Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Afrikaans, ‘pragtige en besmette taal’

Nederland kan baie by Suid-Afrika leer, want ook dáár woed ’n stryd teen verengelsing, het Jan Schinkelshoek, die nuwe voorsitter van die Stichting Zuid-Afrikahuis, aan Murray La Vita gesê.

Tydens hul besoek aan Kaapstad is dr. Jan Donner (links) saam Jan Schinkelshoek, wat hom in Januarie as voorsitter van die Stichting Zuid-Afrikahuis opgevolg het. Foto: Jaco Marais

Die kanse is groter as ooit om die posisie van Afrikaans in Nederland te versterk, sê Schinkelshoek.

“Afrikaans was lank in Nederland ’n besmette taal; dit was die taal van apartheid. Maar die omstandighede in Nederland het ten gunste van Afrikaans verander.

“Die beste bewys daarvoor is dat De Gouden Ganzenveer, ’n groot literêre prys, in April aan Antjie Krog toegeken word. Dit beteken Afrikaans word weer in Nederland ernstig opgeneem.

“Afrikaans is ’n pragtige taal; dit so ontsettend mooi . . . So beeldend, so kleurryk en dit het soveel seggingskrag. Dít is daarom al genoeg om in die Lae Lande hierdie skat te koester.

Taal behoort ’n brug te wees in ’n samelewing. Dit is moontlik en dit is noodsaaklik.

“Ons in Nederland en Vlaandere kan baie leer by wat in Suid-Afrika gebeur. In Nederland is Nederlands ook onder druk. Ons het te kampe met ’n verengelsing. As lid van die Europese Unie is daar die aandrang op Engels aan universiteite. Hoe gaan jy daarmee om om ’n taal soos Nederlands, wat in Europa een van die kleiner tale is, staande te laat bly?

“België is al meer as honderd jaar in ’n taalstryd gewikkel en daar word baie besin oor Nederlands as taal. Taal behoort ’n brug te wees in ’n samelewing. Dit is moontlik en dit is noodsaaklik.”

Schinkelshoek sê wat vir hom deurslaggewend was toe hy moes besluit of hy by dr. Jan Donner wil oorneem, was sy belangstelling in Suid-Afrika en Afrikaans.

“Ek sien dit ook as ’n geleentheid om ’n bydrae te lewer ten opsigte van die posisie van Afrikaans in Nederland en die kulturele verhouding tussen Nederland en Suid-Afrika.

Die anti-apartheidsbeweging in Nederland kom waarskynlik voor as ’n oormatige betrokkenheid, maar ons voel ons intens betrokke by ontwikkelinge in Suid-Afrika.

“Hierdie is my eerste besoek aan Suid-Afrika, maar ek het baie oor die land gelees en ek is ’n groot bewonderaar van Afrikaanse poësie. Daarby is ek van kleins af in die goeie gereformeerde tradisie grootgemaak om belang te stel in Suid-Afrika en Afrikaners.

“As kinders het ons boekies deur L. Penning gelees. Hy het byvoorbeeld oor die held van Spioenkop en Blikoortjie geskryf. In Den Haag is ’n buurt wat Transvaal heet en straat- en plekname is aan die Suid-Afrikaanse geskiedenis ontleen. Daar kry jy Joubertstraat en Krugerplein en De Wetstraat.

“As volwassene het ek die ontwikkeling van die land bly volg. Die stryd vir en teen apartheid . . . Ons families en ons kerke is ook daardeur verskeur. Die anti-apartheidsbeweging in Nederland kom waarskynlik voor as ’n oormatige betrokkenheid, maar ons voel ons intens betrokke by ontwikkelinge in Suid-Afrika.

“Dit het littekens gelaat en afstand geskep, maar tegelykertyd sien ’n mens sedert die aanbreek van demokrasie die nuwe geleenthede.”

Akademiese samewerking tussen Nederland, Vlaandere en Suid-Afrika is veel minder as ooit tevore.

Donner sê: “Ons het by Zuid-Afrikahuis ook die nadele daarvan ondervind. Tot 1976 . . . 1980 het talle Afrikaanse mense in Nederland kom studeer, maar dit het heeltemal opgedroog weens die kulturele boikot en die anti-apartheidsentiment. Ons probeer hulle nou weer terugkry en dit gebeur wel stadig, maar akademiese samewerking tussen Nederland, Vlaandere en Suid-Afrika is veel minder as ooit tevore.

“In dié verband moet ek meld dat die Stichting Zuid-Afrikahuis ’n buitengewone leerstoel in Suid-Afrikaanse letterkunde en kultuur en ekonomie aan die Universiteit van Amsterdam het. En Gent is ook een wat deels deur die stigting befonds word.”

Schinkelshoek voeg by daar is ook ’n studiefonds wat dit vir Suid-Afrikaanse studente moontlik maak om in Nederland te studeer.

Een van die jongste projekte is ’n Afrikaans-Nederlandse webtuiste wat in Januarie die lig gesien het. Dit heet Voertaal (www.voertaal.nu) en is ’n gesamentlike inisiatief deur die Stichting Zuid-Afrikahuis en LitNet wat onder meer op ’n “transnasionale gesprek” in die tale toegespits is.

Paul Kruger nooi die Nederlanders

Zuid-Afrikahuis (middelste gebou) aan die Keizersgracht in Amsterdam. Foto: Argief

Die onderhoud met Schinkelshoek en Donner vind plaas in die kantoor van Die Burger in Kaapstad, wat op Tafelbaai uitkyk. Indien dit 6 April 1652 was, sou jy Jan van Riebeeck se klein vloot van hier af die baai kon sien binnevaar.

Ingevolge ’n ooreenkoms met Zuid-Afrikahuis kry joernaliste van Die Burger en ander Afrikaanse joernaliste van Netwerk24 sedert 2016 die geleentheid om tydens verrykingsbesoeke aan Nederland in een van die apartemente in Zuid-Afrikahuis te bly. Dié ooreenkoms het tot stand gekom nadat Naspers geld vir die restourasie van Zuid-Afrikahuis geskenk het.

Volgens Donner bestaan daar tradisioneel in Nederland ’n groot belangstelling in Suid-Afrika om allerlei voor die hand liggende redes.

“Honderd-en-veertig jaar gelede is die Nederlands-Zuid-Afrikaansche Vereniging gestig. Kort daarna het Paul Kruger die Nederlanders uitgenooi om die Suid-Afrikaanse Spoorwegmaatskappy te organiseer en hulle het toe die Nederlandsche Zuid-Afrikaansche Spoorweg-Maatschappij (NZASM) gestig [Later het dit ZASM geword]. Dit is die maatskappy wat Kruger ook gehelp het om uit die land te vlug [tydens die Anglo-Boereoorlog].

Ek het toe onder polisiebewaking die plaket daar vasgeskroef. Tien minute later het die polisie dit weer afgeskroef en in ’n kluis laat sit weens die plakkers . . .

“Dit is ’n fantastiese prestasie dat hulle binne 34 jaar ’n spoornetwerk aangelê het waarop die Engelse jaloers was. In 1909, ná die Boereoorlog, het die Engelse besluit hulle moet die ZASM onteien. Dit het in daardie stadium bestaan uit vyf openbare spoorlyne en een private spoorlyn. Hulle het die ZASM uitbetaal en met die geld wat ons van die Engelse gekry het, het ons die pensioene betaal en alle ander verpligtinge nagekom.

“Maar daar het geld oorgebly en daarmee is die Stichting ZASM in die lewe geroep wat tot vandag toe talle projekte in Nederland en Suid-Afrika bedryf. Het Zuid-Afrikahuis aan die Keizersgracht is in 1923 deur die stigting gekoop.”

Wanneer ek Donner vra wat hom sal bybly uit sy tyd as voorsitter van die Stichting ZASM, betrap hy my effens onkant met die volgende mededeling:

“In die geskiedenis van die ZASM-spoorlyn is Watervalboven ’n heel belangrike plek. In 2009 het die Nederlandse ambassade gereël dat ons na die ZASM-tonnel by Watervalboven gaan en daar ’n plaket vasskroef ter herinnering aan die 100-jarige onteiening deur die Engelse. Ek het toe onder polisiebewaking die plaket daar vasgeskroef. Tien minute later het die polisie dit weer afgeskroef en in ’n kluis laat sit weens die plakkers . . .

“Ons het onder polisiebeskerming deur die donker tonnel geloop met net ons selfone wat lig verskaf. En dan kom jy aan die ander kant en het die fantástiese uitsig op die meertjie.

“En om na die treine te kyk wat nou nog daar ry, het my laat dink: Dit is ook óns treine.”

Jan Schinkelshoek (links) en Jan Donner gedurende die onderhoud in Die Burger se kantoor in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

Volgens Donner is Zuid-Afrikahuis in Nederland ’n “balancing act” want daar is mense wat dink net wit mense in Suid-Afrika praat Afrikaans terwyl wit mense die Afrikaanssprekende minderheid is.

“Daardie misverstand moet uit die weg geruim word. En hier in Suid-Afrika is steeds negatiewe gevoelens oor kolonialisering deur Nederland – dít is ook ’n balancing act. Dié twee balancing acts moet dus bymekaargebring word om te sien hoe fondse soos die Naspersfonds, die Het Jan Marais Nationale Fonds en die Dagbreektrust kan saamwerk om dinge te doen wat almal goed vind.”

Donner en Schinkelshoek is huiwerig om hulle uit te laat oor die posisie van Afrikaans aan Suid-Afrikaanse universiteite.

Schinkelshoek: “Moedertaal is ontsettend belangrik vir kommunikasie. Dit pas perfek by ons missie om Afrikaans te versterk.”

Na sy mening praat die Griekwas die mooiste Afrikaans van alle Afrikaners.

Hy meen dit is belangrik om moedertaal te handhaaf in ’n wêreld wat vinnig aan die verander is, en verwys weer na die stryd waarin Nederlands gewikkel is om sigself in die Europese Unie te handhaaf teenoor sterker tale soos Engels, Duits en Frans.

Donner sê hy beleef Engels as ’n formele taal en as hy in Suid-Afrika ’n restaurant besoek, vra hy altyd: “Praat jy Afrikaans? Kan ons Afrikaans praat?”

Dikwels lag die persoon dan en sê: “Ons kan.”

“Die gesprek is meteens heel anders. Daar word grappe gemaak, dit is vroliker, daar word beter gekommunikeer.”

Na sy mening praat die Griekwas die mooiste Afrikaans van alle Afrikaners.

Schinkelshoek voeg by in Nederland praat die mense van Surinaamse afkoms die mooiste Nederlands.

Dit is omdat hulle “dit goed geleer het”, sê hy.

‘Daar gebeur iets!’

Jan Schinkelshoek en Willem Jordaan, redakteur van Die Burger. Foto: Jaco Marais

Stel deursnee-Nederlanders, die sogenaamde mens op straat, werklik nog belang in die gedeelde koloniale geskiedenis van Nederland en Suid-Afrika?

Schinkelshoek sê hy kan nie ’n mening daaroor lug nie, maar is wel daarvan bewus dat toerisme vanuit Wes-Europa na Suid-Afrika besig is om ontsettend te groei.

“Alleen daardeur ontdek Nederlanders van ’n sekere generasie dat dit ’n heel ander Suid-Afrika is as waarvan hulle in die jare 80 op skool geleer het. Die ekonomiese betrekkinge is dalk nie so groot nie, maar kultureel; dink maar aan die samewerking tussen Antjie Krog en Tom Lanoye en die groot openbare belangstelling daarin.

“Verlede jaar was daar in die Rijksmuseum die tentoonstelling Goede Hoop oor die 400-jarige verhouding tussen Nederland en Suid-Afrika. Dat daar in Nederland se grootste en belangrikste museum so ’n groot tentoonstelling was, dui daarop dat daar ’n herlewing in die belangstelling in Suid-Afrika is. Toeristies, maar ook kultureel. Daar gebeur iets! Om dit byna Bybels te stel: Die velden zijn wit om te oogsten. [Die tyd is ryp om op te tree.]”

Ook slawerny en Nederland se aandeel daarin in die tyd van die VOC en die VOIC, was al die onderwerp vir warm debatte op talle terreine, onder meer in die akademie en die politiek.

Die gesprek keer terug na Nederland se koloniale verlede.

“Ons loop gereeld nog daaroor deur,” sê Schinkelshoek.

“ ’n Paar jaar gelede was daar byvoorbeeld die Molukke wat treine gekaap het. Dan, meer onlangs, was daar die heftige openbare debat oor Zwarte Piet. Ook slawerny en Nederland se aandeel daarin in die tyd van die VOC en die VOIC, was al die onderwerp vir warm debatte op talle terreine, onder meer in die akademie en die politiek.

“Daar word ook geredekawel oor of standbeelde van mense uit die koloniale era gesloop moet word en plekname verander moet word.

“Nederland se sogenaamde roemryke verlede, belaste verlede, volgens sommige . . . Hoe gaan jy daarmee om? Dit is ’n brandende politieke probleem. Party mense voel Nederland moet skuld beken en spyt betuig oor slawerny deur al die naambordjies en die standbeelde te verwyder. Dan is daar regses wat sê: Nee, jy moet trots wees op die verlede en ons geskiedenis. Moenie die verlede verloën nie.”

Meer oor:  Murray La Vita  |  Antjie Krog  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.