Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Blommooi herinnerings aan Kaapstad

Flower Walker is ’n legende in Kaapse kringe wat al vir 40 jaar ’n bloemistewinkel in die stad bedryf. Anet Pienaar-Vosloo het met haar gesels oor haar loopbaan en hoe ’n mens steeds die mooi in die lewe vind, ondanks die grendeltyd.

Flower Walker het haar naam gekry toe sy as klein dogtertjie op Richmond in die Karoo by elke troue in die streek die blommemeisie was.

Sy het haar naam gestand gedoen en haar liefde vir blomme, én mense, het van haar een van die Kaap se bekendstes in sosiale kringe gemaak.

Sy is nooit die een wat die kollig wil hê nie, want as bloemis en geleentheidsorganiseerder is sy meestal agter die skerms doenig.

Walker dink met baie deernis terug aan haar grootwordjare in die sentrale dorpie in Suid-Afrika waar haar pa, Ferdinand Paul, ’n bekende prokureur was.

Haar ma, Juliette, soos baie ander vroue in daardie jare, was ’n tuisteskepper en Walker erken dat die eerste saadjies vir haar blom-liefde sonder twyfel van haar ma kom.

Richmond het leivore gehad en die erwe was groot en die grond goed, sê sy.

“Ek en my suster, Toyce, het as kindertjies gehelp om ons daaglikse leibeurt-water by ons groot tuin te kry en moes die swaar lemme uit die vore haal of terugdruk.

“My ma was lief vir blomme en het die mooiste groot Hollandse irisse geplant, ook bekend as die Hollandse flap. Sy het die bolle uit die Kaap bestel wat per trein afgelewer is.”

Haar laerskooldae op Richmond was sorgvry en sy en haar suster het hul hoërskooldae by Rustenburg Girls’ High School terdeë geniet. Hulle het maklik per trein van Richmond na Kaapstad en terug gereis.

Sy onthou die ruie bosse aronskelke wat wild op Rustenberg High se skoolterrein gegroei het. Dis tot vandag haar gunstelingblom.

“Dis ’n blom wat sonder fieterjasies groei en min aandag nodig het,” sê sy.

“Ons was altyd volkome tweetalig, maar dit was tradisie om in jou ouers se voetspore te volg,” vertel sy, wat beteken sy is ná skool na die Universiteit van Kaapstad.

Sy het haar man, Bing Walker, op universiteit ontmoet, waar hy as ingenieur gekwalifiseer het.

“Hy het sy naam gekry omdat hy baie aantreklik was en baie mooi kon sing en hy was ook gewild as Ikeys se rasie-dirigent by al die groot sportgeleenthede,” vertel sy met nostalgie. Bing, wat Bing Crosby se naam geërf het, is onlangs oorlede.

Hul twee kinders het geëmigreer. Julienne is getroud, het tienerkinders en woon in Seattle, Amerika, en Sean woon in Duitsland met sy gesin.

Flower Walker, omring deur blomme. Sy het haar naam gekry omdat sy as kind die blommemeisie op al wat ’n troue was. Foto: ANET PIENAAR-VOSLOO
Tyd vir vars blomme

Maar Walker se pad met blomme het as jong vrou rigting gekry toe ’n vriendin, Brenda Winshaw, wat ’n proteaplaas naby Hermanus gehad het, haar gevra het om gedroogde proteas namens haar in die Kaap te bemark.

“Die gier in daardie stadium was plastiekruikers wat weekliks deur handelaars in Kaapstad van een groot besigheid na ’n ander geroteer is. Dan gaan ’n plastiekblomskepping na Shell se ingangsportaal en die volgende week na Mobil of Standard Bank.”

Sy het haar bes met die droë proteas probeer, maar nie hond haaraf gemaak nie. Walker het toe besef dat die tyd reg is vir vars blomme.

Dit was die inspirasie vir Walker en Winshaw om in 1967 ’n winkeltjie in Adderleystraat by ’n bekende sakeman, Gerald Jaffe, oor te neem. Jaffe wou die perseel as drankwinkel inrig, maar kon nie ’n lisensie daarvoor kry nie.

Dit was die begin van ’n kleurryke en opwindende tyd in Walker se lewe, wat sedertdien in Llandudno woon.

“Adderleystraat was die mooiste straat in die land. Met die see aan die onderpunt en die indrukwekkende Tafelberg aan die bopunt, was dit mooier as baie Europese stede.

“Die luukse skepe van die Union-Castle-skeepsredery het reg agter wat toe die Sanlam-gebou en nou Media24 is, vasgemeer.

“Ander skepe wat die Kaap gereeld besoek het, het die Pendennis Castle en die Windsor Castle ingesluit.”

Adderleystraat was die mooiste straat in die land. Met die see aan die onderpunt en die indrukwekkende Tafelberg aan die bopunt, was dit mooier as baie Europese stede.

Soggens om vieruur het sy en haar personeel 80 silwer blomhouers van die Union-Castle-skepe gaan aflaai en dit voor agt die oggend weer by die skip afgelewer met net pienk angeliere, wat Cayzer Irvine & Co., die eienaar van die redery – én in daardie stadium ook die eienaar van die Mount Nelson – se gunstelingblom was.

“Honderde toeriste het op en af in Adderleystraat gestap, reg by ons winkel verby en heerlik gekuier en inkopies gedoen.

“Op die volgende hoek was Plaut, wat die mooiste meubels verkoop het en teen die mure was handgeborduurde tapisserieë wat mev. Plaut geborduur het en wat haar wêreldbekend gemaak het.

“Verderaan, berg se kant toe, was Garlicks, Cleghorn & Harris, Manni Brothers, Stuttafords en reg oorkant die geliefde Pams-vroueboetiek.

“Aan die bopunt is die mooiste kerk in Kaapstad, die Groote Kerk. Met die pad af, Standard Bank en dan een van die Kaap se mooiste ervarings: die blommeverkopers wat gelukkig steeds daar fluks sake doen.

“En moenie van die Hofmeyr-teater en die Italiaanse restaurant met die boogvenster vergeet nie! Voordat die Goue Akker gebou is, was daar OK Bazaars, wat baie geliefd was.

“Oorkant Strandstraat was die pragtige Kaapstadse stasie wat in my jonger jare ’n sieraad was. Daar was ’n restaurant waar mans baadjies moes dra, dit was so deftig. Die mosaïek-kuns in en om die gebou was een van die stad se groot toeristeaantreklikhede.

“En, onthou die klok? En die Argie Boys en die vrugteverkopers? Ek wonder wat het van die klok geword,” mymer Walker.

“As jy iemand in die stad moes ontmoet, was dit altyd op ’n gegewe tyd, en reg onder die klok!”

Flower se oë skiet vol trane.

“Ek is jammer daardie dae is verby. Dit was blomjare in Kaapstad. Daar was geen rommel in die strate nie, ten spyte van die Suidooster. Die busse en treine was splinterskoon en betyds.”

Groot geleenthede

Oor die jare het Walker se onderneming ontwikkel en gegroei.

Sy het van Suid-Afrika se grootste en belangrikste geleenthede gereël en haar kliënte sluit nou internasionale huiseienaars en honderde lojale plaaslike kliënte in.

Op Walker se kerfstok en van haar beste herinneringe is die verskeie geleenthede wat sy en haar span vir oudpres. Nelson Mandela onder leiding van sy persoonlike assistent, Zelda la Grange, en die Mandela Rhodes-stigting moes reël.

Sy het onder meer geleenthede gereël waar mense soos die VSA se oudpres. Bill Clinton en kunstenaars soos Beyoncé, Annie Lennox en Cat Stevens (later bekend as Yusuf Islam) teenwoordig was.

Een van die mees unieke geleenthede was toe gaste genooi is om op Robbeneiland saam met Mandela sy tronksel te besoek en ook daarna saam met hom aandete kon geniet.

Van die ander gesellighede wat vir haar uitstaan, sluit in die hantering van gasvryheidstente by die 46664-konsert en ’n dankseggingsete wat Mandela op die plaas Vergelegen aangebied het vir al die kunstenaars wat by die konsert opgetree het.

Sy het etlike jare die personeelfunksies vir Shoprite-Checkers se grootbaas, Whitey Basson, op sy plaas buite Stellenbosch hanteer. Sy beskryf hom as een van haar gunsteling-kliënte: “A man amongst men.”

Sy het onlangs die onthaaltent tydens Rolex se internasionale tennistoernooi in Mouillepunt gehanteer, waar die tennissterre Roger Federer en Rafael Nadal, asook Bill Gates en Trevor Noah opgetree het.

Daar was ook funksies vir verskeie presidente, sakelui en hul gades se verjaardagpartytjies, asook vele troues.

“Ek wil wyle mevrou Huberte Rupert noem as een van my beste kliënte. Ek onthou haar vir haar suiwer Afrikaans en goeie taalgebruik. Toe haar dogter trou, het sy net een versoek gehad: ‘Laat die Stellenbosse stadsaal soos ’n roostuin lyk.’

“Nou werk ek baie nou saam met Gaynor Rupert en ek is sedert die begindae verantwoordelik vir die elegante perdewedren, die L’Ormarins Queen’s Plate, se onthaalareas.

“Ek het ook al die jare Sol Kerzner se gesogte Oujaarsaand-partytjies by sy pragwoning in Houtbaai gereël. Hy was ’n wonderlike man en groot plesier om mee saam te werk.”

Van haar ander gunsteling-kliënte sluit in Errol Arendz se suster, Gloria Arendz-Theiler. Gloria hou flambojante partytjies by hul pragwoning in Kampsbaai, maar ook op hul landgoed in die buitewyke van Zürich, Switserland. Walker en haar span, wat ook die Kaapse spysenier Annelize Buchanan en haar sjefs en onder andere die musiekgroepe 3 Tons of Fun en Drum Café insluit, word dan na Switserland gevlieg.

“Ons het al die kos en blomme van Suid-Afrika oorgeneem, want Gloria se man, Rolf, is baie lief vir Suid-Afrika en het een jaar besluit, as voorsitter van ’n internasionale perderuiter-vereniging, dat die tema Suid-Afrikaans moet wees.”

Nuwe geleenthede

Walker het haar winkel, Petals, 15 jaar gelede na Woodstock geskuif toe die stad onveilig geword het.

’n Groot tragedie het haar getref toe haar huis in Llandudno, met alles wat daarin was, in 1995 tot op die grond afgebrand het, maar dit is nou herbou en steeds haar rots en vastigheid.

Volgens haar was enige tragedie daarna, insluitend die inperking, maklik om te hanteer. Dis ten spyte daarvan dat sy van haar personeel op minimumlone moes plaas omdat sy nie blomme tydens die grendeltyd kon kry nie en ook nie handel kon dryf nie – om nie eens van groot partytjies te praat nie.

Sy is nou weer met ontsmettingsmiddel, maskers en minder mense voluit aan die gang.

Uit die skok van inperking het haar winkel ’n transformasie ondergaan en sy het van die reuse-skuur in Hoofweg, Woodstock, ’n fantasieplek gemaak wat die meeste van die pakkamers se rekwisiete – tot Elton John se wieg – insluit.

Sy en haar personeel het ook ’n lieflike kafee, die Flower Café, begin. Haar twee regterhande, Philip en Christene van Rensburg, het self nuwe talente ontdek wat hulle nou in bobaasbakkers verander het. Besoekers kan smul aan die lekkerste fyngebak, koekies en ligte maaltye. Veronica Yankelowitz is die steunpilaar wat haar winkel bestuur en sonder wie sy nie sou oorleef nie, sê Walker.

Walker het ook ’n barista in diens geneem vir heerlike koffie.

Want aangesien daar nie meer groot geleenthede is nie, maak hulle nou van elke dag ’n groot geleentheid. En so geniet elkeen die nuutgevonde plesier om weer te doen waarvoor hulle baie lief is, maar op nuwe maniere en vir minder gaste.

Meer oor:  Blomme
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.