Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Bouwer Bosch: 'Ek is nié 'n volksverraaier nie'

Hy kan nie verstaan waarom mense dink hy verraai sy volk nie, sê Bouwer Bosch in ’n onderhoud met Murray La Vita oor sy #Versoening-videos waarin hy verskoning vra vir apartheid.

Bouwer Bosch sê hy het nog altyd “ ’n brandende liefde vir Suid-Afrika en sy mense” gehad.

Dit wat hy nou doen, spruit uit ’n gevoel wat hy al sedert sy kinderdae het, sê Bouwer Bosch.

“Ek het nog altyd hierdie brandende liefde vir Suid-Afrika en sy mense gehad. Ek was nogals op ’n baie creepy manier obsessed met Nelson Mandela en ons nuwe landsvlag. Ek het ’n hele shrine gehad in my kamer – poskaarte, seëls, bekers, telefoonkaarte, juggling balls, daai vreemde gekleurde sand in ’n glashouertjie, bandanna . . . en ek het ’n Mandela-masker gehad.

“Ek was en is steeds net so lief en verlief op ons land en dit waardeur ons kon kom destyds en vandag nog.”

Hy dra ’n mus en 'n teardrop-styl bril wat hom ’n bietjie soos die legendariese bankrower André Stander laat lyk.

Bosch is wat ’n mens ’n hedendaagse Renaissance-man sou kon noem: sanger, liedjieskrywer, akteur, rolprentvervaardiger, skepper van die Liefde Wen-klerereeks en TV-aanbieder. En nou het hy ook YouTube ingespan in ’n poging om versoening onder Suid-Afrikaners te bewerkstellig.

In sy #Versoening-videos vra hy aan individue om verskoning vir apartheid en tree dan in gesprek met hulle. Die eerste apologie was aan Phindile Dhlamini, ’n vrou wat hy nie geken het nie, en daarna HemelBesem (Simon Witbooi).

Die gesprek met Bosch vind via FaceTime op iPhone-toestelle plaas. Hy sit in sy woonstel in Randburg, “net van Beyers Naudé af”. Hy dra ’n mus en 'n teardrop-styl bril wat aan die jare sewentig herinner en hom (ook weens sy snor en baard) ’n bietjie soos die legendariese bankrower André Stander laat lyk. In ’n stadium beweeg ’n vrou in ’n pienk japon met ’n wit handdoek om haar kop gedraai vir ’n oomblik agter hom verby. Dit is sy vrou, die aktrise Leandie du Randt.

Lekke Kersfees vir jou!

A post shared by Bouwer Bosch (@bouwerbosch) on

“Ek is baie ingestel op die emosionele van die mens en die goed wat jy doen, doen jy uit jou . . . ek wil nie sê uit verwónding uit nie, want dan gaan dit klink of ek een of ander Oprah Winfrey of Dr. Phil is, maar ’n groot deel van hoe ’n mens optree, hét te doen met jou verwonding.

“Ek is ’n groot fan van wat die Truth and Reconcilliation Commission gedoen het, want ek weet dit hét waarde gehad. Maar jy het te doen met die meetbare en die onmeetbare. So, die TRC het baie gehamer op mense wat iemand verloor het: Daar is ’n bom geplant en 20 mense is dood en daai ou moes jammer sê of hy is verhoor. Dít is die meetbare, maar die meerderheid van Suid-Afrika sit met ónmeetbare wonde. Met ander woorde, die dááglikse vernedering van omdat jy swart is mag jy nie ’n bankrekening kry nie; jou onderrig is swakker; jy mag nie op die bus ry nie. Dít kom oor as kléin goedjies, maar kyk net gou hoe sensitief is wit mense oor hierdie Spur-ding. Ek meen, dit is één minor ding wat gebeur het in vergelyking met 50 jaar van geïnstitusionaliseerde apartheid.

Bosch het ook vir HemelBesem om verskoning gevra vir apartheid.

“Die gesprekke waarna ek luister en die goed wat ek lees in die koerante laat my voel daar is unfinished business; ek voel ons wil nooit oor dit praat nie. En dis vir my ook vreemd dat dit so ’n taboe topic is. As jy grootword is dit . . . jy praat nie oor seks nie, bly weg van daai topic af! Maar hoe ouer jy raak, is dit soos: Wát? Mens praat mos maar net daaroor. Ek verstaan ook nie hoekom daar nooit in skole iéts was nie – ’n periode waar ons net kon praat oor die verlede en by mekaar se verskille kon uitkom en leer. Daardie narratief is nooit in ons koppe gesit nie.

Ek kan nie verstaan hoe hulle kan dink ek verraai nou my volk nie!

“En narratiewe is ’n ding wat ’n mássive impak het in ons land. Ek meen white monopoly capital het drie weke terug nie bestáán in ons taal nie en nou is dit in elke liewe nuusberig as gevolg van een persverklaring wat uitgekom het. Volksmoord is ’n ander narratief wat klomp mense weer glo en dit drýf hulle . . . om op ’n sekere manier op te tree.

“Ek hunker maar net na ’n nuwe narratief en ek voel nie ek gaan dit kry by die regering nie, want hulle is op ’n hele ander trip op hulle eie, en jy gaan dit ook nie kry by dié wat nóú onderdruk voel nie. Die laaste ding wat hulle sal doen, is om nou ewe skielik die emosionele mindere te wees.

“So, dis my behoefte as 33-jarige: As ons nie nou iets anders gaan doen nie . . . ek sê ons land is besig om te brand en as ons nie nou met water begin speel nie, dan weet ek nie hóé hierdie gaan afspeel nie, want dit gaan nou oor ons kinders en húlle kinders.”

Aanval op wit mense

Hy wil homself “ ’n bietjie eenkant sit” en net “ook uitfigure” wat in ander mense se lewens aangaan.

“Ons trek nog aan die beter ent . . . Ek dink nie wat vandag aangaan, is super amazing nie; ek dink daar is ongelooflik baie hartseer, maar ek dink steeds ons het dit beter as menige swart mense. Baie mense kruisig my vir daardie stelling en dis oukei . . . Maar ’n mens moet ook nou nie die kwaai mense op Facebook vat as die gevoel op straat nie. Ek dink hulle en ander mense online is eintlik die minderheid in terme van die gevoel en die temperatuur in die land. Dit moenie gemeet word aan Facebook- en Twitter-gesprekke nie.”

Daar is mense wat voel wat hy doen, is ’n aanval op Afrikaanse kultuur en wit mense.

“Dit is glád nie so nie. Ek kan nie verstaan hoe hulle kan dink ek verraai nou my volk nie! Vergeet van my, in enige kultuur wys dit altyd meer karakter en meer integriteit as jy op ’n plek kan kom waar jy met iemand kan praat oor húlle en nie oor jousélf nie.

Bosch was in die Otter-span van die Voortrekkers in Potchefstroom se Bennie Liebenberg-kommando.

“Daar is ’n gróót stuk selfsug rondom apology-gesprekke, want mense sê dadelik: ‘Ék gaan nie jammer sê nie, want ék het niks gedoen nie; ék was nie daar nie. Daar is way te veel ekke in ’n gesprek waar dit oor iemand anders moet gaan. Dis vir my soos humanity 101 . . . Dit is die basics van ménswees en ons mis dit. Mense voel hulle wit vel is belangriker as hul verhouding met die Here of om die regte ding te doen. En dis ’n rówwe ding om te sê, maar dis eerlikwaar hoe ek voel.”

‘Almal is verwond’

Sy versoeningsprojek is nie “net ’n wit-swart-ding” nie.

“Daar is klomp gesprekke wat moet gebeur. In die sportgemeenskappe . . . Ek wil nog flippen graag met ’n paar Springbokke praat, iemand soos ou Wynand Claassen en iemand soos Allister (Coetzee) wat ’n swart Springbok was . . . Ek wil met ouens praat wat op die grens was en net dánkie sê vir dit wat hulle gedoen het, want ek dink ons sal dit nie besef nie want ek was nie daar nie, maar ek gaan ook nie weet as ek nie met hulle kan praat nie . . . Almal sit met verwonding en seer van daai tyd en ek voel net gesprekke gaan ’n way wees om ’n klein bietjie te kan help en net om mekaar uit te hoor.”

Bosch: ‘Toe tref dit my: Álmal soek ’n jammer van iemand af.’

Die gegons op sosiale media oor sy #Versoening-projek het begin nadat Steve Hofmeyr daarop gereageer het.

“Dis nooit ’n huge ding tot Steve dit post nie,” sê hy laggend. “Ek is ongelooflik dankbaar dat hy dit gepost het, want ek het nodig gehad dat die gesprek ’n bietjie vlamvat. Hy het gesê die oomblik wat jy jammer sê, moet jy ook jou huis en jou kar weggee en toe vra hy ook wanneer gaan die Britte vir die Boere jammer sê?

“Toe tref dit my: Álmal soek ’n jammer van iemand af. Ons sit met so baie Afrikaner-trots en ons wil brag oor die goed wat ons gedoen het in die verlede en die goed wat ons begin het en die hospitale wat ons gebou het en die infrastruktuur. Maar hoekom kan ons nie begin brag met ’n kultuur waarin ons éérste hierdie tipe goed doen nie, want ons gáán anyway nooit ’n jammer van die Britte af kry nie.

Ek koop in in hierdie droom en ons gaan ’n amazing nuwe land hê.

“Baie mense bring ook die plaasmoorde op. En dan sê ek vir hulle dit is flíppen hartseer, net soos wat ’n moord in ’n township ook vir my hartseer is . . . Ons het ’n selfsugtigheid; jy wil hê almal moet jóú seer verstaan en hoor, maar jy kan nie vyf minute vat en net iemand anders s’n ook uithoor nie. Maar ek verstaan hoekom daar so ’n backlash is, want dit is moeilike goed – dis nooit lekker om aan seerplekke te krap nie. Om aan die verlede te krap, is nóg moeiliker. Maar as die verlede se wonde nog vandag sigbaar is; dan moet jy daai wonde treat en my voorstel is net: Kom ons probeer gesprekke.”

’n Vlag op sy gesig

Bosch het in Potchefstroom grootgeword waar sy pa ’n bouer en sy ma ’n verpleegster en later tandartsassistent was.

“Ek was in 1997 die hoofseun van my laerskool. Toe ons ’n civviedag gehad het, het ek die nuwe landsvlag op my gesig geverf. Ek gaan toe so skool toe, want ek was soos: Ek koop in in hierdie droom en ons gaan ’n amazing nuwe land hê en daar gaan nuwe kinders in die skool kom. En ek is net soos . . . Ek wil net almal include. En nog voor daai eerste periode roep die hoof my en hy skél my so uit en hy vernéder my so dat ek my oë uithuil in sy kantoor omdat ek my gesig geverf het in die landsvlag se kleure.

Bosch as 13-jarige in sy vlag-uitrusting.

“Ek sal daai dag nóóit in my lewe vergeet nie. Ek lag nou lekker daaroor as ek dit vertel, maar dit was regtig een van daai key moments in my lewe waar ek besef het: Jis, oukei, so wat ook al nou gaan gebeur vorentoe, dit gaan móéilik wees om . . . ek wil nie sê om te versoen nie, want ek het nie geweet wat daai woord beteken nie, maar net die idee wat ek in my kop het van om maybe deel te wees van ’n nuwe land en ’n denkwyse, gaan moeilik wees en daar gáán teenkanting kom van albei kante.

“My een vriend sê altyd die moeilike ding van om ’n brug te wees is mense loop oor jou van albei kante af, so jy gaan altyd maar flak hê van almal.”

Dalk moet ek hom gaan vergewe daarvoor want ek is lankal oor dit en ek mind nie om met hom te praat nie.

Hy het besef: “Wow, nie almal is actually oop vir hierdie idee van ’n nuwe vlag of ’n nuwe land nie. So, daai dag was crazy in die sin van . . . al my make-up was gesmudge, die hele landsvlag is gesmudge oor my gesig en toe moes ek obviously nou my gesig afwas en jy sukkel om jou gesig weer skoon te kry . . .”

Hy blameer nie die hoof vir wat hy gedoen het nie.

“Want só lank is hy gesê swart mense is die vyand en ons land gaan verwoes word en wat ook al . . . FW is ’n verraaier, en moenie die land oorgee nie. So, daai narratiewe is al so lank in sy kop. Hy het nie . . . hoekom hy op my geskreeu en geskel het, was nie ’n persoonlike ding nie, dit was omdat hy geleer is dít is die vyand. Hy het dit maar net uitgehaal op my.

“Dit is hoe ek vandag daarna kyk, maar daai tyd as kind kon ek obviously nie snáp hoekom hy dit doen nie en ek het dit persoonlik gevat, maar ek het begrip vir hom en hoekom hy dit gedoen het.

“Ek het nog nooit weer met hom gepraat nie; dalk moet ek hom gaan vergewe daarvoor want ek is lankal oor dit en ek mind nie om met hom te praat nie. Ek is baie lief vir daai hoof; dis ’n ongelooflike hoof, hy het dit maar net gedoen want dít is wat hy geleer is, voel ek.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.