Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Anton keer terug na sy ‘roots’
Anton Goosen saam met Carike Keuzenkamp, sanger, by die bekendstelling van sy nuwe album in Johannesburg. Foto: Felix Dlangamandla

Ná ’n stilte van 11 jaar het Anton Goosen ’n nuwe album bekend gestel. Dit was die moeite werd om te wag, skryf Riaan Grobler.

"Man, ek is maar nervous,” sê Anton Goosen – vir jare al ook bekend as die Liedjieboer – in sy kenmerkend sagte stem. Hy loer kort-kort na die groot groep mense wat in RSG se voorportaal saamdrom vir die bekendstelling van Padkos, sy eerste

album in 11 jaar. Dit is sy 20ste album – sy 11de met slegs liedjies wat hy geskryf het.

Dis vroegmiddag in Johannesburg, waar die eerste reën van die seisoen dié oggend geval het. Die paaie is nat, mense is laat. Ons wag. Anton se agent bel verwoed laatkommers.

Maar die son wil-wil weer deur die grys wolke breek en die stemming is opgewek, daar is eetgoed en goeie wyn en

Anton maak geselsies en poseer vir foto’s – die ene rockster met ’n swart T-hemp, ’n stywe swart denimbroek, swart Converse All Stars-tekkies en ’n Ray-Ban met ’n rooi raam. Hy is egter ’n baadjie gemaak dra, waaroor hy sy oë dramaties rol.

Ek vra hom of hierdie ’n diep, donker album is, iets soos Leonard Cohen se You Want It Darker of David Bowie se Blackstar.

“Nee, nee, nee,” sê hy beslis, “Ek wou ’n vrolike album maak. Teruggaan na my roots.

“Jy sal hoor daar is nie tromme op die album nie. Dis akoestiese kitaar, trekklavier, mondfluitjie . . .”

“En die trompie,” merk ek op. Hy lag. “Sommer by my huis opgeneem, bra . . .”

Anton sê die opneem van ’n album word nooit makliker nie; trouens, dit word net moeiliker.

Trouens, die enigste gedeeltes van Padkos wat in ’n ateljee opgeneem is, is die sang van die Soetstemmekoor van Solms-

Delta naby Franschhoek.

Die res van die musiek en instrumente is opgeneem by Anton se huis in Gansbaai, en ook op plekke soos die vervaardiger, Peter Pearlson, se kantoor in Kaapstad en in Clarens in die Vrystaat, waar Denzl Keenan van Rooibaard-faam sy vioolsnitte opgeneem het.

En dis presies wat Anton wou doen. Om ’n “organiese” album op te neem wat nie klinies en ateljeegedrewe is nie.

“Hy lyk soos Johnny Depp,” sê Anton van sy Vrystaatse vioolspeler. “Vir ’n hippie is hy nogal goed met internet-dinge, hy het als daar (in Clarens) opgeneem en vir ons oor die internet gestuur.”

Dit het ses jaar geneem om die opnames te voltooi en verskeie musikante het op die een of ander manier bygedra –

mense soos Lise Swart, Schalk Joubert, Albert Frost, Gian Groen en Vernon Swart.

Anton sê die opneem van ’n album word nooit makliker nie; trouens, dit word net moeiliker.

“Coenie de Villiers het een keer gesê met jou eerste album kan jy oor jou hele lewe skryf. Daarná moet jy nuwe dinge ervaar en beleef, en dan het jy nie jou hele lewe nie, maar miskien ’n jaar.”

Dis hoekom hy nie elke jaar of ses maande ’n nuwe album uitreik nie, sê Anton. “Daar is dikwels heelwat jare tussenin (albums), want ek moet eers goed beleef en bymekaar maak.”

En daarom moes sy fans meer as ’n dekade wag – sodat Anton genoeg bymekaar kon maak. En hy gee in oorvloed.

Die omslag van Padkos.

Veertien splinternuwe snitte, om presies te wees.

Op die eerste snit, “Diep blou see”, sing Anton van sy spreekwoordelike boomhuis – sy stoep in Gansbaai – van waar hy oor die blou waters tuur en walvisse en grootwithaaie en die hawe dophou.

Dit het ’n karnavalagtige klank – ’n lieflike inleiding tot Anton se “vrolike” nuwe album.

Daar is speelse elemente in van die liedjies met tong-in-die-kies lirieke, soos op “Scotty Smith (Poliesman kan my nie vang nie)”, waarop Anton die verhaal van die legendariese perde- en diamantdief George Lennox vertel.

Aan liefdesliedjies is daar ook nie ’n tekort nie. En dis nie soos van sy melancholiese, filosofiese liedjies soos “Brief vir Simone” en “SMS” nie – op Padkos stem die liefde Anton besonder vrolik. Hy is immers onlangs getroud en baie gelukkig, dankie.

Die eerste is “Ou blou geroeste kruiwa”. Anton vertel hoe hy Estie, met wie hy nou getroud is, jare gelede op die lughawe gaan haal het met ’n stokou blou bakkie waaroor hy baie skaam was. Maar Estie het glo gesê: “Jy kon my ’n geroeste kruiwa kom oplaai het” – en dis waar dié lied vandaan kom. Daar is drie love songs, sommer so ná mekaar.

Maar nuwe liefde en ’n skoon begin in Gansbaai is nie ál wat die afgelope 11 jaar met Anton gebeur het nie. Hy het ander dinge ook beleef en bymekaargemaak.

Op “Hy was ’n goeie vriend van my” sing Anton roerend van sy vriendskap met Ollie

Viljoen – die musieklegende wat in 2014 oorlede is. Die lied begin en eindig met ’n trekklaviersolo wat sag en stil en sonder oordaad hulde bring aan ’n man wat dié instrument behoorlik tot lewe kon laat kom.

“Jy’t my vertel van ou Silver de Lange,” sing Anton – ’n vertelling wat gelei het tot ’n groot treffer vir die Liedjieboer.

Op “Die uilvrou van Nieu-Bethesda” huil die viool soos ’n wind om ’n hoek wyl Anton met sy liriek die verhaal van Helen Martins skets met deernisvolle metafore. Nie net die donker nie, maar ook die lig en kleur.

Ek het vir haar ’n poskaart gestuur van die eiland Skye, maar ek dink nie sy het dit ooit gelees nie . . .
Anton Goosen

En dan is daar “Doekvoet vlieg die Bonnie Bonnie Skye”.

Ai.

“Skye was my hond. Ons het ver paaie saam geloop. Jackrusselhonde is in die algemeen baie slim, maar Skye was besonder slim – gekweek by Onderstepoort,” vertel Anton van sy makker van baie jare.

“Haar naam was Skye, soos die eiland Skye (in Skotland). Ek het vir haar ’n poskaart gestuur van die eiland Skye, maar ek dink nie sy het dit ooit gelees nie . . .”

“Doekvoet” is ’n liedjie vir Skye, wat “lig gebring het toe dit donker was”, sing Anton.

Dit is sekerlik die mooiste lied oor ’n hond wat ek tot nog toe gehoor het.

Anton boer egter gou weer voort met vroliker liedjies, soos die satiriese “Innie Tsitsikamma”, waarin hy die draak steek met ’n “Uber-metroman” wat selfies neem en ook met ’n “giggelende beeswagter” – sy beskrywing van die man van Nkandla wat heelparty Suid-Afrikaners die josie in maak.

Uiteindelik het Anton niks om oor nervous te wees nie.

Sy radio-onderhoud verloop seepglad. Luisteraars ding verwoed met mekaar mee om getekende CD’s te wen. Hy lag en gesels ewe gemaklik met bewonderaars en jare lange vriende.

Maar sy eintlike praatwerk doen hy in sy liedjies, die belewenisse wat hy bymekaar gemaak het.

En dit is die moeite werd om 11 jaar daarvoor te moes wag.

Meer oor:  Musiek  |  Musikant  |  Cd  |  Album
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.