Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Afrikaans is Sinki se hartstaal

Sinki Mlambo (28), vir wie Afrikaans ’n “hartstaal” is, het vir die eerste keer van haar velkleur bewus geword toe ’n maatjie in gr. 1 vir haar gevra het om die “menskleur”-kryt aan te gee. Dit was ’n wit, “peachy” kleur, het sy aan Murray La Vita gesê.

Sinki Mlambo in ’n speelse luim op Thibaultplein in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Sy is ’n “loud, energieke jong sjokoladedame” wat in Oos-Londen grootgeword het, maar “soos Waterkloof” klink.

“Ek kom uit ’n Xhosasprekende huis, maar my pa was ’n Afrikaansonderwyser,” sê Sinki.

Sy was in ’n stadium die enigste swart kind in die Laerskool Grens.

“My ouers het my altyd vertel toe hulle nou vir my ’n skool gesoek het, moes dit ’n goeie skool wees met goeie dissipline en dit moes ’n volronde skool wees in terme van wat hulle aanbied vir my ontwikkeling.

“My broer en suster is na Engelse skole gestuur en ek was die enigste een wat na ’n Afrikaanse skool toe is. Baie mense het al grappenderwys gesê ek was die uitverkorene, maar dit was glad nie so nie.

“As ek nou terugdink, besef ek die sterkste ding waarmee hulle my kon toerus, was ’n tweede taal [Afrikaans] wat ek so vroeg in my lewe geleer het. Ag, ek dink die meeste van ons familie is maar taalvaardig en leer maklik ander tale, maar om jou kind so vroeg al bloot te stel aan verskillende flavours van die lewe, dink ek is alles goed wat bygedra het tot wie Sinki nou is. Van die dinge waaroor ek passievol is, het op daardie ouderdom al vlamgevat.”

Sinki word dikwels ’n coconut genoem omdat sy haar so sterk met Afrikaans vereenselwig. Sy is benewens ’n ambassadeur vir Afrikaans.com ook ’n direksielid van die Afrikaanse Taalraad.

“Hulle dink ek het nou al vergeet van my Xhosa-wees, en so aan. Dis glád nie so nie. Ek is baie lief vir Afrikaans en dit is meer as net ’n tweede taal of ’n akademiese taal vir my; dit het in ’n mate ’n hartstaal geword.

Ek love dit om in die Kaap te wees want hier hoor ek heeltyd Xhosa en Afrikaans en dit is my hárt wat orals rondloop.

“Ek identifiseer as ‘Xhosiaans’ want as jy my wakker maak in die oggend is ek Xhosa. Ek sal jou hoor in watter taal jy ook al praat, maar ek antwoord jou in Xhosa; dis nou maar net hoe die natuur is.

“As ek emosioneel raak oor iets, wil ek oorslaan na my moedertaal, wat Xhosa is. En partykeer, soos enige ander mens wat ’n tweede en ’n derde taal praat . . . Nou die dag sê hulle vir my by die Pendorings: ‘Dis amper asof ons almal se Engels so kwart-voor-twee, drie-uur se kant opraak en dan wil jy nou jou moedertaal praat.’

“En dit gebeur maar ook baie met my. Ek love dit om in die Kaap te wees want hier hoor ek heeltyd Xhosa en Afrikaans en dit is my hárt wat orals rondloop. Ek sal eendag Kaap toe trek, nie vir die wyn of wat ook al nie, maar omdat die plek ’n kombinasie van Sinki is.”

Sy woon in Pretoria.

“En ek hoor ek klink soos Waterkloof!” sê sy laggend. “Ek is soos in: Nee! Ek het dit rêrig op skool geleer; ek het dit in die skool gepraat, maar wanneer ek by die huis gekom het, was dit ’n Xhosa-huis.

“Ek het gesukkel met die woord ‘gesig’; ek het hom ‘segis’ uitgespreek . . . Oe! Dis ’n ander ding . . . My ouers skei toe nou toe ek in gr. 1 is en ons bly toe by my ma. So die een helfte wat Afrikaans is, is toe nou vir ’n groot gros van die tyd nie meer so teenwoordig in my lewe nie.

“My arme ma . . . Tot vandag toe weet ek nie hoe sy dit gedoen het nie, want sy kan glád nie Afrikaans praat nie. Dit was altyd die snaakste ding wanneer sy oueraande by die skool aankom en dan word daar vir haar gesê: ‘O, mev. Mlambo! Dis so lekker om jou te ontmoet!’ Die onderwysers het aangeneem omdat Sinki so goed Afrikaans praat [sy verwys dikwels na haarself in die derde persoon], moet haar hele gesin Afrikaans praat.

“Dan is my ma soos: ‘Sorry, no, English please.’ Dan kan ek sien, o daar is nou ’n short circuit; die wêreld verstaan nie wat gebeur nie. Ja, so arme Xhosasprekende, Engelssprekende moeder moes my help om my Afrikaanse huiswerkies te doen en ons het dit gedóén!”

‘Gee die menskleur aan’

“Ek lewe net my liefde vir die taal . . . Afrikaans het definitief ’n toekoms.” Foto: Jaco Marais

Kinders is kleurblind, sê Sinki.

“Ek het later eers besef ek is die enigste swart kind in die skool. Dis nie hoe ek geweef is en na die wêreld kyk nie. Vir my was dit vir ’n groot deel van die tyd ’n normale skoolervaring. Ek is nie gebore met ’n kleur wat ek gesien het nie.

“Máár, daar is maar insidente wat gebeur het. My ma sê ek het in gr. 1 eendag baie hartseer by die huis aangekom en sy probeer nou uitfigure what went wrong by die skool.

“Ek en ’n vriendin van my, Patria Joynt met wie ek vandag nog bevriend is, het glo ingekleur en toe vra sy kan ek vir haar die menskleur-kryt aangee. Ek is toe nou baie deurmekaar en ek kyk na my kryt en dink maar wat is hierdie ‘menskleur’ en wat moet ek nou vir haar aangee?

“Ek hét toe nou, soos my ma vir my vertel, vir haar die wit-, peachy-menskleur vir haar aangegee, maar baie geworstel met die gedagte daarvan by die huis uit my kinderlike perspektief oor hoekom is dít ‘menskleur’?

“En van daar af, sê my ma vir my, het ek net nooit weer my mannetjies ingekleur in ’n ‘menskleur’ nie. Hulle almal was soos pérs of blou of aliens.”

Partykeer voel ek ek huil oor seer wat ek nog nie ervaar het nie.

Haar ouer suster is in 2012 in ’n motorongeluk dood.

“En my ma is nou in Desember dood [haar lyk is in die ondergrondse parkeerterrein van ’n Oos-Londense winkelsentrum gevind waar sy vermoedelik vermoor is]; dis hoekom ek nou so emosioneel raak . . . Hulle was die groot pilare in my lewe.

“Die verlies . . . Dit voel vir my of ’n deel van my been geamputeer is. Ek as Sinki besef dat iets van my wat daar was en wat my gehelp het en waarmee ek gehardloop en gelewe het, is nou nie meer daar nie. Maar die Here is goed en hy gee vir jou hierdie fantástiese nuwe prostese . . . Vir jóú lyk dit miskien asof ek leef en kyk hoe goed doen ek, maar ék onthou dit . . . Partykeer voel ek ek huil oor seer wat ek nog nie ervaar het nie . . . Gaan ek my kinders se nappies kan verander? Wie gaan dit vir my leer noudat my ma nie hier is nie?”

Werk hard, speel hard

Sinki in haar rol as aanbieder van My matriekafskeid. Foto: Verskaf

Sinki se hart is deur die Noordwes-Universiteit gesteel.

“Potch het vir my ’n ander tipe vorming gegee in die lewe; van Sinki ’n volronde mens gemaak. Verantwoordelikheid . . . Ek het geleer om regtig hard te werk en om myself nie te ernstig op te neem nie; niks is ’n krisis nie, just chill. Ek het ook geleer om hard te speel,” sê sy en lag ondeund.

“Potch was ’n gróót katalisator van klomp goed in my lewe. Ek was nog altyd passievol oor diversiteit en transformasie en in Potch kon ek dit actually gebruik op die studenteraad in my portefeulje aktuele sake. Dis asof ek daar meer van ’n verantwoordelike burger in my gekweek het.”

Ons praat oor die toekoms van Afrikaans.

“Ek lewe net my liefde vir die taal . . . Afrikaans het definitief ’n toekoms. Hy het ’n toekoms in sy mense, hy het ’n toekoms in ons land, hy’t ’n toekoms in die ekonomie van Afrikaans. Daar’s toekoms in Afrikaans, maar soos in heavy.

“Ek dink Afrikaans het ook ’n groot verantwoordelikheid om, soos enige ander Suid-Afrikaner, hande te vat en nie alléén vorentoe te gaan nie. Inklusiwiteit is belangrik.

“Ek wil nie sê Afrikaans het ’n swaar geskiedenis nie, want wat in ons land gebeur het, kon in enige taal gebeur het. Dit was ménse wat k*k was, dit was nie die táál nie.

Sy dink dis belangrik om 'die goeie stories van Afrikaans' te vertel.

“Dieselfde geskiedenis kon in Xhosa ook afgespeel het en dan was Xhosa nou vandag in dieselfde bootjie. Hoekom dit nou deur Afrikaanssprekende mens moes plaasvind – that I will never know.”

Sy dink dis belangrik om “die goeie stories van Afrikaans” te vertel.

“En jy hoef glad nie eens ver te soek nie; daar is so baie. Ék is een . . . Daar is ’n miljoen ander Sinki’s waaraan ek jou kan voorstel. En daar word soveel goeie wérk gedoen.”

’n ‘Dramakind’

“Ek love dit om in die Kaap te wees, want hier hoor ek heeltyd Xhosa en Afrikaans.” Foto: Jaco Marais

Die onderhoud met Sinki vind in ’n Kaapstadse hotel plaas. Sy is die projekleier van CanSurvive, ’n organisasie wat steun verleen aan kankerpasiënte en hul mense, en is in die Kaap om saam met ander vroue aan ’n motorfietsrit van tien dae deel te neem waardeur die organisasie kankerbewustheid skep.

Benewens hierdie werk is sy ook aanbieder van My matriekafskeid, ’n werklikheidsprogram op VIA waarin sy drie meisies van ’n skool volg met die beplanning van hul matriekafskeid.

“Ek is ’n dramakind! Ek geniet teater, ek geniet die verhoog en ek geniet dit om te perform. So My matriekafskeid was ’n God sent in ’n stadium in my lewe waar ek my kunstige kant gemis het. Toe kry ek die oproep . . .

“Ek het gedog ek gaan baie lag vir emosionele oomblikke, maar wie was die eerste een om te wil huil in daai oomblikke? Wêna! Daardie meisies het soos my klein sussies geword.”

Wat haar bekoor, is die “absolute egtheid en eerlikheid” van die program.

“Dit is real issues vir ’n meisie wanneer jy in matriek is: hoe jou rok moet lyk en jou grimering. Tot en met daardie oomblik het baie meisies nog nooit grimering gedra of hoëhakke nie of so ’n beautiful rok nie!

“Dis soos hierdie begin van vrouwees, wil ek amper sê. Ewe skielik moet jy nou ’n stýl hê! Ewe skielik moet jy nou weet wie jy is en wat mooi lyk by jou terwyl jy miskien eergister nog fine was om met jou shorts en oefenskoene op die netbalbaan te wees.

Ek klou vas en leer van verskillende kulture en mense; ek vind mense interessant! Ek het baie min vooroordele.

“Hulle het rêrig baie selfvertroue; dit maak my baie opgewonde. In die eerste seisoen was daar hierdie meisie van Witbank wat besluit het sy wil op haar rok verf. Sy voel dit is nou ’n nuwe seisoen in haar lewe. Haar rok was ’n baie plein raam en ’n sjampanjerige kleur en haar beste vriend het ’n bóóm daarop geverf. Hier van onder af tot hier bo. Hierdie seisoen is daar ’n meisie wat haar rok in téé gaan doop . . . Hulle is propvol karakter!”

’n Mens kan dit van haar ook sê.

“Wat ek raaksien by myself en by mense van my ouderdom, is daardie gesonde nuuskierigheid, maar ook . . . Ek dink ons wil rêrig die dinge verantwoordelik vorentoe vat en goed bou.”

As sy objektief na haarself kyk, sien sy iemand wat baie divers is.

“Jy kan my in Indië los vir twee dae en ek belowe ek sal terugkom en vir jou ’n lekker breyani maak. Ek klou vas en leer van verskillende kulture en mense; ek vind mense interessant! Ek het baie min vooroordele.

“Ek dink Sinki se rede tot bestaan, hoekom ek op hierdie aarde is, is om brûe te bou tussen kulture en mense en ouderdomme en en en . . .”

* Nuwe episodes van My matriekafskeid word elke Maandag om 20:30 op VIA (DStv-kanaal 147) uitgesaai met heruitsendings op Saterdae om 17:30. Die reeks word geborg deur Afrikaans.com.

Meer oor:  Noordwes-Universiteit  |  Sinki Mlambo  |  Kaapstad  |  Xhosa  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.