Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Boeregeneraal Ben ‘was soos Trump’

Carel van der Merwe, romansier en geskiedkundige, praat met Murray La Vita oor ’n enigmatiese, vrydenkende en “baie moderne” Boeregeneraal.

Carel van der Merwe gesels in Stellenbosch oor sy biografie 'Kansvatter – Die rustelose lewe van Ben Viljoen'. Foto: Jaco Marais

Op die tafel voor Carel van der Merwe lê Kansvatter – Die rustelose lewe van Ben Viljoen. ’n Aantreklike man in ’n swierige uniform kyk van die omslag af na ons hier waar ons in die tuin van die Lanzerac-hotel in Stellenbosch onder ’n luiperdboom sit en koffie drink.

Hierdie monumentale studie oor Viljoen is die produk van ’n proefskrif vir ’n doktorsgraad in geskiedenis wat Van der Merwe verlede jaar voltooi het. Hy het dit daarna verwerk tot die biografie wat pas by Protea verskyn het.

Ben se narsistiese eienskappe

Van der Merwe skryf in sy nawoord hy veroordeel nie Ben se narsistiese eienskappe nie; hy het simpatie daarmee – talle leiers het waarskynlik narsistiese eienskappe.

“Volgens die Amerikaanse DSM-5 [Diagnostic and Statistical Manual of Mental Disorders], moet jy om die narsistiese persoonlikheidsversteuring te kan diagnoseer is daar nege kenmerke wat jy deurlopend in ’n lewe moet optel.

“Die eienskappe wat ’n mens deurlopend in Ben se lewe opmerk, is goed soos ’n verhewe eiedunk, onrealistiese verwagtinge, hooghartige gedrag, grootpratery, afgunstigheid en die aanknoping van vriendskappe vir eie belang.

“Maar ek diagnoseer hom nie as ’n narsis nie. Ek wil ook net beklemtoon mense maak die fout om mense te analiseer volgens ons hedendaagse norme en nie volgens norme wat destyds gegeld het nie.”

“Ek het van Ben Viljoen niks geweet nie voordat ek in 2012 of 2013 begin het met my navorsing oor Eugène Marais. In Donker stroom: Eugène Marais en die Anglo-Boereoorlog, skryf ek ook daar was ’n vriendskap gewees tussen Marais en Viljoen in die vroeë 1890’s,” sê Van der Merwe.

“So, Viljoen het in my kop vasgesteek. Ek het in my aanvanklike leeswerk opgetel alhoewel hy ’n ou was met min formele opvoeding het hy nogal vinnig opgang gemaak in die ZAR van die 1890’s.

“Hy het gevorder van ’n vendusie-afslaer en gewone polisieman totdat hy naderhand ’n koeranteienaar was en die kommandant van die Witwatersrand en toe sommer ook ’n Volksraadslid voor die oorlog.

“Dit was vir my interessant – hoe het hierdie ou dit so vinnig reggekry? En ek was ook bewus daarvan dat hy ’n Boeregeneraal was en dat hy ná die oorlog Amerika en Mexiko toe is, maar daar is baie min daaroor geskryf, behalwe natuurlik in Sonja Loots se roman Sirkusboere wat sy rol in die Boeresirkus in 1904 in St. Louis uiteensit.

“Sonja het hom baie fassinerend gemaak . . . Ek het gewonder wie is hierdie aweregse Boer; hy is glad nie soos die ouens met die vierkantige kakebene nie; die Boeregeneraals De Wet, De la Rey, en daai tipe ouens nie. Hy was meer van ’n vrydenker wat my opgeval het as baie modern.

“Sonja het ook in die verbygang genoem dat hy later in die [Mexikaanse] rewolusie geveg het en konsul was van Mexiko in Duitsland. Dit is ongelooflik. Hoe eindig ’n ou van daai era daar op? Dít is nooit vir my verduidelik nie, ook nie in ’n vorige biografie nie.”

‘Gedryf deur nuuskierigheid’

Ben Viljoen omstreeks 1897 in sy deftige Krugersdorpse Vrywilligerskorps-uniform wat hy self help ontwerp het.

Ben was “amper soos ’n kat met nege lewens”.

“Hy pop orals op en hy ken invloedryke mense en hy maak ’n lewe, en daar was die sprake van die Boerekolonie in Mexiko waarvan ek altyd bewus was.

“Hy was ’n enigmatiese figuur, maar ek het nooit van hom geleer op skool nie en hy verskyn nie in die geskiedenisboeke wat ek gelees het nie. En dít het my ook laat wonder: Hoekom is daar so min oor hom bekend; hy is dan so ’n interessante figuur.

“So, dit is nuuskierigheid wat my oor hom laat navorsing doen het; ek word gedryf deur nuuskierigheid. Die geskiedenis begin vir my by die persoon. En deur die persoon wil ek na die era kyk en vasstel hoe die mense in daardie dae gehandel het. En Viljoen het vir my nog ’n ingangspunt gegee tot daardie geskiedenis.”

’n ‘Moderne man’

“Ek het gewonder wie is hierdie aweregse boer.” Foto: Jaco Marais

Van der Merwe skryf in Kansvatter daar was iets “baie moderns aan Ben” wat hom “laat dink het aan ’n deel van die huidige generasie Afrikaners – minder godsdienstig, gemaklik in verskillende kulture, bereid om te emigreer wanneer hul dink dit tot hul voordeel is”.

Hy was “nie jou tradisionele en familievaste godvresende Boer van sy tyd nie”.

“Alhoewel die Afrikaner die afstammeling is van mense wat hierheen geïmmigreer het, het hulle hier gebly. Dit was nie in daai dae gewoon om jou land te verlaat en in ’n ander land te gaan woon nie,” sê Van der Merwe.

Wat sy volk betref het hy ’n moderne uitkyk gehad.

“Ben was meer die moderne tipe stedelike Afrikaner. Wat sy volk betref het hy ’n moderne uitkyk gehad. Eiebelang was byvoorbeeld vir hom belangriker as volksbelang. So hy was nie noodwendig gebonde aan ’n ideaal nie.

“ ’n Groot deel van die Afrikaners emigreer vandag en daai idee van die Afrikaner as volk het baie vervaag; mense tree in hul eie belang op. Hulle kyk wat is goed vir hulle en hulle kinders en emigreer en gaan doen wat hulle moet doen. Daar is natuurlik nog ’n groot behoudende element wat aan al daai ideale vasklou en glo.

“Die ander ding is godsdiens; ons is nie meer daar waar die kerk – die NG Kerk of die Doppers of wat ook al – ’n baie dominante faktor in die Afrikaner se kultuur is nie; dit het heeltemal vervaag. Vir ons is dit nie ongewoon nie, maar in daai dae was dit báie ongewoon.”

Ben die beeldpoetser

Skyngeveg by Colenso tussen Boere en Britte tydens ’n optrede van die St. Louis- Boereoorlogskouspel van 1904.

Dan is daar Ben se uitkyk op verhoudings.

“Ek dink nie ons het ooit gehoor van De Wet of De la Rey wat ’n buite-egtelike verhouding aangeknoop het met ’n Ierse verhoogkunstenares nie,” sê hy laggend.

“Ek sou nie sê dit is noodwendig modern nie, maar dit was definitief nie deel van daai tydsgees in sy kultuur nie. Ook wat sy algemene lewensuitkyk betref, was hy modern; die feit dat hy nie so insulêr was nie.”

Ben was ook ’n beeldpoetser par exellence.

“Hy kon sy eie beeld poets en hy het geweet hoe om die pers te gebruik as gevolg van sy joernalistieke agtergrond. So, waar hy ook al gegaan het, was daar nooit ’n persagent ver agter hom nie en het hy self gesorg dat hy in die koerante verskyn. En dít is hoekom daar so baie inligting oor hom uitgeskiet het in die koerante oorsee, want Ben het seker gemaak as hy enigiets van belang, of mindere belang doen, mense weet daarvan.

“Ek sou nie sê dit is noodwendig ’n algemene moderne ding nie, maar vir die tipe leidende figure in ons samelewing is dit, die celebs, kom ons stel dit só – hulle weet hoe om die media te gebruik.”

Ben en Trump

Van links is kmdt. J.N. Boshoff, genl. Piet Cronjé, Ben en kmdt. G.M. van Dam tydens ’n optrede van die St. Louis-Boereoorlogskouspel van 1904.

Sou hy sê daar is ooreenkomste tussen Ben en pres. Donald Trump van Amerika?

“Toe ek in Amerika navorsing gedoen het in 2016 het die gedagte by my opgekom. Hierdie totale manier om jou storie te vorm na wat jy dink dit moet wees en nie noodwendig na wat dit was nie. En om skaamteloos in die openbaar op te tree en jouself te promote . . .”

Ben was “gebore vir Amerika”.

Hy het sommer daar by die Withuis opgedaag by pres. Teddy Roosevelt.

“Daar het jy jouself re-invent. Mense was bereid om almal ’n tweede kans te gee. En die geel pers het toe al bestaan. So Ben het ingeval in ’n milieu wat . . . Hy was soos ’n vis in die water en het onmiddellik aangepas.

“Ek weet nie hoeveel ander ouens dit sou reggekry het nie. As jy nou vat De Wet – hy sou nie hond haaraf gemaak het nie.

“Ou Ben . . . ’n goeie voorbeeld is hy het sommer daar by die Withuis opgedaag by pres. Teddy Roosevelt. Hy het nie ’n afspraak gehad nie; hy het net sy visitekaartjie laat instuur, sommer ’n afspraak gekry met die president van Amerika, en toe sommer gaan eet by hom die volgende dag en vriende geraak met sy dogter en seun.

“En die Mexikaanse president het sy boesemvriend geraak. Daar het hy twee presidente aan sy kant gehad.”

‘Boere was nie eensgesind’

Deur sy verkenning van Ben se lewe het Van der Merwe ook ’n indruk gevorm van die “Boerevolk” en hul leefwêreld rondom die Anglo-Boereoorlog.

“Baie mense het nog hierdie idee van ’n monolitiese Boerevolk voor en tydens en ná die Anglo-Boereoorlog – behalwe nou vir die hensoppers.

“Maar die Boere was nooit ’n monolitiese eenheid nie, soos duidelik geïllustreer deur Ben, wat gewissel het tussen progressief en ’n ou wat ook sy eie belang nagestreef het. En dít is hoekom ’n biografie ’n interessante manier is om geskiedenis te skryf, want jy kan dinge deur die persoon se lewe sien.

“Tydens die oorlog was die Boere nie eensgesind nie, daar is derduisende hensoppers waarvan ons weet, maar ook onder die Boeregeneraals, soos Ben, wat al lankal wou vrede maak, maar hy het maar aangehou veg. Hy en Louis Botha het heeltyd verskil; daar was verskille tussen die Transvalers en Vrystaters. Die Transvalers sou lankal oorgegee het as dit nie vir die Vrystaters was nie.

Nuwe insigte

“En toe ná die oorlog – hoe het hulle vorentoe gegaan? Is dit Afrikanernasionalisme? Ben het ’n breër Suid-Afrikanisme voorgeskryf waar Engelse en Afrikaners in harmonie saamlewe. Of hy dit rêrig oortuig geglo het, kan ek nie sê nie, maar dit was sy politieke platform want die ander Boereleiers wou hom nie aanvaar nie, so hy het sy eie platform geskep.

“En ook Ben se lewe voor die Anglo-Boereoorlog in Krugersdorp was ’n modelvoorbeeld van hoe mense kon saamleef as dit nie vir die oorlog was nie.”

Ben het ’n breër uitkyk gehad en hy het baie Afrikaners verteenwoordig.

Dit was vir hom nuwe insigte.

“As dit nie vir die oorlog was nie sou ons ’n ander verloop van die geskiedenis gehad het, veral tussen die Afrikaners en die Engelse ná die oorlog. En dan sien ons dit ná die oorlog – daar was glad nie eensgesindheid nie. Daar was ’n groep – onder leiding van Christiaan de Wet en Jan Smuts – wat ’n soort nasionalisme begin dryf het.

“Ben het ’n breër uitkyk gehad en hy het baie Afrikaners verteenwoordig.”

Verdwyn uit geskiedenis

Mary Belfort, die Ierse variété-arties wat Ben vroeg in 1899 in Johannesburg ontmoet het.

Ons praat oor Ben se nalatenskap.

“Hy het na al hierdie dinge gestreef en rondgehardloop op die verhoog, maar niemand het hom eintlik onthou nie. Hy het uit die geskiedenis verdwyn. Enersyds omdat hy die land verlaat het, maar ook omdat onder sy tydgenote die vermoede was dat hy moontlik in die oorlog oorgegee het en dat hy nie te vertrou is nie.

“En hulle was in kontak met ouens soos die Afrikanerkultuurhistorikus Gustav Preller. Ben is uit die geskiedenis geskryf; hy het nie ingepas nie. Wat is hy? Hy is nie ’n godvresende, Calvinistiese, stoere Boer nie.”

Die geskiedkundige prof. Albert Grundlingh, wat Ben se promotor was, sê “hierdie werk is gegrond op werklik uitputtende, in meer as een opsig, navorsing. Trouens, en ek sê dit nie maklik nie, die omvang en diepte van die navorsing plaas die werk in ’n kategorie waarin min ander Suid-Afrikaanse historici hulle bevind.”

Van der Merwe het hom ten doel gestel om “elke plek te besoek waar Ben noemenswaardige tyd deurgebring het”.

Hy skryf: “Vanaf Robertson tot Krugersdorp en die slagvelde van die Oos-Transvaal en Noord-Natal, daarna Brittanje, Nederland, Mexiko en die VSA het ek sy spoor gevolg tot dit doodgeloop het in die Amerikaanse deelstaat Nieu-Mexiko waar hy in 1917 sy laaste asem op 48-jarige ouderdom uitgeblaas het.”

’n Leemte

Heel laaste het Van der Merwe ook St. Helena, waar Ben ’n krygsgevangene was, besoek. En die grot by Elliot in die Oos-Kaap waarin hy gebore is. Hy het met talle mense – onder wie nasate van Ben – gepraat, en ’n magdom dokumente en memorabilia van hom raakgeloop.

“Dit is soos ’n speurtog – een ding lei na die ander. Maar my geaardheid is so dat ek nie kan rus tot ek elke ding gesien het nie.

“Ek is mal oor ontdekking. Ek is eintlik spyt as die navorsing klaar is en ek moet begin skryf . . . Op die oomblik voel ek ’n tipe van ’n leemte, want ek is nie besig om iets te soek nie.”

Preller wou ‘nasietrots skep by Afrikaner’

Die Afrikaner was “in sak en as ná die oorlog” en hulle moes ’n mitologie opbou, sê Van der Merwe.

“En iemand soos Gustav Preller het daardie rol vervul [deur hoe hy die geskiedenis geskryf het] al het hy geweet daar is ook ander feite.

“Maar hy het ’n ander projek gehad en sy projek was om weer nasietrots te skep en dat die Afrikaner moet saamstaan. Ons kyk vandag met ander oë terug daarop, maar dit maak nie sy projek minder gering nie.

“Dis hoekom ek sê die konteks van die tyd is belangrik as jy moet oordeel. Jy kan nie klipgooi na daai ouens nie, maar vandag kan ons meer genuanseerd daarna kyk.”


Meer oor:  Anglo-Boereoorlog  |  Eugène Marais  |  Donald Trump  |  Amerika  |  Suid-Afrika  |  Mexiko  |  Afrikaners
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.