Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Profiele
Chris Karsten: ‘’n Dans tussen orde en chaos’

Hy meen Afrikaanse misdaadfiksie is so gewild omdat lesers in sulke romans beleef hoe orde ná die chaos van ’n misdaad soos moord weer herstel word, sê Chris Karsten aan Murray La Vita.

Chris Karsten in die studeerkamer van sy huis op George. Foto: Wessel van Heerden

“Die meeste krimi’s of speurverhale begin met ’n moord, en daar het jy onmiddellik ’n wanorde en chaos, want wat kan nou ’n groter chaos wees as iemand wat vermoor word?

“En dan kom daardie speurder, of wie ook al, en begin hierdie moord oplos. Die leser belééf dit saam met die speurder en loop dus op hierdie pad van wanorde tot op die einde wanneer daar weer orde is,” sê die bekroonde skrywer Chris Karsten (72).

“Ek dink dít is een van die belangrike redes waarom lesers krimiboeke lees: Om te sien dat die slegte ou op die einde aan die pen gaan ry. Dít is die onuitgesproke kontrak wat só ’n skrywer met sy lesers in speurverhale het: Die slegte ou moet aan die pen ry. Die leser maak dit mee; die leser sién wat moet gebeur om hierdie moord op te los.

Dit sou jammer wees as die gesonde opvoedende ontspanningslektuur wat Langenhoven en ander skrywers ons gegee het, verdring moet word deur kriminalistiese romans.
Prof. P.C. Schoonees

“In goeie krimiboeke is daar nie net geregtigheid nie, maar die leser kom ook agter wat die waarheid is – hóékom dit gebeur het.

“Soos iemand gesê het – ek dink ek het in ’n New Yorker gelees – hierdie genre waarin ons skryf, is ’n minuet tussen orde en chaos. Selfs ’n ou soos Jorge Luis Borges het gesê speurverhale skep ’n veiligheid of ’n beskerming vir die orde in ’n era van wanorde.

“Dit is ’n ou begrip wat ’n mense soms uit die oog verloor wanneer jy te vlak kyk na die goeters. Ekself skryf maar net omdat dit vir my lekker is om hierdie goed te skryf.”

Hy lees laggend wat die letterkundige prof. P.C. Schoonees in die jare 30 oor Afrikaanse speurromans geskryf het:

“Hierdie verkwisting van kosbare volkskrag moet ons droewig stem. Dit sou jammer wees as die gesonde opvoedende ontspanningslektuur wat Langenhoven en ander skrywers ons gegee het, verdring moet word deur kriminalistiese romans.”

Sielkundige krimi

Ons praat oor sy roman Die versoeking van Thomas Maas wat in September verskyn.

“Dit is nie regtig ’n moordstorie nie; dit is meer ’n sielkundige krimi. Thomas Maas wat vasgevang sit tussen liefdes en hoe dit hom op die ou end oorrompel. Hy is ’n sielkundige en selfs as ’n sielkundige word hy absoluut toegespin deur hierdie begrippe waarvan hy veronderstel is om ’n kenner te wees – oor verhoudings – en dat hy naderhand glad nie daar uitkom nie.

'Man uit die dode' speel af in die tydperk nadat die korona-pandemie uitgebreek het.

“En dan natuurlik, soos dit ’n goeie krimi betaam, gaan daar op die ou einde ’n lyk wees. In hierdie geval is dit ’n kadawer in die water en dan moet dié ding nou opgelos word. En Ella Neser speel dan ook ’n rol daarin. Sy is mos nou deesdae ’n privaat speurder en word nader geroep deur Thomas Maas se vrou om sy beweerde owerspel te ondersoek . . . En dít is waar die chaos begin.”

Neser is ook weer aanwesig in sy roman Man uit die dode, wat tans as ’n vervolgverhaal op Netwerk24 verskyn en einde Oktober as ’n gedrukte boek die lig sal sien.

Korona-pandemie

Die onderhoud met Karsten vind per WhatsApp plaas. Hy het ’n aantal jare in Kanada gewoon, maar is al ’n ruk lank weer in Suid-Afrika en woon nou op George.

Man uit die dode speel af in die tydperk nadat die korona-pandemie uitgebreek het. Ek pols hom oor die uitdagings daarvan om te skryf oor ’n wêreld wat weens die pandemie by die dag verander.

Sy het gelukkig daai vryheid gehad want die storie speel af op vlak 3, so sy is darem nie heeltemal ingeperk nie.

“Terwyl ek die storie geskryf het, moes ek nou al ’n paar aanpassings doen elke keer as die president ’n aankondiging doen oor goed wat verbied word en goed wat oopgestel word. Maar die storie gaan nou nie noodwendig oor die lockdown en die virus nie. Dit wys nou maar net die uitwerking van die virus en Covid-19 en die implikasies daarvan op mense.

“Hoe ondersoek Ella Neser ’n saak binne daai beperkinge? Sy het gelukkig daai vryheid gehad want die storie speel af op vlak 3, so sy is darem nie heeltemal ingeperk nie.”

Taaldissipline

Hy was jare lank ’n joernalis voordat hy hom heeltyds op sy eie skryfwerk toegespits het.

“Veral toe ek in die joernalistiek begin het [by Die Volksblad] het ons mos nou ’n baie stréng taaldissipline gehad wat jy onder die knie moes kry: Jy moes bondig skryf en jou belangrikste inligting kom in die eerste paragraaf en dan hou jy die dinge maar kort en kragtig. En JJJ Scholtz se taalreëls is by jou ingehámer. So, dit was vir my baie moeilik gewees – ek was 37 jaar in die joernalistiek.

“Die eerste goed wat ek geskryf het, was twee jeugverhale terwyl ek nog heeltyds in die joernalistiek was. En toe het ek in my laaste jare in die joernalistiek weer begin met fiksie, maar dit is vir my nog stééds moeilik om ’n bietjie vrye teuels te gee aan my skryfwerk. Dis asof daardie goed wat oor soveel dekades by jou ingeplant is nie wil losgaan nie; dit bly jou knél.

“’n Interessante ding waaraan ek altyd dink as ek skryf, is wat Truman Capote gesê het toe hulle hom ná sy In Cold Blood gevra het oor die verskil tussen joernalistiek en fiksie.

“Hy het gesê die joernalistiek beweeg op ’n horisontale vlak. Jy skryf óór mense en óór gebeure, terwyl jy in fiksie die kans het om dieper vertikaal in mense se psiges in te gaan en in hulle harte en gevoelens, en dít dan na vore te bring.”

Eie karakters

“Ek het omtrent al die hele boek in my kop uitgewerk, maar ek kry net nie die eerste paragraaf geskryf nie.” Foto: Wessel van Heerden

Dit was vir hom ’n bevryding om ’n slag karakters te skep wat sy eie is.

“En ek kan vir hulle ’n snor gee of ek kan die snor afskeer. Ek is nie gebind soos in die joernalistiek met die voorkoms van werklike mense oor wie jy skryf nie. Jy kan vir hulle gevoelens gee en jy kan vir hulle familie gee soos wat jý dit wil hê en nie soos wat dit in die werklike lewe is nie.”

Die joernalistiek het hom ook die dissipline van goeie Afrikaans geleer.

As ek ’n skurwe boef skep, dan gaan hý nou nie mooi Afrikaans praat nie, jy weet; hy gaan ook maar sy taal meng.

“Afrikaans is so ’n mooi taal; ek wil net die mooiheid daarvan beklemtoon. Maar ek is altyd bang mense dink ek probeer pretensieus skryf; dit is die laaste ding wat ek probeer doen. Ek probeer maar net om eg te wees aan my karakters. As ek ’n skurwe boef skep, dan gaan hý nou nie mooi Afrikaans praat nie, jy weet; hy gaan ook maar sy taal meng.

“Maar andersins probeer ek die mooiste Afrikaanse woorde soek wat ek kan kry. Ek probeer nie noodwendig nuwe woorde skép nie; die woorde is daar, ’n mens moet net ’n bietjie moeite doen om dit te gaan soek. Jy moenie altyd die weg van die minste weerstand volg nie.

“Ek skryf met woordeboeke om my. Ek sal úre soek na ’n woord wat presiés sê wat ek bedoel. En as mense nou dink dit is pretensieus, dan is ek nou jammer daaroor.”

‘Nie sleg gebore’

“Jy wil nie ’n karakter van die begin af stereotipeer as ’n slegte mens nie.” Foto: Wessel van Heerden

Karsten skep karakters met interessante belangstellings soos sterrekunde of die versamel van skoenlappers. Daaroor doen hy dan noukeurige navorsing.

“Aan die een kant help sulke belangstellings of stokperdjies om ’n bietjie vleis en lewe aan ’n karakter te gee; selfs aan ’n skurk.

“Ek het byvoorbeeld die bose karakter Lood geskep wat saksofoon gespeel het en lief was vir honde. Kyk, baie mense het al vir my gesê hulle het baie simpatie met ou Abel Lotz, al was hy nou ’n slegte ou. En dít gee my groot bevrediging. Ek glo in elke mens, al is jy hoe sleg, is daar iets goeds in jou. Mense word nie sleg gebore nie.

“Jy wil nie ’n karakter van die begin af stereotipeer as ’n slegte mens nie. Laat die leser maar self besluit wat dink hy van hierdie ou. As hy nou van sterre en planete hou en hy bestudeer dit deur sy teleskoop of jy het ’n boer in die Outeniekwaberge wat met skoenlappers boer, dan gee dit ’n bietjie van ’n wyer kyk op hierdie persoon.

Die karakter soos hy aan die begin van die boek is, moet op die een of ander manier groei, hy moenie aan die einde van die boek dieselfde as aan die begin wees nie.

“Maar jy moet nou ook weet jy kan nie net sê hy hou van skoenlappers en dan speel skoenlappers glad nie verder ’n rol nie. Daar moet ’n sekere simboliek wees wat jy daaraan koppel wat regdeur die boek gemanifesteer word.

“Soos die rol wat sterrekunde in Abel se lewe gespeel het – dat hy so obsessief daaroor geword het dat hy op die ou einde begin moor het.

“Dieselfde met die skoenlapperman . . . Die simboliek van die transformasie van ’n skoenlapper van ’n eiertjie af na ’n papie en uiteindelik na ’n skoenlapper.

“Dis ’n wonderlike proses en dáái transformasieproses het ek probeer van toepassing maak op die karakter – die karakter transformeer ook. In enige boek is dit tog ’n basiese element – die karakter soos hy aan die begin van die boek is, moet op die een of ander manier groei, hy moenie aan die einde van die boek dieselfde as aan die begin wees nie.”

Psigopate

“Ek sal úre soek na ’n woord wat presiés sê wat ek bedoel.” Foto: Wessel van Heerden

Karsten het ’n aantal jare gelede ’n reeks van ses boeke oor ware Suid-Afrikaanse misdade geskryf.

“Daar is gruwelike mense wat jy teëkom – moordenaars. Met van hulle is dit baie moeilik om simpatie te hê. Daar was byvoorbeeld ’n geval iewers in die Kaap van ’n bende wat op ’n huis toegesak het en almal – onder andere ’n kind – uitgemoor het. Hulle is nou nog in die tronk. Dis moeilik om simpatie te hê met sulke mense wat kinders op gruwelike manier doodmaak.

“Die FBI het ’n projek gehad; hulle het van hul eie forensiese sielkundiges na die tronke gestuur waar reeksmoordenaars aangehou word en hulle het met hierdie ouens gaan onderhoude voer en probeer uitvind wát dryf hulle of wat het hulle gedryf om reeksmoordenaars te word.

Ek wil partykeer, wanneer mense praat oor psigopate, dink dit moet seker maar in sekere mense se gene wees . . .

“Ek wonder nou nog: Word jy só gebore . . . is dit geneties? Of het die manier waarop jy grootword . . . waar en hoe jy in die wêreld beland, ’n rol te speel. Met ander woorde, die ou kwessie van nature versus nurture.

“Ná alles wat ek geskryf het en ná alles wat ek nagevors het, het ek nog geen antwoord daarop gekry nie. Ek wil partykeer, wanneer mense praat oor psigopate, dink dit moet seker maar in sekere mense se gene wees . . .

“Daar ís gewetenlose mense, régtig gewetenlose mense, maar ek gun hulle liewer nog die voordeel van die twyfel en dink miskien is dit so bestier dat hulle in ’n slegte omgewing gebore is en grootgeword het en dít het ’n invloed op hulle.”

Masochis

Om ’n nuwe boek te begin skryf, is een van die moeilikste dinge wat hy nog gedoen het, sê Karsten.

“En ek doen dit elke keer . . . Ek dink ek is ’n masochis, ek moet net blerrie ophou skryf. Ek kan net nie aan die gang kom nie. Ek het omtrent al die hele boek in my kop uitgewerk, maar ek kry net nie die eerste paragraaf geskryf nie.

Ek kan wéke en wéke voor hierdie rekenaar sit voordat ek iets gedoen kry.

“Dit het niks te doen met writer’s block nie, dis net dat jy nie weet waar om te begin nie. Dit is ook ’n erfenis van die joernalistieke dae: Om daardie eerste sin en eerste paragraaf perfek te kry; die angle wat jy gebruik om mense te haak dat hulle die res van die ding lees. Ek dink dit sou makliker gewees het indien ek nooit deur daardie proses van die joernalistiek gegaan het nie.

“Ek kan wéke en wéke voor hierdie rekenaar sit voordat ek iets gedoen kry. Dit is érg frustrerend. En dan skielik op ’n dag begin jy net, dan tik jy die eerste woord. En as jy daai eerste woord getik het, dan begin die ding loop.”

• Intekenare kan vir die volgende paar weke elke Maandag en Donderdag ’n nuwe hoofstuk van die vervolgverhaal Man uit die dode op Netwerk24 lees. Twee nuwe hoofstukke word per week gepubliseer (elke Maandag en Donderdag). Die laaste afewering verskyn op 20 Augustus.

Meer oor:  Volksblad  |  Chris Karsten  |  Korona-Pandemie  |  Misdaad  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.