Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Brett Murray en die wit olifant

Brett Murray, die kunstenaar wat die ANC op hol gehad het met sy The Spear-kunswerk van ’n ontblote Jacob Zuma, besin in sy jongste tentoonstelling onder meer oor hoe wit mense hul herkoms en wie hulle is, wegsteek, skryf Murray La Vita.

Brett Murray by sy marmerbeeld “White Elephant.” Foto: Jaco Marais

Die joviale Murray is vanoggend geklee in ’n grys T-hemp, kortbroek en plakkies – asof hy net vir ’n oomblik weggedraai het van ’n beeld waaraan hy staan en skuur het.

Hy lyk dus nie heeltemal na die soort mens wat jy in die elegante ruimte van Everard Read se Circa-galery in die Kaapse Waterfront sou verwag nie.

Maar hy is nie iemand wat hom optof of steur aan wat hy waarskynlik beskou as oppervlakkige sosiale konvensies nie. En hy hoef niks te bewys deur sy voorkoms nie, want toevallig is dit so dat albei geboue waaruit die galery se uitstalruimte bestaan, gevul is met dit wat werklik saakmaak – dié internasionaal gerekende kunstenaar se kunswerke.

“Ek het nie geweet die werk gaan só uitkom nie. Terwyl ek besig was om aan die Johannesburg-weergawe van die Hail to the Thief-tentoonstelling te werk, het ek gevoel hoe iets verander . . . want die meeste van my werk was tot op daardie stadium skoorsoekerig en polemies; die teikens van my satire was in ’n sin voorspelbaar; ek is ’n klipgooier,” sê Murray wanneer ons begin praat oor sy huidige tentoonstelling Hide.

“Ek wou net stiller werk skep. Ek het twee jóng kinders gehad . . . Ek het nou nog foto’s van my kinders, wat toe drie en vyf was, in my ateljee omring deur al hierdie polemiese goed. Ek het toe gevoel ek wil net ’n meer intieme korpus van werk skep.”

Sy probleemkind

“Jy steek op ’n manier jou herkoms en wie jy is weg.” Foto: Jaco Marais

Maar toe “tref die k*k die fan” met sy “probleemkind”, die uitstalling in Johannesburg in 2012 waarvan The Spear [waarin pres. Jacob Zuma met ontblote geslagsorgaan uitgebeeld word en wat tot reuse- openbare protes uit ANC-geledere gelei het en Murray en sy gesin doodsdreigemente ontvang het] deel was.

“So toe . . . Ek dink as iemand my ’n snotklap gee dan sal ek probeer om terug te klap. En gevolglik wou ek nie toe ’n stiller, meer intieme en meer introspektiewe tentoonstelling doen nie. Dit sou vir my gevoel het of ek die aftog blaas of terugdeins. En ek het baie te sê gehad. Dit het toe tot uiting gekom in my tentoonstelling Again, Again in 2015 waarin my teikens korrupsie in die Zuma-era en staatskaping en so aan was.

“Toe kon ek aanbeweeg . . . Mense wat goed skep . . . Jy weet nie altyd wat jy besig is om te maak nie, en daar is twyfel. Jy werk aan iets en daar is beelde in jou kop waarmee jy wil omgaan en jy tas in die donker rond, maar op een of ander manier kom hierdie beelde uit.

“Met hierdie tentoonstelling het ek op ’n sekere vlak dieselfde benadering gevolg as met vorige werk, naamlik die geronde beeldhouwerke en die lyntekeninge, maar ek het dit noemenswaardig verfyn wat my palet betref: swart, rooi, goud; en wat die materiaal betref.

“Wat die stof, die onderwerpe betref . . . Iets wat mense soms nie verstaan of erken nie betreffende politieke inhoud, of dit nou Jonathan Shapiro [Zapiro] se spotprente is of George Orwell of enige ander satirikus, is dat die onderwerpe nie noodwendig die teikens van jou kritiek of satire is nie; wat jy inderwaarheid doen, is veel meer positief as om net jou onderwerpe uit te wis of te laat kantel.

Ek gooi klippe na ’n groter prentjie en beskryf ’n groter prentjie, maar ek plaas myself daarbinne op sowel ’n positiewe as negatiewe wyse.

“Waarom jy dit probeer ontbloot van wat jy om jou sien, is omdat jy ’n ideaal het van ’n beter wêreld vir almal. Dít is positief, so daar is ’n vreemde teenstrydigheid: Jy gooi klippe na wat jy verag, maar dít is nie die einddoel van wat jy wil bereik nie; dit is om mý visie van ’n beter plek waarin ek wil leef te beskryf. So selfs die polemiese en politiese goed is ook diep persoonlik en gerig op die self. Ek is dus die een wat klippe gooi, maar ek is ook aan die ontvangkant van daardie klippe; ek is nie ónselfkrities nie.

“Neem byvoorbeeld my standbeeld Afrika in Kaapstad. [’n Groot brons weergawe van ’n beeld uit Wes-Afrika waaruit Bart Simpson-koppe peul.] Jy kan daarna kyk as ’n taksering van Westerse kultuur in ’n Afrika-konteks. Ja, dit is dít, maar as jy fyner kyk, is dit ’n wit ventjie wat soos ’n parasiet op Afrika sit; en wie is daardie wit ventjie? Dis ’n anargistiese, in-jou-gesig-Bart . . . dis soort van outobiografies, want dit is dalk hoe ek myself soms in hierdie konteks sien – ek gooi klippe na ’n groter prentjie en beskryf ’n groter prentjie, maar ek plaas myself daarbinne op sowel ’n positiewe as negatiewe wyse.”

Wit identiteit

Murray voor sy “Disney Suicides”-reeks. Foto: Jaco Marais

Sy huidige tentoonstelling resoneer met White Like Me van 2002 waarin hy “wit identiteit in Suid-Afrika ontbondel”.

“Selfs tóé al het ek na my posisie as ’n wit Suid-Afrikaner gekyk; hoe dit is om in Suid-Afrika te leef. Hopelik is dít wat my werk weerspieël: Ék wat ook besin oor my sielkundige posisie en ruimte as ’n wit mens aan die suidelike punt van Afrika en hoe interessant en uitdagend dit is, maar by tye ’n uitputtende stryd waarin ek en ander mense gewikkel is.

“Dit is belangrik, maar jy sal nooit daardie ruimte vind nie want dit verander en beweeg deurentyd. Daarom vind ek dit soort van verfrissend, maar soms ook uiters uitputtend.

Jy steek op ’n manier jou herkoms en wie jy is weg.

“Op hierdie tentoonstelling is daar dus ’n Goofy-karakter met ’n pistool in elke hand wat op sy kop gerig is – ’n soort dubbele selfdood – en waarvan die titel is Finding that psychological sense of place. Dis ’n soort ironiese kapitulasie . . . Ek sal dit nooit vind nie.”

Ek vra hom uit oor die titel Hide.

“Jy steek op ’n manier jou herkoms en wie jy is weg. Ek wou twee werke skep en hulle na my kinders noem, want dit is diep persoonlik en ek het aan die konteks gedink waarin hulle grootword met ’n soortgelyke mynveld van wit identiteit. Die vraag het by my opgekom: Wanneer sal daardie identiteit gevestig kan word op ’n fondament wat stewig is en waarop die toekoms gebou kan word . . . Sonder om nou soos Steve Hofmeyr te klink,” voeg hy laggend by.”

Kritiek op Twitter en Facebook

Die gesprekke oor wit identiteit word nie op ’n subtiele en intieme manier op Twitter en Facebook gevoer nie.

“Jy word net gemarginaliseer en in ’n posisie in gedwing om een of die ander van twee ekstreme en uiteenlopende standpunte in te neem. Daar is net hierdie vloedgolf en ook sensuur van enige intieme en genuanseerde gesprek waarin twyfel uitgedruk word en gepoog word om te probeer verstaan wie ons is binne hierdie konteks.

“Daardie genuanseerde gesprekke word eenvoudig nie geduld nie. Die reaksie is: ‘Wie dink jy is jy? Probeer jy jouself as ’n wit slagoffer voorhou? Dit is pateties!’

Dit lewer kommentaar op die fascistiese aard van Twitter- en Instagram-gebruikers ... waar stemme stilgemaak word, dikwels uit linkse oorde.

“Ek kan dit verstaan, maar dit is steeds ’n gesprek wat ek binne myself voer: Die kontradiksie tussen my skynbare bevoorregting en my werklike bevoorregting.

“Dít was die soort gedagtes in my agterkop toe ek die beelde van die vlermuise geskep en die werke oor sosiale media, soos: FUCK THE TWITTER NOSTRA; WOKE WOKER WOKERER.

“Dit lewer kommentaar op die fascistiese aard van Twitter- en Instagram-gebruikers waar dit lyk of alle debatte uit die water geblaas word deur ekstremisme en sensuur en waar stemme stilgemaak word, dikwels uit linkse oorde.

“Die vlermuisbeelde suggereer dus die parasitiese, vampieragtige aard van hierdie ingesteldhede . . . die vlermuis is ’n bot wat ingekom het.”

’n Wit olifant

“Die nagapie probeer net iets sê oor die onthutsende aard van die land en die wêreld waarin ons lewe . . . En die weerloosheid wat daarmee gepaard gaan.” Foto: Jaco Marais

In sy boek Brett Murray skryf Murray: “When I looked beyond my private experiences of love and relationships, family and friends and of a boy becoming man, the contradictions in this system [apartheid], which divided my life from others, resulted in a cross-questioning of responsibility and complicity. This uncertainty challenged the understanding of what became ambigious life experiences.”

Nadat Murray dié passasie voorgelees het, sê hy: “Ek leef steeds binne daardie kontradiksies, 20 jaar nadat ek dít geskryf het. En van die werk op hierdie tentoonstelling en ander werk wat ek doen, is die hoeksteen van my bewustheid van daardie soort kontradiksies. En dan gaan ek en maak ’n groot beeld uit grandiose Carrara-marmer van ’n pragtig oortollige wit olifant,” sê hy laggend.

Hy het in hierdie tentoonstelling afgewyk van die brons waaruit sy beelde gewoonlik bestaan en ’n hele aantal groot dierefigure geskep: die olifant, donkies en ’n padda; beelde wat ’n “argetipiese speelsheid” uitstraal.

“Ek het gehoop die marmer sal ’n meer empatiese energie verleen aan die beelde; en ek dink dit het, daar is ’n groter intimiteit, al is die beelde so swaar en bonkig. Daar is ’n sagtheid en ’n vriendelikheid aan die beelde.”

Die marmer kom immers uit dieselfde Italiaanse groef in Pietrasanta as waar die marmer vir Michelangelo se beelde soos die Pietà vandaan kom.

“Die beeld van die twee donkies wat mekaar vashou, was eers een donkie wat ’n uitbeelding was van hierdie dom imbesiel en dus al die politici in die wêreld, maar ook van my – so dit het begin as ’n selfportret. Maar toe het ek begin rondspeel en die twee donkies geskep waarvan die titel Solace is.”

Die gedagte van die wit olifant het by hom opgekom terwyl hy (as wit Suid-Afrikaner) in Italië tussen al die wit marmer rondgeloop het. Hy het die behoefte ontwikkel om ’n wit olifant uit marmer te maak.

“Ek het net gevoel ek móét ’n wít olifant maak, want dít is hoe ek soms voel – soos ’n wit olifant.”

’n Nagapie

“Die beeld van die twee donkies wat mekaar vashou, was eers een donkie, wat ’n uitbeelding was van hierdie dom imbesiel en dus al die politici in die wêreld, maar ook van my – so dit het begin as ’n selfportret. Maar toe het ek begin rondspeel en die twee donkies geskep waarvan die titel Solace is.” Foto: Jaco Marais

Een van sy bronsbeelde van ’n nagapie met kenmerkende groot oë, heet In the headlights.

“Daar druk ek iets letterlik uit. In my tentoonstelling Again, Again – die eerste tentoonstelling ná my probleemkind – was daar ’n foto van myself met oordrewe groot oopgesperde oë en die titel was Nagapie in the headlights’ . . . My eie weerloosheid in terme van wie ek is en wat in my lewe aangaan tydens daardie Hail to the thief-nagmerrie [met die omstrede Zuma-werk as middelpunt].

“Ek wou daardie idee voortsit met die beeld van die onskuldige nagapie as selfportret wat sit en wag vir die aankomende trein van die wêreld. Dit probeer net iets sê oor die onthutsende aard van die land en die wêreld waarin ons . . . En die weerloosheid wat daarmee gepaard gaan.”

Iemand het hom onlangs gevra of hy deur sy werk verandering teweeg kan bring.

“As adolessent en jong volwassene was ons seker Che Guevaras van die suburbs en het ons gedink ons kan dinge verander . . .

“Ek is nie seker of dit meer my motivering is nie. Ja, jy wil – soos alle satirici – mense wat soos jy dink om jou vergader in ’n gesprek oor skynheiligheid, patriargie, of wat ook al.

Ek dink nie noodwendig dat ek enige verandering teweeg gaan bring deur my kuns nie, maar dit is nog ’n klein deeltjie van ’n gesprek oor verandering, oor ’n visie van ’n beter wêreld waarin jy sou wou leef.

“En soms . . . The Spear wás iets van ’n katarsis wat mense weer wakker geskud het en met nuwe oë laat kyk het na die situasie waarin ons ons bevind.

“So, hoewel dit nie my bedoeling was nie, het só ’n werk deel van die politieke en maatskaplike gesprek geword, wat goed is. Maar soos wat ek ouer word, besef ek ek doen dit vir myself; dit is ’n terapie van ’n aard: Om om te gaan met wat daar buite is en dan met fisieke objekte en beelde vorendag te kom omdat dit ál is hoe ek my daaroor kan uitdruk.

“Dit is veral die fisieke maak van die werke wat terapeuties is. Om met die materiaal te werk; hoe jy die werke skuur en vyl. Jy sit daar en dit is meditatief.

“Dit mag dalk as selfkoesterend gesien word, maar dit is ’n jeuk wat ek aanhou krap, want dit is wat ek maak en dit is wat ek doen.

“So, nee, ek dink nie noodwendig dat ek enige verandering teweeg gaan bring deur my kuns nie, maar dit is nog ’n klein deeltjie van ’n gesprek oor verandering, oor ’n visie van ’n beter wêreld waarin jy sou wou leef. En hopelik kan iemand iets daarin vind of aan hulle ’n vars insig in hul eie konteks gee. Hopelik.”

* Hide is tot 27 Februarie te sien in die Everard Read/Circa-galery in Kaapstad.

Meer oor:  Murray La Vita  |  Brett Murray  |  Jacob Zuma  |  Kuns  |  Sosiale Media
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.