Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Arts se WhatsApp-stryd teen virus

As kind wou Randall Ortel “op ’n vulliskar werk”, maar toe word hy die eerste dokter in Manenberg op die Kaapse Vlakte. Hy woon steeds daar en help nou om sy mense teen die verspreiding van Covid-19 te beskerm, het hy aan Murray La Vita gesê.

Dr. Randall Ortel sê alles wat hy doen, doen hy vir sy gemeenskap in Manenberg op die Kaapse Vlakte.Foto: Verskaf

Dr. Randall Ortel (34) woon saam met sy ouers en broer in Manenberg. Dit is daar, in sy eie gemeenskap, waar hy in sy vrye tyd moue oprol en hom die afgelope tyd veral toespits in die stryd teen Covid-19.

Hy is ’n kliniese assistent by die Mitchells Plain-Distrikshospitaal en is in sy derdejaar van die spesialisgebied huisartskunde aan die Universiteit van Kaapstad en sal volgende jaar as algemene spesialis kwalifiseer.

“Manenberg het nie ’n hospitaal nie. Sedert die G.F. Jooste-Hospitaal toegemaak het, is daar nie ’n hospitaal in Manenberg nie. Daar is net ’n kliniek wat deur die Kaapstad-metro bestuur word en waar hulle nou na die kindertjies kyk en na voorbehoed en TB, en so aan,” sê Randall.

“So, die mense van Manenberg moet basies nou Heideveld of Hanover Park toe gaan – hulle moet uit die area uit reis. Maar omdat ek al so ’n goeie verhouding het met die mense in Manenberg het ek net besluit met hierdie Covid-19-pandemie . . . Kyk, almal praat gewoonlik op hierdie hoë vlakke, maar niemand wat weet wat aangaan, is eintlik op die grond nie; ek dink die boodskap kom nie by die mense uit nie.

“Ja, die president praat op die televisie en daar is radioadvertensies en sulke tipe goed, maar die inligting moet afgebreek word sodat hierdie mense dit kan verstaan.”

‘Alles vir Manenberg’

Iemand met wie hy nou saamwerk, is dr. Elma de Vries, ’n senior huisartskunde-spesialis by die Heideveld-daghospitaal en een van sy dosente aan die UK.

“Die uitreike na gemeenskappe moet deur die daghospitale beplan word. En dís hoe ons op die ding afgekom het waar ek nou gehelp het om byvoorbeeld die kerksale te reël met Elma se ondersteuning en dan het ek nou ’n YouTube-video aanmekaargesit en dit in die gemeenskap ingestuur na WhatsApp-groepe toe sodat mense na spesifieke plekke, byvoorbeeld ’n kerksaal, toe sal kom vir inligtingsessies of om getoets te word.

Ek sê altyd vir die mense ek kan nie almal dien nie. Ek dien mý gemeenskap.

“So, van dag een af het ek maar inligtingsgoedjies uitgesit en ek het vir Elma gekontak en gevra wat doen hulle in Manenberg. Ek het ook vir haar gesê hulle moet laat weet as daar enigiets is waarmee ek kan help. Ek het besef as mense in Manenberg besmet raak, gaan ons probleme hê want dis ’n baie dense plek.

“Die mense woon baie naby aan mekaar en daar is partykeer tot 20 mense op ’n werf . . . Daar is twee, drie Wendy houses op een werf, so as een persoon dit daar kry, is dit ’n nightmare.

“Alles wat ek doen, doen ek maar vir Manenberg. Ek sê altyd vir die mense ek kan nie almal dien nie. Ek dien mý gemeenskap. Ek wil soos ’n big eye of ’n big daddy of ’n big brother wees vir Manenberg, en soveel as moontlik inligting uitkry in die area sodat mense kan wéét.”

Die mense is soos ek’

Randall besig om by ’n toetssentrum in Manenberg ’n inwoner vir die koronavirussiekte te toets.Foto: Verskaf

Aan die einde van die snit “Manenberg” op Abdullah “Dollar Brand” Ibrahim se ikoniese album Manenberg - Is where it’s happening roep ’n stem: “Oh, Manenberg . . . Julle kan maar New York toe gaan, maar ons bly hier in Manenberg . . .” Dit is daaraan wat ek dink wanneer Randall vertel waarom hy steeds in Manenberg woon.

“Ek is hier gebore en ek was in Rhodes High in Mowbray en daar het ek ’n prentjie buite Manenberg gekry, en toe is ek Stellenbosch-universiteit toe.

“Ek het nie ’n probleem met Manenberg nie. Die mense is dieselfde . . . Dis dieselfde klas mense as ek – bruin mense. Dis ’n baie vergewende gemeenskap. Dis ook ’n gemeenskap wat jou sukses vier as jy suksesvol is. En mense is naby aan mekaar; mense práát met mekaar.

“Dis ’n gemeenskap wat rolmodelle nodig het en dis die tipe ding wat ek uitsit. Ek is visible in die gemeenskap. Mense kan sien ek praat nie net nie. Ek wys maar vir hulle: Kyk, dís wat ek kan doen, en mense raadpleeg my maar gereeld. Ook byvoorbeeld kinders wat wil swot. ’n Mens bou kontakte op.”

Hy ‘moes presteer’

Hy is die eerste dokter wat uit die Manenberg-gemeenskap kom.

“Die grootste ding waarmee ek aan die begin gesukkel het, was selfvertroue, want kyk, jy kom uit Manenberg uit; jy’s bottom of the food chain. So, toe ek begin het by Rhodes het ek maar gesukkel. Hier sien jy kinders wie se ouers hulle by die skool kom aflaai en jy moet maar met ’n bus ry in die winter en jy reën nat.

Ek is lief vir Nelson Mandela se statements soos ‘education is the best weapon’ en sulke goed want ek het dit elke dag gesien.

“Jy kom mos nou van ’n zero base-line af, as ek dit só kan stel, in vergelyking met jou peers. Dis hoekom ek nie ’n keuse gehad het nie – ek moes akademies presteer, want dit was die enigste ding wat ek gehad het. Ek is lief vir Nelson Mandela se statements soos ‘education is the best weapon’ en sulke goed want ek het dit elke dag gesien.”

Hy het met beurse aan die US gaan studeer, onder meer een van die vakbond SACTWU, van wie sy ma, wat vir die klerefabriek Rex Trueform gewerk het, ’n lid was.

‘Ontspan eers’

“Ek wil soos ’n big eye of ’n big daddy of ’n big brother wees vir Manenberg.” Foto: Verskaf

Die Wes-Kaap is tans die episentrum van die Covid-19-pandemie in Suid-Afrika.

“Die afgelope vier weke was daar minstens vier mense wat vir my gekontak het om te sê hulle het positief getoets. Die Covid-19 hotline sê mos nou net vir die mense hulle moet self-isolate, maar hulle ken nie die mense se omstandighede nie. Dís waar ek betrokke raak.

“So, as die mense vir my sê hulle is positief dan vra ek of ek hulle kan sien en ek gaan na hulle huis toe. Dikwels ken ek die persoon, want ek ken maar basies die hele Manenberg.

Daar is geen betaling aan hierdie goed verbonde nie. Ek doen dit gratis, ook gewone huisbesoeke.

“As iemand vir my hul adres gee dan weet ek al klaar hoe is die omstandighede daar. Ons het onlangs ’n meisie gehad wat by ’n supermark in die Waterfront gewerk het en toe huis toe gestuur is met koors en sulke goed. Die gemeenskap was up in arms – hulle sê sy is positief want hoekom anders sal die werk vir haar huis toe stuur. Maar sy het toe nog nie getoets nie.

“So, jy het daardie goed ook: die mense se ignorance en die paniek van die gemeenskap. Ek bring hulle ook tot ruste deur te sê: ‘Nee, wag eers; ontspan eers. Dis die prosedure. Onthou, daai persoon is ook ’n mens met menseregte.’ Dan vra ek vir hulle: ‘Wat is die probleem?’ Nou sê hulle miskien nou: ‘Nee, ons is bekommerd; sy gaan die kinders aansteek!’ Nou sê ek: ‘Ja, maar die persoon is nog nie getoets nie; die werk het maar net die persoon huis toe gestuur.’

“Nou facilitate ek maar daai hele proses.

"Daar is geen betaling aan hierdie goed verbonde nie. Ek doen dit gratis, ook gewone huisbesoeke. Die leergeleentheid en om my eie gemeenskap te kan dien, is meer as wat geld vir my kan gee.”

‘Mense is opstandig’

Hy hervat die verhaal van die 22-jarige vrou wat deur haar werkgewer in die Waterfront huis toe gestuur is.

“Ek dink haar ma het gaan advies vra by die neighbour en wat deel is van ’n neighbourhood-watch group. En ek dink daardie vrou het die hele ding uit verband uit geruk en toe het sy nou op die WhatsApp-groep gesê ons het iemand positief in die gemeenskap.

“Dít kom toe uit by die ward councillor wat toe vir my gebel het om te sê: ‘Randall, die gemeenskap is nou opstandig. Hulle het nou ’n probleem met iemand wat positief is.’”

Randall, ek kan dit nie hanteer nie . . . Die mense sê almal vir my ek is positief. Hulle victimise my.

Hy en die raadslid het na die vrou se huis gegaan waar haar ma aan hulle vertel het sy het ’n ambulans gebel om haar dogter te kom haal.

“Die volgende oggend was sy weer by die huis en toe was die gemeenskap nie gelukkig oor dit nie. Hulle het vermoed sy het weggehardloop van die hospitaal af. Ek het met die vrou gepraat en sy het gesê sy is by die hospitaal getoets en huis toe gestuur.

“Ek het met haar gepraat en dinge aan haar verduidelik en haar bietjie moed ingepraat en gesê sy moet in die huis bly en vir haar uitslag wag.”

Sy is toe positief

Later het hy weer ’n oproep van die raadslid gekry om te sê die gemeenskap beweer die vrou loop in die strate rond.

“Toe gaan ek weer na haar toe en sy sê toe vir my: ‘Randall, ek kan dit nie hanteer nie . . . Die mense sê almal vir my ek is positief. Hulle victimise my. Die mense by die huis wil nie eers met my praat nie.’

Dit het vir my so ’n goeie gevoel gegee dat ek vir hulle iets kon doen.

“So, sy het net sleg gevoel en toe ’n ent gaan stap. Sy sê toe ook sy het nog nie die uitslag van haar toets gekry nie want die nommer wat sy vir die hospitaal gegee het, werk nie meer nie.

“Sy het toe vir my toestemming gegee om haar uitslag uit te vind. Toe gaan ek op die stelsel in en ek sien haar uitslag is positief. Ek sê toe vir haar dit en ook dat ek sal aansoek doen dat sy na ’n kwarantyn-fasiliteit toe geneem word omdat daar nie by haar huis plek is om te self-isolate nie en die mense gaan op haar nek wees.”

Randall het toe met dr. De Vries in verbinding getree wat die kwarantynreëlings getref het. En hy het gereël dat iemand haar agter in ’n bakkie na ’n hospitaal neem vanwaar sy die volgende dag na ’n kwarantynplek – ’n hotel in die noordelike voorstede – geneem is.

“Dit het vir my so ’n goeie gevoel gegee dat ek vir hulle iets kon doen.”

‘Vir alles aansoek gedoen’

“Ek het besef as mense in Manenberg besmet raak, gaan ons probleme hê want dis ’n baie dense plek.”Foto: Verskaf

Randall klink effens verleë wanneer hy sê hy wou as kind op die “vulliskar” gewerk het.

“Dit het vir my baie aantreklik gelyk. My ma sê ek was altyd ontsettend kwaad as hulle my nou nie wakker gemaak het as die vulliskar gekom het nie. Ek was seker so vier jaar oud.

“Die manne hang agter aan die ding en die trok rý. Toe ek nou ’n bietjie ouer word . . . Jy hoor maar nou hoe praat die mense in die taxi: Dis goed om vir die staat te werk; jy’t benefits en subsidies en sulke goed.

Een van my pa se vriende was ’n dokter en ek het maar gesien hierdie outjie koop nice goed vir almal.

“Kyk, ek het mos nou geen dokters geken toe ek opgegroei het nie tot ek in die hoërskool was. Een van my pa se vriende was ’n dokter en ek het maar gesien hierdie outjie koop nice goed vir almal – hulle het ’n gathering en dan sê hy nee, moenie worry nie, hy gaan sommer die hele bill betaal.

“So, dít het ook vir my aandag getrek. Maar ek het nooit gedink ek sal ’n dokter wil wees vir daai redes nie. Ek het net gedink: Oukei, ek is nou in gr. 11 en die skool dring nou aan jy moet nou kom met ’n plan van wat jy wil doen. So, ek het maar vir alles aansoek gedoen. Ek het vir tandheelkunde aansoek gedoen, vir LLB, vir medies, vir BSc. En ek het basies vir alles ingekom, en toe ek nou vir my pa sê: ‘Luister, ek is nou in vir alles,’ toe sê hy: ‘Nee, nee, jy gaan vir ’n dokter.’ Toe sê ek: ‘Oukei, cool, dis oukei met my.’

“Ek het nie presies geweet wat ’n dokter doen en wat die studie behels nie, maar ek het maar besluit goed, dit is wat ek gaan doen, en ek is vandag nie spyt nie.”

Meer oor:  Nelson Mandela  |  Wes-Kaap  |  Manenberg  |  Kaapse Vlakte  |  Koronavirus  |  Covid-19-Pandemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.