Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Carel van der Merwe oor Eugène Marais: ‘Lojale verset, nié verraad’

Carel van der Merwe, skrywer van Donker Stroom: Eugene Marais en die Anglo-Boereoorlog. Foto: Edrea du Toit

Die briljante boek Donker Stroom: Eugene Marais en die Anglo-Boereoorlog het vir die eerste keer die Afrikaanse skrywer se lewe en rol as joernalis in Pretoria net voor die oorlog én ten tyde van die oorlog belig, waar hy in Londen gestudeer het. Vir lesers mag die romantiese beeld van Marais afgestroop word en selfs onthutsend wees. CHARLES SMITH het vrae hieroor aan die skrywer CAREL VAN DER MERWE gerig.

Charles Smith (CS): Ek het nooit die omvang van Eugene Marais se “verraad” teen sy eie mense besef nie. Dis asof daar twee Eugene Marais’s is – die Afrikaanse skrywer wie se werk almal ken en die joernalis met sy Engelse vriende wat sy eie mense ondermyn het?

Carel van der Merwe (CVDM): Ek is regtig jammer dat Donker Stroom jou met die indruk gelaat het dat Marais “verraad” gepleeg het en ’n joernalis was wat sy eie mense ondermyn het! Hopelik gee my antwoorde hieronder meer helderheid oor my siening van hom en sy optrede.

CS: Die omvang van Eugene Marais se ‘’verraad” teen sy mense was nogal ’n skok. Hy is letterlik as joernalis/redakteur van Land en Volk deur die imperialiste omgekoop om propaganda teen pres. Paul Kruger te verkondig en die Britte nie te sleg te laat lyk nie? Hoe sien jy sy optrede?

CVDM: Nie as verraad nie, maar eerder as lojale verset. Jou vraag impliseer dat die Transvaalse Boere voor die ABO ’n homogene groep was met geen onderlinge verskille oor hoe die land behoort regeer te word nie, en hoe die Uitlanders politiek geakkommodeer moet word nie. Allesbehalwe. Die “progressiewe” Afrikaners onder die leiding van genl. Piet Joubert en Ewald Esselen was ’n groot en formidabele groep Transvaalse Boere wat pres. Kruger en sy regering se beleid aktief sedert die vroeë 1890s teengestaan het. Hulle was ook geweldig gekant teen die korrupsie en nepotisme wat hulle in die ZAR-regering waargeneem het. Hierdie groep het ook mense soos genls. Koos de la Rey en Lukas Meyer ingesluit, wat mens op geen manier as verraaiers kan beskryf nie.(p. 34-37). Genl. Joubert het ook net naelskraap die 1893-presidentsverkiesing teen pres. Kruger verloor. Daar was sterk aanduidings dat hy wel gewen het, maar dat die Kruger-aangestelde verkiesingsbeamptes die resultate in sy guns bewimpel het. (p. 41).

Wat (die koerant) Land en Volk betref. Dié koerant was die spreekbuis van die progressiewe Afrikaners. Ja, dit is so dat die Uitlander- mynhuise voor die ABO ’n subsidie aan die koerant verskaf het. Maar jy moet dit sien in die konteks van die tye, in die lyn van “all’s fair in love and war”. Kruger het op groot skaal regeringsgeld gebruik om koerante te subsidieer wat hom ondersteun het, soos De Volksstem en The Press. (p44). Is dit die optrede wat mens van ’n staatsman met integriteit verwag? Verder, die progressiewe Afrikaners was terdeë bewus van die Uitlanders se ondersteuning van hul spreekbuis, maar Marais was onder geen verpligting om hom te laat voorskryf deur die Uitlanders nie. Dit was egter nie ’n probleem nie, want oor baie sake van die dag het die Uitlanders en progressiewe Afrikaners saamgestem. Ek weet ook van geen geval waar Marais gepoog het om “die Britte nie te sleg te laat lyk nie”.

CS: Dit is baie duidelik hoe die imperialiste in Suid-Afrika, soos Rhodes, Fitzpatrick en Milner, alles moontlik gedoen het om ’n oorlog met die Transvaalse Republiek te ontketen. En Eugène Marais het hieraan meegedoen? Sonder om te besef wat hy/hulle doen.

CVDM: Ek stem nie saam dat dit Fitzpatrick se plan van die begin af was om ’n oorlog te ontketen nie. En onthou dat Milner eers in 1897 in die prentjie gekom het, toe sake reeds so ver gevorder het dat dit baie moeilik was om te draai, deels as gevolg van Kruger se hardkoppigheid om enige wesentlike politieke toegewings aan die Uitlanders te maak, en deels as gevolg van die bitterheid wat die Jameson-inval van 1895-’96 veroorsaak het.

Wat Rhodes betref, wou hy altyd die Transvaal onder Britse heerskappy bring, maar sy rol moet geskei word van Fitzpatrick en die ander Uitlanders in die Transvaal voor die Jameson-inval, wat in baie gevalle van hom verskil het. Marais het Rhodes ook verpes en sy optrede telkemale veroordeel.(Sien byvoorbeeld p. 61)

Wat Fitzpatrick betref het hy en die ander Uitlanders in die Transvaal tot en met die presidentsverkiesing van 1893 gehoop dat politieke veranderinge op ’n vreedsame wyse deurgevoer sal kan word. Maar Kruger het heeltyd die doelpale verskuif, onder andere deur die proses vir ’n Uitlander om ’n burger te word so lank en omslagtig as moontlik te maak, sodat dit bykans onmoontlik was vir hulle om burgers te word.

Ná die (moontlik gekookte) 1893- presidentsverkiesing het die prominente Uitlanders se hoop vervaag, en het hulle meer militant begin raak. Marais was van al hierdie onderstrominge bewus, en het in Land en Volk aanhoudend betoog dat die Uitlanders geakkommodeer moet word, anders stuur die land op ’n oorlog met die Britse Ryk af. My insiens was hy ’n realis en ’n patriot.

Kom ons kyk na ’n hipotetiese voorbeeld in vandag se konteks. As ’n koerantredakteur (soos jy!) vandag met sy hele hart glo dat as Suid-Afrika aangaan soos hy doen, hy afstuur op ’n rampspoedige oorlog met die VSA, en as hy dit ook by hooggeplaaste Amerikaanse vriende hoor, is dit nie sy plig om dit te probeer verhoed nie? Wie is die ware patriot – die hardkoppige een wat sy klein land willens en wetens in ’n oorlog met die sterkste land in die wêreld dompel en waar enige nugter mens weet daar is nul kans op oorwinning, of die een wat dit probeer verhoed? (Sien ook p. 416-419 vir my mening.)

CS: Dit is ’n skok om te sien dat Eugène Marais die volle duur van die oorlog in Engeland is, maar dat dit wat daar gebeur met sy mense nie werklik op sy gewete rus nie. Sy meeste kontak is steeds met die imperialiste – Milner en Fitzpatrick. En dat hy steeds omgekoop word om hul werfbobbejaan te wees.

CVDM: Ek verstaan nie hoe jy daardie indruk van Marais gekry het nie, want dan het ek gefaal in Donker Stroom. Lees asseblief weer p. 420-421. Marais het deurentyd probeer vrede bewerkstellig op sy eie manier, voor en gedurende die oorlog. En was dit regtig die moeite werd vir die Boere om voort te veg ná die val van Pretoria in Junie 1900? Enige redelike mens (soos Marais) kon tog in daardie stadium sien dat daar geen kans is dat 20 000 oorblywende Boere ’n oorlog sal kan wen teen die magtigste ryk wat die wêreld nog ooit gesien het nie, een met byna onuitputlike reserwes mannekrag en middele. En die vredesvoorwaardes wat die Boere in Mei 1902 aanvaar het, het omtrent niks verskil van dié wat al reeds in die begin van 1901 aan hulle aangebied is. Maar in daardie tyd is die meeste van die 35 000 Boere oorlede. Waarvoor? Hardkoppigheid is nie noodwendig ’n deug wanneer dit kom by jou volk se beste belang nie. Dit is ’n politieke les wat lyk my oor en oor in ons land se geskiedenis geleer moes word, en ook in die toekoms geleer sal word, vermoed ek.

CS: Hoe moet ons Afrikaners Eugène Marais onthou? As briljante skrywer en digter – of as imperialistiese medewerker wat self ’n aandeel het in die Anglo-Boereoorlog waarin meer as 30 000 Afrikaners in kampe en op die slagveld dood is?

CVDM: Natuurlik as eersgenoemde, en ook as onverskrokke joernalis wat nie geskroom het “to speak truth to power” nie. Marais het geen aandeel in die sterftes van hierdie Afrikaners gehad nie. Inteendeel, hy het alles gedoen wat hy kon voor en tydens die oorlog om dit te verhoed. Ja, van sy pogings was naïef, en ja, hy is deur mense met minder edele motiewe misbruik. Maar of Marais nou gelewe het of nie – die oorlog

sou in elk geval plaasgevind het.

Taalkwessie: ‘Moenie veralgemeen’
Hy dink nie die twee situasies waar die Britse imperialiste voor die Anglo-Boereoorlog (ABO) van Afrikaners gebruik gemaak het om hul posisie te versterk en die nóú waar Afrikaners weer die voorvegters teen Afrikaans is as akademiese taal op kampusse is sommer so vergelykbaar nie, sê Carel van der Merwe, skrywer van Donker Stroom: Eugene Marais en die Anglo-Boereoorlog.

“Laat ek eerstens my kaarte op die tafel sit – ek is onbeskaamd teen die US-bestuur se voorgenome verengelsing van Stellenbosch, en glo dat Afrikaans ten minste ’n gelyke plek met Engels by die US moet beklee (en verdien.) Dit gesê, glo ek nie dat mense wat Stellenbosch wil verengels (en met wie ek radikaal verskil) noodwendig duister motiewe het nie. Myns insiens is hulle ’n diverse groep met uiteenlopende motiewe.”

Sommige, sê hy, glo Afrikaans het nog apartheid-“baggage”, en dat die aandrang op Afrikaans die Afrikaner nog verder gaan vervreem van die meerderheid in die land.

“Ander is weer die politieke korrektes, wat liewers sal doodgaan alvorens hulle nie as “progressief” beskou word nie, en vere voel vir Afrikaans as ’n akademiese taal. (Onder diegene is daar ook sommiges met baie selfhaat en ’n oordrewe skuldgevoel).

“Dan is daar die akademici, waarvan ek glo sommige enigiets sal doen vir ’n gemaklike lewe, en sover moontlik konflik met hul studente en die outoriteite wil vermy. (Die meeste van hulle voel ook niks vir Afrikaans as akademiese taal nie.). ’n Ander groep is die pragmatiste, wat voel ons land het groter kwessies om mee te stoei, en dat hierdie geveg nie die moeite werd is nie.

“Iets wat mens baie onder hulle hoor is: ‘It’s a losing battle’, die verengelsing van Stellenbosch gaan in elk geval kom, hoekom dit nie net maar ‘gracefully’ aanvaar nie? Dan is daar ook die naïewes, diegene wat reken dat Afrikaans glad nie in gevaar verkeer nie al verdwyn dit by die universiteite: ‘Kyk dan na al die boeke wat uitgegee word, musiek wat gemaak word, al die kunstefeeste’, argumenteer hulle.

“Bogenoemde is ’n omslagtige manier om te sê dat ek nie glo mens kan veralgemeen nie. Ek glo wel dat daar vandag sekere partye in die ANC is wat agter die skerms die hele Afrikaans-ding deels help dryf vir politieke doeleindes, en dat bogenoemde Afrikaners (meestal onwetend) meehelp in hierdie poging.”

En ja, hy glo soos hierdie hedendaagse Afrikaners is Eugene Marais ook onwetend by die latere imperialistiese doelwitte van Fitzpatrick, Milner en Brittanje ingesleep. (p419). Wat Marais self betref – hy het nooit geskroom om hom skerp uit te spreek teen Britse imperialisme nie.

Meer oor:  Afrikaans  |  Charles Smith
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.