Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Afrikaans het my uit donker plek bevry’

Hy word gereeld daarvan beskuldig dat hy deur wit Afrikaners betaal word om Afrikaans te bevorder, maar dit is nie so nie – Afrikaans het hom uit ’n donker plek bevry, sê William Sezoe (19) aan Murray La Vita.

William in 2020 in die Afrikaanse Taalmuseum met die opname van ’n video deur afrikaans.com. Foto: Verskaf

William se kinderjare in dorpe aan die Kaapse Weskus was nie gelukkig nie. Hy is “verstoot en mishandel” en het uiteindelik aan erge angs en depressie begin ly en begin om homself leed aan te doen deur sy arms te sny.

In 2017, aan die einde van sy gr.10-skooljaar, het hy deur die bemiddeling van ’n maatskaplike werker by sy tante in die Paarlse buurt Klein Nederberg gaan woon en na die New Orleans Sekondêre Skool gegaan.

Hoewel dit vir hom ’n uitkoms was, was ook hierdie omstandighede nie rooskleurig nie, sê hy.

“’n Juffrou het vir my gesê omdat die skool soos op die Cape Flats tussen woonstelle geleë is, gaan ek jong mense sien wat om die draai sit en rook; jong mense wat met ‘guns’ staan; jong mense wat met messe staan.

“Sy het gesê: ‘Dit gaan jóú keuse wees wat jy met jou lewe gaan doen. Gaan jy saamsmelt met hierdie jong mense of gaan jy jou eie pad volg?’”

‘My ligpunt’

Die onderhoud met William, wat by familie aan die Weskus is, vind per Zoom plaas.

Bedrywig vir Afrikaans

William het in sy matriekjaar ’n ATKV-tak vir leerlinge gestig, wat daarop gerig was om Afrikaans te bevorder deur te lees, skryf en te praat.

“Met Covid-19 wat verlede jaar ontstaan het, was daar nie baie goed wat gebeur het nie, maar ek het wel vir hulle gehelp met ’n paar projekte soos die Digipraat-projek.

“En wat die Afrikaanse Taalraad betref, het ons ’n paar webinare gehou. En dan is ek ook betrokke by afrikaans.com – ek is tans besig om vir hulle blogs te maak.”

Hy is in matriek deur die Afrikaanse Taalraad en die DAK-Netwerk vir sy bevordering van Afrikaans vereer.

Die DAK-Netwerk is ’n inisiatief van wyle dr. Danny Titus. DAK is afgelei van die name van drie prominente Khoi-leiers aan die Kaap in die vroeë 1600’s, naamlik Doman, Autshumao en Krotoa. Die DAK-Netwerk beywer hom vir die bemagtiging en ontwikkeling van agtergestelde Afrikaanse gemeenskappe.

Hy was ook betrokke by die radioprogram Afrikaans is tops, en is onlangs deur Netwerk24 as een van 2020 se drie beste skrywers van meningstukke vir Die Student aangewys.

“My ligpunt was Afrikaans, want ek het aan ons skoolkoerant se bedrywighede begin deelneem. Ons is toe na ’n mediakursus toe wat aangebied is deur die Woordfees se WOW-program. Die WOW staan mos vir ‘Woorde open wêrelde’.”

Daar het hy “’n toespraak” gelewer.

“Die juffrou het eers gesê ‘William, sít!’, maar ek het aangegaan en ek het iets gesê wat op my hart was. En ek dink dáár het die deure vir my begin oopgaan.

“Ek het natuurlik vir ons skoolkoerant goedjies geskryf en ek het gereeld geleenthede bygewoon van die Afrikaanse Taalraad, van die ATKV en van die Vriende van Afrikaans, wat gegaan het oor gesprekke oor Afrikaans en veral ook Afrikaans aan universiteite.

“Ek het toe nooit rêrig hierdie hele bohaai oor Afrikaans verstaan nie, want ek is toe mos nog nie op universiteit nie.

“In my gr.12-jaar het Lise Beyers, die redakteur van die Paarl Post, my gevra om ’n meningstuk te skryf. En ek skryf toe iets oor Jeugdag. Daardie dag het ek besef hier is iets anders aan die gang.

“Ek het toe meer en meer begin skrýf en meer en meer begin práát en dis hoe ek betrokke geraak het en eintlik begin het om die lig te sien . . . Ek is toe nie meer in hierdie donkerte nie.

“Ek sê God het my eintlik deur Afrikaans kom bevry van hierdie donkerte, van hierdie depressie. Ja, ek het steeds depressie, maar ek het dit nie meer so erg waar ek paniekaanvalle kry nie.”

Moed en selfvertroue

William praat in 2020 by die Neville Alexander-gedenklesing in die Paarl. Foto: Jeffrey Pietersen

William sê hy lei nou ’n beter lewe.

“Met dié dat ek meer kon sien in die lewe en meer kon bereik, het ek besef jou omstandighede hoef nie te bepaal wie jy is nie, en kon ek beter voel.

“So, daar het ek my matriekjaar klaargemaak in die Paarl. Dit was moeilik, want jy is in hierdie woonstelle en dit is konstánt só besig. Jy kan nie te laat sit en leer nie . . . Jy moet jou ligte afsit want die mense gaan die vensters uitgooi. Dis klipharde musiek tot láátnag. Jy kan niks sê nie. So, jy moet rêrig hare op jou tande hê.

“Ek het probeer om net aan te hou ten spyte daarvan. Toe ek die eerste dag Paarl toe gaan en ek die woonstelle sien, het ek vir myself gesê dit gaan nie nou vir my oor waar ek myself bevind nie, solank ek net uit die huishouding kom waar ek nié met liefde behandel is nie; dat ek net daaruit kon kom om ’n huis in te gaan waar ek weet ek word waardeer en liefde gegee sodat ek ten minste net genoeg moed kon skep en genoeg selfvertroue kon hê om te fokus op dit wat ek moet doen en natuurlik ook my studies kan gaan voltooi.”

Hy het saam met vyf ander mense in die drieslaapkamer-woonstel gewoon.

‘’n Saadjie in die woestyn’

William het in sy matriekjaar ’n eretoekenning van die DAK-Netwerk ontvang vir sy bydrae tot die bevordering van Afrikaans. By hom is die Paarlse sanger Ameen Levy, wat ook vereer is. Foto: Verskaf

In 2020 het hy met die hulp van ’n beurs aan die Universiteit Stellenbosch onderwys begin studeer.

“Ek dink ek het nog altyd hierdie liefde en passie gehad om met jong mense en met kinders te werk en grotendeels omdat mý lewe deur onderwysers beïnvloed is.

“Ek sê altyd ek was soos ’n droë saadjie in ’n woestyn en die onderwysers was altyd daar met ’n bietjie water. By elke skool was daar ’n onderwyser of twee wat ’n bietjie water op my gegooi het sodat ek kon groei tot waar ek vandag is.

“Daar buite is so baie ander Williams wat ’n saadjie in ’n woestyn is wat water nodig het. As ék daai persoon kan wees wat water gee, hoekom nie?”

Ek het net gevoel as die taalbeleid een ding sê, moet ’n dosent nie ’n ander ding sê nie.

Hy beskryf homself op sy Twitter-profiel as ’n taalaktivis.

“Ja, ek beskou myself as hierdie taalaktivis, maar ek sê altyd vir mense dit is in my eie reg; dit is nie vir een of ander organisasie nie.

“Daar is gereeld mense wat my aanval en byvoorbeeld op Facebook boodskappe stuur waarin hulle sê: ‘Jy werk vir wit mense. Jy werk vir Afrikaners om jou stem te lig oor Afrikaans. Hoeveel betaal hulle jou? R30 000 per maand?’

“Nee . . . dit is in eie reg. Dit het natuurlik ook begin met hierdie gesprekke wat ek bygewoon het in my matriekjaar saam met die skool. So, hulle het my blootgestel aan hierdie tipe gesprekke saam met die Woordfees en die Afrikaanse Taalraad en die ATKV.

“En só het ek meer gehoor oor studente en hulle gevoelens en die situasie by universiteite met Afrikaans. Ek het nie besef dit is so erg nie totdat ek self by die Universiteit Stellenbosch gekom het.

“En dis toe ek begin het om net my stem te lig en vir mense te sê: Maar dít is die situasie; dít is wat gebeur. In my eerste paar dae op Stellenbosch was daar al konflik tussen my en dosente. Ek het net gevoel as die taalbeleid een ding sê, moet ’n dosent nie ’n ander ding sê nie.”

‘Die situasie’

“As julle nie vir mý kan help nie, wil ek ánder help wat julle wél kan help.” Foto: Verskaf

Hy vertel van die “konflik”.

“Wat gebeur het, is ek het mos nou begin om die artikels te skryf vir Netwerk24 se Die Student oor die situasie. En soveel studente het na my toe gekom, en verál bruin studente van Namakwaland, bruin studente van die Noord-Kaap – senior studente – wat vir my gesê het: ‘William, jy het pas iets gesê wat ons die afgelope drie tot vier jaar nóóit kon sê nie, want ons was te bang om iets te sê oor die situasie; ons was te bang iets gebeur met ons punte of met ons as die universiteit of iemand hoor ons vertel wat die situasie by die universiteit is.’ ”

Hoe sou hy “die situasie” beskryf?

Hulle verwys gereeld na hierdie apartheidskonteks waarbinne wit studente bevoordeel is, maar dan vergeet hulle dat jou bruin studente wat Afrikaans was, is óók op ’n tyd benadeel.

“Ek sou sê dis ’n Aspoestertjie-geval waar die Engelse studente voorkeur kry en veral die swart studente. Ek het na een van die dosente gegaan en gevra of ek ten minste notas in Afrikaans kan kry aangesien hy nie in die klas wil Afrikaans praat nie en hy is ’n bruin man wat in Afrikaans grootgeword het.

“Ek sê vir hom: ‘Gee ten minste Afrikaanse notas sodat ék ook voel ek word geakkommodeer.’ Hy sê vir my ‘Ek gaan nié Afrikaans praat in hierdie klas nie, want hier is swárt studente wat nie Afrikaans verstaan nie.’

“Ek sê vir hom: ‘Meneer, ek verstaan jou duidelik. Ek het nie gesê jy moet Afrikaans praat nie.’ Hy sê: ‘Ons hier by Stellenbosch wil inklusiwiteit bevorder, en dáárom sê ons ons gaan ons klasse in Engels aanbied sodat ons swart studente kan baat vind.’

“En daai dag het ek gedink: So, gaan dit nou eintlik net daaroor om die swart studentegemeenskap te bevredig of gaan dit wérklik oor inklusiwiteit? Wát is inklusiwiteit dan nou régtig? Gaan dit daaroor om vir swart mense te sê ons gaan julle behoeftes te bevredig? Of gaan dit daaroor om te sê ons gaan ten minste ál die studente op ’n gepáste wyse akkommodeer?

“So, daai was vir my die hartseerste toe ek hoor dit gaan oor swart studente wat in die eerste plek hier geakkommodeer moet word.

“Hulle verwys gereeld na hierdie apartheidskonteks waarbinne wit studente bevoordeel is, maar dan vergeet hulle dat jou bruin studente wat Afrikaans was, is óók op ’n tyd benadeel.”

‘Ek is uitgeskop’

William sê hy het ook “redelike konflik” met Engelese studente gehad.

“Ek is aanvanklik aangestel as die klasverteenwoordiger vir alle eerstejaar-onderwysstudente. En toe het daar konflik gekom oor my menings oor Afrikaans en oor hoe dit gaan in die klaskamers. Ek is uiteindelik toe uitgeskop. Ek moes ’n kontrak teken waarin ek sê ek gaan nie weer die situasie van hoe Afrikaans in die klaskamer hanteer word, in die media of in enige van my artikels noem nie. Toe sê ek: Goed, dan wil ek nie deel wees nie.

Die Matie raak hierdie jaar 80 en die meeste van die verantwoordelikheid is op mý.

“Ek het toe natuurlik ook by Die Matie[studentekoerant] betrokke geraak. Aan die begin was dáár ook ’n bietjie konflik want hulle het gedink ek het ’n pro-Afrikaanse agenda en dat ek Afrikaans op kampus wou kom bemark. Maar daardie is klein goedjies wat ons later opgelos het.

“So, ek is ’n joernalis en ek is nou onlangs ook aangestel as navorsingsbestuurder van Die Matie. Die Matie raak hierdie jaar 80 en die meeste van die verantwoordelikheid is op mý – ek moet gaan kontak maak met die alumni en dan ook begin met die verjaardagreëlings.”

Werk met ander kinders

William in 2019 op die DAK-Netwerk se gala. By hom is drr. Danny Titus (links) en Willa Boezak. Foto: Verskaf

William vertel hoe hy as kind dikwels by ’n sopkombuis in Velddrif aan die Weskus gaan kos kry het.

“Toe ek bietjie groter was – ek dink ek was in gr. 9 – het die sopkombuis toe nou al in ’n jeugsentrum ontwikkel. Hulle het jeugleiers daar gehad wat met jong kinders werk wat in armoede leef en wie se ouers hulle afskeep.

“Ek het toe om weg te breek van my huis [in St. Helenabaai] elke naweek soontoe gegaan. Ek het mettertyd gehelp om programme saam te stel en het met ander kinders gewerk. Vakansies het ek ook daar aan die vakansieprogramme deelgeneem . . . net om iets anders te doen en om te vergeet van my eie goed waardeur ek gaan deur omtrent 1 000 tot 1 500 ander kinders te help.”

Daar het hy by ’n kantoor van die Wes-Kaapse departement van maatskaplike ontwikkeling aangeklop oor sy huislike omstandighede.

Ek wou nie sien hoe nóg jongmense op daardie punt van hulle lewe kom waar hulle voel hulle is nie goed genoeg nie.

“Die maatskaplike werker daar het haar grootbase gebel oor oplossings, maar hulle het vir my gesê hulle kan my nie help nie.” Hy sug. “Dit was vir my nogal hartseer dat hulle my nie kon help nie. Ek het toe vir die maatskaplike werker gesê: ‘As julle nie vir mý kan help nie, wil ek ánder help wat julle wél kan help.’

“Ek het toe ook my tyd toegewy aan van hul bedrywighede. Ek het saam uitreikprogramme gaan doen – plase toe gegaan; klere gaan uitdeel . . . Ek het saam met hierdie maatskaplike werker kinders wat in verskriklike omstandighede grootword, gaan help.

“Ek het my bes probeer . . . Ek wou nie sien hoe nóg jongmense op daardie punt van hulle lewe kom waar hulle voel hulle is nie goed genoeg nie; dat hul lewe niks werd is nie; dat hulle voel soos ’n vloerlap en dat hulle net aanhoudend misbruik word nie.”

Hy wou keer dat wat besig was om met hóm te gebeur ook met hulle gebeur, sê William.

Meer oor:  William Sezoe  |  Lise Beyers  |  Danny Titus  |  Covid-19-Pandemie  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.