Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Antjie Krog: ‘Vreemd sal die nuwer taal moet lê’

Antjie Krog praat oor die dood, waarom sy graag ’n pak en ’n das dra, en hoe poësie haar gehelp het om die lewe te begryp.

Antjie Krog, wat pas met die Hertzogprys vir poësie bekroon is. Foto: Antonia Steyn

Nes in haar poësie is Antjie Krog ook in ’n onderhoud die delwende, priemende een wat soek na dieper betekenis en poog om dít te verwoord wat moeilik onder woorde gebring word.

Die onderhoud met Krog (64) vind plaas in haar kantoor by die Universiteit van die Wes-Kaapland waar sy ’n buitengewone professor in die departement lettere en wysbegeerte is. Haar bedrywighede sluit in klasgee in Afrikaanse poësie, die aanbied van skeppende skryfwerk op honneurs en MA-vlak, asook ’n vertaalprojek waar ses romans, een toneelstuk en ’n bloemlesing gedigte uit inheemse tale in Engels vertaal word.

Die ongelykheid tussen die tale is iets vreesliks.

Op ’n tafeltjie teen ’n muur is ’n klompie boeke. Sy tel een op en sê: “Jy weet Afrikaans het hierdie groot verklarende woordeboeke (Woordeboek van die Afrikaanse Taal) en ons trek nou by R (Deel XIII). Nou hier is Xhosa s’n.” Dit beslaan drie dele en is uitgegee deur die Universiteit van Fort Hare. “Hier is Zoeloe s’n – daai een. Hierdie is seSotho sa Leboa – sePedi – s’n. Hier is seSotho s’n.

“So die óngelykheid tussen die tale is iets vreesliks. Nou voel dit vir my eintlik behoort ons (Afrikaanse) woordeboekmense saam met hulle te werk . . .”

Antjie Krog by die geleentheid verlede week in Stellenbosch waar sy die Hertzogprys vir poësie ontvang het.Foto: Naomi Bruwer

Krog het pas die Hertzogprys vir poësie ontvang vir haar bundel Mede-wete (Human & Rousseau, 2014). Ons sal later daaroor praat en oor Lady Anne waarvoor sy in 1990 die Hertzogprys ontvang het en wat vanjaar in Engels vertaal is. Maar eers praat ons oor die dood.

“Ek is tog altyd bietjie teen die feit dat die dood soms in die poësie ’n ontsnapping word van die léwe; met ander woorde jy hoef nie te skryf hoe jy oud word nie en hoe jy sleg lyk en voel nie. As jy praat, praat jy oor die dood. En ek sê nie dis maklik om oor die dood te praat nie, maar ek sê net daar is ’n stadium van verwoording wat verwaarloos word en dít is die pre-dood.

“Ek het vir my ma die heeltyd gesê: ‘Skryf oor nóú. Wat dink ’n mens? Wat doen ’n mens? Wát?’ En sy het glad nie belang gestel daarin nie.”

Nou weet ek nie of dit die uitmekaarval van ’n vrou se liggaam is wat makliker is om vir jou te verbeel as die uitmekaarval van ’n man se liggaam nie.

Haar ma, die skrywer Dot Serfontein, is verlede jaar in die ouderdom van 91 dood.

“En ek het een keer vir ’n ander baie ou skrywer gesê: ‘Ek wil weet oor daai tydperk, ek wil daai tydperk verstaan. Die poësie het my in staat gestel om die fases van my lewe te begryp. Jy raak verlief met die gedigte van Ingrid Jonker. Jy hét lief met Breyten se goed, of Van Wyk Louw se ‘Ek haat en ek het lief’. . .

Ek haat en ek het lief: ek weet nie hoe nie.

O my land, o my land: jy is ek.

Ek ken jou en ek haat jou soos ek my haat.

Ek het jou lief soos ek my soms lief durf hê.

“Dit gee jou toegang tot ’n intensiteit van sekere fases van jou lewe en dáái deel word nie verwoord nie. En toe sê dié skrywer vir my: ‘Ék skryf om wég te kom daarvan.’ En toe dink ek dit is ’n probleem, want dit is hierdie . . . En dan, wanneer mansskrywers in prosa wél daaroor skryf, dan maak hulle hulself ou vrouens – sowel (J.M.) Coetzee as Karel Schoeman; die karakters is ou vrouens wat sterwend is.

“Nou weet ek nie of dit die uitmekaarval van ’n vrou se liggaam is wat makliker is om vir jou te verbeel as die uitmekaarval van ’n mán se liggaam nie.

“En jy weet, sodra die digters oud word dan vat hulle meesal jong vrouens, so dan het jy hierdie fantastiese kontras van die jeug en die dood. Maar nié hierdie arme stokou man saam met die jeug nie; die uitmekaarvallende manlike liggaam is nie ’n teenwoordigheid nie; ek ken nie gedigte waarin dit figureer nie.”

’n Ou digteres

Sy het onlangs, toe sy in Krakau in Pole was, ’n digbundel van Adam Zagajewski gekoop wie se werk sy verruklik vind.

“Hy is al oud . . . Ek weet nie of mans dalk as digters nooit verdwynend voel nie, maar altyd sterker en altyd teenwóórdig voel. Ek vind ook daar’s meer genade met ’n ou man, weet jy. ’n Ou digter . . . dáár’s iets, maar ’n ou digteres is eintlik vir niemand iets interessants nie.”

Ook Elisabeth Eybers?

“Sy was baie teruggetrokke. Sy was nooit teenwoordig soos wat sê iemand soos Van Wyk Louw was nie. En ek dink daar is minder genade as ’n vrou dit sóú doen.”

Antjie Krog lees voor uit haar bundel Mede-wete. Foto: Argief

Ek pols haar oor vroue soos die kunstenaar Carmen Herrera en die stylikoon Iris Apfel wat op 100 nog diép kreatiewe spore getrap het.

“Dit is baie ingewikkeld om in hierdie land soveel plék vir jouself te vat. Een keer, jare gelede, het Albie Sachs vir my gesê: ‘Jis, julle jong digters is so onwaaghalsig, so onvry.’ Hy het vir Ingrid Jonker geken en vir Uys in daai tyd op Clifton. En ek het by myself gedink, daar is geen manier wat enigiemand vandag die strandlewe van Clifton vir homself mag toeëien as dat jy daarop geregtig is en dat jy soveel vryheid vát vir jouself nie.

“En dan het jy ook ’n krimpende taal en uitgewersbedryf waarin jy jou bevind; jy weet nie eens of iemand jou oor tien jaar gaan uitgee nie, maak nie saak wat jy skryf nie.

“Ek het een ding wat ek dink ek moet doen as ek nou aftree aan die einde van die jaar, en dít is ek wil in Lesotho gaan bly vir ses maande in ’n land wat eintlik nie direk deur apartheid geraak is nie. Dit voel vir my ek kort nog so 20 woorde dan kan ek seSotho praat. Ek wil ééndag met ’n swart mens kan praat in sy taal.”

Die armes ‘vat terug’

Sy praat oor skuld.

“Ek het skuld gehanteer in Country of my Skull. Ek is lankal klaar met skuld, ’n mens is by ármoede; almal is op maniere geaffekteer deur armoede . . . die hoeveelheid bedeling by ’n mens se deur, by ’n mens se kar en in die straat is per dag onhoudbaar. En elke keer wat jy sê nee, voel jy mínder van ’n mens. En dit raak net so dat jy dink jy kan dit eintlik nie meer verduur nie jy wil eintlik wees op ’n . . . en dan kom jy in Europa en dan kan jy agterkom hulle dink dis net óns probleem. Maar die terugneem van die armes, die terugvát, is sonder geweld – hulle dryf op bote en kom daar aan . . . dis net mense wat stilweg met bote aanland en hulle begin maar net bly. In Kaapstad ook, die armes vat terug, orals – hier bly meer, daar bly meer, in jou strate klop meer. So die armes vat terug, probeer ’n herverdeling sonder geweld bewerkstellig. En jyself kan ook nie meer met geweld daarteenoor optree nie omdat mense dit so stilweg doen . . . Europa kan maar weet: mense kóm. Dit móét uiteindelik; die uit sync uit van die wêreld kan nie eintlik so voortduur nie.

“Nou, as jy oud word soos ek . . . ek wil net eintlik nie so . . . ek wil kyk of ek voor ek doodgaan tog normaal daarmee kan omgaan, pleks van die heeltyd te voel eintlik behoort jy vóór te loop in die optogte van die townships oor slegte dienste en daai.”

Antjie Krog en Albie Sachs in die Kasteel in Kaapstad by die uitstalling van anti-apartheidsfoto’s.Foto: Edrea du Toit

Wanneer ’n beroep ‘vervroulik’

Iets wat haar fassineer van ’n manlike teenwoordigheid, is dat “sodra dit verdwyn, vat dit die mag saam”.

“En nou kyk jy na die letterkunde – die lesers is eintlik vroue, oral waar jy kom, sien jy vroue; die meeste van die mense wat klasgee in die letterkunde, is vroue; al hoe meer van jou resensente is vroue. En soos wat dit gebeur, kan jy sien hoe die mag uit die letterkunde verdwyn.”

In die argitektuur en die mediese beroepe gebeur dit ook; “hulle sê die beroep word vervroulik”.

“En dan sê hulle mans gaan nooit net weg nie, mans vat ook die mag saam met hulle weg en dan bly daar nou net ’n klomp vrouens oor en skielik daal die statuur van daai beroep. Om ’n argitek te wees is nie meer daai aangrypende Fountainhead-ding van die ou dae nie. So hulle gaan word dan spesialiste, die mans of hulle gaan in geld in.

Antjie KrogFoto: Antonia Steyn

“Ek kyk na die politiek wat nou sulke sterk vrouens het en hierdie mans wat uitruilbaar lyk. Weet jy, as jy vir my die Franse presidente, die Engelse . . . Hulle lyk almal of hulle in dieselfde fabriek gemaak is. So dis ’n sekere soort onindrukwekkende man wat nou in die politiek ingaan . . . So ek vermoed oor ’n ruk gaan daar geen mag meer oor wees in die politiek nie. Die geld gaan die politiek só lamlê dat dit nie eintlik saak maak wat die politici daar binne besluit nie. Dis eintlik klaar so – geld run die wêreld en jy sien daai mans wat dit doen nooit.

“Nou in die kreatiewe letterkunde blý mans gelukkig so ek is altyd bly as ek na ’n plek toe gaan en jy sien daar gaan manskrywers wees want dan weet jy hulle bring met hulle die mag saam, die aandag, die respek.

“Ek dink dit is jammer dat dit so is en dat ’n mens nie leer hoe om waarde te heg aan dit wat vrouens doen nie. Of doen ons dit op so ’n manier dat dit móéilik is om dit te eer?”

’n Vreeslike weerloosheid

Waarom dra sy graag ’n pak en ’n das?

“Ek dink net ’n suit, ’n pak klere, is een van die slimste dinge wat ontwerp is. Niémand weet of het jy tieties nie. Niémand weet jou boude is groot nie. Niémand weet jy’t ’n pens nie. Niemand weet jy’t knock knees eintlik nie. Níks daarvan nie. En jy kan dieselfde pak klere dra na verskeie dinge toe en elke keer miskien ’n ander das en jy’s núút van voor af. Terwyl ’n vrou as jy óp daai verhoog loop en jy’t ’n rok aan . . . hóé daai bene van jou lyk; hóé jou knieë lyk; hóé jou boude lyk . . . Dan hul hare; dis ’n vreeslike weerloosheid wat ’n vrou moet oorkom met ’n rok of met ’n skirt of selfs ’n broekpak. Maar met ’n pák klere is dáái uitgesort. Dis gehanteer: ‘Kyk in my oë en luister wat sê ek!’”

Ons praat oor haar bundel Mede-wete (die Engelse vertaling heet Synapse).

“Ek het gewoonlik altyd ’n stel tipiese temas. Ek skryf politiek, ek skryf persoonlike gedigte, ek skryf oor taal, ek skryf oor die maak van gedigte, ek skryf oor my familie en hierdie keer toe ek begin werk aan ons plaas en die werf toe besef ek dat eintlik is werf ’n ideale plek vir álmal. Die werf van ’n plaas is waar álle dinge bymekaarkom, die sterre, die diere, die mense wat daar werk, die eienaar, die kinders, die kos, die honger, die onreg – dis alles, alles plek op ’n werf.

“Ek het aanvanklik gedink die bundel se titel moet wees Die Werf en toe het Johann de Lange vir my gesê, nee, jô, hierdie gedigte . . . jy weet nie wat maak hulle daarin nie en as mens dit lees, is dit te vreemd en dit is te wild, hy dink hulle moet uit.

“En toe het ek gedink ek probeer juis ’n ánder taal kry . . . En dis dan waar ek begin het om by Paul Celan te kyk wát doen jy aan taal om die woorde wat nie meer iets beteken in daai taal nie, terug te bring dat hulle iets beteken. So toe het ek die gedigte almal uitgehaal en hulle in ’n aparte afdeling gesit. Sy lees uit die eerste gedig in die afdeling “vier pogings in linguistiese sinaps-opsporing”:

die oopboor van verstopte sillabes   die verstelling

van ’n uitgebrande tweeklank die afsaag

van medeklinkers   ’n volgehoue plaakafbeiteling

van kinders sodat erbarmlose verstokte woorde gedaag

word   skielik kan lug instroom  ’n nuwe geluid

benader   vreemd sal die nuwer taal moet lê   uitasem

en omgee omgewend apartwees dood begin sê

in die haat wat so bloedgrondritmies dawer

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.