Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Alvon Collison: ’n Gewone man ‘wat lucky geraak het’

Alvon Collison, Suid-Afrika se “Mr. Showbiz”, kyk terug op 'n lewe op die verhoog en vertel aan Murray La Vita hoe sy pa, sy ouma en sy honde in die branders aan hom verskyn het toe hy om sy lewe geveg het op die sinkende Oceanos-plesierskip.

Alvon Collison by en van die vele interessante objekte in sy huis in die Kaapse voorstad Milnerton. Foto: Jaco Marais

’n Strelende stem begroet ons op ’n grys Kaapse Vrydagoggend in ’n groot huis in Milnerton. Ons herken die klanke wat uit luidsprekers kom dadelik as die stem van Alvon Collison (77).

’n Besoek aan Alvon se huis is soos ’n kombinasie van ’n besoek aan ’n teater en ’n museum. In die sitkamer staan ’n vleuelklavier waarop van die talle toekennings rus wat Alvon in sy lang en luisterryke loopbaan ontvang het. Die mure is gevul met foto’s van Alvon aan’t entertain. Ook ’n magdom skilderye. In ’n Karoolandskap is die gesig van vrou in die wolke sigbaar as jy op ’n sekere plek daarna staan en kyk.

Oral is fassinerende objekte soos ’n beeld van ’n renoster en ’n lewensgroote namaaksel van ’n farao se opulente sarkofaag. Daar is ook talle foto’s van James Dean en Marilyn Monroe. Soos huisgode is hulle daar aanwesig.

Die Here was goed vir my; Hy het vir my hierdie gawe gegee en dit moet gebruik word.

Die sjarmante Alvon sit op ’n groot stoel in die hoek van die sitkamer; geklee in ’n elegante rooi sweetpak. Hy moet netnou hospitaal toe gaan waar hy op Maandae, Woensdae en Vrydae vyf uur lank aan ’n dialisemasjien gekoppel word.

“Tussendeur probeer ek inpas wat ek nog met my lewe wil doen. Ek is nog nie reg om te sê: ‘Nee, ek gaan vanaand by die huis bly’ nie. Ek kan dit nie doen nie. Daar is nog te veel spirit in my. Die Here was goed vir my; Hy het vir my hierdie gawe gegee en dit moet gebruik word. Ek doen dit nou al vir meer as sestig jaar, man! Dis ’n lang tyd om jou hart uit te sing en mense gelukkig te maak,” sê hy.

Alvon het vroeër vanjaar hiervoor erkenning gekry toe ’n Fleur du Cap aan hom toegeken is vir sy lewenswerk en vir “sy goedgeefsheid op en af van die verhoog af”.

Diabetes

Alvon as Farao in Joseph and the Amazing Technicolor Dreamcoat. Foto: Verskaf

Hy vertel meer van die dialisebehandeling wat hy die afgelope drie jaar ontvang.

“Ek het in nagklubs gewerk en dan sou ek in die nag ná my show eet . . . Ek sou in die Cape Sun, in al die hotelle waar ek gesing het, na die kombuis gaan en saam met die personeel sit en eet. Só het ek diabetes ontwikkel toe ek jonk was. My niere is ook aangetas en een van my tone moes al afgesit word.”

Sy gesondheid het in 2015 agteruit begin gaan. Hy het onder meer ’n hartaanval gehad.

“Maar ek leef en ek is oukei en ek tree nog op . . . Jy weet, my 50ste verjaardag is in die Baxter-teater gevier met ’n groot vertoning. Hulle het Joan Brickhill uit Johannesburg laat vlieg as verrassing vir my. Dit was só spesiaal; ek is ’n sanger, ’n doodgewone performer; ek is nie Marius Weyers nie, ek is net ’n gewone man wat lucky geraak het . . . Mense het van my spirit gehou meer as van my talent. Ek het nooit baie moeite gedoen met dinge soos diksie of sang- en danslesse nie, ek was maar net altyd ek.”

Toerbusse het daar verbygery en die gidse het vir die toeriste gewys: ‘Daar woon Alvon Collison’. Dan het ek vir hulle gewaai soos Ouma Smuts,

Hy onthou sy pragtige, groot huis in Oranjezicht teen die hange van Tafelberg.

“Toerbusse het daar verbygery en die gidse het vir die toeriste gewys: ‘Daar woon Alvon Collison’. Dan het ek vir hulle gewaai soos Ouma Smuts,” sê hy laggend.

“Ek was baie gelukkig in Oranjezicht, maar toe het die rates en dinge so bedonnerd duur geraak. En as jy in showbiz is, leef jy letterlik van die hand na die mond en bid maar dat daar werk sal inkom. Maar ek is baie geseënd dat ek oor die jare altyd werk gehad het.

“En dit is te danke aan die mense van Suid-Afrika dat ek steeds werk het. Nou die dag bel iemand my en vra of ek ’n lesing sal kom gee oor die Oceanos en vra wat my tarief is. Ek het dít nog nooit voorheen gedoen nie. Ek praat net tussendeur my songs oor my lewe. So ek was nogal opgewonde oor die moontlikheid dat daar dalk nou ’n ander deur vir my oopgegaan het – dat ek dalk praatjies en lesings kan begin hou.”

’n Tweede kans

Alvon wys waar hy op die voordek van die Oceanos om lewe en dood vasgeklou het voordat hy deur ’n helikopter gered is.Foto: Jaco Marais

Ek vra hom om my te vertel van daardie verskriklike gebeure van 4 Augustus 1991 toe die Oceanos aan die Wildekus naby Koffiebaai vergaan het. Hy was een van die vermaakkunstenaars aan boord op dié plesiervaart.

“Dit het my lewe verander . . . ek was daarna ’n ander mens. Ek het na my lewe gekyk en geweet ek het ’n tweede kans gekry wat ek moet gebruik.

“Tienuur daardie aand was ek besig om te sing.” Hy begin sing: “Touch me. It’s so easy to leave me all alone with my mem’ry . . .

Ek gaan toe af na my kajuit om my sak te gaan haal want my huissleutels was daarin en my bottel Klipdrift en my paspoort en dagboek. Teen daardie tyd het die skip heeltemal skeef in die water gelê soos wat dit begin kantel het.

“Die volgende oomblik is daar ’n slag en die klavier vlieg deur die kabaret-teater en die orkeslede skreeu en die gaste skreeu – almal skreeu. Toe gaan die ligte ook af! O, here! Tot sesuur daardie oggend het ons gesterf – 500 van ons het gesterf! Toe die eerste helikopter opdaag, het die kaptein na my toe gekom en sy hand op my skouer gesit en gesê: ‘Kyk jy na almal; ek gaan alles van die land af uitsorteer!’

“Ek gaan toe af na my kajuit om my sak te gaan haal want my huissleutels was daarin en my bottel Klipdrift en my paspoort en dagboek. Teen daardie tyd het die skip heeltemal skeef in die water gelê soos wat dit begin kantel het. Ek was tot by knieë in die water.

“Ek het ’n stoel teen die deur gesit om dit oop te hou want dit het ’n Yale-tipe slot gehad. Die volgende oomblik was daar ’n reuse-deining en die deur klap toe. Daar is ek toe in die donker alleen in hierdie staalkajuit vasgekeer. Die angs was verskriklik! Ek het aan die deur gepluk en toe daar weer ’n groot brander kom, het ek dit oopgekry.”

’n Jong Alvon as model vir mansklere. Foto: Verskaf

Hy is toe na die eetkamer waar al die passasiers intussen byeengekom het.

“Ek en ’n sanger van ’n ander band, wat ’n kitaar by hom gehad het, het probeer om die mense op te beur deur te speel en aan die sing te kry: ‘This land is your land! This land is my land!’ Dan weer: ‘Bye bye love! Bye bye happiness! Hello loneliness! I think I’m gonna . . . die!’” Hy begin lag. “Omtrent elke song wat ons gesing het, het in die dood geëindig! En dan het ons dit maar net so laat uitfade aan die einde. Arme Mara Louw was ook op die skip en ek het vir haar my pragtige fluweelbaadjie gegee want sy het koud gekry . . . Sy het ook gesing. Haar swart gesig was grys en haar oë was oopgesper en het soos enorme wit bone gelyk terwyl sy: ‘Abide with me’ sing.

“Ek het vir haar gesê: ‘Nee, Mara! Nee! Nié daardie song nie!’”

‘Soos ’n Bond-movie’

Die seuntjie Alvon tydens sy grootwordjare in Woodstock. Foto: Verskaf

Teen vieruur die oggend was hulle almal op die sinkende skip se dek.

“Vyfhonderd van ons wat aan mekaar vasklou, wagtend vir die skip om onder te gaan. Toe word dit vir ’n ruk stil. Die storm bedaar. Ons het gekyk hoe die reddingsbote wegdryf en die dekstoele in die water dobber. Hier en daar was ’n haai sigbaar.

“Toe verskyn my pa daar in die branders. Hy waai vir my. En toe my ouma. Sy waai ook vir my. Maar langs hulle is al die honde wat ek nog ooit gehad het: Flashy, Rocky, Rusty . . . Ál hierdie honde langs mekaar met hul sterte wat waai. En my pa sê vir my: ‘Kom, Ballie! Moenie bang wees nie; dis nie so koud nie, kom!’ En ek dink: Dit gaan ’n paar minute van ontbering wees, maar hulle wag vir my en dit gaan so wonderlik wees om weer by hulle te wees. En om weer by my honde te wees!

Ons kyk hoe hulle in die lug bo die oseaan heen en weer swaai en die volgende oomblik het hy skreeuend na benede getuimel.

“Toe hoor ek ’n helikopter en almal skreeu: ‘Daar’s die helikopter!’ ’n Man het vorentoe gebeur en geskreeu: ‘Ek is eerste!’ Dit was die croupier van die casino en sy baadjie was vol geld gestop. By hom was sy vrou aan wie hy vasgeklou het. Hy kon nie self aan die reddingstou van die helikopter vashou nie, want as hy dit gedoen het, sou die geld uitgeval het. Sy het gesukkel om hul albei se gewig te hanteer . . . Ons kyk hoe hulle in die lug bo die oseaan heen en weer swaai en die volgende oomblik het hy skreeuend na benede getuimel. ’n Jong ou van die NSRI het toe van die skip af agter hom aan gespring en hom gered. Dit was soos ’n James Bond-movie!”

Alvon het sy dagboek oopgemaak en daarin begin lees.

“Al my vriende se name wat by my vyftigste verjaardag was. Ek het die dagboek saamgebring want ek wou tydens die vaart vir hulle briewe skryf om dankie te sê. Toe gooi ek die dagboek in die see. Ek het aanvaar dit is te laat.

Maar uiteindelik is ons almal gered. Élkeen van ons het ’n tweede kans gekry.

Dit was net ek en die man wat vir ons kos bedien het in die personeelkantien wat nog daar op die kantelende skip was. As jy na ’n foto kyk . . .”

Hy vra sy vriend en assistent, Faried Swartz, om ’n foto van die sinkende skip te gaan haal.

“Hierdie deel het laaste in die see verdwyn. Ek is daar iewers,” sê hy terwyl hy kyk na die geraamde foto van die Oceanos wat besig is om in die see te verdwyn terwyl groot branders daarteen breek. Faried het die foto op die Milnerton-vlooimark gekoop.

“Maar uiteindelik is ons almal gered. Élkeen van ons het ’n tweede kans gekry. Ek dink net die kaptein se budgie het dit nie oorleef nie,” sê Alvon

Verneder as kind

Die verskillende gesigte van Alvon Collison soos uitgebeeld op ’n plakkaat wat gemaak is vir een van die talle pryse wat hy oor die jare vir sy lewenswerk ontvang het. Foto: Verskaf

Alvon is in die ou Kaapstadse voorstad Woodstock gebore. Hy is op ’n vroeë ouderdom deur sy ouma, Christine Revell, aan die verhoog bekend gestel toe sy vir hom ’n rol gegee het in een van haar Kersopvoerings. Hy het later in sy lewe dié tradisie voortgesit met die gratis Kersopvoerings wat hy jaarliks in die Kaapstadse stadsaal aanbied.

Ons praat oor sy hoërskooljare in Woodstock.

“In st. 7 het ons ’n meneer Jackson gehad wat ons kadet- en wiskundeonderwyser was. Ek het hom gehaat. Die meisies sou die klas verlaat en dan sou ons seuns agterbly vir ’n les by hom. Hy sou dan inkom en dan staan ons op en groet hom. Ek was so 15, 16 jaar oud en my hare was soos Tony Curtis s’n gestileer. Dan het hy gesê: ‘Jý! Staan op! Wat doen jy hier?’ Ek sê dan: ‘Ek wag vir die klas om te begin, meneer.’ Hy: ‘Maar al die meisies het dan al die klas verlaat; waarom is jý nog hier?’

In st. 3 was daar ’n meneer Terblanche en hy het vir ons gesê: ‘I notice a lot of you here have a touch of the tarbrush!’

“Die seuns het begin lag en ek het eenvoudig gevoel of ek sterf. Ek sal nooit daardie pyn vergeet nie. Ek het hierdie man só gehaat. Ek het hom met ’n passie gehaat.”

Op laerskool is hy ook verneder.

“In st. 3 was daar ’n meneer Terblanche en hy het vir ons gesê: ‘I notice a lot of you here have a touch of the tarbrush!’ Ons het na mekaar gekyk. Ons het nie geweet wat ’n ‘touch of the tarbrush’ is nie.”

Greaterman’s en Joseph

Talle afbeeldings van die silwerdoekgodin Marilyn Monroe is in Alvon se huis te sien. Foto: Jaco Marais

Sy vermaakloopbaan het op dreef gekom nadat hy in 1957 na Salisbury in die destydse Rhodesië verhuis het waar hy as klereverkoopsman by Greaterman’s gewerk het, maar ook in musiekspele begin optree het.

Dít is waar Joan Brickhill hom “ontdek” en genooi het om na Suid-Afrika terug te keer en in haar opvoerings te kom optree.

Alvon het later veral bekendheid verwerf vir die rol van Farao wat hy in Joseph and the Amazing Technicolour Dreamcoat vertolk het. Hy het meer as 3 000 keer in dié musiekspel opgetree en is meermale daarvoor bekroon.

“Waaroor ek hartseer is, is dat ek nog nooit werklik erkenning gekry het vir my sangtalent nie. ’n Resensent het jare gelede geskryf: ‘Alvon Collison succeeds in the three C’: charm, charisma and content. He can’t sing very well.’

Ek was 21 en kon nie glo iemand het mý tussen ’n honderd ander mense in musiekpel raakgesien nie. Ek is gesién.

“Dit het my verwoes. Ek het dit nooit vergeet nie. Dit maak séér . . . Niemand besef jy tree soms saam met ’n k*k band op wat jou met elke song verwoes nie. Jy is reg om te géé, maar in jou oor klink dit nie soos jy wil hê dit moet klink nie.

“Die heel eerste keer toe ek solo gesing het, was in Salisbury. Ek het ‘Maria’ uit Westside Story gesing en ’n resensent het geskryf: ‘Singer-dancer Alvon Collison bravely attempts the very difficult Maria song . . .’

“Daardie één keer toe iemand jou ráákgesien het, was die beste ding wat met my gebeur het. Ek was 21 en kon nie glo iemand het mý tussen ’n honderd ander mense in musiekpel raakgesien nie. Ek is gesién.”

Faried kom die vertrek in met ’n advertensie waarin ’n jong, aantreklike Alvon klere en onderklere modelleer. Alvon kyk daarna en begin dié deel uit die Cats-lied ‘Memory’ te sing: ‘I was beautiful then. I remember the time I knew what happiness was. Let the memory live again.’”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.