Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Carl Niehaus: ‘Zuma het my bevry’

Oudpres. Jacob Zuma het hom uit die tronk bevry toe die Afrikaners, wat “maar baie dikbek teenoor my was”, hom nie wou vrylaat nie, sê Carl Niehaus aan Murray La Vita.

Carl Niehaus, politieke aktivis, vurige Zuma-ondersteuner en geskorste lid van die ANC. Foto: Deon Raath

Die kontak met Niehaus begin op ’n Vrydagaand met ’n telefoonoproep aan hom waartydens ’n afspraak gemaak word om die volgende oggend per Zoom ’n onderhoud te doen. Niehaus is in daardie stadium, volgens hom, in ’n gastehuis in Durban.

Vroeër die week en die voorafgaande naweek was hy in Nkandla om Zuma te ondersteun in sy hoedanigheid as woordvoerder van die onlangs ontbinde Umkhonto we Sizwe-militêre-veterane-vereniging (MKMVA). In die loop van die week word Zuma in hegtenis geneem en na die Estcourt-gevangenis geneem om sy vonnis weens minagting van die konstitusionele hof te begin uitdien.

Op die dag van Zuma se inhegtenisneming word Niehaus deur die nasionale uitvoerende komitee (NUK) van die ANC tydelik uit dié organisasie geskors en kondig Jessie Duarte, adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, aan daar gaan dissiplinêr teen hom opgetree word. Sy sê die NUK is besorg oor Niehaus se opruiende toesprake buite Zuma se huis oor die naweek.

Niehaus omring deur MKMVA-lede buite Nkandla. Foto: Mlungisi Louw

Niehaus word ’n dag later in Estcourt buite die gevangenis waar Zuma aangehou word, in hegtenis geneem (weens die beweerde oortreding van Covid-19-regulasies) terwyl hy, omring deur talle mense, met ’n TV-verslaggewer van die SABC praat. Hy word die aand vrygelaat.

Geweldpleging en plundertogte – volgens aanvanklike aanduidings ontketen deur woede oor Zuma se gevangenskap – breek Vrydagnag in KwaZulu-Natal uit. Dit neem mettertyd amper ongekende afmetings aan en versprei ook na Gauteng. Niehaus kom nie ons Zoom-afspraak na nie. Hy bel vroegaand en maak verskoning. Daar het baie dinge gebeur, sê hy.

‘Geweldige druk’

Wanneer ons Sondagaand weer praat, is Niehaus terug in sy woonstel in Rosebank, Johannesburg. Die gesprek begin per Zoom, maar weens die feit dat die verbinding knaend onderbreek word en hy my nie kan hoor nie of ek hom nie kan hoor nie (en net kan sien waar hy met ylblou oë van agter die lense van sy Tom Ford-bril na my kyk), praat ons telefonies verder.

Niehaus waarsku my dat die onderhoud kortgeknip kan word, want hy verwag in die loop van die aand ’n televisiespan.

Ek begin die onderhoud deur hom te pols oor die gebeure van die afgelope dae en die posisie waarin hy hom nou bevind; die druk waaronder hy verkeer.

“Jy weet, dit is nie die eerste keer dat ek soveel druk beleef nie. Onder die apartheid-regime toe ek agtervolg is, uiteindelik gearresteer is, uiteindelik aangekla is, tronk toe is – dít was gewéldige druk.”

Hy is in 1983 aan hoogverraad skuldig bevind en tot 15 jaar tronkstraf gevonnis en het op 25 November 1983 sy tronkstraf begin uitdien. Op 20 Maart 1991 word hy vrygelaat. Sy mede-aangeklaagde was sy vriendin Jansie Lourens, met wie hy in die tronk getrou het.

Oudpres. Zacob Zuma het volgens Niehaus ’n groot invloed op sy lewe gehad. Foto: Freddy Mavunda/Gallo Images

“Ek maak partykeer die grappie dat mense my goed geleer het hoe om druk te verwerk. Op die oomblik is daar druk – dis waar, maar dit is nie ondraaglik nie. Ek kom daarmee oor die weg. Ek is baie duidelik oor waarvoor ek staan. Ek is baie duidelik oor wat vir my belangrik is, wat ek navolg en die redes waarom ek dit doen; en dít gee my meer as gemoedsrus om te doen wat ek doen.”

’n Gelowige man

Niehaus het sy voorgraadse teologiestudie, waarmee hy aan die Randse Afrikaanse Universiteit (RAU) begin het, gedurende sy gevangenskap voortgesit en in 1988 ’n graad deur Unisa behaal.

“Ek was my hele lewe lank ’n gelowige mens. My stryd teen apartheid het sy wortels gehad in my geloof, en die wyse waarop ek aanvanklik bewus geraak het van apartheid was juis deur sendingwerk in Soweto en die omgewing. Dáár het ek die omstandighede gesien waaronder die meerderheid van swart mense, en veral Afrikane, in Suid-Afrika moes leef onder apartheid.

“Ek het dit onaanvaarbaar gevind in vergelyking met my eie lewe, wat ’n bevoorregte lewe was van ’n jong, wit middelklas-seun. So, dít alles het maar deel gebly van my lewe.”

Dr. Beyers Naudé, NG predikant, teoloog en anti-apartheidsaktivis, het ’n belangrike rol in sy lewe gespeel.

Niehaus se memoires, wat in 1993 verskyn het.

“Daar het ’n gewéldige band tussen my en oom Bey ontwikkel. Ek sê altyd oom Bey het die pa geword wat my eie pa nié vir my kon wees nie. So, hy was my mentor en ’n anker in my lewe; hy was die man na wie ek gegaan het as ek werklik met vraagstukke en probleme gestoei het.”

‘Droom in Afrikaans’

Niehaus skryf in sy memoires, Om te veg vir hoop, wat in 1993 deur Human & Rousseau gepubliseer is, Naudé het aan hom gesê: “Carl, ek pleit by jou, wat ook al gebeur, moet nooit jou Afrikanerskap probeer ontken nie.”

Hoe voel hy nou, jare later, oor daardie woorde?

“Dit was absoluut korrek wat oom Bey vir my gesê het. Hy het gesê ’n mens moenie jou wortels verloor nie, want as jy jou wortels verloor, is jy soos ’n boom wat nié geanker is nie en wanneer die wind en die storms kom, sal jy uiteindelik net omgewaai word.

“In daardie omstandighede het ek probeer om my band as ’n Afrikaanssprekende te behou en terselfdertyd ook nog probeer om ’n breër insig en ’n breër begrip te hê van wát ons land is – ál die mense van ons land – en waaroor ons toekoms uiteindelik gaan.

'Ek maak partykeer die grappie dat mense my goed geleer het hoe om druk te verwerk.' Foto: Felix Dlangamandla

“Ek ís ’n Afrikaanssprekende – dis waar . . . Ek dróóm in Afrikaans; Afrikaans is my moedertaal, maar ek probeer myself glad nie binne die bevrydingstryd of binne die ANC voorhou as ’n verteenwoordiger van Afrikaners of eens van wit mense nie.”

Ma en pa

Het hy nog verbintenisse met Afrikaanssprekende mense en familielede?

“Ja, ek het. Kyk, dit is partykeer moeilik. Party van my familielede is glád nie gelukkig met die politieke oortuigings wat ek in die verlede gehad het en wat ek nou ook nog het nie.

“Daar was in ’n stadium ’n báie gespanne verhouding tussen my en my ma en my pa, en dit was baie moeilik.

My ma leef nog; sy is vanjaar 92 en sy is in ’n aftreeoord in Krugersdorp. Ek sien haar gereeld.

“Oor die jare heen het dit so ’n bietjie verbeter met my ma, maar ongelukkig is my pa nou afgesterwe en . . . Dit is hartseer dinge en bande wat nooit heeltemal reggekom het of herstel het nie weens die spanninge wat ons deurgemaak het in die apartheidsjare en natuurlik ook nog die oorblyfsels van apartheid en rassisme in hul éie lewens, want hulle het so grootgeword . . . Dit bly maar ’n gespanne en partykeer hartseer verhouding tussen my en my familie.

“My ma leef nog; sy is vanjaar 92 en sy is in ’n aftreeoord in Krugersdorp. Ek sien haar gereeld. My ma is, net soos my pa was, werklik sout van die aarde. Solánk jy net nie begin om met hulle oor rás te praat nie. En dít is die hartseer ding.

“Ek het ’n baie pynlike ervaring gehad met my pa en ma toe ek my dogtertjie, wat nou 11 jaar oud is en wat gebore is uit ’n verhouding met ’n swart vrou met wie ek getroud was, na hulle geneem het om by hulle te kuier. Toe ons in die sitkamer sit, toe kom daar een van die ooms van die aftreeoord in. En toe hardloop sy al spelend daar verby met haar poppie en toe sê dié oom vir my pa: ‘Nou wat maak dié k*****tjie hier by ons?’ ”

‘Ek is jammer’

Wat vir hom die ergste was, is nie “dat die oom dit gesê het nie, maar dat my pá toe vir mý kwaad word en vir my sê: ‘Jy sien nou watter verleentheid jy vir my veroorsaak.’

‘Ek dróóm in Afrikaans; Afrikaans is my moedertaal . . .’ Foto: Deon Raath

“Ek het my kind gevat en ek het geloop. Ek het hom eers jare later weer gesien toe hy in die hospitaal gelê het in Krugersdorp op sy doodsbed.

“Dit was hartseer en ek was baie kwaad, maar uiteindelik het die kwaadgeit so ’n bietjie afgeneem. Toe ek hom weer sien in die hospitaalbed . . . Ons familie het ’n tradisie dat jy as die vader vir jou seun wanneer hy 21 word ’n seëlring gee.

“En mý pa het ’n seëlring van sy pa, my oupa, gekry, maar toe ék 21 word, het my pa geweier om vir my ’n seëlring te gee. Hy het gesê ek het die familie verneder.

“En toe hy nou op sy sterfbed lê, toe haal hy die seëlring van sy vinger af en hy sit dit aan my vinger. Die laaste woorde wat hy vir my gesê het, was: ‘Ek is jammer.’ ”

‘Dikbek Afrikaners’

Oudpres. Nelson Mandela was, nes Naudé, ’n soort vaderfiguur vir Niehaus.

“Ons verhouding was een wat miskien ’n bietjie meer afstandelik was as die een tussen my en oom Bey, maar dit wás ’n noue verhouding. Ek is baie dankbaar dat ek jare lank saam met hom gewerk het. Ek was die segsman van die ANC en ook segsman vir hom.”

Niehaus het in 2017 as groot ondersteuner van Zuma na vore begin tree. Ek vra hom hoe die verhouding wat hy met Mandela gehad het, vergelyk met die een wat hy met Zuma het.

Niehaus en oudpres. Nelson Mandela. Foto: Argief

“Kyk, ek dink my band met pres. Zuma is op ’n kameraad-streep-vriendskapsvlak wármer – ek sal nie sê nóúer nie, maar wármer. Dit het ook iets te doen met die persoonlikheid van pres. Zuma, wat ’n baie uitgaande en ekstroverte, warm mens is, nè.

“Hy het ’n gróót invloed op my lewe gehad. Toe ek in die gevangenis was en die ANC ontban is, was hy een van die eerste ANC-leiers wat teruggekom het om die onderhandelingsproses te begin.

“En een van die belangrike eerste dinge wat gedoen moes word, was om die ANC-gevangenes, die politieke gevangenes, vrygelaat te kry. Daar was ’n probleem met betrekking tot my vrylating, want die Afrikaners was maar baie dikbek teenoor my en hulle wou my nie laat vry gaan nie.

“Pres. Zuma het my kom besoek kort nadat hy na die land teruggekeer het, en daarna het hy my gerééld kom besoek. Baie naweke het hy maar net opgedaag om my te sien; my altyd aangemoedig en my moed ingepraat dat ek wél vry sal kom. Hy het ook gereeld nadat hy sulke besoeke afgelê het my ouers gekontak en vir hulle vertel hoe dit met my gaan.”

Respek vir Zuma

Zuma het baklei om hom vry te kry “totdat hy my as een van die lááste politieke gevangenes vry gekry het. So, ek het ’n groot dankbaarheid teenoor hom vir daai menslikheid wat hy betoon het. Dit was glad nie nodig vir hom om soveel moeite te doen vir ’n jong wit man wat maar ’n baie junior outjie daar binne die ANC se strukture was nie.

PIETERMARITZBURG, SOUTH AFRICA - MAY 17: (l-r) Dud
Dié foto is op 17 Mei buite die hooggeregshof in Pietermarizburg geneem met die aanvang van Zuma se verhoor weens onder meer korrupsie. Van links is sy seun Duduzane, Zuma, Ace Magashule, geskorste sekretaris-generaal van die ANC, en Niehaus. Foto: Gallo Images/Darren Stewart

“Dít is hoe ek hom leer ken het oor die jare heen . . . as ’n baie menslike, warm mens; iemand wat nie op status aandring nie; ’n man wat met énigiemand ’n grappie kan maak, gesels . . . wat ’n nederige mens is en wat homself glad nie aanmatigend gedra teenoor ander mense nie.

“So, ek het baie respek vir pres. Zuma op daai vlak. Ek voel baie hartseer oor wat met hom oor die afgelope aantal jare gebeur het. Ek dink ’n groot deel van sy nalatenskap word beskadig as gevolg van dinge wat nou afgespeel het en die manier waarop hy ook ’n téiken geword het binne die faksiestryde binne die ANC.

“Pres. Zuma het ’n gewéldige rol gespeel in die aanloop tot voor ’94 om vrede te bring in KwaZulu-Natal. Hy was een van die gróót vredemakers en ons moenie vergeet die rol wat hy in Rwanda ook gespeel het nie. Hý het vrede gebring daar. Hy was die afgevaardigde namens pres. Mandela wat die onderhandelingsproses gelei het.”

‘Baie komplekse verbande’

Wat is sy gedagtes oor die beskouing dat Zuma ’n korrupte man is tydens wie se presidentskap staatskaping plaasgevind het wat tot enorme skade vir die land gelei het?

“Kyk, ek het . . . Dís ’n láng gesprek wat ons sal moet voer daaroor, want dit is . . . Daar is baie komplekse verbande daaraan verbind, nè.

“Ek moet . . . Die joernalis waarvan ek jou vertel het, is hier en ek moet hom inlaat. Ek sal jou terugbel en dan kan ons dit aanmekaar sit.”

Toe ek Niehaus Maandagoggend bel, sê hy aanvanklik ons kan die onderhoud voortsit, maar voordat die onderhoud hervat kan word, sê hy hy kan nie verder praat nie. Later die dag het ek hom weer gebel. Hierdie keer het hy gesê hy sal mý bel indien hy nog iets te sê het.

Meer oor:  Nelson Mandela  |  Carl Niehaus  |  Jacob Zuma
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.