Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Barend Strydom en die ontwaking van 'n Valk

Bradley Steyn was ’n dubbele agent wat vir sowel die veiligheidspolisie as die ANC gewerk het. Hy vertel aan Murray La Vita van hierdie onstuimige tyd en hoe hy uiteindelik landuit moes vlug.

Bradley Steyn praat in Kaapstad oor sy boek Undercover with Mandela’s Spies. Foto: Jaco Marais

Die 17-jarige Bradley se lewe het onherroeplik verander toe hy die middag van 15 November 1988 ná ’n rugbyoefening oor Strijdomplein in Pretoria stap om sy ma in die Staatsteater te gaan ontmoet waar sy gewerk het. Hy sou die aand saam met haar ’n uitvoering van die ballet Giselle bywoon.

Steyn, wat deesdae in Los Angeles, Kalifornië, woon en daar as veiligheidskonsultant en entrepreneur werk, is in Suid-Afrika om sy boek Undercover with Mandela’s Spies: The Story of the Boy Who Crossed the Square, bekend te stel wat hy saam met Mark Fine geskryf het.

Ons sit op ’n Maandagmiddag in ’n stil hoek van die kuierplek en restaurant The Athletic Club & Social in Kaapstad, wat aan ’n vriend van hom behoort.

Steyn is ’n groot, forse man, maar daar is iets seunsagtig aan hom. Dalk is dit die blonde krulhare, blou oë en ligte raam van sy Oakley-bril. Of die sagte stem waarin hy vertel van die dag waarop hy sy onskuld verloor het en sy stryd met posttraumatiese stressindroom (PTSD) begin het.

Bradley Steyn (17) op die voorgrond met die kop van Kind Eyes in sy hande pas nadat die man op Strijdomplein deur Barend Strydom geskiet is. Foto: Verskaf

“Daar was ’n ou wat ek in die boek Kind Eyes noem . . . Hy wou my beskerm en aan my skuiling bied. Hy het my geroep en vir my gesê: ‘Kleinbaas, kom hierso.’ Hy het agter hierdie bankie langs ’n vullisblik weggekruip en ek was by die muur wat langs die tuin was en ek het deurgekyk en daar was so ’n wandelpaadjie en toe sien ek hoe skiet [Barend] Strydom hierdie swart mense wat net op die bankies sit en eet en met hul girlfriends sit en praat of . . .

“Toe klim ek agter die bankie in en ek lê daar saam met Kind Eyes en nog mense. Ek het veilig gevoel want Kind Eyes was nou daar en hy het vir my gesê: ‘Boetie, moenie worry nie; ons is orraait.’

“So hier is hierdie jong swart man wat nou sien hoe skiet die wit man sy mense dood en hy wil ’n wit outjie beskerm.

“Ek draai toe om om iets in my kitbag te soek en toe ek terugdraai, is hy weg en toe sien ek hy hardloop in die rigting waarheen Strydom geloop het. Toe staan ek op en hardloop agter hom aan. En toe ek om hierdie hoekie kom toe sien ek Strydom staan oor hom en hy skiet hom. Toe hardloop ek na hom toe en neem sy kop in my hande en sit dit op my skoot . . . Toe Strydom sien ek is wit het hy sy wapen laat sak wat hy aanvanklik op my gerig gehad het.

“Ek vra toe vir Strydom: ‘Hoekom doen jy dit?’ Hy sê toe: ‘Ek doen dit vir die toekoms van wit Suid-Afrikaners. Ons moet ons land reinig.’”

Bloed aan sy hande

“Die PTSD het ingeskop toe ek by die huis kom en in die stort staan en die bloed onder my vingernaels en van my hande af probeer skrop.” Foto: Jaco Marais

Strydom het toe omgedraai en weggedraf.

“Ek het na Kind Eyes afgekyk en sy oë was nie meer ‘kind’ nie . . . Hy was angsbevange. Strydom het hom in die long en in die maag geskiet en hy het gesukkel om asem te haal.

“Dit was baie moeilik vir my . . . Ek was jonk . . . Ek het vir hom in sy oë gekyk en ek wou net vir hom sê dit is oukei, maar ek kon sien dit is ’n baie, baie ernstige situasie.

“Ek onthou net my hande . . . My vingers het aan mekaar vasgesit van die bloed. Die bloed het aanvanklik uit sy wonde gespuit en toe sit ek my rugbytrui daaroor. Maar die bloed het aanhou uitkom, so toe het ek my vingers in die koeëlgate gedruk.”

Hy het gevoel asof hy in ’n “dwaal of ’n droom” is.

Hy was te swak om te praat, maar hy het geglimlag en my hand gedruk. Ons het die hospitaal verskeie kere daarna gebel, maar nooit uitgevind wat van hom geword het nie.

“Die PTSD het ingeskop toe ek by die huis kom en in die stort staan en die bloed onder my vingernaels en van my hande af probeer skrop. Hoe meer ek geskrop het, hoe meer verward en ontsteld het ek geraak.

“Ek het na sy bloed gekyk wat op die wit vloer van die stort val en wegspoel. Weens die emosionele band wat ek met Kind Eyes gevorm het, het dit vir my na verraad gevoel om sy bloed te verwyder. Dit het gevoel asof ek hom in die steek laat. My lewe het daarna verander. Ek kon nie verstaan hoe iemand so iets aan iemand anders kon doen nie.”

Sy pa, Herman, het hom die volgende dag hospitaal toe geneem om Kind Eyes te gaan besoek.

“Hy was te swak om te praat, maar hy het geglimlag en my hand gedruk. Ons het die hospitaal verskeie kere daarna gebel, maar nooit uitgevind wat van hom geword het nie.”

Toe Steyn in 2018 in die nasionale argief in Pretoria gaan soek, kon hy ook nie ’n antwoord kry nie.

“In die kartonhouer was daar ’n foto van my op die plein met sy kop in my hande, maar wie van die slagoffers wie se besonderhede ook in daardie houer was, was Kind Eyes?”

Dit is vandag steeds sy doelwit om die agt slagoffers en die oorlewendes van die Strijdomplein-slagting behoorlik te gedenk. Agter in sy boek is daar ’n addendum getiteld “In Memoriam” waarin die name van dié mense verskyn soos wat dit in hofdokumente aangeteken is.

Uitsmyter en agent

Op die voorblad van Undercover with Mandela’s Spies is (van links) Jeremy Vearey, Neil de Beer, André Lincoln en Bradley Steyn.

Weens die trauma van die Strijdomplein-slagting het Steyn nie matriek voltooi nie. Hy het by die Vloot aangesluit en toe hy daar ontslaan word “omdat hulle my nie kon hanteer nie”, het hy in Kaapstad ’n uitsmyter geword. Kort voor lank het sy paaie met dié van mense soos Cyril Beeka en die oud-reccie Neil de Beer gekruis en het hy vir De Beer se veiligheidsmaatskappy Project Group begin werk. De Beer het uiteindelik vir hom soos ’n broer geword.

Steyn het mettertyd uitgevind van die take wat hy saam met De Beer uitgevoer het, was in opdrag van die veiligheidspolisie.

“Dit was in 1990 en die skrif was aan die muur dat die ANC gaan oorneem en planne moes deur die intelligensiegemeenskap gemaak word om dit te hanteer. Dit was ’n geval van hier kom die swart gevaar en ons moet nou geheime wegsteek en verbrand.”

Steyn beskryf in die boek ’n keerpunt wat hom en De Beer se lewe verander het en uiteindelik daartoe gelei het dat hulle vir die ANC as agente begin werk het met hom wat die kodenaam Hawk gekry het.

“Ons het een nag [in opdrag van maj. Andy Miller, hul baas in die veiligheidspolisie] die deur afgeskop van ’n shack in Tembisa en ’n ou [’n ANC-kader wat hy Stephen Kumalo noem] daar uitgetrek . . .”

Terwyl ek met soveel woede en verwarring gevul was, het ek nie behoorlik geweet wat ek doen nie; ek was net kwaad . . .

Hy kyk na sy arm en sê: “Ek kry nou nog hoendervel as ek daaraan dink. Hy het na my met my Rayban-sonbril met die spieëllense gekyk en gesê: ‘Jy kan met my doen wat jy wil. Ek kan sien dat jy my kan pap moer. Ek weet jy sal elke been in my lyf breek. Maar voordat jy dit doen, luister na wat ek te sê het. Daar is ’n dokument genaamd die Vryheidsmanifes en dit is ’n dokument wat die ANC ontwikkel het en dit is ’n dokument vir alle Suid-Afrikaners en hierdie is ’n land vir alle Suid-Afrikaners.’”

Dit het vir hom gevoel asof sy interne kompas skielik anders gekalibreer is.

“Ek het gevoel ek het ’n roeping. Voorheen het ek gedink ek is ’n breker wat saam met die veiligheidspolisie rondgehardloop het. Ek het gevoel . . . Watter jong ou wil nie ’n spioen wees nie?

“Ja, nou het ek my ware roeping gevind, want wat Strydom gedoen het, het my op my volgende hoofstuk voorberei. En nou kon ek iets opbouends en nuttig in my lewe doen.

“Terwyl ek met soveel woede en verwarring gevul was, het ek nie behoorlik geweet wat ek doen nie; ek was net kwaad . . . Skop ’n deur af; gryp ’n swart ou en gooi hom in die kar en neem hom weg vir ondervraging – máklik.

“Maar toe ek hoor Suid-Afrika is vir alle Suid-Afrikaners, maak nie saak wat hul kleur is nie, het ek hoop gevind en het ek gedink: Miskien kan ons almal vreedsaam saamleef in hierdie ongelooflike mooi land.”

Vearey en Lincoln

Genl.maj. André Lincoln, Neil de Beer, genl.maj. Jeremy Vearey en Bradley Steyn in Kaapstad op die bekendstelling van Steyn se boek. Foto: Verskaf

Deur ’n sameloop van Le Carré-agtige omstandighede het Moseneke, die skuilnaam van ’n man wat later ’n hoë pos in die nuwe regering se intelligensienetwerk sou beklee, vir Steyn en De Beer op ’n dag by die Wimpy in Seepunt aan Jeremy Vearey en André Lincoln voorgestel wat toe deel was van die ANC se intelligensiestrukture.

Onder Vearey en Lincoln, wat vandag polisiegeneraals is, se leiding het Steyn en de Beer ANC-operateurs geword wat belangrike inligting ingewin het in ’n donker en gevaarlike tyd van Derde Mag-bedrywighede en verregse gekonkel.

Steyn skryf Lincoln het later aan hom gesê daar was ’n komplot om Mandela op sy presidensiële inhuldigingsgeleentheid te vermoor en dat inligting wat hy (Steyn) en De Beer verskaf het, gehelp het om die sluipmoord te keer.

Hoewel Steyn vandag steeds ’n vurige ANC-ondersteuner is, is hy teleurgesteld “oor waar ons vandag is”.

Ek het nie die land verlaat omdat ek wou nie; ek móés anders het ek met ’n koeël in my agterkop opgeëindig.

“Die nalatenskap van al die dapper mans en vroue wat hul bloed vir die land gestort het, is besmet deur staatskaping en gulsigheid. Maar ek dink pres. Cyril Ramaphosa gaan hom ongelooflik goed van sy taak kwyt. Ek dink die land kán regkom onder die regte leierskap.”

Nog ’n kwessie wat hom ontsettend pla, is die vlakke van misdadigheid in die land. Sy eie swaer John Bosman is immers verlede jaar op hul Laeveldse plaas vermoor.

Dit is vir Steyn belangrik dat mense verstaan hy het nie sy rug op Suid-Afrika gekeer nie. Hy het met die hulp van die ANC gevlug toe sy identiteit bekend word nadat hy die World Apartheid Movement (WAM) as ANC-spioen geïnfiltreer het.

“Ek het nie die land verlaat omdat ek wou nie; ek móés anders het ek met ’n koeël in my agterkop opgeëindig, of is ek soos Cyril Beeka afgemaai.

“Maar die een goeie ding in ons land is dat ons kaders van die kaliber van genl.maj. Vearey en genl.maj. Lincoln het. Hulle is waarskynlik die skerpste breine in die hele intelligensiegemeenskap. So, daar is hoop.”

Besoek aan Barend

“Ek het nie die land verlaat omdat ek wou nie; ek móés anders het ek met ’n koeël in my agterkop opgeëindig.” Foto: Jaco Marais

Terwyl Steyn verlede jaar in die land was om navorsing oor die slagoffers van die Strijdomplein-slagting te doen het hy deur sy vriende in militêre inligting uitgevind waar Barend Strydom hom bevind. Strydom is in 1992 as deel van ’n amnestieproses vrygelaat.

“Hy het ’n raambesigheid . . . Ek het soontoe gegaan en met hom gaan praat onder die voorwendsel dat ek besig is om ’n gastehuis oop te maak . . . Ek het toe na hom toe gegaan met prente van De la Rey en Bloedrivier en al hierdie lieflike Afrikanerkunswerke, en hom gevra om dit te raam.

“Ons het daar gesit en praat . . . Ek dink hy het ’n gevoel gehad wie ek is. Ek het nie vir hom gesê: ‘My naam is Bradley Steyn; ek is die seun wat oor Strijdomplein gestap het; ek is die kind op wie jy jou wapen gerig het; ek is die kind vir wie jy gevra het hoekom probeer ek hierdie swart man help nie’

“Ek wou nie hierdie dinge vir hom sê nie want daar was twee mense saam met my en ek wou hulle nie in gevaar stel nie.”

Hoe het dit gevoel om in sy teenwoordigheid te wees?

“Ek het naar gevoel. Ek weet hy het geen spyt oor wat hy gedoen het nie.

Ter wille van ons land dink ek dit is beter om te debatteer en te praat.

“Ek is nou [in teenstelling met die seun van destyds] ’n ander mens wat my eie reis voltooi het, wat my eie opleiding voltooi het. Ek is ’n groot ou wat in beheer is van myself. By tye het ek gevoel of ek sy nek wil breek. Ek dra ’n shank [’n wapen wat bestaan uit ’n skag met ’n skerp punt] saam met my en ek het lus gevoel om dit hier [hy beduie met sy hand] deur die sagte deel van sy keel tot in sy brein te steek en ek sou nie daaroor sleg gevoel het nie . . . Dís die skade aan my brein.

“Maar ek kan nie dít nou doen nie, al gaan dit my dalk laat beter voel. Ter wille van ons land dink ek dit is beter om te debatteer en te praat.”

Watter indruk het Strydom op hom gemaak?

“Ek het hom ’n bietjie jammer gekry. Jy moet besef: Ek het hom betaal met geldnote waarop Madiba se gesig is en hy moet die res van sy lewe met swart gevaar rondloop. Nóú ís swart gevaar vir hom ’n werklikheid. As jy kyk na die omgewing waar hy woon naby Harties [Hartbeespoortdam] is daar oral swart mense. Hy weet nie wie vir hom gaan kom nie; hy moet die hele tyd oor sy skouer kyk.”

“Diamonds on the Soles of her Shoes” speel in die skemer vertrek waar ons sit wanneer ek vir Steyn vra wat hy nou graag vir Strydom sou wou sê as hy kon?

“Miskien sou ek vir hom dankie wou sê . . . Dankie dat hy my gedruk het; dat hy my op hierdie pad gesit het waarop ek die bose kon beveg. Sedert ek hom daardie eerste mens sien skiet het, het ek my lewe daaraan toegewy om mense en ons land te beskerm teen bose mense soos hy.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.