Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
OP REKORD MET AJ
AJ Opperman gesels met Jan Groenewald
‘Hoekom neem dit soveel jare?’
Jan Groenewald by Foxwood House in Johannesburg. Foto: Simone Kley

Op ’n grys middag stap Jan Groenewald, akteur, regisseur, dramaturg, vervaardiger van dokumentêre programme, op die paadjies op die perseel van Foxwood House in Houghton, Johannesburg.

Met sy opgevoude bril in sy hand kom sit hy aan by ’n tuin­tafel om oor sy werk en lewe te gesels – veral oor sy jongste solostuk, Pruimboom.

“Dis snaaks hoe goeters gebeur, nè. It’s as if God works in mysterious ways,” sê hy droogweg.

“Ek het in Potchefstroom die stuk opgevoer vir ’n spesiale vertoning. Toe was dit nog baie rou gewees. Selfs met die kykNET-Foxwood-fees was dit steeds baie rou.

“Kom ek verduidelik vir jou só: Ek was sterwend. Die dokter het gesê ek gaan dood. Ek het kanker gehad. Dit het net begin oorneem.

“Die chemoterapie het meer skade gedoen as wat ­nodig was, dink ek. Ek was in ’n koma.”

Hy het gedink hy gaan sterf.

Hy skat hy was ongeveer vyf weke in ’n koma. En toe herstel hy.

Daarna kom die besluit dat hy sy storie gaan vertel. Hy het nooit gedink hy gaan met iemand praat oor dít wat hy in Pruimboom vertel nie: Die stuk gaan oor kindermolestering...

***

Jan Groenewald Foto: Simone Kley

Die kankerdiagnose was in 2011.

Hy is onmiddellik geopereer. Hoewel hy die chemoterapie ontvang het, glo hy nie daaraan nie. Hy het ook alternatiewe behandeling ontvang.

“En as ek nie vroeër fiks was nie . . . Dit is ’n wonderwerk. Maar ek het besluit ek gaan nie dood nie.”

Hy praat onder andere van Sandra Prinsloo met wie hy dikwels saamwerk, sy maat Pieter de Vos. Sy familie, sy vriende.

Hy voel geloof is belangrik. Hy praat nie van ’n spesifieke geloof nie, maar verwys na ’n “universal intelligence”.

Voor sy siekte het hy ’n program gemaak oor twee kinders wat harte nodig gehad het. “Dit was die snaakste ding, ek het elke liewe dag van my lewe by ’n spesifieke plek gaan staan. Dan het ek gekyk na Robbeneiland en die see. Dan het ek gemediteer dat die kinders moet harte kry.

“Die eiland is ’n simbool. Nelson Mandela was 27 jaar daar. Ek het geweet dis ’n simbool. Mandela het vir ons gewys, jy weet, kyk wat het hy gedoen.

“Ek wou kyk na waar hy gesit het. Ek wou kyk na die golwe, na waar hulle breek. Ek kon glo dat daai kinders gaan harte kry. Hulle het albei harte gekry.

***

”Hy het die storie wat hy in die hospitaal op sy iPad geskryf het aan iemand gewys wat hy vertrou. Die persoon het gesê dit is ’n mooi stuk. Groenewald besluit toe om die stuk te doen, maar iemand anders sou die hoed van regisseur dra.

“Toe besluit ek, ek glo Erik Holm het dit in hom. Hy is slim, intelligent, hy is kreatief. Die geld is daar, alles is daar, I’m going to expose myself. Weer ’n keer, God works in mysterious ways.”

Die stuk het ook in die hande van die Hiemstra-trust beland.

“Toe kon ek nie kop uittrek nie. Nou moet ek hierdie ding doen. Erik het ongelooflike dimensies by die stuk gevoeg.

“Die fantasie-uitbeelding was vir my baie interessant. Hy het my gehelp om deur die hele ding te kom sodat ek dit eintlik op die ou end kon doen. Maar nou is dit uit in die oopte.”

Daar is goed waaroor hy nie noodwendig met Holm saamgestem het nie, maar hy kan sien dat Holm die regte besluite geneem het.

Hy het die stuk al ’n paar keer opgevoer, onder meer by die onlangse kykNET-Foxwood-kunstefees.

Hy beplan om dit op 17 Januarie weer in die Foxwoodteater op te voer.

Dan is sy plan om Pruimboom na die kunstefeeste te neem. Dit klink of hy dit ’n opdrag ag.

***

Pruimboom is ’n storie wat sy hart vol lê.

Die koma het dit verander.

“In ’n koma hoor jy élke woord wat iemand sê, dis die interessantste ding. Jy hoor die dokter. Ek het gehoor die suster sê: ­Doctor, we’re losing him. Ek het beweeg tussen die koma en die werklikheid. Dan hoor ek die ­dialisemasjien en dan dink ek ­

ek hoor my motorkar.”

Hy het altyd “The Great Pretender” van Freddie Mercury gespeel as hy deur die Karoo ry. Dán het die hartseer hom begin kou. Hier het hy stilgehou en ­ente gaan stap en sy geheim uitgelap. Hy het ’n groot liefde vir die Karoo.

In ’n koma hoor jy élke woord wat iemand sê, dis die interessantste ding. Jy hoor die dokter. Ek het gehoor die suster sê: ­Doctor, we’re losing him.

Sy pa is oorlede toe hy baie jonk was. Hy praat met respek van sy pa.

Dit was ook ná sy pa se dood dat . . . hierdie ding . . . met hom gebeur het.

Groenewald gee sy presiese ouderdom ten tyde van die gebeurtenis: 13 jaar, sewe maande en sewe dae. ’n Man het hom iets aangedoen terwyl hy in die Kaap gewoon het. Hy noem dit nie op die naam nie.

Hoe kan iemand dít aan ’n ander doen, vra Groenewald weer.

Hy het die name verander. Mnr. Pruim is die man in die stuk wat hom te na gekom het. Groenewald wil nie die fantasie ongedaan maak nie.

Hy glo die fantasie wat geskep is, is waar. Vir hom is dit.

“My groot ding is, ek het geen respek vir enige volwasse man wat ’n kind aanraak nie. Want hy vermoor die siel van daai kind. Daai kind kom nooit daaroor nie.

“Daar is honderde mense wat rondloop wat nie eens met hul vrou of sielkundige daaroor kan praat nie. Hul siel is geskend.

“Daar’s ’n missing link en daar gaan altyd ’n missing link bly.

“Dis ’n baie, baie ernstige ding. Die enigste rede waarom ek dit doen, is ek wil nie hê mense moet aan kinders raak nie.”

“Jy kan atletiek doen, jy kan hardloop en elke 100 treë wat jy hardloop, besef jy dit het gebeur. Jy ontmoet mense, soos ek mense ontmoet het in my lewe.

“Totdat ek nou op my ouderdom nog steeds dit besef, hoekom moes ek nou soveel jare gevat het om dit uit my uit te kry?”

***

Hy staan op, neem sy bril in sy hand en gaan bestel nog drinkgoed in die kombuis.

Hy het aan die Akademie vir Dramakuns studeer en klas gehad by Milla Louw en Aletta ­Gericke.

Hy het voltyds ’n akteur geword. Toe besluit hy hy wil ’n regisseur wees. Hy was 42 jaar oud. Hy het al in daardie stadium in radio as regisseur gewerk en het dikwels radiodramas geskryf en self ook daarin gespeel.

Hy het juis vir Pieter de Vos van sy wens om ’n regisseur te word, vertel. De Vos het gesê dis moeilik. Hy het weer opleiding gekry. “Soos jy ’n kamer sal rangskik. Iets moet mooi lyk.”

Dramas en dokumentêre het gevolg. Hy het self ook weer begin speel, onder meer in die stuk Daar was ’n tyd.

Saam met Sandra Prinsloo was daar onder meer programme soos Sandra op ’n drafstap en ­Sewe sakke sout.

Sy Duitse herdershond, Simon, maak sy opwagting. “Nee, ons gaan nie nou stap nie. Simon! Lê!” (Groenewald wil weer begin praat), en dan: “Lê!” Simon lê oplaas. “Wat kan ek nog vir jou antwoord?”

Jan Groenewald by Foxwood House in Johannesburg. Foto: Simone Kley

Sy werk het hom ook elders laat land.

“Ek het in Los Angeles baie ­jare lank oor die Oscars vir die SAUK verslag gedoen. Ek was die regisseur. Ons het dit regstreeks uitgesaai. Ek het ’n huis gehuur in Beverly Hills en het ’n reeks gedoen, Boulevard of Dreams. Carmen Electra en Jamie King het daarin gespeel. Dit was ’n ongelooflike tyd vir my in Los Angeles.”

Hy is ’n Johannesburger. Sy ouma se plaas was in Weltevredenpark. Plekke soos Florida en Quellerina is die plekke van sy kinderjare.

Die voorval in Pruimboom het in die Kaap met hom gebeur. Daarna is hy terug Johannesburg toe.

Hy en De Vos woon sedert die laat 1980’s in die huis waar Foxwood House vandag geleë is. Hulle het produksies hier bedryf.

Mettertyd het die teater begin. En die hotel. Groenewald sê hulle het die hotel begin bedryf sonder om eintlik te weet hoe. En hulle weet vandag eintlik steeds nie, sê hy.

Albei se ma’s het hier gebly, op verskillende tye. En albei het hier gesterf. De Vos se ma is verlede jaar dood.

“Fox” vir De Vos en “Wood” vir Groenewald. De Vos het dit uitgedink.

Groenewald kry half lag.

“Pieter het hierdie fantastiese mind. Hy kom uit ’n ontsettend interessante dinastie. Sy pa was ’n regter. Sy ma se pa was ’n oogarts vir die koningshuis. Sy oupagrootjie was pres. Steyn. Sy mind was so sharp.

“Ek kon net nie glo nie dat ek met iemand te doen het wat so ’n geweldige intelligensie het en steeds hierdie ongelooflike mind wat alles net so openbaar die hele tyd.

“Steeds verduidelik hy nog vir my goed. Daar was geweldige aantrekkingskrag. Verskriklike, ongelooflike . . . wat vir my vreeslik baie beteken, geestelik, alles… in my lewe.”

Hy neem die rol in Pruimboom baie ernstig op.

“Ek wil nie sommer op ’n verhoog klim en niks sê nie. Ek wil voel daar is iets.”

Dit is egter ’n gebeurtenis in sy lewe wat met elke vertoning weer opgeroep word.

“Wel, ek het nou so ver gekom. Dit sal onregverdig wees teenoor die Hiemstra-trust en Erik, teenoor myself. En vir ander mense. Hoekom sal ek nou ophou?

“Ek moet dit vir die mense vertel. Ek hoop ek bereik ’n persoon wat skaam is, wat voel: I want to talk about it.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.