarby hy betrokke is.

“Dit is ’n klomp kunstenaars wat bymekaar kom en shows saam doen en saam opnames maak. Ek sal nie sê dis soos die Voëlvrybeweging nie, maar dis amper so iets. Dis nie dat ons teen die doef-doef-goed is nie; dis net: Ons is ook hier. Ons is die anderkant van die coin. As jy daardie goed oor die radio hoor, moet jy weet, daar ís verlossing,” sê hy met ’n glimlag.

“Almal wat op Die Wasgoedlyn is, is kunstenaars op hul eie; hulle dink nie soos die Afrikaans is groot- tipe kunstenaars nie. Ons worrie nie daaroor as daar ’n kol op jou jeans is of met ’n suit op die stage te gaan sit en sing nie of dat die stage perfek moet wees en die beligting moet só wees nie. Die musiek is belangrik en die res is maar net ’n bysaak.

“Daar is nie eintlik ’n genre nie. Soos ek doen hip hop-gedigte; daar is Loit Stôls, Les Javan, Lochner de Kock, Gert Vlok Nel . . . ’n wye verskeidenheid ouens.

Sy betrokkenheid by die Wasgoedlyn-projek het gekom nadat hy die video “Praat saam my” geskep het.

Ek het goeters geskryf in Engels en toe was ek maar een van die dime a dozen ouens wat maar net rap.

“Dit gaan basies oor Afrikaans. Riku het die song gehoor en daarvan gehou en toe het ons begin kontak maak.

“Ek het laat begin met my musiekloopbaan alhoewel dit van my tienerjare af kom. Daar was nooit opportunities rêrig vir ’n rapper nie. Ek moes myself herontwerp om bietjie aandag te kry in die Afrikaanse musiekwêreld. Ek moes myself vind.

“Ek het goeters geskryf in Engels en toe was ek maar een van die dime a dozen ouens wat maar net rap, en toe ek myself vind en ek besluit wie ek is en wat ek wil wees, begin als net in plek te val.

“Dit het heel organies gebeur en daar het net mense op ’n sekere tyd in my lewe gekom soos Riku, en dit was ’n positiewe rigting wat ek ingegaan het.”

Hy sê Gert Vlok Nel was die “spiritual advisor” op sy nuwe album.

“Ons connect. Ek love hom. Elke keer as ek kom en ons werk aan die album dan al hy net so iets sê. En net daai een ding wat hy sê, sit dan so by my in my kop. Hy sal sê: ‘Daai een lyn wat jy daar sê . . . Jis, Churchil.’”

Oor Afrikaans

“As jy na die lirieke van Kroesifaaid” luister – dit gaan baie oor lyding en oor om mites af te breek; goed wat mense dink oor bruin mense.” Foto: Jaco Marais

Die “fight” oor Afrikaans kom ter sprake.

“Daar is nog ’n moerse fight aan wat ons as Suid-Afrikaners oor Afrikaans het. Dit word nog steeds gesien as die opressor se taal, die wit man se taal, basies. Maar toe hulle besluit het hulle gaan Afrikaans uit die kombuis uit vat en hom ’n shine gee, was dit nie ’n besluit vir Afrikááns nie; dit was vir my meer ’n besluit vir Afrikaner-nasionalisme want ons bruinmense is nie ingesluit toe daai besluit geneem is nie. Daar is net besluit: Oukei, dís nou die nuwe Afrikaans en ons gaan dit is skole sit en so aan.

“Ek dink ons moet nog praat oor Afrikaans sodat ons die stigma kan afbreek van hoe dit gesien word. Hoe het Afrikaans dan sy naam gekry? Die oorsprong van die woord is Afrika, so hoe word Afrikaans dan ’n witmenstaal genoem?”

Hoe sien hy die Afrikaans wat hy praat?

“Whatever jy wil praat en hoe jy grootgemaak is – dís jou Afrikaans en hoe my Afrikaans is, dis my Afrikaans. Julle moet seker maar in die koerant skryf soos julle moet skryf, maar as ons praat op straat dan praat ons . . . Ek het deesdae amper meer wit vriende as wat ek bruin vriende het en ek praat soos ek praat en hulle praat soos hulle praat. Dis nie van ons mekaar halfway meet nie; ons verstaan mekaar.

“Ouens soos AfriForum-hulle het ’n fight aan vir Afrikaans, maar vir my is daar nie waarde in wat hulle sê nie want meeste van die besluite vir Afrikaans word nog steeds deur wit mense gemaak alhoewel die meeste mense wat Afrikaans praat, nie wit is nie. So die meeste Afrikaanspraters is bruin, maar die meerderheid besluitmakers is nog steeds wit.”

Eentonige kaste

Churchil se nuwe album Kroesifaaid. Foto: Verskaf

Churchil is ook ’n skrynwerker.

“Ja, ek werk met hout, maar nie meer vir ’n company nie, net vir myself wanneer ek tyd het; ek het deesdae baie in tyd. In die begin was dit meer kombuiskaste en so, maar dit het te eentonig en vervelig geraak want mense wil dit so prim en proper hê.

“Ek doen nou meer wat hulle noem die rustic tipe goed en ek love dit; jy kan jouself daar insit as waar jy nou het ’n kas gaan bou vir iemand wat nou wil hê dit moet proper lyk en dan is daar niks van mý self in in daai kas nie, waar jy ’n tafeltjie kan bou en daar is so ’n merk daar op en so ’n lyn hierso en daar is so ’n ding daar wat ’n bietjie meer van jouself daar insit.”

Hy werk al sedert skooldae met hout en het dit ná skool as ’n loopbaan begin doen.

Ek het toe die musiek ’n bietjie eenkant toe geskuif, maar dit het my kom haal, seker maar.

“Ek het basies van agt- , negejarige ouderdom in Mitchells Plain grootgeword. Ek sal nie sê ek het as kind gevoel ons kry swaar nie, alhoewel ons seker maar swaargekry het. Maar daar was altyd kos. Die idee van swaarkry is maar iets wat mense seker later in jou kop sit: ‘O, julle het seker swaargekry.’ Maar as kind het jy nie geworrie oor sulke goed nie.

“Musiek was altyd daar, maar toe ná skool het die realiteit ’n bietjie ingeskop: Ag flippit, ek moet nou werk kry sodat ek geld kan maak en ek moet ’n huis kry.

“Ek het toe die musiek ’n bietjie eenkant toe geskuif, maar dit het my kom haal, seker maar. Êrens op die pad het dit my kom haal. Jy kan dit seker maar suppress vir ’n tyd, maar . . . “Ek het die werk wat ek gedoen het, gelos . . . Dit gaan maar rof as jy nie werk het nie, maar as dit jou roep dan roep dit jou en daar is niks wat ek kon doen nie; ek kon dit nie resist nie.”

* Kroesifaaid is beskikbaar by Spotify, Apple Music, iTunes, Google Play/YouTube, Amazon, Pandora, Deezer, Tidal, Napster, iHeartRadio, ClaroMusica, Saavn, Anghami, KKBox, en MediaNet.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.