Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Braam de Vries: ‘My boeke sal vergete raak’

“Taal is daai fluisteringe van die wolf . . . en wat die houtkapper gehoor het.” Foto: Lulama Zenzile

Die groot Afrikaanse skrywer Abraham de Vries praat aan die vooraand van sy 80ste verjaardag oor die “Middeleeuse Klein-Karoo”, die dood van skrywers en die “moord op Afrikaans”.

Ons sit onder ’n prieel aan die agterkant van Braam en Hannie de Vries se huis in Kaapstad. Die hele Tafelberg is voor ons oë uitgestrek. ’n Voël is nou en dan hoorbaar tussen die druiweblare en die oorryp vrugte wat daar hang.

Die onderhoud begin by sy geliefde Klein-Karoo, waar hy op Winkelplaas naby Ladismith grootgeword het en steeds heen gaan om van die stres van die stad weg te kom. Mense vereenselwig hom veral met sy Klein-Karoo-stories.

“Maar ek het ’n héngse klomp ander geskryf . . . Mense vergeet partyslae jy gebruik jou klein vaderland, soos ou Con de Villiers sou gesê het; jy gebruik die stukkie van die land wat jy ken en dan dra jy verhale soontoe, dis nie verhale wat jy noodwendig daaroor skryf nie, dis verhale wat jy soontoe neem omdat jy die wêreld ken, die mentaliteit van die mense ken. Wat vir my aan die Klein-Karoo interessant is, is nie noodwendig net die stories van die plek nie, maar hoe die plek verander het. Dit is óngelóóflik.

“Neem nou die Kersverhaal wat ek in Desember vir Die Burger geskryf het . . . Die klomp Kersverhale wat ek oor die jare geskryf het, is ’n soort petite histoire, ’n klein geskiedenis van die wêreld daar.

“In die jongste verhaal kom die mense byvoorbeeld die aand daar aan in die Klein-Karoo, of Kannaland-Karoo soos ek dit genoem het, en waar is hulle die aand tuis? In ’n klomp werkershuisies wat in oornaghuisies omgebou is. Dis amper half onopgemerkte goed, maar dit is tog ’n totále wêreld wat verander.”

Abraham de Vries vandeesweek in die studeerkamer van sy huis in Kaapstad. Foto: Lulama Zenzile

Skrywers en digters het gesterf

Hy praat oor sy vriendskap met wyle Adam Small en die videoportrette wat hy oor hom gemaak het.

“Dis die eerste een oor digters. Die tweede een gaan Breyten (Breytenbach) wees, dink ek.

“Dit is vir kinders. Jy weet, die kinders gaan nie meer vandag skool toe met die algemene kennis wat ons gehad het nie. Daarom is sulke soort van goed belangrik vir hulle. Boonop ding jy mee met die televisie en die tipe van goed. As hulle nou kan sien hoe Adam self die gedigte lees, dan raak dit vir hulle belangrik. Ons beplan eintlik om so ’n hele reeks te maak waar digters kortliks sê waaroor die gedig gaan en waarna hulle moet oplet en dan die gedig voorlees.”

Die digters en skrywers wat die afgelope jare gesterf het, kom ter sprake.

“Hulle kap in ons bos . . . Eers was dit Ronnie Belcher. En dis Adam, dis George (Weideman), dis André (Brink), Chrís (Barnard), Ina (Rousseau), Liesbet Eybers . . . Hénnie (Aucamp).”

Dit is ’n groot verlies vir die Afrikaanse letterkunde, sê hy.

“Dit is almal unieke stemme, dit is nie net sommer stories nie, dis veel meer wat daarmee saamgaan. Maar dis nie te sê dat daar nie ander bykom nie, want daar kom prágtige ander goed by.

Mý boeke gaan vergete raak omdat dit nie in ’n ander taal geskryf is nie . . .

“Ek wil nou nie oor dié soort van ding praat nie, maar . . . wat op die oomblik besig is om met Afrikaans te gebeur is een van die grootste tragedies wat hierdie land nog getref het. Mý boeke gaan vergete raak omdat dit nie in ’n ander taal geskryf is nie . . . Die Afrikaanse koerant, die Afrikaanse boekwêreld, die héle Afrikaanse wêreld, het ’n probleem. En hierdie probleem is verskríklik diepliggend en dit is die móórd wat ideologie pleeg op taal.

“Baie min mense sien dit raak, maar wat in Stellenbosch aangaan en wat die ou Nasionale Party aan Afrikaans gedoen het, is presies dieselle. Dis álbei ’n keuse van ’n sekere manier van dink bo die waarde van taal as sodanig.

“Dis ’n keuse van ideologie, van ’n kamma grênd manier van dink en geen énkele begríp van wat taal in werklikheid is nie.”

Engels is nie net ’n taal nie, Engels is ’n woord vir magsmisbruik, sê hy.

“Jy kán nie ’n klein taal stel teenoor ’n wêreldtaal nie. As jy op ’n eiland aan die kus van Denemarke ’n universiteit stig met Deens en Duits as die twee tale, dan gaan daardie universiteit binne drie jaar Dúits wees.”

Skryf vergoed vir verlies

Oor die publikasie van sy eerste verhaal, het De Vries al gesê:

“Geen mens voel ooit weer so oor enige skryfwerk as met die publikasie van jou eerste verhaal nie. Ek het gevoel ek het vir iets vergoed, maar ek het nie geweet vir wat nie.”

Ek pols hom daaroor.

“My ma is dood met my geboorte, maar ek dink dit is . . . Kyk, die eerste twee stories wat gepubliseer is, Spioene en Bert die Jagter, het altwee te doen met kinders wat ’n houding inneem of wat iets doen in verband met die dood.

Storievertellery . . . Daar is tog iets magies aan die hele bedryf.

“Ek kan dit nie anders sien nie. Jy weet . . . Daar’s hópe stories wat ek ken wat ek nie skryf nie. En die vraag is, hoekom nie? Ék weet dit nie. Sodra dit raak aan ’n probleem, dán’s ek geïnteresseerd, want dan weet ek die storie gaan vir my die waarheid vertel.

“Storievertellery . . . Daar is tog iets magies aan die hele bedryf.”

Jy konfronteer iets deur daaroor te skryf, meen hy.

“Maar as jy dit bewustelik doen, dan gaat hy in sy glorie in . . . Dis juis nie ’n bewustelike ding nie. Ek weet wel presies waar ek Spioene gekry het en hoekom ek gedink het: blikskottel! Maar jy moet onthou, ek het seker minstens véértig stories geskryf voordat een aanvaar is. My (stief)ma het hulle almal gehou en hulle was almal met die hand in groen ink geskryf.

“Maar ek het (met Spioene) onmiddellik dit geweet . . . Dis nou soort van ’n gevoel op jou maag wat jy kry – hiér sit ’n storie! Vertel hierdie storie! Dís ’n lekker storie!

“Pa en ’n oom het gesit en gesels, en Pa het vertel van dié spioene in die Boereoorlog wat sý pa-hulle van vertel het. Nou dit is onmiddellik . . . dis die kinders wat vir die eerste keer skrik voordat die spioen doodgeskiet is. Ek onthou dit nóú nog, dan sê die een seuntjie vir die ander een: ‘Môre speel ons weer kleilat.’ Met ander woorde, hulle wil nie nou verder met dié ding iets te doen hê nie.”

In Spitsberaad skryf Rob Antonissen as volg oor De Vries se eerste twee bundels: “Onopdringerig, en op heel natuurlike wyse in die gebeure en in die ervaring van doodeenvoudige mense vermeng, was daar egter tog reeds, byna in verhaal na verhaal, iets besonders aanwesig; die besef van iets onvatbaar geheimsinnigs aan die gang onder die gang van die alledaagse lewe en in die omgang met die alledaagse dinge, iets wat te midde van al die lewensgedoentes te make moet hê met die dood; en waarop die mens, wanneer dit skielik voelbaar word, reageer met ’n redelose angs, benoude verwondering, rou verdriet, ontsetting.”

Hy is bederf

De Vries beskryf sy stiefma (sy ma se jonger suster met wie sy pa ná haar dood getrou het) en suster as “albei bederwers van geaardheid”.

“Ja, natuurlik het hulle my bederf!” sê hy laggend.

“Die héle geméénskap het jou bederf want almal was . . . haai siestog die arme kind,” sê Hannie.

“Ek onthou nog, my suster Hester sal vra: ‘Wat wil julle drink?’ En as jy sê koffie, dan sê sy: ‘Boeta, maar ek het tee ook'," sê De Vries.

“Dit was ’n vreemde vorm van bederf. Man, ek kan dit nog goed onthou, die oom wat op die dorp na my toe gekom het en gesê het: ‘Jong, ek het nog vir jou ’n ding!’ Wát is dít toe? ’n Pot vyekonfyt wat my oorlede ma vir hulle gegee het. Kan jy nou wragtig meer?

“Ek was seker so sewe, agt. En ek het gewonder wát is sy bedoeling? Dit is ’n bietjie makaber.

Die hele idee van die onskúldige, plattelandse, dóódgewone, gelówige mense . . . dit is ’n vólsláe vals beeld van die mense op die platteland!

“Een ding moet jy nooit vergeet nie: Die hele idee van die onskúldige, plattelandse, dóódgewone, gelówige mense . . . dit is ’n vólsláe vals beeld van die mense op die platteland! Daar’s niks wat in die stad gebeur wat nie op die platteland gebeur nie.”

Daar is iets Middeleeus aan die Klein-Karoo.

“En natuurlik die soort afwykendes van die Middeleeue . . . Ons praat altyd van die donker Middeleeue, maar dit was als behalwe ’n donker tydperk, die Renaissance het op die loer gelê in baie opsigte. Maar kyk nou byvoorbeeld Pieter Bruegel die Oue en daai snáákse vlieënde visse van hom. En wie is dit wat die naaste aan hom is? Breyten Breytenbach! Het jy sy skilderye al gesien? Hy het ’n streep weg . . . Maar kyk, Breyten ken die platteland net so goed soos ek, nè. So, daai soort van ding is nie vir hom vreemd gewees nie. Jy kry dit ook in sy bundel Katastrofes en in Jan Rabie se bundel 21 en Henri Michaux se Verschijningen. Dis almal presiés dieselfde soort van omvergooi van die werklikheid of die te voorskyn haal van die skadukant, of die lagwekkende skadukant partyslae van die werklikheid. Dis ’n fássinerende wêreld. Dis ’n ongelóóflike diép menslike wêreld.”

“Geen mens voel ooit weer so oor enige skryfwerk as met die publikasie van jou eerste verhaal nie.”Foto: Lulama Zenzile

‘Kortverhale is ’n geaardheid’

Hy praat oor waarom hy hoofsaaklik kortverhale skryf.

“Ek het dit lankal vermoed en ek is nou baie seker daarvan. Dit het níks, absoluut níks met enigiets anders as met geaardheid te doen nie. Kortverhale is ’n geaardheid. Dis ’n manier van die wêreld bekyk. Ek kan my nie voorstel om my lewe te red dat ek ’n boek skryf met 600 bladsye nie. Ek sal wrágtig nie weet wat om te skryf nie. Dis geáárdheid, jy moet by ’n punt uitkom; jy moet iets kan sê wat die moeite werd is. Daar is te veel ander goed wat ook interessant is . . .”

Hoe ’n kortverhaal eindig, is baie belangrik.

“Die slot van enige kortverhaal is eintlik veronderstel om ’n lig te werp oor dit wat jy vertel het, om dít in perspektief te plaas en om die geheel af te rond, en dít is partyslae moeilik, want dit is partyslae waar jy . . . jy moet taal goed ken.

“Ek sou dit nie kon doen in Nederlands óf in Engels óf in enige ander taal wat ek ken nie. Daarvoor het jy die skaduwees en die ligkante van Afrikaans nodig. Dít is die aspek van taal wat Stellenbosch nie verstaan nie . . . Die feit dat dit deel is van ’n lewende organisme; dit is nie iets wat jy gebruik soos ’n mandjie wat jy . . . Dis nie Rooikappie wat vir Ouma goed neem in ’n mandjie nie. Dis die fluisteringe van die wolf . . . Taal is daai fluisteringe van die wolf . . . en wat die houtkapper gehoor het.”

* De Vries word op 9 Februarie 80. Op 9 Maart word ’n profielgesprek met hom op die Stellenbosse Woordfees gevoer. Dit is een van verskeie geleenthede wat beplan is om sy verjaardag te gedenk.

Meer oor:  Murray La Vita  |  Afrikaans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.