Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Anet die feesvrou nou ook Franse ridder

Haar vel gloei as sy dink aan die geselskap waarin sy haar bevind, sê Anet Pienaar-Vosloo aan Murray La Vita oor die Franse ridderskap wat later vandeesmaand aan haar toegeken word.

Anet Pienaar-Vosloo, feesvrou, filantroop, joernalis, fotograaf en aanbieder van die televisieprogram MOOI, in haar huis in Oranjezicht, Kaapstad.Foto: Murray La Vita

Toe sy ’n ruk gelede een nag ’n brief van die Franse ambassadeur in Suid-Afrika ontvang, het sy gedink dit is iemand wat gekskeer, sê Anet Pienaar-Vosloo.

In dié brief is sy deur Aurélien Lechevallier in kennis gestel Frankryk se belangrikste kultuureerbewys, die Chevalier des Arts et des Lettres (ridder

in die orde van kuns en lettere), word aan haar toegeken. Ander Suid-Afrikaners wat dié eerbewys ontvang het, sluit in Nadine Gordimer, Breyten Breytenbach en Jonathan Shapiro (Zapiro).

Die Franse minister van kultuur vereer hiermee mense in Frankryk en elders in die wêreld vir hul rol in die bevordering van kuns en kultuur.

Ton is altyd daar. Hy is altyd reg vir nog ’n venture of ’n partytjie.

“Ek was verstóm. Ek het gedink dit kán nie waar wees nie. In my oë is die Chevalier die tóp- kulturele prys in die wêreld. Ek kon nie slaap nie en die volgende oggend toe sê ek vir Ton [Vosloo, haar man]: ‘Jong, ek dink hierso was nou ’n fout gewees.’

“Hy kyk toe daarna en sê dit lyk vir hom nogal outentiek. Toe bel ek die konsul, Laurent Amar, en hy sê: ‘Nee, dit is waar.’”

In haar verhouding met Frankryk was Ton, ’n voormalige voorsitter van Naspers se direksie en iemand wat steeds ’n groot rol speel in die Suid-Afrikaanse kultuurwêreld, haar “absolute steunpilaar”.

“Hy het my die vlerke gegee – as ek gesê het ek wil gaan; ek wil ’n nuwe eiendom gaan koop of ek wil iets gaan kyk of doen of gaan Frans leer, het hy gesê: gaan. Ton is altyd daar. Hy is altyd reg vir nog ’n venture of ’n partytjie.”

Franse vrou

Anet en Ton in La Creuzette, die chateau van hul vriende Louis Jansen van Vuuren en Hardy Olivier.

Die gesprek met Anet vind plaas in hul lieflike huis in die Kaapstadse voorstad Oranjezicht. Haar voorkoms is dié van ’n elegante Franse vrou: Onberispelike grimering en kapsel, ’n capribroek, blou-en-wit gestreepte bostuk, en pragtige skoene uit Parys.

“Ons het ons eerste eiendom in Frankryk seker al 20 jaar gelede gekoop. Dit was in La Peyrouse in die diep Franse platteland – so ’n klein huisie wat ’n bakkerytjie was en wat eers aan Louis [Jansen van Vuuren] en Hardy [Olivier] behoort het.

“Toe het ons agter Louis en Hardy aan getrek Boussac toe en die res is ook nou geskiedenis. Maar ek het sedertdien nou al die vyfde eiendom in Frankryk gekoop – báie klein begin en reggemaak en ’n groter enetjie gekoop in Boussac en toe nog een in Boussac, en uiteindelik kon ek Parys bekostig. Ek het ’n gróót huis in Boussac verkoop vir ’n kamertjie in Parys wat ek verskriklik mooi reggemaak het waarna ek toe nog ene gekoop het.

“Nou het ek altwee daardie plekke verkoop en ’n klein kasteeltjie gekoop naby Louis-hulle. Ek het nooit gedink ek gaan terugtrek na die Franse platteland toe nie.

“Ek is ’n Parisienne; ek is so tuis in Parys; ons was omtrent sewe jaar daar. Ek skryf al die afgelope vier, vyf jaar ’n gids oor Parys. Ek het nou al ’n mock-up van die boekie, maar ek voel ek wil hom nooit klaarmaak nie. Elke keer ontdek jy iets of daar kom iets by. Ek het altyd gesê ek het ’n love affair met Parys . . . Ek wil dit uitrek so lank as wat ek kan.”

Maar die kasteel, waarvan die eerste toring in die elfde eeu gebou is, “slaan jou asem weg”. Dit het in ’n stadium aan een van Napoleon Bonaparte se luitenante behoort.

“Wat vir my so fantasties is, is dat hierdie hele ding met die kasteel baie toevallig was, want die Chevallier was mos oorspronklik ’n prys wat Napoleon aan sy ridders, sy ruiters, toegeken het. Ek kan glad nie perdry nie, maar ek sal nou moet begin,” sê sy laggend.

‘Vrou van vele talente’

Anet saam met Louis (links) en Hardy in La Creuzette.

Die Franse ambassade sê in ’n verklaring deur dié “baie spesiale toekenning” aan Anet wil Frankryk ’n kunsliefhebber en ’n vriend, ’n vrou van vele talente” vereer.

Die ambassade het al ’n hele ruk gelede gevra sy moet haar CV vir hulle stuur, sê Anet. Sy vermoed dit was met die oog op die ridderskap.

Wat die ambassadeur veral in daardie indrukwekkende CV sou opgemerk het, is haar leidende rol in die totstandkoming van feeste in Suid-Afrika.

“Ek het 35 jaar gelede betrokke geraak by ’n fees – by die Knysnafees waarvan ek een van die drie stigters was. En dít was die begin van ’n ongelooflike hupstoot in Knysna se hele bestaan; die hele ekonomie het so baat gevind by die fees.

“My voorstel was dat dit die Oesterfees genoem word sodat die fees ’n identiteit het. Dit het ’n hele rimpeleffek op Suid-Afrika gehad – talle dorpies het toe met feeste begin. En as gevolg daarvan het ek ook eendag ’n oproep gekry van die Oudtshoornse sakeman Nic Barrow, wat vir my gesê het hy wil ’n ding op Oudtshoorn begin.”

Anet dien al die afgelope tien jaar in die Baxter-teater in Kaapstad se raad en is sedert 2016 die voorsitter.

Met die samewerking van Karen Meiring het die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) toe tot stand gekom.

“Ek is toe Kaap toe waar ek mettertyd korporatiewe kommunikasiehoof van Naspers geword het. Dit was ’n wonderlike blómtydperk, want toe het ons begin met die Suidoosterfees . . . Aardklop; daar het toe ’n hele rits gevolg. Ek was in een stadium op vyf feesdireksies; ek was ’n feesvrou wat net gevlieg het van die een blom na die ander. Dit was die lekkerste werk in die hele lewe.

“Wat ek dink ’n groot rol gespeel het – die Afrikaanse feeste is ’n deel daarvan, maar ek dink die Baxter . . . Toe hulle [die Franse] nou agterkom dat ek daar ook betrokke is, en dat dit regtig ’n multikulturele omgewing is waar Afrikaans óók belangrik is . . .”

Anet dien al die afgelope tien jaar in die Baxter-teater in Kaapstad se raad en is sedert 2016 die voorsitter.

‘Een voet in Frankryk’

Anet in een van haar woonstelle in Parys.

Anet meen haar betrokkenheid by Frankryk is in ag geneem met die toekenning van die ridderskap aan haar.

“Kyk, ek leef eintlik met my een voet in Frankryk. Ek het ontsettend baie mense deur die konsulaat gehelp en as bemiddelaar opgetree sodat hulle visums kon kry.

“Ek dink hulle het my raakgesien. Hulle het my ook oor die jare na al hulle funksies toe genooi.”

Waarom bekoor die Franse kultuur haar?

“As Franse Hugenoot het jy ’n diep betrokkenheid by Europa. Ons voorvaders het met skepe hierheen gekom en jy kan dit nie uit jou sisteem uit kry nie.

“As jy praat van enige kultuurvorm – van mode en kos tot wyn en argitektuur . . . Die Franse het net eenvoudig die móóiste geboue wat ek al ooit gesien het. Hulle het die héél mooiste modes. They are fontrunners wat álles betref. Hulle gee die toon aan wanneer dit kom by styl.

“Dis iets waarmee ek dink almal hulle wíl vereenselwig. Jy wil ook ’n deeltjie van die wonderwerk beleef. Toe die Notre-Dame nou brand – jy voel of dit ’n stukkie van jouself is wat daar verwoes word.”

Trane oor Parys

Anet in Parys.

“Dis alles so oud en die Franse is so tróts op alles wat hulle reggekry het. Dit het lank geneem om nou die selfvertroue te ontwikkel om so ’n bietjie in Frans te begin kommunikeer. Ek het na die Sorbonne gegaan [vir ’n Franskursus]. . . Dit was nie so maklik nie.

“Ek het saam met ’n vriendin gegaan en ons was vir ’n maand daar en dit was régtig moeilik. Dit het etlike maande geneem voordat dit ingeskop het en ek begin selfvertroue kry het want jy voel so half jy wil nie ’n fool van jouself maak voor die Franse nie want hulle is so korrék. En hulle wys ook hul misnoeë as jy dit nie heeltemal regkry nie.

“Maar ek het nou al – omdat ek ook so lank in Parys was – heelwat vriende gemaak en nou begin ek al tuis voel. Dit is ’n voorreg!”

Sy was besig om te bestuur toe haar telefoon lui met die nuus dat die eerste woonstel in Parys verkoop is.

“Ek het van die pad af getrek en gehuil. Dit is binne 24 uur verkoop. Ek was só geskok; ek het gedink ek kan nog ’n bietjie afskeid neem.”

Daar in die woonstel in Parys het sy soos ’n prinses gevoel.

“Soos Marie-Antoinette,” lag sy.

Meer oor:  Ton Vosloo  |  Parys  |  Frankryk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.