Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
‘Apartheid is my Anglo-Boereoorlog’

Sy en haar landgenote is soos skoenlappers wat hulself te pletter kan vlieg, maar wat nogtans voortbeur na ’n droom, sê Valda Jansen. Murray La Vita het met haar gepraat.

Valda Jansen tydens ’n onderhoud in Kaapstad. Foto: Jaco Marais

In die gesprek met Valda in die Book Lounge in Kaapstad vind ek ek skuif vorentoe in my stoel om nader aan haar te kom, maar ook om haar beter te hoor. En ek begin ál sagter praat omdat sý sag praat. Sag, maar met ’n intensiteit, ’n innigheid wat by tye oorgaan in drif.

Hoe gepas is dit dus nie dat Karin Schimke in ’n resensie skryf Valda se Hy kom met die skoenlappers is ’n boek wat fluister.

Ek kén woede en ek kén geweld en ek weet wat dit doen aan ’n psige, maar vir my gaan dit oor die sagte stem.

“Ek het al gedink: Hoekom het ek hierdie boek nou eers geskryf? Indien ek hierdie boek twintig jaar gelede geskryf het, sou dit ’n wóédende boek gewees het. Ek het altyd geweet: Wanneer ek gaan skryf, wil ek nie hê dit moet ’n woedende boek wees nie; ek wil nie ’n raserige boek hê nie . . . Dit is nie my styl nie, ek is nie so ’n mens nie.

“Ek sal wil hê die boek moet impak maak, maar daar is ’n manier hoe ’n mens ’n ding sê; daar is ’n manier hoe ’n mens ander mense raak, en dit gaan vir my oor daai ságte stem.

“Ek kén woede en ek kén geweld en ek weet wat dit doen aan ’n psige, maar vir my gaan dit oor die sagte stem en dit gaan daaroor om rustig en logies en kalm te sit en praat en jou boodskap op daai manier oor te kry.”

Ek het besluit om my eie naam in die boek te sit, want ek wou net myself gebruik en blootstel.

Die boek, waarvoor sy verlede jaar die Jan Rabie-Rapportprys vir die beste debuutfiksiewerk ontvang het, gaan (veral) oor identiteit.

“Wie is ek en wat ervaar mense as hulle my sien? Toe ek Dominique Botha se boek Valsrivier lees en ek sien hier is die naam (die ek-verteller is Dominique Botha), het dit vir my moed gegee om my eie naam in die boek te gebruik.

“Maar vir my is daar ’n afstand tussen my en die ek-verteller. Dis nie ék nie; dis miskien ’n deel van myself . . . Ek het besluit om my eie naam in die boek te sit, want ek wou net myself gebruik en blootstel. Dis amper asof ek ander dan beskerm – hier is ek en dít is wat gebeur het.”

‘ ’n Elegie aan ’n self’

Thys Human skryf in sy resensie: “Vir haar verhuising van Johannesburg na die Kaap moet die hoofkarakter, Valda Jansen, talle papiere in haar gastekamer uitpak en sorteer. In die proses kom sy af op foto’s en liefdesbriewe van Anders, die man op wie sy in die 1990’s in Jena, Turinge, verlief geraak het en wat 18 jaar later onverwags aan kanker oorlede is.”

Hoewel ’n Elegie aan verlore liefde die ondertitel van Hy kom met die skoenlappers is, meen Schimke die boek is ook “ ’n elegie aan ’n self wat soek geraak het agter skanse wat begin as blote mure maar mettertyd begin inkelder . . .”

Die omslag van Valda Jansen se aangrypende boek Hy kom met die skoenlappers. Foto: Argief

Valda stem saam met dié interpretasie.

“As jy nou dink aan die storie van hierdie vrou en hoe sy eintlik grootword in ’n repressiewe samelewing . . . die huis, die staat, die kerk, die skool, wat sulke boodskappe na jou toe stuur: Jy moet dít; jy moet dát. Jy mag nie dít nie; jy moet só wees.

“Maar binne in jouself is jy in konflik met ál die klomp goed wat vir jou gesê word en wanneer jy dan opstaan en iets sê dan word jy net nog meer ondertoe gedruk. So, uiteindelik is daai persoon so diep binne-in jouself weggesteek en dan eers wanneer jy later daar uit kan kom en jy kyk terug . . . My kind, Anna, laat my baie terugdink aan myself en dan voel ek ’n ontsettende groot hartseer vir die dogtertjie wat ek was.

Ek het grootgeword met daai ding van ek hóórt nie hier nie, ek hoort nie daar nie; ek mag nie hier wees nie.

“Toe sy gebore is, het ek en my man besluit ons gaan vir haar leer sy het ’n stem en sy moet sê wat sy wil sê en sy mág dit sê en sy móét dit sê en mamma en pappa gáán vir haar luister en glo wat sy sê.”

Dit voel vir haar of haar dogter ’n plek in die lewe en hierdie samelewing het.

“Ek het grootgeword met daai ding van ek hóórt nie hier nie, ek hoort nie daar nie; ek mag nie hier wees nie. Jy kry daai boodskappe die hele tyd van kleins af en dit is ’n groot onreg aan ’n kind se siel. So, dit is vir my ’n wonderlike ding dat my kind vandag in ’n ánder samelewing kan grootword.”

Trauma van ’n wit strand

Valda het in die Strand grootgeword waar die grootste en mooiste deel van die strand vir “blankes” gereserveer was.

“Toe die strande nou oopgestel word, het dit vir my baie lank geneem voordat ek op daardie strand gaan stap het. My broers het sommer onmiddellik gegaan en gaan surf en gaan swem saam met vriende. Vir mý was dit verskriklik traumaties, want ek was al een keer op daai wit strand; dit was toe daar ’n optog was waar daar mense gegaan het en gaan protesteer het . . . ek is toe ook saam met hulle. En ons het op die strand gaan staan, maar oukei, toe kom die polisie met hulle honde en goed en hulle jaag ons daar weg.

“So, toe dit nou oopgestel word toe het ek nie sommer onmiddellik gegaan nie. Jy weet as jy daardie eerste tree gee op daardie strand en jy staan daar en jy dink: Wat het dit nou vir mense gebaat om vir my hier weg te keer? Dit tas jou menswees aan om vir jou te sê jy is nie werd om hier te wees nie . . .”

Ek het gedink aan my nalatenskap . . . ek dink nie aan myself en my naam nie, dit gaan vir my oor my nalatenskap aan my kind en haar kinders en hulle kinders.

Toe sy die Jan Rabie-Rapportprys in ontvangs neem, het Valda onder meer gesê apartheid is haar Anglo-Boereoorlog en dat dit iets is waaroor geskryf móét word.

“Ek het gedink aan my nalatenskap . . . ek dink nie aan myself en my naam nie, dit gaan vir my oor my nalatenskap aan my kind en haar kinders en hulle kinders.

“Ek weet baie min van my voorouers. Ek weet nie of daar skrywers onder hulle was of mense wat begeer het om te skryf nie. As ’n mens nou terugdink – daar is so baie goed wat van ’n mens af weggevat is deur die stelsels waardeur jy en jou voorgeslagte gekom het.

“So, nou sit ek met dié ding: Sekere goed moet gesê word. En nou besluit ek: Ék gaan dit sê; dit wat ek wil sê, gaan ek sê en ek is in my hart oortúig van dit wat ek sê en ek voel baie sterk daaroor dat daar so baie goed is wat nou nog steeds verkeerd gaan. Ek het verskriklik lank gesukkel om hierdie boek klaar te skryf, baie, baie jare lank. Dit was vir my baie moeilik en die enigste keer toe ek dit kon doen, was toe ek uit Johannesburg weer Kaap toe trek en ek gekonfronteer is met hoe ek in die Kaap grootgeword het.”

Afrikaans en apartheid

Ses maande nadat haar boek verskyn het, is borskanker by Valda Jansen gediagnoseer. Sy het haar hele lewe lank lang hare gehad en dit het tydens die behandeling uitgeval. Foto: Jaco Marais

Sy het geweet as sy nie dié boek skryf nie, gaan sy nooit weer enigiets anders kan skryf nie.

“Dit was daai gedagte wat vir my so bang gemaak het want ek wóú nie oor apartheid skryf nie . . . Ek wou nie; dit maak my te seer; dit maak my te moeg . . . Maar aan die ander kant kan ek nie oor myself skryf en ek kan nie oor hierdie land skryf en ek kan nie in en oor Afrikaans skryf as dit nie gaan oor apartheid nie.

“Dis nie dat ek dit in mense se kele wil afdruk nie, maar dit is daar. En toe het ek begin dink aan wat aangaan in die Afrikaanse letterkunde en stellings wat mense maak en temas en boeke wat bekroon word en wat gelees word en wat tot Afrikaanse mense se harte spreek.

En toe ek hierdie boek geskryf het, het ek besluit dié boek moet op die rak wees al is ek dan nie meer daar nie.

“Toe voel dit vir my dis daardie ding van die Anglo-Boereoorlog; daar is verskriklike hartseer stories . . . die ding van die verskroeide aarde; jy voel ontsettend baie simpatie en empatie met die mense se swaarkry.

“Maar dan kyk jy wat doen jy as jy uit daai swaarkry kom wat iemand anders aan jou gedoen het. Jy kom daar uit en dan doen jy dit wat aan jou gedoen is aan iemand anders. So ons perpetueer daai vernedering en swaarkry en aftakeling. Maar dan is dit ook daai selfde mense wat daardie boeke lees en dit ophemel wat dan vir my sê: ‘Vergeet van apartheid.’

“En toe ek hierdie boek geskryf het, het ek besluit dié boek moet op die rak wees al is ek dan nie meer daar nie. Dit is iets wat daar moet wees en dit is iets waarvan kennis geneem moet word. Ander moet kan dink: ‘Kom ek skryf dan ook mý storie.’ Daardie stemme is werd om gehoor te word en móét gehoor word.

Ek sou graag ander temas wou gehad het; ek sou graag ander stories wóú geskryf het, maar op hierdie stadium kan ek dit nie doen nie, want daar is nog te veel van hierdie wat moet uit.

“Toe ek daai aand daar staan (by die prysuitdeling) toe kom daai toespraak net so uit. En toe besluit ek ék sê nou vir mense ek is ’n swart Afrikaanse skrywer en dít is my tema en ek skryf daaroor. Net soos wat daar mense is wat die Anglo-Boereoorlog nou nog nie verwerk het nie en daaroor skryf, is hierdie mý tema.

“Ek sou graag ander temas wou gehad het; ek sou graag ander stories wóú geskryf het, maar op hierdie stadium kan ek dit nie doen nie, want daar is nog te veel van hierdie wat moet uit.

“Daar is so baie mense wat veg om Afrikaans te behou en dan word daar gekyk wie is daar om hulle te help. Dan word dié een en daardie een nader getrek. En dis amper of die debat nou deesdae insluit: ‘Ja, maar die meeste sprekers van Afrikaans is nie wit nie.’ Dit is waar, maar dit is nie vir my baie oortuigend nie, want ek voel so ’n mens word gekoöpteer wanneer mens nodig is.”

‘As hulle net jammer gesê het’

Valda soos sy met haar lang hare gelyk het voordat sy kanker gekry het. Foto: Brenda Veldtman

Valda voel dinge kon so anders gewees het.

“As daar net in die verlede sterker tekens gekom het, mense wat jammer gesê het oor Afrikaans, jammer oor apartheid, jammer oor die aandeel wat hulle daaraan gehad het.

“Dit het nie gebeur nie. Dit voel amper vir my asof dít die verlore skakel is in hierdie hele ding van Afrikaans. En dan word daar gesê: 'Maar hoekom sê júlle niks nie?' Dit gaan nie daaroor nie; dit gaan oor hoe het jý al verantwoordelikheid geneem vir dit wat in hierdie land gebeur het?

Ek was heeltemal, heeltemal verras en uit die veld geslaan oor mense se reaksie op die boek.

“Wat my oortuig het van wat ek nou sê, is toe hierdie boek uitgekom het, was ek heeltemal, heeltemal verras en uit die veld geslaan oor mense se reaksie op die boek. Vróúe, wit vroue wat voor my kom staan het, party van hulle met trane in hulle oë . . . En daar is sommige mense wat vir my gesê het hulle is jammer.

“Dit het my laat voel asof daar ’n behoefte is by wit mense om te sê: ‘Ek het nie geweet dit was só erg nie.’ Ek dink met boeke wat só geskryf word, raak dit daai snaar aan in iemand se siel en dit skep dan ook die geleentheid vir daai leser om hulle eie gevoelens te artikuleer, wat hulle dalk nooit voorheen gedoen het nie.

“Dit is my hoop dat dít is wat besig is om te gebeur in die Afrikaanse lesersgemeenskap.”

* Valda is een van vier skrywers wat op 10 Maart op die Stellenbosse Woordfees met Andries Visagie gesels oor watter ryk stof jou naaste familie vir fiksie bied, maar watter verantwoordelikheid dit ook is.

Meer oor:  Murray La Vita  |  Afrikaans  |  Apartheid
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.