Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Altyd aan die woeker, pandemie of te not

Dis nie ’n pandemie wat hom gedwing het om sy loopbaan Covid-19-bestand te maak nie, dis ’n belofte aan homself wat hom help om in dié moeilike tyd in ’n wispelturige bedryf te oorleef, het Armand Aucamp aan Carla Lewis gesê.

Armand Aucamp, wat nie net as akteur werk nie, maar ook reeds voor die pandemie gewoeker het met kookklasse, resepteboeke en ’n kookprogram.Foto: JACOBUS SNYMAN

Armand Aucamp het ’n dekade gelede, toe hy die wispelturige, uiters mededingende vermaakwêreld betree het, ’n belofte aan homself gemaak.

Hy sal nooit deel wees van ’n jammerverhaal van die platsak akteur wat van rol tot rol leef net sodat hy sy hartstog vir toneelspel kan uitleef nie.

Nog voor Covid-19 het hy tussendeur flieks en televisiereekse gewoeker met kookklasse, ’n resepteboek en ’n kookprogram.

Toe die koronavirus soos ’n ekonomiese Tsjernobil deur die vermaakbedryf geploeg het en die lewensbestaan van akteurs en vermaakkunstenaars platgevee het, was Aucamp reg met ’n plan B en C.

Hy het Koer uitgereik, ’n Afrikaanse afspraak-app, aanlyn saam met sy ma slaapstories vir kinders voorgelees, stemwerk gedoen en akteurs gementor.

Op sy Instagram-profiel sien jy ook dat ’n vervolg van sy gewilde banting-kookboek, Armand kook kaal wink. Terwyl talle mense sukkel om net kop bo water te hou, blyk dit asof Aucamp nie net tydens die inperking oorleef het nie, maar gedy het. Hoe kry hy dit reg?

“Moenie ’n fout maak nie, daardie eerste harde inperking was vir my ongelooflik moeilik. Ek het ook talle groot projekte en inkomstestrome verloor,” gesels hy in ’n Zoom-onderhoud uit sy woonstel in Kaapstad.

“Ek het altyd gedink dit sal vreeslik interessant wees om deur ’n postapokaliptiese ramp te leef. Daardie eerste dae van die inperking het regtig so gevoel. Maar dit was aaklig en beslis nie so opwindend soos ek myself voorgestel het nie.

“Ek bly in die lug, ek het gevoel asof ek nie kontak met die aarde maak nie. Die hoogtepunt van my week was vuilgoeddag, wanneer ek die vullissakke kon uitvat. Ek kon darem kontak met die aarde maak en in die strate rondstap.

“Wanneer ons winkel toe gegaan het vir kruideniersware was dit omtrent ’n okkasie. Hoera! Ons mag inkopies gaan doen!

“Maar as jy by die winkel ingestap het, was dit nie lekker nie. Die vrees hang laag en swaar en soos digte mis en daar heers ’n morbiede atmosfeer.

“Maar elke wolk het ’n silwer randjie. Ek moes my ingesteldheid verander om uit ’n kopruimte van vrees na hoop te beweeg. Ek weier om in vrees se greep te leef. Maar dis ’n doelbewuste besluit wat ek daagliks moet maak, om seker te maak my kop is reg,” verduidelik hy.

“Dit bly ’n uitdaging, maar ek glo ek kry dit reg.”

Hy wou nooit die cliché van ’n sukkelende kunstenaar wees nie, vertel Armand Aucamp.Foto: SUZANNE SWART

Wispelturige bedryf

Hoewel Aucamp dit reggekry het om tydens die inperking kreatief en skeppend te wees, het hy ’n weersin in sogenaamde productivity shaming – wanneer jy mense sleg laat voel of skaam maak omdat hulle sukkel om produktief tydens die inperking te wees.

“Ek besef talle mense gaan nou deur ’n uitsonderlike stresvolle tyd, wat dit uiteraard moeilik maak om te skep en kreatief te wees. Tans probeer ons almal oorleef.

“Koer is nie tydens die inperking opgedroom nie. Ek en my vier vennote werk nou al maande lank daaraan, dis nie asof ek op 27 Maart besluit het ek gaan ’n app tydens die pandemie ontwikkel nie.

“Ons wou dit aan die einde van die jaar uitreik, maar die pandemie het wel my en my vennote die geleentheid gegee om al ons aandag daaraan te wy. Al my werk het in elk geval opgedroog, so ek het baie vrye tyd gehad. Ek glo ook iets soos Koer is nou meer as ooit nodig.

“Covid-19 het die manier hoe ons vlerksleep en mense ontmoet heeltemal verander. Dit was gewoonlik by die werk of ’n kuierplek, maar talle mense word nou gedwing om van die huis af te werk en kuierplekke is toe, of mense is te bang om dit te besoek.

“Koer gee nou vir Afrikaanse mense die geleentheid om aanlyn verbintenisse te vorm met mense wat dieselfde taal praat en soortgelyke belangstellings het.”

Die app laat hom toe om ’n passiewe inkomste te verdien.

“Die afgelope 14 jaar is ék, as akteur en uitvoerende kunstenaar, die besigheid. As ek nie fisiek teenwoordig kan wees nie, verdien ek nie geld nie.

“Dit het my ontsettend frustreer. Daar was tye waar twee goeie geleenthede oor my pad gekom het, maar dan bots die tydlyne. ’n App gee jou die geleentheid om vanaf enige plek in die wêreld te werk – iets wat ook vir my belangrik is.”

Ysters in die vuur

“Sedert ek die bedryf betree het, het ek nog nooit ’n vaste salaris verdien nie. Dit het my van vroeg af geleer om te woeker en om altyd op die uitkyk te wees vir nuwe projekte en geleenthede.”

Armand Aucamp se eerste kookboek was gewild en op sy Instagram-rekening kan ’n mens sien ’n tweede banting-boek is op pad.Foto: SUZANNE SWART

Die werklike suksesvolle mense in Suid-Afrika se vermaakbedryf is juis mense wat dit kon regkry om hul handelsmerk uit te brei, verduidelik hy.

“Die mense wat ek bewonder – dis mense wat respek afdwing met hul talent en besigheidsin. Kyk byvoorbeeld na Nataniël. Hy besit sy eie dekor- en kombuisprodukte-reeks, hy skryf kookboeke, bied ’n kook- en leefstylprogram aan. Hy hou konsert, maak musiek en is ’n rubriekskrywer.

“Ek het redelik vroeg in my loopbaan saam met Nataniël gewerk, ek het sy kop vir besigheid bewonder en geweet, ek wil doen wat hy doen.”

Wanneer jy bekendheid verwerf, kom daarmee saam talle geleenthede oor jou pad, verduidelik Aucamp. Wat jy daarmee doen, bly jou eie verantwoordelikheid.

“Ek het baie vinnig besef die blootstelling en reklame wat ek as ’n akteur kry, plaas baie meer deure voor my. Let wel, dit maak nie die deure oop nie.

“Maar die onus rus steeds op my om hierdie deure en die geleenthede wat daaragter skuil te ontsluit.

“Ek was ook vroeg daarvan bewus dat jy as akteur of aktrise hierdie goue venstertjie van geleenthede ontvang waar jy die nuweling, die in-ding is. Maar daardie venstertjie bly net só lank oop. Daar was mense voor my, en mense ná my. Maar as jy die venstertjie benut, kan jy ’n voorsprong kry om vir jou ’n volhoubare besigheid uit te kerf.

“In Suid-Afrika kan ’n mens ongelukkig nie nét ’n vermaaklikheidster wees nie. Dis nou ongelukkig nie die plek waar jy ’n hoofrol in ’n fliek kry of ’n topverkoper-album uitreik, miljoene verdien en dan kan aftree nie.

“As jy ’n volhoubare toekoms in die bedryf soek en finansiële voorspoed wil geniet, moet jy diversifiseer.”

Hy meen die pandemie het ook vir baie kunstenaars gedwing om uit hul gemaksone te beweeg.

“Daar is soveel mense wat ek nou my hoed voor afhaal. Ek sien hoe hulle woeker op sosiale media, nuwe vaardighede aanleer, aanlyn produksies vervaardig en webinaars doen. Hulle skep geleenthede vir hulself. Ek glo uit nood word brood gebore.”

Pandemie-oudisies

Weens Covid-19 moes oudisies ook skielik anders gedoen word.

“Niemand kon byvoorbeeld ingegaan het na die ateljee nie, jy moes jou oudisie by die huis opgeneem het. Ek het hier ’n nis raakgesien om mense te help om ’n goeie oudisie-opname uit hul huis te vervaardig.

“Ek wou akteurs leer wat onderskei jou opname – vanuit ’n tegniese punt, maar ook vanuit ’n uitvoerende punt – van iemand anders s’n? Wanneer jy self die opnames moet maak . . . daar is nie ’n regisseur wat vir jou notas of seine kan gee en jou lei tydens jou oudisie nie.”

Hy het aanlyn slypskole aangebied waar akteurs en aktrises vir hom hul oudisie-opnames gestuur het. Hy het die video’s gekrit en leiding gegee oor wat hulle goed doen, en waar hulle ook kan verbeter.

“As dit nie vir die pandemie was nie, sou ek miskien nooit die kans gehad het om mense te leer en op te lei nie. Maar ek het net soveel geleer deur ander te leer!”

Terug in die kas

Maar selfs al het hy voor die uitbreek van die pandemie reeds talle sakeplanne gehad, is hy nie onaangeraak deur Covid-19 nie.

“Ek het ’n massiewe kontrak verloor wat ek in Mei moes voltooi. Daar was talle projekte wat verlore gegaan het, maar die een was ’n besonderse terugslag.”

Carla Lewis

Getrou aan sy belofte aan homself om nooit “die cliché van ’n platsak, sukkelende kunstenaar” te wees nie, het Aucamp wéér planne gemaak toe die wolwe van teëspoed by sy voordeur begin huil het.

“Ek was ’n werklose akteur wat noodgedwonge by die huis moes sit.” Hy beduie na die klerekas agter hom, gee ’n stoute laggie.

“Hierdie inperking het my sommer terug in die kas gedwing. Het jy geweet ’n klerekas is ’n uitstekende plek om klankopnames te doen omdat die klere daarbinne dit redelik klankdig maak?

“Ek het terug in die kas geklim, ’n sokkie oor my selfoon getrek en so ’n hele oudioboek opgeneem.”

Die sokkie oor die selfoon help om die blikkerigheid van die klank uit te skakel, verduidelik hy.

“Later het ek vir my ten duurste ’n professionele mikrofoon gekoop. Ek het nie geweet of ek my geld gaan terugmaak nie. Maar ek kan nou, in daardie kas, opnames en agtergrondstemwerk doen vir ’n fraksie van die prys waarteen ek ’n professionele ateljee moet huur.

“Daar is maniere om goed gedoen te kry, al het jy nie baie geld of hulpbronne nie!”

  • Lewis is ’n senior redaksielid van Beeld.
Meer oor:  Armand Aucamp  |  Pandemie  |  Akteur
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.