Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Boekeman wie se hande vir niks verkeerd staan

Die storieman. Die taal- en kameraman. Die kaalvoet-marathonman. Die vegter vir die underdog. Lapa-uitgewers se Izak de Vries gesels met Sarie Marais-Nell.

Izak dra baie hoede – storieverteller, vegter vir die underdog, kaalvoet-atleet.

Op 49 sien Izak de Vries van Kaapstad homself as ’n storiemens. Geen wonder nie, want sedert sy oupa ’n eerste huwelik met Sheila Cussons gehad en sy Nederlandse ma as baba net-net ’n bomaanval in die Tweede Wêreldoorlog oorleef het, was sy kinderjare gevul

met anderste verhale. Met ’n maatskaplikewerker-pa en kernchemikus-ma, het hy kleintyd al geleer van dinge verder as die onmiddellike begripsveld.

In die huis van sy Natalse oupa en ouma wat albei diep spore in die letterkunde gestap het, kon hy hom reeds as tiener in hul literêre boekery verdiep. Dit alles vorm sy stories; sy “komvandaan”.

Boeke vol stories vorm ook sy hede.

Izak is die kommunikasie- en bemarkingsbestuurder by Lapa (Lees Afrikaans, Praat Afrikaans); ’n uitgewer wat goeie en opkomende skrywers se boeke op winkelrakke help plaas.

Sy werk bring hom in kontak met die land se mees bekroonde skrywers; met ingeligte lesers, akademici én die afdraande-ekonomie. Ná vyf jaar as bemarker, maak elke nuwe Lapa-boek hom steeds mateloos opgewonde.

“Met ’n klein span mense vermag ons jaarliks ongelooflik baie. Al het die Suid-Afrikaanse boekemark die laaste drie jaar gestagneer, bly dit ons mikpunt om goeie boeke vir alle Suid-Afrikaners beskikbaar te stel. Ons sal nooit ons kernbeginsel – Afrikaanse boeke – afwater nie, maar ons splinternuwe vennootskappe met Engelse uitgewers verseker dat ons meer boekwurms betrek. Ons behou ons Afrikaanse kern, maar wil die huishouding uitbrei met Engelse boeke; ook boeke waarin swart lesers sal belangstel.

“Ons werk in ’n omgewing waar die Afrikaanse boekemark krimp – dis ’n hengse uitdaging. Maar ons bly passievol oor al die talentvolle skrywers, oor elke nuwe Lapa-boek. Benewens ons tradisionele skryf-afdelings – ontspanningsfiksie, kinderboeke, niefiksie en die Romanza (sogenaamde pienk boeke, maar met tersaaklike temas soos skaliegas en depressie wat lesers op hul tone hou) – is ek baie opgewonde oor Wênkbrou. Dis literêre fiksie wat die wenkbrou sal lig; wat soms as protesaksie beskou kan word. Wênkbrou is my fokuspunt vir 2019. Sophia Kapp se Kantelpunt, goeie krimi’s en Patagonië deur Maya Fowler is die tipe boek wat hier sal inpas.

“Met groot boeke op pad, is ons positief oor 2019; boeke soos Bloedlelie deur Jeanette Ferreira en Madeleine Rust se redelik humoristiese weergawe van haar terugbaklei teen kanker. Uit ons vennootskap met Catalyst Press en Imbali Academic Publishers bemark ons nou treffers soos Crackerjack deur Peter Church, The Lion’s Binding Oath en Nasty Women Talk Back, asook die debuutbundel van ’n 12-jarige meisie.”

Hier lê verhale van ontwrigte kinders wie se lewens weer heel word; wie se selfbeeld en toekomsvisie geleidelik opgebou word – dikwels deur sport en die uitleef van hul talente. Al dra die staat deesdae net by vir een derde van die uitgawes.

Werksgewys beleef Izak weekliks ’n wye verskeidenheid ervarings – landwye boekbekendstellings in dorpsbiblioteke én luukse restaurante; opleiding vir Lapa-bemarkers wat daardie goue tien sekondes moet gebruik voordat grootmaat-boekaankopers besluit of hulle jóu nuwe boek vir die Kersmark wil koop, tot die ure van sobere kantoorwerk waarin belangrike besluite oor die praktiese werkbaarheid van elke manuskrip geneem word.

“Ons evalueer weekliks ongeveer 15 nuwe manuskripte. Soms moet ons regsadvies inwin; kontrakte moet met skrywers gesluit word. Elke Lapa-boek gaan deur vele noukeurige prosesse en baie professionele mense se hande om markgereed te kom.”

Hierdie werk verg baie van Izak se ure en ongeveer 20 retoervlugte per jaar.

“Ons stap ’n noue pad met al ons skrywers. Die interessante verskynsel is dat die suksesvolste woordkunstenaars juis die nederigste, aangenaamste mense is. Sonder aansit en ego.”

Tussen sy werk en gesin, as direksielid van Pen Afrikaans (’n skrywersorganisasie ter bevordering van letterkunde en meningsvryheid) en daaglikse oefensessies vir ultrawedlope deur, brand sy hart vir die 144 kinders van die Durbanville-kinderhuis.

“Dis die plek waar 144 negatiewe lewenstories omgekeer moet word na herstel.

“Hier lê verhale van ontwrigte kinders wie se lewens weer heel word; wie se selfbeeld en toekomsvisie geleidelik opgebou word – dikwels deur sport en die uitleef van hul talente. Al dra die staat deesdae net by vir een derde van die uitgawes.”

Toe iemand hom 15 jaar gelede vra om fondse vir die kinderhuis te help werf, het Izak nuusbriewe oor die kinderhuis se behoeftes en suksesse begin uitstuur, tot Sanlam op groot skaal begin toetree het.

Toe die bekende sjef Michael Olivier vir Izak vertel dié kinders moes vroeër jare in Durbanville die etiket ‘kaalvoetkinders’ dra, het hy ’n groot skoenprojek vir hulle begin. “Die term het my getickle.

Daardie kinders loop elkeen emosioneel ’n kaalvoetpad. Toe ek later begin kaalpoot hardloop, was dit die logiese keuse om dit te koppel aan bewusmaking van die tehuis se deurlopende behoefte aan fondse.”

Izak skep bewusmaking vir die Durbanville-kinderhuis deur marathons kaalvoet te hardloop.

Die skoene

Izak was nie altyd ’n kaalvoet-atleet nie. “Kyk, met of sonder skoene – ná enige marathon is jou voete séér. Ek hou in elk geval nie van skoene nie. So vyf jaar gelede, net ná die Kaapstad-marathon, wou ek ’n entjie gaan oefen. Weens die gekneusde voete besluit ek om ’n paar kilometer kaalvoet te draf. Die tweede oggend draf ek weer sonder skoene en besef ek geniet die kontak met die grond. Sommer vanself volg ’n kaalpoot-10 km, later ’n 20 km en uiteindelik was die Kaapstad-marathon my laaste een met skoene.”

Tipies Izak, maak hy toe ’n studie van kaalvoet-hardloop. “Sonder skoene moet mens jou hardloopstyl aanpas, want jy gebruik die voorvoet meer. Hardloopgewys is die mens ’n verstommende wese.”

As lid van Celtic Harriers vind hy inspirasie by Peter Taylor, die man met die groot hart wat reeds meer as 30 Twee Oseane-wedlope sonder skoene kafgedraf het. Terselfdertyd samel Peter geld in vir die Suid-Afrikaanse Gidshondvereniging, wat R100 000 benodig om een gidshond op te lei. “As jy dan kaalvoet hardloop, verbind dit aan ’n welsynsaak,” was Peter se bondige advies.

Die volgende oggend bel Izak die kinderhuis, vertel hulle dat hy met kaalvoet-marathons bewusmaking vir hulle sal doen.

Storieman. Kaalvoetman. Liefdadigheidsman . . . Izak de Vries van Lapa-uitgewers by sy huis in Mowbray.Foto’s: JACO MARAIS

Amptelike ambassadeur

“Kort daarna vra die kinderhuisbestuur my om hul amptelike ambassadeur te wees. Terwyl ek dus die Twee Oseane en Comrades- en elke ander marathon hardloop en soms ongemak met my voetsole beleef, herinner dit my aan daardie kinders se kaalvoet-lewens.”

Daarom sluit Izak sy e-posse af met “Ondersteun asseblief my kaalpoot-liefdadigheidswerk: http://bit.ly/2Cq9H6z”.

Izak moes hom vanjaar aan sy 12de Comrades-marathon onttrek. “Ontstekings weens ’n besering onder die voet-eelt wou nie betyds herstel nie. Alles was gereël: Die vliegtuigkaartjie, die kuier by my ouerhuis, die uitnodiging na die Comrades se groen losie . . . Langafstand-atlete verstaan dáárdie teleurstelling.”

Hoeveel kans kry hy vir gesinstyd?

“My vrou, Elma, is ’n mediese dokter. Gespesialiseer in huisartskunde, lei sy huisdokters op in transgendergesondheid.

“Weens haar lang werksure is my kantoor by die huis. Ek moes al wonderlike werkaanbiedinge van die hand wys om eerder tuis te wees vir ons kinders Mashi, ’n 22-jarige onderwysstudent en Jabu, ’n 16-jarige sokkerentoesias.”

Dikwels, wanneer die lewe te besig raak, maak Izak en Elma formeel ’n afspraak vir kwaliteit-tye saam. “Ons gaan graag iewers kamp, verkieslik ’n plek sonder selfoon-ontvangs.”

Wanneer mens so voluit leef, bly iets dikwels agterweë. “Ek is ’n taalman; om te skryf is deel van wie ek is. Ek mis dit. Maar skryfwerk is ’n jaloerse minnaar; dit vereis baie tyd.”

Met ’n driekwart voltooide manuskrip iewers in ’n laai, het Izak twee gepubliseerde kortverhaalbundels agter sy naam.Kom slag ’n bees word allerweë as ’n belangwekkende debuut beskou en is vertaal as Special days.

Sy tweede verhaalbundel Byna liefde, haal in 2009 die kortlys vir die Jan Rabie-prys vir innoverende Afrikaanse skryfwerk, asook die kortlys vir die W.A. Hofmeyr-prys.

“My fotografie vertel ook stories; veral van welsynsprojekte en mense wat dit waag om betrokke te raak en daarmee groei en hoop bring.”

Soms moes ek my oupa help evalueer aan nuwe boeke, onder meer Van Heerden se Toorberg. Oupa het gedink dis ’n jeugverhaal, maar ek het dit eerste gelees en gesê dis ’n ongelooflike roman.

Baie hoede

Izak was al akteur in kabarette en rolprente soos Choices en The Graveyards of Creation; en in die hoofrol van André P. Brink se Die trommel. Sy boekbesprekings vir koerante, LitNet en Insig, asook tydskrifartikels, voltooi min of meer die prentjie van dié 49-jarige se energie en veelsydigheid.

“Dis maar hoe ons familie funksioneer. My oudste sus woon in Duitsland met haar drie kinders; my kleinsus Marianne de Vries was jare lank RSG se dieregedrag-adviseur. Sy het intussen draaie in Frankryk en Skotland gemaak en werk deesdae weer in Johannesburg.”

As ’n gereelde toppresteerder op hoërskool en op universiteit in die eertydse Natal, was Izak die wenner van die eerste M-Netbeurs vir ’n honneurs in skeppende Afrikaanse skryfwerk aan Rhodes-Universiteit. Hier was Etienne van Heerden een van sy dosente.

Van Heerden was geen onbekende vir Izak nie. Sy oupa Stoffel Nienaber – ’n professor aan die Universiteit van Natal – en dié se twee broers was voorste Afrikaanse letterkundiges. Sy Nederlandse ouma, Miep Nienaber-Luitingh, was ’n skrywer en universiteitsdosent in eie reg.

“In hierdie literêre dampkring het ek reeds op hoërskool moeiliker tekste soos Kennis van die aand en Magersfontein, O Magersfontein! begin lees; ’n liefde vir letterkunde ontwikkel.

“Soms moes ek my oupa help evalueer aan nuwe boeke, onder meer Van Heerden se Toorberg. Oupa het gedink dis ’n jeugverhaal, maar ek het dit eerste gelees en gesê dis ’n ongelooflike roman.”

Izak volg sy honneursgraad op met ’n navorsingsmeestersgraad onder Van Heerden oor die manier waarop André P. Brink met die geskiedenis speel in Inteendeel. Hierna word hy ’n dosent by die Universiteit van Venda: “Ek en Elma is intussen getroud en die grappie het geloop dat ek die universiteitspos gekry het omdat die omgewing dokters benodig!”

In sy vier jaar as dosent dien hy ook as vrywilliger op die direksie van ’n nieregeringsorganisasie.

Izak de Vries se verlede én bedrywige hede regverdig elkeen ’n boek. Wat nog lank nie klaar geskryf is nie.

Oormag behoeftes

Hy en Elma voel oorweldig deur die oormag behoeftes rondom hulle. “Ek het van skooljare af baie werk gedoen vir welsynsorganisasies. Van jongs af baklei ek graag vir die underdog. Die groot getalle Venda-kinders sonder hoop het my en Elma laat besef dat, al kan ons nie die wêreld red nie, kan ons minstens daar waar ons is, ’n verskil maak. Dis wat ons gesin daagliks uitleef.

“Daarom is ek ook trots op die onderwysgerigte projekte wat Lapa in samewerking met die ATKV in townships doen. Die organisasies is nie strydrosse nie, maar passievol oor opheffingsprojekte.”

Toe Izak en sy gesin in Oktober 1999 na Kaapstad verhuis, is dit Van Heerden wat vir Izak werk aanbied. Van Heerden het LitNet pas gestig en was op soek na ’n inhoudsbestuurder.

“En daar begin ek en my rekenaar werk as LitNet se enigste personeellid in ons Kaapstad-huis. Hierdie platform vir Suid-Afrikaanse skrywers het sedertdien geweldig gegroei. Ek is steeds betrokke by en baie trots op my LitNet-verbintenis.”

Intussen het Izak se vryskutwerk hom geleidelik in die uitgewerswese laat beland.

Reeds gewoond aan die baie hoede, draai sy gedagtes deesdae ál meer na die Langenhoven Gedenkfonds. “Met haar dood het Langenhoven se Vroutjie Arbeidsgenot ‘vir die volk’ nagelaat.

“Dis wonderlik, maar om historiese gedenkwaardighede te laat werk, is duur en moeilik. Ek begin ál meer dink om daar betrokke te raak.”

Izak de Vries se verlede én bedrywige hede regverdig elkeen ’n boek. Wat nog lank nie klaar geskryf is nie.

Meer oor:  Lapa  |  Profiel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.