Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Apartheid het my ontman’

Charles Abrahams praat met Murray La Vita oor hoe hy en ander swart mans deur apartheid ontman is en hoe hy daarin geslaag het om vanuit haglike armoede ’n prominente regsgeleerde en baanbreker op die gebied van klasaksies te word.

Charles Abrahams gedurende die onderhoud in die kantoor van sy regspraktyk in Tygervallei. Foto: Jaco Marais

“Deur regspleging het ek probeer om die maatskaplike wonde te genees wat deur apartheid veroorsaak is, en klasaksies het die skalpel geword waarmee ek daardie operasies uitgevoer het,” skryf Abrahams in Class Action: In Pursuit of a Larger Life, was pas by Penguin die lig gesien het.

In die onderhoud met Abrahams word dit duidelik dat hy deur die skryf van die boek ook sy eie wonde probeer genees het.

Ons praat in die kantore van sy regspraktyk in Tygervallei, noord van Kaapstad. Hy sit teen ’n muur wat bedek is met regsboeke en praat sag en stadig.

In sy memoir beskryf hy hoe hy onder meer hoe hy ná ’n jaar se studie aan die Universiteit van Wes-Kaapland nie kon bekostig om voort te gaan nie en toe uit sy ouerhuis in Nooitgedacht op die Kaapse Vlakte mense van regshulp begin bedien het en ook ’n crèche en ’n sopkombuis in die buurt op dreef gekry het.

Hy het later daarin geslaag om ’n regsgraad te behaal en baanbrekerswerk gedoen op die gebied van klasaksies – aanvanklik ’n aksie namens slagoffers van apartheid teen groot maatskappye wat die apartheidsregering gesteun het en later teen broodmaatskappye wat met die broodprys geknoei het, en toe teen mynmaatskappye namens mynwerkers wat aan silikose en tuberkulose ly of gely het.

“Daar is ’n stadium in jou lewe as kind en as jong mens wanneer dinge met jou gebeur en jy daarop reageer. Jy ontwikkel jou eie perspektief daaroor. Daar is ’n punt waar jy hierdie gedagte in jou kop het dat jy waarskynlik nie veel verder in die lewe gaan vorder nie weens jou omstandighede en waar jy jou bevind en dies meer.

En skielik, op ’n stadium, kom alles wat met jou as kind gebeur het, na vore.

“Maar met verloop van tyd kom jy op ’n punt waar jy, ondanks dit wat jy as kind in jou kop gehad het, dit ‘maak’ soos hulle sê. En skielik, op ’n stadium, kom alles wat met jou as kind gebeur het, na vore. Jy het nou gedink jy kan dit agterweë laat. Mettertyd behaal jy professionele en persoonlike sukses, maar dit wat met jou gebeur het en dit wat jy ervaar het . . . Jy kan nie daarvan ontslae raak nie; dis dáár.

“So wat jy probeer doen, is om dit te verdoesel en jy dink dat jou nuwe ervaring; jou nuwe posisie waarin jy is, kan dalk opmaak daarvoor; dit bedek.”

Hy maak ’n beweging met sy regterhand waarvan die vingers lank en delikaat is. En hy begin nog sagter praat.

“Maar hoe meer jy dit probeer doen, hoe meer word jy daardeur gekonfronteer. En ek dink dat my betrokkenheid by die tipe sake wat ek as ’n professionele persoon oor die jare aangeneem het, was die sleutel waarmee ek dit oopgesluit het, daardie worsteling.”

Hy het by ’n punt gekom waar hy homself afgevra het hoekom kan hy, wat na die smart en pyn van ander mense luister, dan nie ook na sy eie smart en pyn luister nie.

“Dit was tien tot 15 jaar lank my wroeging totdat ek by ’n punt gekom het waar ek gesê het: Luister, as ek getrou aan myself wil wees, dan is dít wat ek moet doen; al beteken dit ook dat ek myself aan die wêreld daar buite moet ontbloot.”

Die wonde

Abrahams in 2012 buite die hooggeregshof in Johannesburg ná die oorwinning oor mynmaatskappye in die klasaksie wat namens siek mynwerkers ingestel is. Foto: Felix Dlangamandla

Die skryf van Class Action was dus ook ’n vorm van terapie.

“Aan die een kant worstel jy . . . Jy is ’n professionele persoon en jy is direk betrokke by die wonde van jou kliënte, maar aanvanklik is daar ’n afstand want professioneel is dit vir jou belangrik om daardie afstand te behou, maar mettertyd sien jy hierdie . . . dis amper asof dinge begin blur; jy beweeg in daardie ruimte in en daar vind jy jouself en dink na oor jou eie lewe.”

Class Action begin waar die 12-jarige Charles sy droom om ’n hartchirurg te word voor sy klas en onderwyser met die skoolinspekteur deel.

“Vir my as kind was die skool die laaste bastion terwyl alles rondom jou verbrokkel: jou gemeenskap, jou huis. Jy het na die skool gekyk as ’n veilige hawe waar jy jouself en jou drome hopelik kon uitleef. Ek het glad nie besef daar is ’n baie donker krag daar en dit is dat swart kinders nie moet droom nie.

“Toe ons verneem die skoolinspekteur kom, was ek só opgewonde. Ek wou hierdie vreugde wat ek diép in myself gehad het, deel. Sielkundig was die skool daar om te beskerm, maar daai dag . . . Toe ek daar opstaan en dit met alle vreugde deel . . . Die reaksie wat ek gekry het, sal ek nooit vergeet nie . . . van die kinders [hulle het hom uitgelag] en die onderwyser en die inspekteur [hulle het ook vir hom gelag].

“Eerstens probeer jy dit afmaak, want jy’s kind – dít is jou onmiddellike reaksie. En jy probeer dalk ook miskien ’n bietjie saamlag. Maar soos dit insink dat jy nie so hoog moet droom nie . . . Dit kan nóóit; dit kán nie van jou af weggaan nie.”

Honger en ou brood

“Vir my as kind was die skool die laaste bastion terwyl alles rondom jou verbrokkel: jou gemeenskap, jou huis.” Foto: Jaco Marais

Charles was as kind op ’n dag so honger dat hy geskarrel het vir ’n stukkie van die ou, muf brood wat ’n buurvrou vir hul maer hond, Sheba, gegee het.

“Die ervarings van my kinderdae, en spesifiek die aspek rondom hongerte, is geýk in my verstand. Dit is dáár; ek sal nóóit daarvan kan wegkom nie.

“Maar tussen daardie insident en die klasaksie het daar só baie gebeur in terme van my eie ervaring, my eie bewustheid en my eie posisie.

“Toe ek te wete kom van ’n knoeiery met die broodprys, het dit net onmiddellik hierdie diépe, diépe pyn teruggebring . . . herinneringe. En ek het gedink: Julle bliksems! Want ek wéét wat broodgebrek is. Hoe kon ék as individu wat daardie ervarings deurgemaak het en nou as die professionele persoon, toekyk hoe dit gebeur en nie iets daaraan doen nie? Ek móés iets doen.

“En toe die geleentheid [vir ’n klasaksie teen die broodmaatskappye] hom voordoen, kon ek nie wag nie. Dit is asof die aanloop . . . Voor dit was ek betrokke by die klasaksie in Amerika [teen maatskappye wat die apartheidsregering gesteun het]. Dit was vir my die geleentheid . . . en ek was meesal gedryf deur daardie pérsoonlike ervaring as ’n kind, as enigiets anders.

“Die uitkoms daarvan was nie net dat ek dít wat ek persoonlik ervaar het as kind – daardie pyn van hongerte – kon besweer nie, maar vandag het ons klasaksie-riglyne wat die grondslag vir klasaksie in Suid-Afrika vorm.”

Op die laagste vlak

Abrahams praat in 2009 op die People’s Tribunal Arms Hearing oor die rol wat Switserse banke gespeel het om die likiditeit van die apartheidsregering te verseker. Foto: Rosetta Msimango

As swart professionele mens het hy ’n punt in sy lewe bereik waar die wêreld vir hom oopgegaan het.

“Maar jy worstel steeds met al daardie diép kwessies. Jy is nie net Kleurling nie; jy is die láágste van wat Kleurling kan wees. So selfs binne jou eie klas is jy op die laagste vlak. Ek skryf in die boek oor die meisie waarop ek op skool verlief was, maar omdat ek op daardie lae vlak was [weens byvoorbeeld die armoedige deel van die buurt Nooitgedacht waar hy gewoon het en sy “kroeshare en dik lippe”], was selfs sý nie in my liga nie.

“Aan ’n wit vrou kon jy nie eens dink nie, want dít was nie vir jou beskore nie. So swart mans, by wie ek bruin mans insluit, was ontman. En as gevolg van daardie diép bewustheid van emasculation . . . Hoe dink jy gaan ons ons eie vroue behandel? As jy kyk hoe vroue op die Kaapse Vlakte behandel word! En veral binne bendes . . . Dit is weens die wreedheid – nie net fisiek nie, maar ook sielkundig en emosioneel – waaraan ons blootgestel word.

“Dink jy ék het dit vrygespring? Néé! Ek is ’n slagoffer daarvan. Ek moet daardeur werk. Toe kom my jaar in Nederland [waar hy as beurshouer ’n meestergraad in publieke internasionale reg aan die Universiteit van Leiden gedoen het]. Dit was wónderlik – ’n groot verskeidenheid jong vroue; iets wat ek nog nooit ervaar het nie. So wat doen ek? Ek ontspoor amper heeltemal. Ek het elke moontlike seksuele fantasie wat ek kon, uitgeleef.”

Dieper in ’n groef

“’n Deel van die waarde van Class Action is dat ek deur die skryf daarvan wérklik vrede gemaak het.” Foto: Jaco Marais

Hy wou uitvind of daar inderdaad iets spesiaals aan wit vroue is. En toe het hy homself probeer heel deur soveel as moontlik seks met hulle te hê.

“Ek het gedink deur baie seks te hê [met wit vroue] kan ek deal met die diép issues van emasculation. Maar hoe meer en meer jy dit doen, hoe meer besef jy jy is net besig om al dieper en dieper in ’n groef te verval.

“Totdat ek een dag op die trein terug Leiden toe van Amsterdam af ’n katarsis beleef het. En dit is tóé dat ek gekonfronteer is met daardie kwessie van emasculation en ook besef het apartheid was nie net fisieke wreedheid nie, maar ook emosioneel en sielkundig. Wat toe ook na die oppervlak gekom het, was my eie seksuele molestering [deur ’n buurman van sy gesin] as kind.

“Soos wat ek professioneel opgang gemaak het en die middelklas betree het, was dít die soort ding wat ek nie wou hê ooit rugbaar moet word nie. So wat doen jy dan? Jy raak obsessief daaroor om te bou en te dink jy het net al hoe meer [sukses, materiële welvaart] nodig. Maar ek het by ’n punt in my lewe gekom waar ek vir myself gesê het: Te hel daarmee! Het ek deur al die ontberinge vir net ’n bietjie materiële welvaart gegaan? Nee! Só goedkoop is ek nie.

“Ek moes diép in myself delf om by dié punt uit te kom. ’n Deel van die waarde van Class Action is dat ek deur die skryf daarvan wérklik vrede gemaak het. Ek het daardie diép eksistensiële kwessies gekonfronteer; daardie wonde . . .”

Meer oor:  Charles Abrahams  |  Kaapse Vlakte  |  Nederland  |  Klasaksies  |  Armoede  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.