Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Charl-Pierre Naudé: Om 'n lewe (of twee) te verbeel

Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey is een van die meer uitdagende romans wat die afgelope tyd in Afrikaans verskyn het. AJ Opperman het met Charl-Pierre Naudé daaroor gepraat.

Charl-Pierre Naude
Die digter en skrywer Charl-Pierre Naudé wat sy prosadebuut gemaak het met "Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey". Foto: Alet Pretorius

Hy is nie die skrywer van die boek nie, beweer die voorwoord van die digter en skrywer Charl-Pierre Naudé se merkwaardige prosadebuut Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey.

Nee, gaan Naudé in sy "voorwoord" voort, ’n joernalis genaamd Hermanus Verdomp het die storie meer as 30 jaar gelede geskryf.

Nou wil Verdomp niks meer met sy manuskrip te doen hê nie, aldus dieselfde voorwoord, ’n verhaal oor "ewelewens" wat moontlik in die Noord-Kaap afspeel. ’n Roman wat ’n mens aan die raai hou.

Soos die openingstoneel.

Die storie begin in 1973 in die dorpie Lyksovlakte waar die koster een nag op twee jongmense, Dirkie Verwey en Anna Bandjies, halfkaal op die kerkbanke afkom. Die polisie word ontbied, maar op onverklaarbare wyse word Dirkie en Anna albei in hul ouerhuise aan die slaap aangetref. Dit terwyl selfs ’n foto staaf dat hulle op dieselfde tyd in die kerk was. Wat het hier gebeur?

Later verskyn ’n motel op ’n eens afgeleë stuk grond. Waar het dit vandaan gekom?

Dit het so 11 maande geneem. Ek het toe ’n derde daarvan gesny en ’n ander derde bygeskryf.

Vandag praat Naudé oor die "outobiografiese roman" van Hermanus Verdomp wat hy kwansuis “ontdek” het.

“Ek wil juis daardie dubbelvisie hê dat dit ’n fiksie is, miskien nie. Die karakter Hermanus Verdomp, die ek-verteller, het ’n bepaalde stem en styl. Hy word die stem van die storie.

"My gevoel is dat die leser die heeltyd moet dink, maar kan dit waar wees? Of nee, dit is waarskynlik ’n fiksie. Dis wat ek wil hê die leser moet ervaar.

"Dit was my reaksie toe ek die heel eerste keer die tegniek teëgekom het – in ’n ander boek. Dit is al gebruik, maar ’n mens moet natuurlik die gebruik van die tegniek in elke boek op sy eie beoordeel.”

Naudé het die boek se eerste weergawe van 2011 tot 2012 geskryf.

“Dit het so 11 maande geneem. Ek het toe ’n derde daarvan gesny en ’n ander derde bygeskryf. Die res van die ses jaar het ek gebruik om 'n derde daarvan te sny en 'n ander derde by te skryf, en die regte struktuur daarvoor te kry.”

'Dirkie' het nie oornag gebeur

Op ’n Saterdagoggend gesels Naudé by sy huis in Melville, Johannesburg, oor dié enorme werk van 479 bladsye.

Dit is ’n produk wat in 2016 voorgelê is vir ’n M-graad aan die Universiteit van die Vrystaat met Francois Smith, akademikus en die skrywer van die roman Kamphoer, as sy studieleier.

“Waar sal jy graag vir ’n rukkie wil sit?” vra Naudé.

Ons gaan sit by die tafel oorkant die kombuis.

En ek dink onwillekeurig aan die titel van André le Roux se kortverhaalbundel, Kom ons sit sommer by die tafel.

In die lang leefvertrek met die televisie waarop beelde sonder klank flikker en die klavier oopstaan, gaan sit Naudé met sy rug na die muur vol skilderye.

Dit is einste André le Roux wat een keer in ’n onderhoud gesê het: “Dis waar enige donnerse ding begin: by ’n idee.”

Die ongelooflike onskuld van Dirkie Verwey het nie oornag gebeur nie.

“Ek dink nie ’n roman, net soos met ’n digbundel, hoef te begin met ’n sê-bare idee nie,” sê Naudé.

Dis ’n idee wat jy voel. As jy geweet het wat die idee was en dit in een sin kon sê, sou jy waarskynlik nie die boek geskryf het nie. Van die begin af het ek wel die idee gehad dat ek ’n metafoor wil vind vir die aard van Suid-Afrika – as ’n land wat nie net een land is nie, maar ’n land binne lande. Samelewings naas mekaar. Amper soos herhalings. En dit was ook so in apartheid. Waar daardie formaat deur die regeerders nagestreef is om verskillende state te skep.”

Maar die hele storie wil vir my metafories wees van aspekte van die bestaan, veral tydens apartheid.

Die metafoor van die ewelewens probeer iets sê oor die apartheid-opset, maar dit probeer ook iets filosofies sê oor die aard van lewe.

“Die idee van ewe-wêrelde is natuurlik ’n wetenskaplike idee wat bestaan.”

Die eerste hoofstuk speel in 1973 af. Dan beweeg die storie vorentoe en terug tussen tydperke. Reeds in 2012 is die roman voorwaardelik deur Tafelberg vir publikasie aanvaar. Naudé het van toe tot met publikasie bly skaaf aan die struktuur.

Hy beskryf dit as ’n komplekse boek.

“Ek het darem intussen ’n digbundel geskryf en ’n paar ander goeters gedoen.”

Sy bundel Al die lieflike dade is in 2014 uitgereik.

Dit was 'n 'totaal ander planeet'

Daar was oomblikke met die skryf van Dirkie Verwey dat Charl-Pierre Naudé wou tou opgooi. Foto: Alet Pretorius

Dirkie Verwey lê op die tafel. ’n Dikke boek vol karakters.

“Hulle speel almal teen mekaar af. So dit is eintlik almal een karakter op ’n manier. Al die Annas byvoorbeeld. Alle moontlikhede. Dis nie ’n storie wat op die gewone manier lynreg is nie.

“Die keurder, self 'n skrywer, was mal oor die idee van die ewelewens, wat Hermanus se nuutskepping is vir parallel lives, wat eintlik die karakter Maria se woord is. Daar is breedweg twee stories in die boek. ’n Liefdesverhaal – tussen Maria en Dirkie. En die ander een is van Hermanus en Anna. Maar die hele storie wil vir my metafories wees van aspekte van die bestaan, veral tydens apartheid.

“ ’n Plek wat so werklik was as jy daarin grootgeword het en wat glad nie meer bestaan nie.

"Oukei, mense sal sê daar is baie aspekte van apartheid wat nog bestaan. Maar op ’n baie interessante manier was dit ’n totaal ander planeet.”

Ek het nog altyd dagboek gehou.

Naudé probeer die hele tyd die metafore vind, soos met die reisende biblioteek wat in die boek voorkom.

“Opvoeding was baie belangrik en was ’n eerbare en aristokratiese ideaal van die Afrikaner wat die land in daardie tyd regeer het. Dit het egter ook ’n keersy gehad. In die boek word dié keersy gelykgestel aan ’n bordeel. Ek noem in die boek die interessante geval van die antieke biblioteek van Ephesus wat met ’n ondergrondse tonnel met ’n bordeel verbind was.”

Naudé is bekend as digter. Sy debuutdigbundel, Die nomadiese oomblik, het in 1995 verskyn en is met die Ingrid Jonkerprys bekroon. Daarna het die digbundel In die geheim van die dag (2004) verskyn.

Tog was prosa altyd ’n idee by hom.

Dit is idees waarvan die meeste nooit gebruik sal word nie.

“Ek het nog altyd dagboek gehou. Sal ek vir jou een of twee van my notaboeke wys?”

Hy staan op en stap na sy studeerkamer en trek ’n laai oop. Terug by die tafel slaan hy dit oop en wys na ’n datum in 2015.

Die bladsye is vol idees met die hand geskryf.

“Dit is idees waarvan die meeste nooit gebruik sal word nie. Die hele ding van ’n notaboek ... dit help jou om die idees te vorm.”

“Ek skryf nooit met die hand nie. Op skool nog, ja. Maar my hand het altyd vreeslik seer geraak. Van daardie jare – ek het nog steeds hierdie eelte wat my nooit verlaat nie. So selfs met gedigte sal ek ook allerlei komposisies op die rekenaar self probeer.”

'n Boek van inspirasie

Charl-Pierre Naudé: "Maar die hele storie wil vir my metafories wees van aspekte van die bestaan, veral tydens apartheid." Foto: Alet Pretorius

Ons praat oor skryf voor rekenaar bestaan het.

“Die verhouding tussen wat jy dink en wat jy neersit, het maar net verander. Daardie mense (wat voor die bestaan van rekenaars geskryf het) het maar net baie meer goed rondgegooi in hul minds. Terwyl ons ’n gedeelte op die papier neersit. Daardie grens tussen wat jy konseptualiseer en wat jy skryf, het net ’n bietjie geskuif.”

Sy notaboeke bevat Afrikaanse sowel as Engelse sinne.

Sy ma was Engels.

“Ek het in ’n mishmash-huis grootgeword.”

Durban is in baie opsigte miskien my eerste ewe-lewe en die Oos-Kaap die tweede een.

Baie van die gebiede waar hy as kind gewoon het, soos Durban en Oos-Londen, het ook ’n Engelse gevoel.

Die gesin het ook vir ’n kort tydjie – “seker so drie skoolvakansies” – in Londen gewoon, waar sy pa ’n patoloog was.

Hy het in Oos-Londen gematrikuleer.

“Ek was daar van st. 4 (gr. 6) af. My pa se praktyk is nog steeds daar, dit word nou net iets anders genoem. Ek weet nie of ek ooit weer daar sal kan woon nie, maar dit het vir my baie spesifieke konnotasies. Durban is in baie opsigte miskien my eerste ewe-lewe en die Oos-Kaap die tweede een.

“Ek is gebore in Kokstad (KwaZulu-Natal), maar daar sal ek weer wil woon. Ek was nog net een keer weer daar. Ek is mal oor die foothills van die Drakensberge.

"Behalwe dat die armoede daar so ontmoedigend is om te sien. Daar is ek in Augustus in die sneeu gebore.”

Vanjaar is dit 60 jaar gelede.

Dit was asof ek deur ’n glas kon kyk na ’n ander lewe wat ek kon gelewe het.

“Maar ek moet vir jou sê, toe ek weer teruggaan, het dit vir my gevoel of ek weet waar elke afdraaitjie is. Dit was asof ek deur ’n glas kon kyk na ’n ander lewe wat ek kon gelewe het.

“Ek het sommer instinktief geweet waar die hospitaal is. Ek het gaan kyk na die hospitaal waar ek gebore is. Ek het gaan kyk na waar my pa gepraktiseer het in Franklin, ’n klein dorpie wat vandag ’n spookdorp is. Net soos die dorpie in die Lyksovlakte in die roman.”

Daar was oomblikke met die skryf van Dirkie Verwey dat hy wou tou opgooi.

Dit was egter vir hom meestal ’n boek van inspirasie.

“ ’n Mens kry die indruk dat die hele boek vir hierdie Hermanus ’n verbeeldingsvlug was. Die idee het my absoluut geïnspireer. En ek hoop dit kan so gelees word: Die idee van ewelewens en om metafore te vind vir lewens wat anders is, maar ook dieselfde. Die ewelewens is ’n spektrum. Dis soos om in ’n spieël te kyk waarin daar eindelose afbeeldings is van die lewens wat jy kon gelei het.”

Meer oor:  Durban  |  Oos-Londen  |  Skryf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.