Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘ANC (en PW) se uroloog’ onthou

Dr. Willem Laubscher (90), wat al “die ANC se uroloog” genoem is, vertel aan Murray La Vita waarom hy aanvanklik geweier het om Nelson Mandela te behandel.

Dr. Willem Laubscher tydens ’n onderhoud in sy huis in Bettysbaai. Foto: Jaco Marais

Wat het Nelson Mandela, Govan Mbeki, Walter Sisulu en PW Botha gemeen? Om dít uit te vind, besoek ons dr. Willem Laubscher op ’n Maandagoggend op Bettysbaai aan die Kaapse kus.

Hy en sy vrou, Susan, woon in ’n lieflike huis met ’n ongerepte uitsig op die berge en die see. Dit is deur die befaamde Bauhausargitek wyle Pius Pahl ontwerp.

Laubscher is ’n lang, lenige man wat soggens 2 km na die kafee stap om sy koerant te gaan koop. Sy silwergrys hare het aan hom onder studente die bynaam die Silwer Jakkals en later Silver Fox besorg, vertel hy laggend. Hy was op 40 al ’n silwerkop.

Laubscher se boek Operation Mandela het onlangs by Imbali Akademiese Uitgewers, ’n druknaam van Lapa-uitgewers, verskyn.

Die naam [Govan Mbeki] het vir my niks beteken nie.
Dr. Willem Laubscher

Ons gesels aanvanklik oor sy kinderdae in Observatory in Kaapstad en sy studie aan die Universiteit van Kaapstad waarna hy ’n aantal jare in Brittanje gestudeer en gewerk het. Hy het daarna ook ’n ruk in New York navorsing gedoen voordat hy ’n urologiepraktyk in Klerksdorp begin en toe uiteindelik in Kaapstad gaan praktiseer het.

“Ons het as praktisyns almal sulke deeltydse aanstellings by provinsiale hospitale gehad. Dit was as’t ware ons liefdadigheidsbydrae – wat jy daarvoor betaal is, het nie eers jou petrol gedek nie. So, ek het sessies by onder meer Woodstock-hospitaal gedoen.

“By die Woodstock-hospitaal het ek by die buitepasiënte die eerste keer vir Govan Mbeki [wat in daardie stadium op Robbeneiland aangehou is] gesien. Dit was in die laat 1970’s of vroeë 1980’s.

“Die naam het vir my niks beteken nie, want kyk, daai jare toe al die groot sake [onder meer die Rivonia-verhoor] aan die gang was, was ek in Klerksdorp besig om ’n praktyk op te bou en ek het nie juis veel belang gestel in wat rondom my aangaan nie.

‘Wat se stres?’

Mandela en Laubscher op 25 Oktober 1996 in Stellenbosch nadat die US aan Mandela ’n eredoktorsgraad toegeken het. Foto: Verskaf

“Ek noem daar in Operation Mandela dat nadat ek hom geopereer het [vir ’n prostaatprobleem], het ek die aand nog op ’n hospitaalronde gegaan en vir hom gesê: ‘Alles lyk goed; jy kan môre huis toe gaan.’ Ná die tyd het ek besef huis toe gaan, beteken terug Robbeneiland toe.

“Toe ek wou wegloop, toe sê hy: ‘Nee, wag.’ En hy het toe so ’n pragtige bedankingstoespraak gemaak dat ek skoon oorweldig was.

“Ek het by die huis gekom en na die boekie oor die Rivonia-saak [Rivonia: Operation Mayibue deur H.H.W. de Villiers], waarin daar foto’s is, gekyk en gesien maar dié man is dan nommer twee, of wat ook al, in die ANC.

“’n Jaar of wat daarna het ’n senior kollega my een aand by die huis gebel en gesê: ‘Luister, ek het vandag vir Walter Sisulu in buitepasiënte gesien, maar op my ouderdom is ek nou nie lus vir die stres nie, sal jy hom oorneem by my?’ Toe sê ek: ‘Ag natuurlik, wat se stres?’ En toe het ek op Walter Sisulu geopereer. [Dit was ook ’n prostaatoperasie.]

‘Nie in die tronk nie’

“Ek is eerlik as ek sê toe brig. Munro [hoof van Pollsmoor-gevangenis] my in Augustus 1984 bel en vra of ek vir Mandela in die tronkhospitaal sal kom sien, het ek nee gesê.

“Toe vra hy: Hoekom nie? Toe sê ek ek kan nie my beste doen vir ’n pasiënt in die tronkhospitaal nie – onder meer omdat ek al my mikroskopiese ondersoeke van urine in my kamers doen; ek stuur dit nie laboratorium toe tensy ék fout vind daarmee nie.

Maar vir my was dit ’n roetineoperasie.
Willem Laubscher

“Munro het aan my gesê Mandela wil nie buite die tronk in ’n hospitaal gesien word nie; hy was bang as iemand hom sien, gaan dit in die ANC weerklank vind; dat hulle sal dink hy is sieklik.

“Ek het nie verwag om weer van hom te hoor nie, maar drie weke later toe bel hy weer. Toe sê hy: ‘Die pasiënt het besluit hy sal vir jou kom sien by Medipark [in Kaapstad, waar sy spreekkamer was].”

Gewillige pasiënt

Was hy onder die indruk van wat se groot verantwoordelikheid daar op hom rus toe hy Mandela behandel het?

“Ek noem in die boek daar sou geweldige reperkussies in ons land en wêreldwyd én vir my persóónlik gewees het as iets verkeerd loop. Maar vir my was dit ’n roetineoperasie. Hy was ’n gewillige pasiënt wat my ondersteun en my vertrou het en ek het my span gehad wat saam met my gewerk het.

Winnie Mandela wou nie hê Laubscher moet op haar man opereer nie.

“Willie van Niekerk, minister van gesondheid en ’n oudkollega wat ek goed geken het, het vir my gesê: ‘Jy moet vir my sê as jy dalk iemand uit die buiteland wil hê om saam met jou te wees.’”

Laubscher het toe voorgestel dat prof. Geoff Chisholm, wêreldbekende uroloog van Edinburg, wat hy goed geken het, ook teenwoordig moet wees by die operasie.

Mandela skop vas

Mandela se bedankingsbrief uit die tronk. Foto: Verskaf

Winnie Mandela wou nie hê Laubscher moet op haar man opereer nie. Sy wou dat die Johannesburgse uroloog Louis Gecelter die operasie doen.

In ’n telefoongesprek enkele dae voor die operasie het James Gregory, Mandela se jarelange bewaarder, aan Laubscher gesê hy wil hê hy moet weet welke hoë agting Mandela vir hom het.

Volgens Gregory het mev. Mandela ook gedurende die Mandela-gesin se bespreking oor die operasie daarop aangedring sy wil hê “hul dokter” moet die operasie uitvoer.

Mandela het vasgeskop en gesê hy het reeds ’n dokter in wie hy die volste vertroue het en niemand anders gaan op hom opereer nie. Hy het trouens gesê indien hy nie sy sin kry nie, sal hy weier om die operasie te ondergaan. Daar is toe besluit Gecelter sal as assistent optree.

Op Sondagmiddag 3 November 1984 het Laubscher in die Volkshospitaal [wat later die Kaapstad Mediclinic geword het] die prostaatoperasie op Mandela uitgevoer.

“Ná die operasie toe ons nou so gesels in die hospitaal, het ek hom gevra: ‘Terloops, het jy geweet ek het op Govan Mbeki en Walter Sisulu geopereer?’

“Hy kyk my toe so en sê: ‘Natuurlik het ek geweet.’ So, hy het waarskynlik besluit omdat hulle so tevrede was met my sal hy ook maar van my dienste gebruikmaak.”

‘Nogtans ’n terroris’

Laubscher by die koerantplakkaat waarop sy operasie op Mandela verkondig word. Foto: Verskaf

Ná Mandela het hy nog politieke gevangenes in die Woodstock-hospitaal se buitepasiënte-afdeling behandel.

“Ek weet nie eens wie hulle is nie. Ek onthou net een jongerige aktivis wat so tekere gegaan het en geweier het dat ek hom ondersoek en so aan, en toe op die ou end ’n blerrie klag teen my gaan lê het by die owerhede dat ek hom nie wóú ondersoek nie.

“Ek het op ’n kol vir hom gesê: ‘Luister, as jy nie wil nie . . .’ Toe het ek vir die bewaarders gesê: ‘Vat hom terug! Ek gaan nie my tyd mors met hom nie.’

“Hy wou nie my vrae beantwoord oor sy mediese geskiedenis nie en hy wou nie hê ek moet hom ondersoek nie want ek is ’n wit man en daai klas van stories.”

So, die feit dat hulle ANC-terroriste was, of wat hulle ook al genoem is in my tyd, het nie saak gemaak nie.
Dr. Willem Laubscher

Laubscher se jare in Brittanje het van hom ’n politiek verligte mens gemaak, maar hy het nie ’n spesifieke politieke ingesteldheid of voorkeur gehad toe hy ANC-lede behandel het nie.

“Hulle was pasiënte – end van die storie. Ek het etiese reëls gehad waarvolgens ek geleef het in my werk. My werk was belangrik vir my . . . Dié belangrikste ding in my lewe.

“So, die feit dat hulle ANC-terroriste was, of wat hulle ook al genoem is in my tyd, het nie saak gemaak nie. Ek onthou van my intieme vriende wat geweet het dat ek Mandela geopereer het, het vir my gevra wat se soort mens hy is en dat ek gesê het vir my was hy ’n fantastiese persoonlikheid – as méns. ‘Ja, maar hy is nogtans ’n terroris!’ was hulle antwoord.”

Ook PW

‘Kyk, een van die dinge wat die Britte my geleer het, was die oneerbiedige humorsin.’ Foto: Jaco Marais

Van sy kollegas het hom later “die ANC se uroloog” genoem, sê hy. En voeg laggend by:

“Toe moes ek my neutraliteit bewys deur later vir PW Botha ook te opereer.”

Dit was in 1989. Botha het in Januarie van daardie jaar ’n beroerte gehad en in Maart het die NP se koukus FW de Klerk as staatspresident verkies, maar Botha het geweier om dié pos te ontruim.

Net soos in die geval van Mandela, was die geheimhouding van sy behandeling – vir ’n vergrote prostaat – van die opperste belang. In Botha se geval omdat hy, in die lig van die politieke woelinge om hom ná die beroerte vroeër die jaar, nie wou hê dat dit bekend word daar nog iets met sy gesondheid skort nie.

Dit is teen dié agtergrond dat Laubscher op ’n Saterdagoggend vir Botha in 2 Militêre Hospitaal in Wynberg ondersoek het en daar vasgestel is ’n prostaatoperasie is nodig. Botha het ingestem en wou hê die operasie moet sommer daardie middag nog gedoen word.

“Ek het vir hom gesê ek gaan die middag na ’n wedstryd van die Westelike Provinsie op Nuweland kyk en dat ek hom die volgende oggend sou opereer,” skryf Laubscher in Operation Mandela.

Geen sin vir humor

PW Botha het as dankbewys aan Laubscher ’n bundel van sy toesprake geskenk. Foto: Verskaf

Hy skryf ook hoe hy daardie middag gesien het hoe ’n dokter te senuweeagtig was om vir Botha ’n inspuiting te gee. Ek pols hom daaroor en oor hoe hý gevoel het in die teenwoordigheid van die man wat as Die Groot Krokodil bekend gestaan het.

“Ek het my nie laat afskrik deur mense, deur pasiënte wat moeilik is nie, want ek aanvaar hulle is óók senuagtig vir mý.

“Nee, ek het goed met hom klaargekom. Ek meen ek wil nog weet hoeveel ander dokters sou vir hom gesê het: Jammer, ek gaan vanmiddag eers rugby kyk, ek sal môreoggend opereer.

“Ek dink baie daarvan het te doen met my ondervinding in Engeland. Een van die dinge wat die Britte my geleer het, was die oneerbiedige humorsin.”

Laubscher beskryf in sy boek ’n gesprek wat hy en Botha gehad het toe hy hom ná die operasie ondersoek het. Dié gesprek het beaam wat hy gehoor het, naamlik dat Botha, anders as Mandela, geen sin vir humor gehad het nie.

“Hy het gesê: ‘Wanneer ek mnr. Mandela eendag ontmoet, sal ons iets in gemeen hê om oor te praat.’ Ek het tong-in-die-kies gereageer: ‘Sal julle oor my praat?’ ‘Nee,’ het hy geantwoord, ‘ons sal oor ons operasies praat.’”

Twee LLB’s

‘Hulle was pasiënte – end van die storie.’ Foto: Jaco Marais

Voordat ons vertrek, stel ek toevallig vas dat Laubscher en Mandela iets gemeen het: ’n LLB-graad wat laat in hul lewe behaal is.

Laubscher se belangstelling in die regte is geprikkel deur die talle regslui wat hy as vriende gehad het. Toe hy in 2003 as chirurg en uroloog aftree, het hy by Unisa ingeskryf en in 2007 op 78-jarige ouderdom die graad LLB behaal. Hy is ook later as advokaat tot die Kaapse balie toegelaat.

Die dag ná sy gradeplegtigheid, waaroor daar ’n berig in Die Burger verskyn het, het sy telefoon gelui. Dit was Mandela.

“Hy het my gelukgewens met my prestasie en sterkte toegewens vir die toekoms. Ek het hom daaraan herinner dat hy dieselfde graad deur dieselfde universiteit behaal het in die tyd van sy prostaatoperasie. Ek het hom toe gevra of hy sou saamstem dat dit ons nou ‘brothers in law’ maak. Dié opmerking het hom lekker laat lag.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.