Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Ballen en die skadu van die dood

Die internasionaal gevierde kunstenaar Roger Ballen sê aan Murray La Vita hy buit nie die arm wit mense, wat hy dikwels in sy foto’s gebruik, uit nie.

Dié foto van Roger Ballen is in 2004 geneem en heet “Alter ego”. Foto: Marguerite Rossouw

Ons weet nie wat die toekoms inhou nie en ons lewens word deur chaos bepaal, deur dinge wat ons nie kan beheer nie, sê Roger Ballen.

Die Skype-gesprek met Ballen, wat in Johannesburg is, vind plaas teen die agtergrond van die boek The World According to Roger Ballen, met as medeskepper Colin Rhodes. Dit is ’n monografie wat na Ballen se loopbaan kyk in die wyer kulturele konteks, nie net na sy fotografie nie.

Die boek is gepubliseer om saam te val met ’n groot uitstalling van sy werk wat tot 31 Julie in die Halle Saint Pierre in Parys te sien is.

Ballen het regdeur sy loopbaan nog altyd een artistieke doel nagestreef: om uitdrukking te gee aan die menslike psige; om die verborge kragte wat ons vorm, visueel te verken, skryf Rhodes.

“Wanneer ek terugkyk op my belangstellings in my tienerjare en twintigs – my eerste graad was in die sielkunde en die rolprent [Ill Wind] wat ek in 1972 in Berkeley, Kalifornië, gemaak het, was oor ’n Beckett-karakter in Berkeley en San Francisco . . .

“Daar was nog altyd hierdie belangstelling in die menslike kondisie, in sielkunde en in die verborge krag van die gedagtewêreld, en om die enigmatiese, misterieuse wese wat ons ons-‘self’ noem, te deurgrond,” sê Ballen.

“Die werk word nog altyd deur ’n eksistensiële behoefte gerig en nié ’n politieke, ideologiese of maatskaplike beskouing nie. Dit word nog altyd voortgedryf deur Roger Ballen se psige [mind].”

The World According to Roger Ballen word deur Thames & Hudson uitgegee.

In The World According to Roger Ballen word daar verwys na eggos van die teater van Samuel Beckett in Ballen se werk: verwarring en vervreemding.

“Laat ek eers met jou praat oor chaos; dit is ’n baie belangrike kwessie in die menslike kondisie. Ons het wetenskap geskep, ons het tegnologie geskep, en ons doen al die moontlike om wanorde af te weer, maar die lewe is steeds wesenlik wanordelik, of dit nou siekte is of ’n ongeluk of iets wat gebeur met iemand wat jy ken, of die dood.

“Soveel van wat ons doen, is daarop gerig om orde te midde van wanorde te skep. Dít deurdring die argetipiese, oerpsige. Ook diere word daardeur gerig en dit kom byvoorbeeld tot uiting in hul pogings om hulself te beskerm deur tonnels onder die grond te grawe of hulself te kamoefleer.

“So, die kwessie is om die oerpsige daarvan bewus te maak dat wat dit ook al besig is om te doen ’n fasade is en dat onder die oppervlak daarvan ’n vrees lê dat dinge kan skeefloop.

“In hierdie foto’s sien jy dus dinge waarvoor ’n mens in die normale samelewing terugdeins, of dit nou ’n rot is of smerige mure of mense wat betrokke is in ’n situasie wat irrasioneel en absurd is.”

Die werk is omgeef van verlatenheid, verval, gevaar. Wat by herhaling voorkom, is vuil gesigte, voete, en beddegoed; diere soos rotte, voëls en slange saam met kinders; stukke draad – saamgekoek en verwring; tekeninge en krabbelings op mure; gebreekte speelgoed.

“Superman”, 2018. Foto: Roger Ballen

’n Legkaart

Is die doel van sy sonderlinge kuns ook om selfinsig te kry?

“Die doel is . . . ’n Mens kan nouliks die ‘self’ definieer; die self mag dalk ook ’n illusie wees. ’n Mens sou kon sê die doel is om dele van die legkaart bymekaar te voeg welwetende dat jy die legkaart nooit sal voltooi nie.

“So, dit keer weer terug na die teater van die absurde. Wanneer ons praat van Roger Ballen se teater van die absurde of die Teater van die Balleneske, word dit oorheers deur die konsep van absurditeit.

“Dit resoneer met die werk van teaterskeppers soos Beckett, Ionesco, Pinter en filosowe soos Camus en Sartre. Dit is diepgaande konsepte wat in die werk vervat is, konsepte wat ek dink nou uit kontemporêre kuns verdwyn het."

Die Antwoord en ’n fotografiesentrum

Ballen het ’n beduidende invloed op die estetika van die groep Die Antwoord. Hy het die afgelope ruk as artistieke regisseur opgetree vir ’n rolprent waaraan hulle werk en ’n dokumentêr word ook beplan.

’n Projek waaroor hy baie geesdriftig is, is die Roger Ballen Centre for Photographic Arts wat in Johannesburg in aanbou is.

“Die gebou is so te sê voltooi. Daar sal ’n uitstalruimte wees vir belangrike foto’s wat resoneer met Afrika, met my estetika – foto’s wat sielkundige betekenis het.

“Ek het nou al vir 15 jaar die Roger Ballen Foundation en ek hoop die sentrum sal mense help om te verstaan wat fotografie kan wees en dat dit ook vir hulle prikkelend sal wees.”

’n Oppervlakkigheid seëvier in teenstelling met die diepgaande verkennings waarmee hy hom in sy foto’s, installasies en rolprente besig hou.

“Ek word oor ’n paar maande 70, so ek moet sê wat ek wil en nie meer ’n politiek korrekte persoon wees nie. Dit is ’n groot probleem sover as wat ek kan sien.”

Die kunswêreld hou sigself besig met mediakwessies; kwessies in die kunswêreld word deur die media geskep.

“Sonder die media sou daardie kwessies nie deel van die wêreld van die kunste gewees het nie.”

Die outsiders

Ballen het in Amerika grootgeword waar hy ’n graad in sielkunde verwerf het, maar later as geoloog gekwalifiseer het – ’n beroep wat hy tot ’n aantal jare gelede nog beoefen het. Hy woon sedert 1982 in Johannesburg.

In die inleiding tot Dorps, foto’s wat geneem is tydens sy reise op die Suid-Afrikaanse platteland tussen 1982 en 1986, skryf Ballen: “I am drawn by the sense of decay, isolation and eccentricity embodied by the dorps.”

Ek vra hom hieroor uit.

“Addict”, 2014. Foto: Roger Ballen

“Ek leef nou al vir meer as 40 jaar in Suid-Afrika en as ek na die lewensomstandighede kyk van die [wit]mense in Dorps en Platteland – hul lewensomstandighede is veel beter as wat ek al onder ander mense teëgekom het.

“Maar ek het nooit in armoede belang gestel nie; waarin ek belang gestel het, was die feit dat daardie mense outsiders is; mense wat in ’n situasie leef waar hulle voel of hulle geen beheer het nie en daar niemand is wat hulle beheer nie – eerlike mense.

Dorps is die belangrikste projek van my lewe omdat dit die grondslag vir die res van my werk gelê het. Ek het ’n soort argetipiese persoon gevind met wie ek sou voortgaan om te werk.

“Roger in the family room”, 2014. Foto: Marguerite Rossouw

“So, dit het nie net daaroor gegaan om arm mense te ontmoet wat aan die buitewyke van die wit samelewing leef nie. Dít was niks in vergelyking met wat ek in plekke soos Kalkutta of Nairobi teëgekom het nie. Op die ouderdom van 32 het ek al heelwat van die wêreld gesien. Ek het in die vroeë sewentigs van Kaïro af Kaapstad toe geryloop en later van Istanbul na Nieu-Guinee. Later het ek ook in Suid-Amerika gereis.”

Attie en Annie

Ons praat oor art brut en hoe sy werk daarby aanklank vind.

“Art brut is kuns wat uit die samelewing kom en nie vir die kunsmark gemaak is nie. So, die omgewings en die mense waarmee ek werk . . . Indien hulle op die een of ander manier daartoe bygedra het dat my werk as art brut beskou word, is dit toevallig.

“Ek werk in hierdie plekke wat gedomineer word deur randfigure; mense wat nie in die samelewing inpas nie, hetsy gevangenes of mense wat vlug van hul mans of vroue, of mense wat uit ’n psigiatriese inrigting kom.

“Die plek is dus nie net ’n plek wat aan die rand van die samelewing is nie, dit is ook ’n psigiese ruimte – ’n periferale deel van die psige waarmee mense nie gemaklik voel om in aanraking te kom nie; ’n plek wat die onderdrukte deel van die psige of die onbewuste aanraak.”

Die eerste kleurfoto’s

Ballen meen The World According to Roger Ballen is belangrik vir sy loopbaan.

“Dit is die eerste keer dat iemand die plekke waarin ek werk, gedokumenteer het en ook wys hoe ek besig is om te werk. Dit is ook die eerste keer ooit dat ek kleurfoto’s publiseer.

“Mense in Suid-Afrika het vir lank wanneer hulle die naam Roger Ballen hoor gedink aan die foto’s in my boek Platteland. Maar Platteland is al 25 jaar oud en my werk het sedertdien ook uitgebrei na videografie, tekeninge en skilderwerk. Ek is ’n multimediakunstenaar. Dus sal die idee van my as ’n fotograaf in Suid-Afrika radikaal verander wanneer daar na The World According to Roger Ballen gekyk word.”

In die boek word melding gemaak van ’n Attie en Annie wat Ballen in sy werk gebruik. Rhodes verwys na Attie (hul vanne word nie genoem nie) as Ballen se assistent.

“Ek ken Attie al van 1995 af. Ek het ’n klomp mense soos Attie en Annie wat vir my werk. Party dra goed rond, ander teken, ander help skoonmaak. Oor die jare het ek met tot 20 of 25 mense gewerk.

“Daar is diegene wat sê ek buit hierdie mense uit, maar nie één persoon saam met wie ek al gewerk het, het dit nog ooit gesê nie. Hulle hou almal van my, en jy kan nie met dié vlak van die samelewing werk indien jy nie met hulle oor die weg kom en daar nie vertroue is nie.

“Daar is ook ’n wedersydse voordeel, wat dit ook al mag wees – ek wat doktersrekeninge betaal, vir opvoeding betaal of kos koop, of wat ook al.

“Een van die dinge wat Attie doen, is om te teken. Ek hou van sy tekeninge; soms vra ek hom om van die tekeninge te teken wat in die tonele voorkom. Annie teken ook. En sy brei.”

“Mimicry”, 2005. Foto: Roger Ballen
“Superman”, 2018. Foto: Roger Ballen

Hulle verskyn ook in van die foto’s – besig om te teken en te brei. Volgens Ballen woon hulle in ’n huisie wes van Johannesburg.

In Ballen se huis

Die boek bevat ’n aantal foto’s wat Ballen se artistieke regisseur Marguerite Rossouw van hóm as deel van installasies of ’n “stel” geneem het.

“In ’n sin is die instellasies deel van my eie ‘huis’. Dit is vir my interessant om myself in my eie huis te sien, en vir haar om oomblikke te vind in hierdie installasies waar die foto’s nie net portrette van mý is nie, maar ook in die algemeen interessant is.

“Deur myself in ’n installasie te plaas en Marguerite my dan te laat afneem, hoop ek sy vind ’n oomblik wat nie net Roger Ballen in sy eie stel dokumenteer nie, maar dat sy ook ’n foto kan neem wat vir ander mense betekenis het al weet hulle nie wie ek is nie.”

Die dood van sy ma

Ballen se ma, Adrienne, het vir die Magnum-fotoagentskap in New York gewerk en later ook ’n fotogalery in dié stad bestuur. Adrienne het foto’s van beroemde fotograwe in hul huis gehang en van hulle, en ook ander kunstenaars, het gereeld aan huis gekom.

Rhodes skryf dit was vir Ballen ’n eksistensiële krisis toe sy ma in 1973 aan kanker sterf. Wat hulle gemeen gehad het, was kreatiwiteit en ’n weiering om tot Amerikaanse middelklas-, voorstedelike waardes te konformeer.

“Roger’s Roger”, 2019. Foto: Marguerite Rossouw

“Now there was a void in his life that, in spite of his studies in psychology, he could not heal at the time – and which, I suspect, remains unresolved and only covered up,” aldus Rhodes.

Ballen: “Ja, my ma het my aan fotografie bekend gestel . . . En toe sterf sy aan kanker toe ek 22 jaar oud was. Om in voorstedelike Amerika te woon was soos om in ’n kunsmatige, plastiekomgewing te wees – jy konfronteer nie dinge soos die dood of hongersnood of van die dinge wat jy in my foto’s sien nie.

“Nou is jy na aan jou ma en skielik verdwyn sy en jy het nog nooit voorheen met die dood kennis gemaak nie. Plotseling daal hierdie donkerte oor jou neer. Dit tref jou in die kern van jou wese.

“Die doodsinstink of die donkerte van ’n sterfte en hoe dit die lewe rig, het toe meer dominant geword in my denke . . . En dit is ook wat ek deur my foto’s oordra; die feit dat lewe enige oomblik uitgedoof kan word en uiteindelik uitgedoof sál word. Die skadu van die dood is altyd agter jou . . . Jy kan nie daarvan ontsnap nie.”


Meer oor:  Murray La Vita  |  Fotografie  |  Die Antwoord
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.