Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Afrikaans, maar ‘behep met alles wat Frans is’

Louis Jansen van Vuuren vertel aan Murray La Vita hoe sy droom om Frans te wees waar geword het. Volgens hom is daar amper geen verskil tussen die landelike Franse en gewone Suid-Afrikaners nie.

Louis: “As jy jou duisend uur insit, kry jy iets terug; dít is hoe dit werk.”

As 16-jarige seun het Louis Jansen van Vuuren (72) op sy tuisdorp Middelburg in die destydse Transvaal ’n uitstalling van sy kunswerke gehou. Die titel van een van die skilderye was “Middernag in Parys”.

“Die joernaliste het regtig gedink dis ’n bietjie weird. Dit was vir my die móóiste skildery. Dit was so lós en het so ’n Mondrianeske eenvoud gehad en tog ook so ’n skreeuende passie. Dit was ’n onvergestalte gevoel . . . Dit was ’n verlánge; ’n dráng . . . Jinne, miskien ’n róép.

“Partykeer as ek in Parys is en ek is in ’n hoë gebou en ek kyk so af oor die stad en dit is aand en ek sien die liggies en die donkerte en die ligstrepe van die motors, dan dink ek miskien moet ek voordat ek eendag die emmer skop ’n grootskaalse ‘Middernag in Parys’ doen. So ’n swaneduik oor die Seine . . .

“Toe ek jare later my eerste tentoonstelling in Parys hou, het ek net my oë opwaarts geslaan en gesê: Oukei, hier staan ek nou! My blerrie wense het waar geword. Hier ís ek nou.”

‘Wou Frans wees’

Château de la Creuzette in die winter.

Die Zoom-onderhoud met Louis, wat in sy huis in ’n woud by die Franse dorpie Lépaud sit, vind plaas teen die agtergrond van sy boek Amper Frans – ’n lewe van fanfare en faux pas, wat pas by Jonathan Ball Uitgewers verskyn het.

“Vandat ek kan onthou . . . Ons het so ’n klein afdelinkie in my pa se studeerkamer gehad waar ons partykeer radio geluister het en waar daar so ’n reeks groot kunsboeke was, oor byvoorbeeld die Ufizzi. Maar die héél mooiste een was vir my die een oor die Louvre. Daar was ’n foto in van Samotras se beeld Die gevleuelde oorwinning.

“En daar was ook drie eksemplare oor die moderne kuns. Liewe vader! Ek het omtrent iets oorgekom van die fantastiese goed daarin. Om so ’n dowwe Magritte te sien met ’n appel bo sy pluiskuil. Dit het my daar in Middelburg heeltemal ontstem. Ek was onkeerbaar anders ná daai boeke.

“En ek wou só graag Frans wees, ook! Dit het net vir my gevoel asof dít die régte ding gaan wees om by my kuns uit te kom. En toe ek nou ’n student was, soos dit ook in die boek staan, het drie van ons so tussen honneurs en die finale jaar Parys toe gegaan, en toe ek daardie ‘Gevleuelde oorwinning’ sien, toe huil ek sommer . . .

“Ek het die hele tyd in Parys gehuil . . . As ek iets sien, bars ek in trane uit. Dit was trane van totale verwondering en bevestiging op ’n manier, van: I’m okay. Ek is nié so weird as wat ek gedink het ek is nie. Die goed hét daai emosies; dit hét die ongelooflike teenwoordigheid wat ek gehoop het dit sou hê.”

’n Bietjie Franse bloed’

Theo Paul Vorster het die kunswerk op die voorblad van 'Amper Frans' geskep.

Louis vra in sy boek: “Waar kom die beheptheid met alles wat Frans is vandaan? Dit kan vir die meer skeptiese siele daarbuite soms ’n bietjie aanstellerig voorkom, maar ek vermoed dit het dalk iets met ons Hugenote-voorvaders te make. Dalk vloei daar ’n bietjie Franse bloed in my are."

 Hy het Frans van kleins af in sy are voel klop.

“My eie ondersoek lei dit na miskien ’n paar druppels Hugenote-bloed, want elke keer as ek terugkom Frankryk toe, hetsy destyds as student of nou, dan voel dit soos die aarde wat ek ken.

“Dit klink vreemd, want ek kom van Middelburg en van die Weskus af, en wat moet ek nou hier in Parys met pragtige goed myself ewe skielik aanstellerig hou.

“Maar as ’n mens hier na die landelike mense kyk, soos in Boussac . . . Ek kan amper géén verskil sien buiten vir die taal, tussen hulle en die gewone mense in Middelburg en daardie kontrei nie. Dit is doodgewoon die taal en ’n paar gewoontetjies hier en daar wat vir my die verskil uitmaak.”

Maar sy “voorfamilie” het inderdaad uit Frankryk gekom.

“Suzanne Jacobs, ’n Jodin, en haar mense het uit ’n klein dorpie met die naam Vieille-Église gekom en op die skip De Schelde saam met Hugenote na Suid-Afrika gevlug. Gerrit Janszoon Van Vuren was ook op die skip en op dié lang, dobberende reis het dié twee nou natuurlik ’n kajuit begin deel en dit is waar die eerste spulletjie vandaan gekom het,” sê hy laggend. 

‘Dinge loop mooi’

Louis en Hardy op hul Franse troudag.

Ons praat oor sy eerste uitstalling in Parys.

“Dit is vir my so ongelooflik . . . Die mense wat oor my pad kom . . . Anette de Villiers [wat onlangs op Hermanus aan Covid-19-verwante oorsake dood is] was so half my hoeder in Parys. Soos jy weet, was sy hierdie ongelooflike Balmain-model ensovoorts, ensovoorts.

“En sy het my aan die galery-eienaar voorgestel waar ek my eerste tentoonstelling gehad het, want haar geliefde was ’n galery-eienaar op die Quai Voltarie, en ek het inderdaad ’n derde tentoonstelling by hulle gehad, by Quai Voltaire. Saam met Anette was dit net die mees ongelooflike reis.”

Daar was op die openingsaand van sy eerste uitstalling ’n skare mense. Dit was grootliks te danke aan Anette, wat “die who’s who van Parys op hul voorname geken het”. Saam met haar het hy mense soos Hubert de Givenchy en Phillipe Junot, prinses Caroline van Monaco se eerste man, ontmoet.

En ek verf en ek verf en ek verf, en dinge loop mooi. Toe besluit Hardy hy moet ook seker daar kom bly.

Louis skryf oor die openingsaand: “Daar is ’n Franse rolprentster of twee, die musikant Jean-Michel Jarre en sy blinkoog metgesel, en ’n trop uitspattige artisticos. My kunswerke verkoop goed genoeg dat die eienaar van die galery my daar en dan ’n tweede tentoonstelling aanbied.”

Verskeie uitstallings in Parys, en ook Londen, het gevolg. Louis, wat in daardie stadium nog ’n dosent was aan Michaelis, die Universiteit van Kaapstad se kunsskool, het toe besluit die tyd is ryp om hom in Frankryk te vestig en heeltyds kuns te maak.

Hy en sy lewensmaat, Hardy Olivier, koop toe ’n “Hansie-en-Grietjie-huis” op die plattelandse dorpie Lapeyrouse.

“En ek verf en ek verf en ek verf, en dinge loop mooi. Toe besluit Hardy [wat nog as bankier in Kaapstad gewerk het] hy moet ook seker daar kom bly.

“Die huis was vir ons albei heeltemal te klein en dít is hoe ons by La Creuzette in Boussac uitgekom het.”

* Lees hier 'n uittreksel uit 'Amper Frans'

‘Alles self gedoen’

Die 16-jarige Louis met een van die werke op sy eerste kunsuitstalling.

Hulle het die château, wat dateer uit die tyd van Napoleon III, by ’n hertogin gekoop en toe met ’n groot restourasieprojek begin.

“Ek wil altyd so half verskoning maak dat ’n mens in ’n châteautjie bly, want mense dink dit is vreeslik pretensieus en aanstellerig, maar as hulle weet hoe ek en Hardy gewerk het in die begin.

“Ons het alles self gedoen. Elke sent omgedraai. Weet jy, ek onthou my kuns het vir ’n hele tyd lank stilgestaan. Ek het doodgewoon nie tyd gehad nie. Ek het my gat afgewerk.”

Hulle het mettertyd die château as ’n boetiekhotel bedryf waar mense kan kom kook- , kuns- of skryfkursusse neem. In onlangse jare het Hardy ook sy liefde vir en kennis van Aubusson-tapisserieë (ook die restoureer daarvan) met mense begin deel.

Maar soos hulle sê, as jy jou duisend uur insit, kry jy iets terug - dít is hoe dit werk.

“Hardy het die mense rondgeneem en ek het die badkamers en die slaapkamers skoongemaak, opgemaak, ensovoorts en dan nog ’n bietjie gaan kook voordat hulle kom. Dan staan ek daar met ’n groot glimlag op die mond en sê hallo, maar ek is gedaan.

“Maar soos hulle sê, as jy jou duisend uur insit, kry jy iets terug - dít is hoe dit werk.”

Ton Vosloo, ’n goeie vriend van Louis en Hardy wat saam met sy vrou, Anette, in ’n stadium hul bure in Boussac was, skryf in die voorwoord van Amper Frans Louis en Hardy het oor 20 jaar duisende mense in hul "geroemde Château de la Creuzette" onthaal. Onder dié gaste tel “ . . . talle juigende Suid-Afrikaners, Franse en Engelse en ’n boeket van nasionaliteite”.

‘Geen groot verlange’

Die woud op die Le Rembucher-landgoed.

Wanneer mense Louis vra of hy Suid-Afrika mis, dan is sy antwoord: Nee.

“Want al wat leef en beef het soontoe gekom. Dit was soos ’n transportasie. Ons sit nou in hierdie geskiedkundige plek met al sy hoogdrawende verwysings en so, maar ons lag en gaan tekere presies soos ons op die Weskus of op Stellenbosch of in Kaapstad sou maak.

“So, daar was nooit die groot verlange nie, want ons is werklik versadig deur die wonderlike mense wat gekom het. En in die begin was dit almal vriende . . .

Meer as 27 Suid-Afrikaanse gesinne het nou al in Boussac eiendomme gekoop.

“Die meeste van die mense wat weggaan van La Creuzette af ná so ’n verblyf, sê vir ons: ‘Julle het my lewe diep verander.’ En ek sê dan altyd: ‘Onthou net, dit is soos ’n spieël – ons is óók verryk.’

“Die Franse is mal daaroor omdat ons met baie energie hierdie area verken en mense soontoe sleep . . . Meer as 27 Suid-Afrikaanse gesinne het nou al in Boussac eiendomme gekoop.”

Die registrateur (préfet) van die streek (département) in Frankryk waar hulle woon, het al vir Louis en Hardy amptelik kom bedank vir die bydrae wat hulle tot die ekonomie van die streek gelewer het.

Hulle het in 2010 “Fransmanne geword”. Die titel van Louis se boek is ontleen aan Hardy se opmerking aan hom nadat hulle die onderhoude voltooi het wat die weg na Franse burgerskap sou baan. Hy het ná ’n lang stilte in die motor na Louis gedraai en gesê: “Ons is amper Frans.”

‘Die dood saal sy perd op’

Hardy (voor links) en Louis (langs hom) vier saam met gaste Bastilledag op La Creuzette.

Hulle het La Creuzette in 2016 aan vriende en sakevennote van hulle verkoop, maar hulle bly vir ’n tyd lank nog die “kuratore” van die château en is nog baie betrokke daarby.

“Ons het nou hierdie bleddie nuwe plek gevind wat weer eens my lewe verander het; die laaste ding wat die universum vir my skenk.

“Daar is ’n verskriklike mooi Tibettaanse legende wat ek altyd in my gedagte hou, en dít is as jy 70 is, saal die dood sy perd op, maar hoe lank dit hom gaan neem om by jou te kom hang af van wat jy in die lewe insit.

“So af en toe vermoed ek ek hoor die ysterhoewe op die teëls, maar dan besweer ek dit en begin ’n nuwe boek skryf of maak skilderye,” sê Louis, uit wie se pen die digbundel Tempermes verskyn het. Hy, Hardy en Anet Pienaar-Vosloo is die skrywers van Feestelike Frankryk – Fabels en geregte uit die Franse Platteland en hy en Hardy het saam Die storie van ’n huis – Fabels en feeste van La Creuzette geskryf.

Nou, ek het amper begin ululeer toe ek by dié plek kom, want hiér wil ek doodgewoon nie weggaan nie.

Hul nuwe tuiste in die dorpie Lépaud, naby Boussac, is Le Rembucher, die “jagterspawiljoen” van die vervalle Renaissance-kasteel Château de Lépaud. Die eienaars van die château het die deel van die landgoed waarop dié jagterswoning is, jare gelede verkoop.

“Dit grens aan ’n wonderlike woud. Die hele plek is omring van bome . . . My oupa-hulle het altyd vertel toe hulle die wildplase gehad het by Klaserie en Bosbokrand, as ’n olifantbul die plek waar hy gaan sterf, ruik, dan maak hy ’n vreeslike trompetgeskal. Nou, ek het amper begin ululeer toe ek by dié plek kom, want hiér wil ek doodgewoon nie weggaan nie.”

Le Rembucher beteken die plek waar gejagde diere skuiling soek.

“Op ’n manier is ons almal gejagde diere in die lewe met sy emosies en allerhande goed. Ek het hier my beskerming kom vind.”

‘Drie liefdes’

“Goed is nou binne in my aan die gebeur.”

Louis en Hardy het ’n lieflike huis in ’n private natuurreservaat aan die Kaapse Weskus waarheen hulle "soos kraanvoëls" trek wanneer dit winter word in die Noordelike Halfrond.

Hy skryf in Amper Frans: “‘Jái deux amours, mon pays et Paris’ is ’n liedjie wat praat van twee liefdes, dié vir jou land en dié vir Parys. Ek het egter nie deux amours (twee geliefdes) nie, maar trois (drie) – die Weskus, Frankryk én Parys!”

Louis was op 15 April 2019 in sy geliefde stad op een van sy gunsteling-brûe – die Pont Neuf – toe ’n brand in die Notre-Dame-katedraal uitgebreek het. Van dáár af het hy die tragedie aanskou wat die hele wêreld geruk het.

Op die plein voor die Notre-Dame was ’n groot skare. Hy het op ’n brugreling geklim en homself regop gehou deur aan ’n lamppaal te hang.

In sy bepeinsing oor daardie noodlottige dag en oor die Notre-Dame in die algemeen, onthou hy hoe hy Oukersaand van 1980 na die katedraal gestap het. Hy wou in die skemerdonker van die eeue oue kerk gaan sit, want hy had gewigtige besluite om te neem.

Op die plein voor die Notre-Dame was ’n groot skare. Hy het op ’n brugreling geklim en homself regop gehou deur aan ’n lamppaal te hang.

“Oor die mense se koppe sien ek ’n ligstraal binne die katedraal aangaan wat deur die gekleurde roosvenster skyn en die skare in ’n gekleurde akwarel omvou. Musiek begin speel. Joan Baez sing: ‘How many roads must a man walk down . . .’”

Meer oor:  Louis Jansen Van Vuuren  |  Ton Vosloo  |  Parys  |  Frankryk  |  Middelburg  |  Notre-Dame
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.