Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Avontuur maak nuwe wêrelde oop

Die avontuurlustige Oos-Kaapse skrywer Annelie Botes (62) deel dikwels haar wel en wee met haar lesers en met meer as 17 boeke agter haar naam kan sy dalk vir sommige lesers meer soos ’n verlangse familielid of vriendin voel. Willemien Green het met haar gaan gesels oor haar jongste roman.

Annelie Botes in haar tuin in Port Elizabeth. Foto: Salvileo Meyer

Al is die meeste lesers redelik bekend met jou agtergrond, wie is jou hartsmense?

Christiaan Rudolph Botes (Chris, Jannatjie, my Innigste) en ek is bymekaar vandat ek 16 jaar oud was, dus vier jaar kort op ’n halfeeu.

Rudolph en Nasti, ons kinders, bly permanent in Salisbury in Engeland.

Hulle is altwee Britse burgers en werk in die voedselbedryf, is nie getroud nie en het geen voorkinders of ongelukkies nie.

So by so is ons nie oupa en ouma van tweevoet-kleinkinders nie, maar wel van Sarel, ’n grys strepieskat wat uit die veld hier aangekom het.

Hy leef ’n koninklike lewe hier in die koshuis by sy oupa en ouma met die klem op kós.

Annelie Botes is bitter lief vir tuinwerk, of sy nou hartseer of verheug voel, daar stort sy haar hart uit! Foto: Willemien Green

Is dit die reis wat die boek Kammaland geïnspireer het, of loop hy al voor dit in jou kop rond?

Dit was voor die reis nooit in my gedagtes om ’n boek daaroor te skryf nie. Dit was te intiem. Vir ons was dit nie ’n vakansie as sulks nie.

Ons het beslúit om te gaan bestek opneem van ons lewens tot hiertoe. Ons wou sonder die normale daaglikse stres en doenighede vooruitdink oor wat ons nog wil en kan en móét doen in die 15 aktiewe jare wat voorlê.

Ons wou ons uithouvermoë en kragte toets, sodat ons ons nie misgis met waartoe ons nog fisiek in staat is nie.

Juis daarom het ons in die Europese herfs gegaan, en reguit in die bibberende winter ingevaar.

Toe verkarring Melt Myburgh van Penguin Randomhouse, ’n goeie kennis van dekades, my om ’n boek te skryf.

Die storie gaan oor twee mense, óns, wat vir drie maande in ’n klein spasie met mekaar moes saamleef.

Daar was dinge waarvoor ons mekaar moes vergewe en dinge wat ons by die naam moes noem waarvoor ons mekaar nooit sal kan vergewe nie.

Ons wou sinvol dink oor die tyd wat vir ons oorbly.

Eintlik is dit die storie van enige huwelik.

Wat was die lekkerste, slegste of hartseerste van die reis?

Verreweg die aangenaamste was die gevoel van veiligheid en onbedreigdheid; diefweringloos en alarmloos.

Ons het nooit eens die slot aan ons bootdeur snags toegedruk nie.

Die slegste was die gevoel van onheil wat ons beetgepak het wanneer ons gedink het dat ons ná die reis moes teruggaan na ’n lewe van vullishope en vandalistiese protesoptogte waar ons elke dag oor ons skouers moet loer vir ’n dief in die nag.

Annelie gesels met oorgawe. Op die tafel is ’n kopie van kaar boek, Kammaland en ’n brandende kersie wat sy elke oggend vir haar kinders aansteek.Foto: Willemien Green

Werk ’n mens nie op mekaar se senuwees in so klein ruimte nie?

Ons het gekook, skoongemaak, kaart gespeel, die ysterstofie gestook, onderhoudswerkies gedoen, eende en swane gevoer en fynhout gaan maak in die woude.

Dit was nooit bedoel om ’n reis van energieke ervarings te wees nie, maar eerder ’n reis van stilte en oordenking.

Ek kan nie herroep dat ons ooit op mekaar se senuwees gewerk het nie.

Was julle nie benoud so alleen op die boot in ’n vreemde land nie?

Daar was maar benoude oomblikke soos wanneer ons skroeflemme in die riete beland het of toe ons vir dae aaneen vasgesneeu was.

Maar Chris is ’n waenhuisman en hy kon alles fieks en die boot met passie op koers hou.

Die bangheid wat die vrees vir jou lewe behels, het egter nie vir een minuut om ons kom ronddraai nie.

Dié tipe ervaringe besorg my eerder ’n gevoel van opwinding. Nuwe horisonne van wêrelde wat ek nie ken nie.

Die ou gryse sê ek sal die duiwel aanvat vir ’n pot poker, en dan sal ek boonop die duiwel sit en terg.

As jy Annelie Botes nie as ’n skrywer ken nie, sou jy haar des moontlik iewers in die Baai of elders in die land tydens ’n geleentheid die orrel sien speel het! Foto: Salveleo Meyer

Hoe hanteer jy dit wanneer uitgesprokenheid jou in die pekel laat beland?

Ek het al dikwels in my lewe probeer ontrafel wat is uitgesprokenheid nou eintlik.

As ’n mens alewig alles moet wegsteek wat in jou gedagtes ronddwarrel, of die waardes waarvan jý oortuig is se mond moet toedruk, leef jy ’n lieg.

Níks wat ek óóit gesê of kwytgeraak het – in terme van my waardestelsel – is nie vir mý die waarheid nie. Valsheid en voorgee is iets wat ek haat; dit laat my sleg slaap en besmet voel.

Wanneer ek vir my uitgesprokenheid gekritiseer word, leef ek net voort op die pad van my eie waarheid.

Vele mense maak mooipraatjies en bak modderkoekies as dit kom by hulle oortuiginge.

Hulle wéét hulle doen dit om ander mense te plesier, of om een of ander voordeel daaruit te put. Ek kán nie só leef nie, al probeer ek ook.

Is jy ’n geordende skrywer wat elke dag ’n paar uur opsy sit en skryf?

Nie noodwendig nie, want ek het ’n duisend ysters in die vuur en soms hardloop die dag met my weg, maar normaalweg is ek hondgetrou as dit kom by dissipline, sperdatums, navorsing en om letterlik my agterent te sit en bloedblase werk.

Hoe verwerk jy negatiewe kritiek?

As dit bitsig of geniepsig of onnodig afbrekend is, kry ek net die persoon wat dit gesê of geskryf het só jammer. Daar is ’n spreekwoord wat sê: Some people try to be tall by cutting off the heads of others.

Ek distansieer my regtigwaar van diesulkes, want hulle ruik na riool. As die kritiek net doodgewone kritiek is, kyk ek altyd of die persoon nie straks ’n punt beet het nie en probeer daaruit leer en wyser word. Maar ek erken, dit is nie altyd maklik nie.

Het jy stokperdjies?

Ek hou só daarvan om op my bed te sit en brei en kralewerk doen.

Ons tuin is my heiligdom.

Huisskoonmaak, gordyne was, meubels olie en sulke “sleurtake” is vir my ’n tonikum.

Ons woon ook gereeld musiekkonserte in die Veremarksaal en Nelson Mandela-Universiteit se ouditorium by.

En ek sal my pinkie by die tweede lit laat afkap, sonder verdowing, vir soesji by Toro.

Maar ek is in wese ’n huishen, en soms kan ek vir ure wegraak in die kuberruimte.

Dan soek ek feite oor dinge waarvan ek meer wil leer.

Ek het ’n brandende voorkeur vir die sielkunde en geskiedenis, maar nie die geskiedenis soos ons dit op skool geleer het nie, eerder emosionele stories uit die geskiedenis van die mensdom.

Watter avonture en boeke wink in die toekoms?

Penguin Randomhouse gee in Oktober volgende jaar ’n samestelling van my rubriekwerk uit.

Daar is ook klaar kontrak geteken vir ’n roman wat hopelik in Oktober 2021 gepubliseer sal word, maar hierdie keer gaan ek nie vooraf daaroor praat nie, al sê die ou gryse ek is te loslippig om so ’n geheim te kan hou.

In die toekoms sou ons graag met ’n motorfiets in die berge van Indië gaan rondswerf én ons wil met ’n motorhome die platteland van Italië van bo tot onder toer.

Ek sou ook graag vir ’n jaar in ’n igloe in Ysland wou bly, en met ’n bossiebesem gaan werf vee by ’n sendingstasie in Midde-Afrika, maar die gryse sê ek is van my sinne beroof.

Daarby gesê, Kammaland is ’n boek wat diep-diep uit my milt en pankreas gebore is.

Sommige dae en nagte het ek by my rekenaar gesit en huil, en wou die hele teks uitvee, maar dis geen unieke gevoel nie; die meeste skrywers voel soms só.

Waarom het jy die opbrengs uit die kaartjieverkope vir jou boekbekendstelling aan Care Haven geskenk?

Care Haven het toevallig via ’n afgetrede vriendin wat op die bestuurspan is onder my aandag gekom. Dit het my beskaam dat ek nie eens van hulle bestaan geweet het nie. ’n Bestuurslid van Care Haven Psigiatriese Sentrum in die Baai het my genader om as spreker by ’n fondsinsamelingsfunksie op te tree en só het dit gekom dat Care Haven se bestuur dit op hulle skouers geneem het om ’n bekendstelling vir Kammaland te organiseer.

>>Kammaland is landwyd by boekwinkels te koop teen R280 per kopie, Jy kan dit ook by Annelie self bestel, geteken, geboodskap en saam met ’n roosmaryntakkie uit haar tuin. “Die poskantoor se posdonkies is heeltemal betroubaar, hulle loop net dralerig deur die bloedwarm Karoo,” meen Annelie. Stuur ’n epos aan annelie1@telkomsa.net vir meer inligting ook haar boeke. Stuur epos aan Care Haven by info@carehavenpe.co.za of skakel 041 585 9334 vir meer inligting oor dié organisasie.

Kammaland is landwyd by boekwinkels te koop teen R280 per kopie, Jy kan dit ook by Annelie self bestel, geteken, geboodskap en saam met ’n roosmaryntakkie uit haar tuin. “Die poskantoor se posdonkies is heeltemal betroubaar, hulle loop net dralerig deur die bloedwarm Karoo,” meen Annelie.Stuur ’n epos aan annelie1@telkomsa.net vir meer inligting ook haar boeke. Stuur epos aan Care Haven by info@carehavenpe.co.za of skakel 041 585 9334 vir meer inligting oor die organisasie..
Meer oor:  Annelie Botes  |  Vraag-En-Antwoordsessie  |  Profiel  |  Skrywer  |  Kammaland
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.