Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Afrikaner moet nou sy nonsens los’

Die Afrikaner is soos ’n verlore seun en hy sal eendag terugkom soos wat die verlore seun na sy pa teruggekom het, het die veteraan-politikus Peter Marais aan Murray La Vita gesê.

Peter Marais vandeesweek by ’n onderhoud in sy huis in Durbanville. Foto: Jaco Marais

Die 75-jarige Marais sit aan die hoof van ’n eetkamertafel in sy huis in ’n noordelike voorstad van Kaapstad. In sy hand is ’n blou Barclays-pen en voor hom lê ’n bypassende blou notaboek waarin hy sekere aantekeninge gemaak het oor grondonteiening, federalisme en sy aansluiting by die Independent Civic Organisation of SA (Icosa), ’n party wat hom veral beywer vir die regte van bruin mense.

Die prominentste skilderye in die eetkamer en aangrensende sitkamer is ’n Bolandse plaastoneel en ’n Kaapse strand waarop branders breek. Sy beeldskone vrou, Bonita, sal later sê dit is ’n afbeelding van ’n strand by Knysna.

“Kyk, ek was nooit buite die politiek nie. Ek het afgetree, maar nie uitgetree nie, want ek was nog steeds die een na wie álle groepe hul weg gevind het vir raad en vir hulp. Ek kan hulle almal noem: van Vryheidsfront tot Icosa tot ANC. Hulle het ’n paadjie gestap na my huis toe om my te probeer oortuig: Miskien moet ek weer terugkom na die politiek toe,” sê Marais.

Dinge is besig om in hierdie land skééf te loop en ek dink die mense wat nou in posisies van mag is, het ’n gebrek aan kénnis.

“Ek het in al die gevalle gesê: Nee. Ek dink ek was 20 jaar in die parlement – van ‘84 tot 2004, en selfs voor dit het ek gedien in PW Botha se ekonomiese adviesraad; ek was lid van die kommissie wat Chris Heunis aangestel het om ondersoek in te stel na ’n nuwe plaaslike bestuurstelsel. Ek was ál bruin persoon wat in hierdie rade gedien het . . . Ek was ondervoorsitter van die staatkundige komitee van die presidentsraad. En selfs voor 1994, dit was nog voordat Mandela vrygelaat is, het FW de Klerk my aangestel as die minister vir drié provinsies gelyktydig – Wes-, Noord- en Oos-Kaap.”

(Hy was onder andere ook ’n lid van die Nuwe Nasionale Party (NNP) en in die laat jare negentig deel van premier Gerald Morkel se Wes-Kaapse kabinet; in 2000, ná die samesmelting van die NNP en die DA het hy DA-burgemeester van Kaapstad geword; en in 2001 het hy Wes-Kaapse premier geword (as NNP-lid).)

“So, ek het gesê ek het genoeg gehad. Maar nou ja, dinge is besig om in hierdie land skééf te loop en ek dink die mense wat nou in posisies van mag is, het ’n gebrek aan kénnis; hulle het ’n gebrek aan hoe werk ’n regeringstelsel eintlik. Hulle is daar omdat hulle ’n bepaalde politieke party ondersteun of aan ’n bepaalde etniese groep behoort, nie omdat hulle die beste mense in die land is nie.”

Strande, asseblief

Marais in sy studeerkamer by spotprente uit sy dae in die politiek. Foto: Jaco Marais

Dan deel Marais sy gedagtes oor grondonteiening.

“Ek wil nie hê wit mense se huise moet afgevat word nie. Dit sal onregverdig wees; nie álle wit mense het apartheid gesteun nie; nie álle wit mense het vir die Nasionale Party gestem nie. Daar is baie blanke Afrikaners ook wat ’n gróót prys betaal het omdat hulle teen die Nasionale Party se beleid gegaan het. Ek het nie teen die wit mense enigiets nie; ek het dit teen ’n stélsel.

“Nou hoe kry jy regverdigheid? Ek sê daar is staatsgrond. Verkóóp dit! Moenie gratis gee nie, want jy wil nie hê mense moet eiendom in ’n gegoede gebied besit wat nie die eiendom in stand kan hou nie. So verkoop dit aan mense teen 50%-afslag . . .

“Toe hulle met groepsgebiede gekom het, het die staat ál die luukse strande verklaar as wit . . . Ons het nie eintlik strande gehad nie . . . láter jare het hulle Strandfontein ontwikkel. Ons kon nooit eiendom bekom wat in waarde sou vermeerder en jou op ’n ekonomiese vlak gelyk sou plaas aan wit mense nie.

“Ek sê ons moet kyk as daar enige onontwikkelde eiendomme langs die kus is wat aan die staat of spekuleerders behoort – dáái moet afgevat word! En daaraan moet ook bekostigbare pryse gekoppel word sodat ons ’n beter balans kry.

“Die wit mense het nog altyd staatgemaak op die bruin mense om te oorleef; FW het op ons staatgemaak in 1994 in die verkiesing; PW het op ons staatgemaak in ‘84 toe die UDF en niemand wou deelneem aan die driekamerstelsel nie. Die bruin partye het deelgeneem – eerwaarde Allan Hendrickse van die Arbeidersparty; die Volkskongresparty waarvan ek die leier was. Ons het vir hulle tyd gekoop.

“Nou sê ek dit is tyd dat julle daaraan dink: Wil julle ons hê as ’n vennoot of as ’n vyand?”

Met die Afrikaner moet jy reguit praat.

“Moenie doekies omdraai nie. Met hom moet jy die feite op die tafel sit en as jy vir hom wil sê: ‘Gaan na die hel’, dan sê jy: ‘Gaan na die hel’. Só het ek die Afrikaner leer ken van destyds af.”

’n Spotprent waarin Marais se sterk federalistiese sentimente uitgebeeld word. Foto: Jaco Marais

Hy droom oor ’n nuwe nasie.

“As die Afrikaner besef dat daar gemene kultuuraspekte en ook bloedverwantheid tussen ons is, dan kom hier ’n nuwe nasie tot stand – Kaaplanders . . . ek hou van die woord Kaaplanders.

“Nou, as die Afrikaner huis toe kom en besef sy lewenswyse en sy godsdiens en sy taal is meer belangrik as sy velkleur, dan het ons al klaar ’n oplossing. Jou lewenstyl, jou taal en jou God! Dít moet meer tel as jou velkleur, want jy kan nie in Afrika wees en jou oë toemaak vir die feit dat die swart mense ’n gróót meerderheid is nie.

“Dis soos ’n man wat in die woestyn loop en hy bid: ‘Here, laat die sand tog weggaan.’ Jy moet jou aanpas by die sand! Daai sand gaan nie weg nie! Jy moet soek vir oases sodat jy kan oorleef.

“Die oases is Kaapland – Wes- en Noord-Kaap saam. Ons kán dit ’n onderhandelingspunt maak! Miskien sal die ANC gelukkig wees as hy net die mýne kan kry; as hy die Transvaal het en Natal vir die Zoeloes. Maar maak dit ’n nuwe Kodesa! ’n Afrikaner-Kodesa waar ons bymekaarkom en sê: ‘Dít is wat ons wil hê!’; dan kan daar vrede kom.”

’n Sterfbedbelofte

Peter en Bonita Marais voor een van Peter se gunstelingskilderye. Foto: Jaco Marais

Ek vra hom of hy Khoebaha Calvin Cornelius III ken, die man wat homself die Khoisan-koning noem en onlangs aangekondig het die Wes-Kaap het as soewereine staat van die res van die land afgestig.

“Nee . . . Daar’s nou baie van hulle wat nou opspring. Die manne het natuurlik gegaan na die argiewe toe om uit te vind: ‘Wie’s my oupa? En wie was my oupa se oupa?’ en so aan. En dan sien die manne: ‘Maar ek het dieselfde van as daai ene; ek moet daarvan afstam . . .

“Ekself is ’n Griekwa. My oupa-hulle het geboer op Maraiskop in Griekwaland-Oos. Ek het ’n eis ingesit vir daardie plaas want dit het behoort aan my oupagrootjie, hy was Dawid Lodewijk Marais, ’n wit man, en hy het ’n Griekwameisie getrou.

“Dis waarom my ma vir my op haar sterfbed laat belówe het: ‘Jy kan veg teen ongeregtigheid, maar jy veg nie teen die Bóére nie want jou oupagrootjie was ’n Bóér!’”

Eendag sal hulle terugkom na ons toe soos die verlore seun teruggekom het na sy pa toe.

Sy stem raak skor en sy oë skiet vol trane.

“Ek sal dit nooit vergeet nie, sy’t vir my gesê: ‘Eendag sal hulle terugkom na ons toe soos die verlore seun teruggekom het na sy pa toe.’

“En ek het gesê: ‘Mammie, dis ’n bítter ding.’ Sy sê: ‘My kind, belówe vir my, jy draai nie jou rug op dié wat bloedverwant is aan jou nie.’

“En dís waarom ek nie ANC geword het nie, maar Nasionale Party. En vandag kan jy sien . . . Ek sien dit in al my kleinkinders . . . Ek wil net vir jou iets wys, dat jy kan sien mý kleinkinders . . . Nóú kom die bloed deur.”

Hy verlaat die vertrek en kom terug met ’n groepfoto wat hy op die tafel neersit en waarop onder andere sy kinders (“almal hoog geleerd”) verskyn.

Peter en Bonita Marais saam met hul kinders, kleinkinders en skoonseuns en -dogters.

“Kyk nou hierso . . . As jy nou sien hoe kom die wít deur. Dís my kleindogter. Daar’s my kleinseun. Dié is déél van my familie.

“Bruin mense is in ’n netelige posisie. Daar’s altyd ’n klein plekkie in hulle wat jámmer is vir wit mense, al het hulle hóé swaar gekry. Hulle voel nog jammer en dan sê hulle: ‘Ag man, lat ons maar vergewe, die Here wil nie hê ons moet só bly nie. Já, hulle het nou dít aan ons gedoen, maar wie maak nie foute nie?’

“Die mainstream bruin mense het altyd nog die gevoel van: ‘Ons hoort eintlik maar by hulle alhoewel hulle ons sleg behandel het. Hulle sal tot hulle sinne kom.’

“En daai gevoel kon ons . . . My vrou se familie is ópgebreek. Ek sal jou my vrou se foto wys, man! In álle opsigte is sy blank . . . Drié van haar susters is blank en haar broer is blank, maar sy is bruin verklaar want sy’t dan met mý uitgegaan van skooldae af,” sê hy en lag.

Ek dink die tyd het aangebreek dat die Afrikaner nou sy nonsens op ’n end moet sit en sê hy is blóédverwant aan die bruin mense.

“Ons is nou 53 jaar getroud, maar die families is opgesplit. Party van haar familie woon in die Gardens, party het Australië toe geëmigreer – húlle is blank, en sý word gesien as bruin, as coloured.

“Ek myself; ek het bruin neefs en ek het wít neefs, maar hulle kon nooit met my meng nie, want dan sou húlle identiteit in die gedrang kom . . . ‘Wie’s dié bruin klong wat hier by julle kom besoek aflê?’

“Ek is maar net van die bruin Marais. Ek dink die tyd het aangebreek dat die Afrikaner nou sy nonsens op ’n end moet sit en sê hy is blóédverwant aan die bruin mense want die Hollanders het getrou met die Khoivroue en kinders gehad by hulle en toe kry jy die Griekwa. En die Hollanders het weer met dáái kinders getrou wat hulle gehad het by die Griekwas en wat Basters was en toe kom nog meer wit mense en het kinders by húlle en nou kry jy weer Namakwa. En dan kry jy die Xhósa wat óók met Khoivrouens getrou het en toe kry jy die Koranna. Dis so ’n ingevlégte iets,” sê hy met wat na moedeloosheid klink in sy stem.

Van sy kinders het al vir hom gevra wat moet hulle doen; moet hulle nie dalk maar liewer die land verlaat en elders gaan werk waar daar nie weens regstellende optrede teen hulle gediskrimineer word nie?

“Dis hoekom ek terug is. Ek wil nie hê my kinders moet oorsee gaan nie. Ek het vir hulle gesê: ‘Wág, pa gaan dit nog een kans gee; kyk of ek met die hulp van ander dinge nog kan beïnvloed. Ek hét al baie reggekry . . .”

‘Eendag sal hulle terugkom’

Wanneer ons op vertrek staan, wys Marais aan ons ’n kunswerk wat bo ’n dubbelbed hang in ’n slaapkamer neffens die een sitkamer. Dit is ’n afdruk van Rembrandt se skildery Die terugkeer van die verlore seun wat hy in Rusland gekoop het.

“Die verlore seun,” sê hy sag. “Die emósie in daai foto . . . Kyk hoe versléte is hy . . . Kyk, sy skoene is stukkend en hy kom voor sy pa en hy sê: ‘Ek is jammer, pa, ek wás verkeerd.’ En kyk hoe omhels die pa hom.”

Dit herinner hom aan wat sy ma op haar sterfbed gesê het.

“Ja, die Afrikaner is die verlore seun. Hulle sal eendag terugkom. Wanneer hy op sy swaarste kry; wanneer hy sien hy het nou als verloor, hy het níks meer nie, gaan hy terugkom na jou toe. Die Afrikaner kan nie wag tot hy als verloor het, tot hy verslete is nie . . . Hy’t klaar sy politieke mag verloor, nou is hy besig om sy wérk te verloor; hy’s besig om sy grond te verloor . . .”

Meer oor:  Peter Marais  |  Grondonteiening  |  Afrikaner  |  Khoi  |  Griekwas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.